Читать книгу Ryker as Dawid - Maretha Maartens - Страница 14

Оглавление

Psalm 6

Psalm 6 is die eerste van die sewe skuldbelydenispsalms in die boek Psalms. Die ander ses psalms van sondeberou waarin die psalmskrywer vergifnis van God vra, is Psalm 32, 38, 51, 102, 130 en 143. Vyf van dié sewe skuldbelydenispsalms is deur Dawid geskryf.

Psalm 6: ’n Boetpsalm in groot benoudheid

Met basstem (of: Een oktaaf laer, baie laag gesing)

1. VIR die musiekleier; met snaarinstrumente; met basstem. ’n Psalm van Dawid.

Hoe lank gaan U my bly straf, Here?

2. o HERE, straf my nie in u toorn nie, en kasty my nie in u grimmigheid nie.

3. Wees my genadig, HERE, want ek is verswak; maak my gesond, HERE, want my gebeente is verskrik.

4. Ja, my siel is baie verskrik; en U, HERE, tot hoe lank?

Verlos my uit hierdie geestelike ellende, Here

5. Keer terug, HERE, red my siel; verlos my om u goedertierenheid ontwil.

6. Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk?

7. Ek is moeg van my gesug; elke nag laat ek my bed swem; ek deurweek my bed met my trane.

8. My oog het dof geword van verdriet; dit het swak geword vanweë al my teëstanders.

Die Here het Hom oor my ontferm

9. Gaan weg van my, al julle werkers van ongeregtigheid, want die HERE het die stem van my geween gehoor.

10. Die HERE het my smeking gehoor; die HERE neem my gebed aan.

11. Al my vyande sal beskaamd staan en baie verskrik word; hulle sal in ’n oomblik beskaamd omdraai.

Ryker as Dawid

In die klaagpsalms van die Ou Testament vra die psalmskrywers gewoonlik dat God Hom as die Helper en Beskermer van die weerloses en onderdruktes oor die gelowige sal ontferm. Die psalmskrywers onthou die groot dade van God in Egipte en beroep hulle telkens in hul persoonlike nood op sy groot mag, soos wat hulle dit in Egipte gesien en beleef het.

Psalm 6 is anders. Dawid se liggaam en gees is uitgeput; vyande bedreig sy lewe en koningskap. Hy pleit nie by God om as die magtige Verlosser van swakkes en bedreigdes op te tree nie. Hy smeek God om sy sonde te vergewe en weer na aan hom te wees. Sy uitputting en nood is die gevolg van die versteurde verhouding tussen hom en God. Sy worsteling duur voort totdat God die sekerheid in sy hart lê dat die HERE sy skuldbelydenis aanvaar en hom vergewe het.

Paulus het ook die doodsbestaan geken waarin Dawid hom bevind het.81 Ons deel dikwels in Paulus se radeloosheid. Maar God oefen sy Goddelike krag nou direk uit in elkeen wat glo, dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Jesus Christus uit die dood lewend gemaak het.82 Ons is ryker as Dawid.

Dank- en aanbiddinglied, in groot verwondering

Loof God, almal wat Hom dien en eer, klein en groot! 83

1. Vir die koorleiers van die Kerk, met musiekinstrumente wat aan God gewy is, met die stemme van die verlostes in wie die krag van God woon. ’n Vreugdelied.

My siel was verskrik en diep beangs

2–4. HERE, vroeër was ek ook sonder Christus, ver van U,

Sonder deel aan u beloftes en u verbond,

Sonder hoop en sonder U in hierdie wêreld.84

Ja, my siel was ook verskrik en diep beangs voor U.

Wat soek ek hier in die lewende dood?

5–8. Vir my het die Seun die volle prys betaal;85

vir my het Hy die geskeurde voorhangsel,

die deurgang na U in u heiligdom geword.86

U, die Almagtige,

het afgebuig na my in my geringheid

en my in die Vaderhuis verwelkom.

Ek, eens onverstandig en wys in my eie oë,

afgedwaal en so ontaard

dat ek ’n spoor van verwoesting en smart agter my gelaat het,87

het deur Jesus die reg verkry

om U my Vader te mag noem.

Wat soek ek dan hier in die lewende dood,

buite u wil, weggeruk van U deur die suigkrag van my vroeëre vleeslike bestaan,

terug in die slawebestaan waaruit u Seun my op Golgota bevry het?88

Immanuel 89

9–11. Allerhoogste God, vroeër het radelose mense onthou

hoe magtig U U in Egipte betoon het.

Red ons dan ook so uit die lewende dood van Godverlatenheid,

het gelowiges in die eeue voor die koms van Immanuel gepleit.

Maar nou, o God van onverdiende ontferming

het die Seun God met ons geword

U het besluit om met u volle wese in Jesus Christus te woon

en om deur Hom alles met Uself te versoen.

Maar U het ook besluit om vir elkeen wat met U versoen is,

u Heilige Gees te gee

om met die volle wese van die Seun in ons te woon:

die Waarheid en die Lig in ons

die Lewe, die Wingerdstok en die Opstanding

die Heilige, die Vryspraak, die Verlossing, God in ons

– die lewende dood, die doodsbestaan, ’n onmoontlikheid.

Besprekingsvrae

1. Wat het jy gehoop om in dié psalm te kry?

2. Wat het jy verwag om in dié psalm te vind?

3. Hoe is die Ou-Testamentiese mens volgens dié psalm? Waarom sê jy so? Is ons nog so?

4. Wat (kan) verander wanneer ons in Christus is? Hoe en hoekom sê jy so?

5. Wat het God nou vir jou deur sy Woord aangaande Homself openbaar?

6. Wat wil jy vir die Here sê?

81. Romeine 7:34

82. Efesiërs 1:19–20

83. Openbaring 19:5

84. Efesiërs. 2:12, 13

85. 1 Korintiërs 6:20

86. Hebreërs 10:19–23

87. Romeine 3:10–18

88. Romeine 7:24

89. Matteus 1:23; Efesiërs 1:18–22; Kolossense 1:19–20; 1 Korintiërs 1:29–31

Ryker as Dawid

Подняться наверх