Читать книгу Ryker as Dawid - Maretha Maartens - Страница 13

Оглавление

Een Woord

Die Ou en Nuwe Testament is één Woord

Die Ou Testament is die begin van die Nuwe Testament.

Die Nuwe Testament is die voortsetting van die Ou Testament.

Die hele Skrif is die geskiedenis van God se genade. Die hele Skrif is één heilsgeskiedenis50 met één God as die Verbondmaker. Die hele Skrif vertel van dié God wat nooit ontrou raak aan die Verbond wat Hy sedert die begin van die skepping in stand hou nie.

Een Woord

Genesis begins with creation. Revelation ends with the New Creation.

In Genesis we have the first Sabbath. Revelation closes with the holy rest in the new creation.

Genesis gives us the first Adam, head of the old humanity. Revelation leaves us with the second Adam, head of the new humanity.

Genesis gives us Eve, the wife of the first Adam, sinning, condemned and sorrowing. Revelation leaves us with the second Eve, the Bride of Christ, exalted, holy and glorious.

In Genesis we have exclusion from the tree of life. Revelation leaves us with access to it and authority over it.

In Genesis we have an earth cursed. In Revelation we have the earth fully delivered from the curse.

Genesis gives us Satan tempting and bruising. In Revelation we leave him bruised and in the lake of fire forever.

In Genesis we have the first sob and tear. In Revelation all tears and sighing are forever gone.

– Keith L Brooks, Summarized Bible51

Een stroom

’n Stroom waarvan die water nooit opdroog nie, ’n stroom wat sonder menslike toedoen of verdienste van die troon van God deur die geskiedenis van die mensdom vloei, verbind Genesis met Openbaring. Die stroom van goedheid en guns verbind die boom van die lewe in Genesis met die boom van die lewe in Openbaring. Dit verbind Adam met Noag, Noag met Abraham, Abraham met Dawid, Dawid met die dissipels by die eerste Nagmaalstafel, Jesus Christus met my en jou en ons nageslag.

Hierdie stroom is uit God, deur God en tot God.

Ons is gebore om daagliks van die water van hierdie stroom te drink.

Die naam van die stroom is VERBOND.

– MM

Die Ou Testament adem die kulture en die atmosfeer, die hardheid en die werklikheid, die gebruike en die mistiek van antieke tye en beskawings. En die God van die Ou Testament, die onveranderlike Verbondsgod, wat Hom in die volheid van die tyd deur sy Seun aan die mensdom as ons Vader openbaar het, is dáár.

Voordat die mens in die Paradys gekies het om God se wil en verbod te verontagsaam, het ’n volmaakte verbond – of ongekontamineerde verbintenis – tussen God as die Skepper van die hemel en die aarde en die mens bestaan.

“God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.”52 En dit was so.

God se verbond van liefde en trou is in die Ou Testament.

Die eerste Adam, uit wie die hele mensdom gebore sou word, het verraad gepleeg teen God as die Verbondmaker. Die mens was nie meer God se verteenwoordiger nie; hy kon nie meer vertrou word om God se verteenwoordiger op land, op see en in die uitspansel bo die aarde te wees nie.

Die eerste Adam en elkeen wat uit hom gebore is, was nou lewend vir die sonde en toenemend sterwend vir God. Die sonde het geheers in sy liggaam, wat sterflik geword het, sodat hy en almal wat uit hom gebore sou word, aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees.

Die eerste Adam en elkeen wat uit hom gebore sou word, was ver verwyderd van die lewe waaroor Paulus skryf: “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie”53.

Dit was nie die einde nie

Alles wat uit God is, is onvernietigbaar. Die mens se verraad was nie die einde van die verbond nie. God se ou verbond van liefde en goedgesindheid, die verbintenis waartoe Hy Hom met sy skepsels verbind het, duur ook ná die sondeval voort. Die verbond groei omdat God dit laat groei. Dit verdiep en word wyer omdat God as die Verbondmaker dit laat verdiep en verwyd.

Die verbond word herbevestig en uitgebrei wanneer God, wat niks aan die mens verskuldig is nie, dit telkens opnuut opneem met Noag, Abraham, Isak, Jakob, Dawid en die klein en onbelangrike Semitiese volk, die Israeliete.

Die (Verbonds)woord het Mens geword

Die God van die verbond is groot en ontsagwekkend. So ook die verbond waarvan Hy alleen die Verbondmaker is. In en deur Jesus Christus ontvou die omvang van die heilsverbond voor ons oë. Ons sien uiteindelik dat dit ’n verbond tussen God en die hele mensdom is.

Jesus Christus deurstraal die ou verbond met genade op genade. Hierdie genade en guns is die onverdiende guns en goedgesindheid van die allerhoogste God.

“[D]ie Woord (die Verbondswoord, elke genadewoord van God aan ons en vir ons ) het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid. En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade”54.

Deur sy gehoorsaamheid en trou tot die dood aan die kruis, staan almal wat in Christus is, ná eeue van opstand en verlies, dwaling en hunkering, duisternis en uitsigloosheid in die ongekontamineerde verbintenis van Jesus Christus self tot God, die groot en enigste Verbondmaker.

Die verbond van die Ou Testament, die verbond wat nooit deur die Verbondmaker as ongeldig of vernietigbaar verklaar word nie, kry in die volheid van die tyd in ’n nuwe bedeling, ’n nuwe gestalte.

En Hy wat die nuwe gestalte daaraan gee, is Jesus Christus.

[O]ns was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op ’n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.

Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het – nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser; sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe55.

Het iemand jou al gesê …

Daar is net een verbond tussen God en die mens

“Ons het te doen met één liefdes- en trouverbond van God met mense, wat dateer van die begin van die skepping tot aan die voleinding, en wat, soos alle handelinge van God, ’n geskiedenis deurmaak.”

Die Ou en Nuwe Testament is één verbondsverhaal

“In die voorgang van die één verbondsgeskiedenis, is dit die deurgaande handelinge van God met mense en die reagerende handeling van mense ten opsigte van God, wat ’n konstante struktuur verseker.”

God se verbond met Dawid is deel van sy verbond met Adam

“Wat by verskillende geleenthede met verskillende persone – individue of groepe – gebeur, is nie ou verbonde wat beëindig of nuwe verbonde wat begin word nie, maar dieselfde verbond wat andermaal herhaal, bevestig of opnuut uitgewerk word.”

Elke bedeling van die verbond skakel met al die ander

“Hoe groot die verskille ook mag wees – en dit mag sekerlik nie ignoreer word nie – van ’n selfstandige bestaan wat elke verbondsluiting op sy eie sou voer, is daar nie sprake nie. Hoogstens kan ons praat van verskillende gestaltes, fasette of bedelings wat die één verbond, in sy heilshistoriese ontwikkelingsgang, deurmaak.”

Een God neem jou op in een geloofsvolk met een verbond

“Soos daar één God, één verkiesing, één Middelaar, één Heiligmaker en één geloofsvolk is, só is daar één verbond.”

Hiervoor is jy gebore

“Die mens is … tot verbondsgemeenskap geskape. Vanaf die eerste oomblikke van sy bestaan op aarde was hy dus bestem vir en opgeneem in ’n verbondsverhouding met God.”

Jy is ’n verbondsmens onder Jesus Christus as die Verbondshoof

“Toe die mens egter hierdie verhouding verbreek het, het God dit herstel en die verbondsverkeer op ’n ander grondslag geplaas deur dit te verbind met en te grond op die versoeningsarbeid van ’n nuwe verbondshoof, Jesus Christus.”56

• Wanneer jy lees hoe dit was toe God en Abram twee dae lank niks anders as verbondsluiting gedoen het nie, lees jy die geskiedenis van God se verbond met jou.

• Wanneer jy lees hoe die bovertrek reggemaak is vir die instelling van die nagmaal, lees jy hoe die vertrek reggemaak is vir die nuwe gestalte wat God aan sy ou verbond in jou lewe wou gee.

• Wanneer jy al hierdie dinge lees, lees jy die verhaal van die verbond waarin God, die Verbondmaker, jou met jou hele geskiedenis, jou gawes, jou swakhede, jou vrese en jou hoop opgeneem het. Dit is die verhaal van jou verlede, jou hede en jou toekoms.

Só was dit toe Abram vir God as die Verbondmaker ontmoet het

Die verbondsluitingsgeleentheid tussen God en Abram was ’n geweldige gebeurtenis wat twee dae lank geduur het. God as die Verbondmaker het aan Abram, ’n nakomeling van Noag se seun Sem, verskyn om met hom ’n ooreenkoms aan te gaan wat oor sy nageslag en die mensdom handel.

Die eerste nag het God Abram die sterre aan die hemelruim gaan wys.

Die volgende dag het Abram die vleis vir die verbondsluiting gereedgemaak en dit neergesit op die wyse waarop verbondsooreenkomste in daardie tyd gesluit is. Dit was die gebruik dat mense wat ’n verbond met mekaar gesluit het, ’n kalf in twee dele sny en dan tussen die twee dele deurloop.57 Die Hebreeuse woord vir verbondsluiting bevat dan ook die grondwoord berîyth (sny).

Gedurende die dag wou roofdiere die vleis gryp en opvreet wat vir die verbondsluiting neergesit was, maar Abram het hulle weggejaag.

Daardie dag teen sononder was Abram baie moeg en het hy in ’n diep slaap versink, ’n slaap vol angs en gevul met ’n geweldige voorafwete van lyding en groot verdrukking. God het hierdie toekomswete aangaande sy nageslag se verdrukking in Egipte vir Abram gegee, maar hom ook vertroos: “Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in die land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank. Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed”58.

Toe breek die tweede nag aan. Dit was die nag waarin die verbond waartoe God Hom reeds voor die grondlegging van die wêreld verbind het, weer bevestig is as ’n blywende, onveranderlike en ewige ooreenkoms tussen God, Abram en ’n mensdom waarvan Abram nog nie geweet het nie.

So staan dit in die Skrif

Ná hierdie dinge het die woord van die HERE (YAHWEH, die God wat Hom deur sy Verbondsnaam as die Verbondsgod openbaar) tot Abram gekom in ’n gesig (visioen) en gesê: “Vrees nie, Abram59 (moenie bang wees nie, Abram), Ek is vir jou ’n skild (jou beskermer) en jou loon is baie groot.”

Abram en die Verbondmaker

Abram (die naam van Abraham voordat God sy naam by die verbondsluiting verander het) spreek God, die Verbondmaker, as Here HERE (Adonai Jehôvâh) aan (Gen 15:2). In dié aanspreekvorm is daar ’n belydenis van die grootheid van God, Abram se ontsag vir Hom, en Abram se besef van sy eie geringheid as mens.

Abram gebruik die Naam Adonai (Oppermagtige, Almagtige) langs die Godsnaam wat ons binne ons fonetiese raamwerk ontoereikend só transkribeer: YAHWEH. Dié heilige Naam spreek Abram uit as J ehôvâh, want die Naam, kan hy as ’n sterflike mens voor God, sy Maker en die Skepper van die hemel en die aarde, nie op sy lippe neem nie.

Toe vra Abram: “Here HERE (Adonai Jehôvâh)60, wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders heengaan (gaan sterf) en die erfgenaam van my huis die Damaskéner Eliëser is? Aan my het U geen nageslag gegee nie; so sal dan die bediende van my huis my erfgenaam wees.”61

God het gesê: “Hierdie een sal jou erfgenaam nie wees nie, maar die een wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal jou erfgenaam wees.”62

Toe het God Abram buitentoe gelei en gesê: “Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. So sal jou nageslag wees.”63

Abram het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.64 (“The LORD regarded that faith to be his approval of Abram,” volgens die God’s Word Bible.)

Verder het die HERE vir Abram gesê: “Ek is die HERE wat jou uitgelei het uit Ur van die Chaldeërs om jou hierdie land in besit te gee.”65

(Abram het gevra waaraan hy sou weet dat God die land in besit sou neem. God het hom beveel om ’n driejaaroud vers, ’n driejaaroud bokooi, ’n driejaaroud ram, ’n tortelduif en ’n jong duif voor Hom te plaas op die wyse waarop verbondsooreenkomste in daardie tyd gesluit is. Abram het die vleis van die diere gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie. Toe kom roofvoëls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag.)66

Teen sononder het ’n diep slaap Abram oorval; groot angs en ’n groot duisternis het hom oorweldig.

(“And when the sun was going down, a deep sleep fell upon Abram; and, lo, an horror of great darkness fell upon him.67 … and, lo, a dread, even a great darkness, fell upon him.”68 In daardie skemeruur, toe God Abram die komende verdrukking van sy nageslag laat aanvoel het, het Hy ook aan hom die versekering gegee dat Hy Abram se nageslag uit verdrukking en vreemdelingskap en slawerny sou bevry. )

God het vir Abram gesê: “Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in die land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank. Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed. Maar jý sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word. En die vierde geslag sal hierheen terugkom.”69 a

So is God

Die eerste woorde wat God in die ontmoeting tussen Hom en Abram sê, is: “Moenie bang wees nie.”

Die eerste koms van die Seun van God word aangekondig met die woorde: “Moenie bang wees nie, dogter van Sion! Kyk, jou Koning kom en Hy sit op die vul van ’n esel” (Joh 12:15, die vervulling van Sag 9:9.)

In Jesus Christus sien, beleef en hoor ons die volle beliggaming van die God van Abram (Kol 1:17). En hoe groet Jesus sy dissipels keer op keer? Wat sê Jesus telkens wanneer Hy aan sy dissipels en aan ons verskyn?

“Moenie bang wees nie” (sien onder meer Matt 14:27, Matt 17:7 en Matt 28:10).

Ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar ’n rokende oond en vurige fakkel (brandende fakkel of lamp) tussen dié stukke vleis deur.

Op dié dag het die HERE met Abram ’n verbond gesluit en gesê: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier: [die land van] die Keniete, die Kenissiete en die Kadmoniete, die Hetiete, die Feresiete en die Refaïete, die Amoriete, die Kanaäniete, die Girgasiete en die Jebusiete” (uit Gen 15:7–21, 1933- en 1983 vertalings).

En so het God die verbondsverhouding waarin Hy in sy groot liefde met die mensdom wil wees en altyd wil bly, tussen Hom, Abram en Abram se nageslag vir ewig gevestig en bekragtig. Dit was vir Abram die begin van ’n verbondsverhouding met YAHWEH, die Verbondsgod, wat hom onherroeplik stap vir stap verder en dieper ingelei het:

TOE Abram nege-en-negentig jaar oud was, het die HERE aan Abram verskyn en vir hom gesê: Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees.

En Ek wil my verbond sluit tussen My en jou, en jou buitengewoon vermeerder.

Toe val Abram op sy aangesig, en God het met hom gespreek en gesê:

Wat My aangaan, kyk, my verbond is met jou, en jy sal die vader van ’n menigte van nasies word.

Daarom sal hulle jou nie meer Abram noem nie, maar jou naam sal wees Abraham, want Ek maak jou ’n vader van ’n menigte van nasies.

En Ek sal jou buitengewoon vrugbaar maak: Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom.

En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ’n ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag ná jou.

En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ’n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ’n God wees.

Verder het God aan Abraham gesê:

Maar jý moet my verbond hou, jy en jou nageslag ná jou, van geslag tot geslag.

Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou: al wat manlik onder julle is, moet besny word – julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word, en dit sal ’n teken wees van die verbond tussen My en julle.69 b

En later, terwyl Abraham sy seun Isak losmaak van waar hy op die altaar op die berg Moria voor die aangesig van God gelê het, sien ons die Nuwe Testament opgesluit in die Ou Testament.70

Daar hoor ons toe die boodskap van ons redding en die redding van die geslagte ná ons.

Daar klink die tyding op van Jesus Christus wat as die sondelose Lam van God Homself vir sondaars – die mense met wie God ewig in ’n verbondsverhouding wil wees – op die altaar van Golgota sou lê.

Toe roep die Engel van die HERE vir die tweede keer na Abraham van die hemel af en sê: Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.71

En ons is. Ons het dié seën ontvang.

Onlosmaaklik één

“Die Nuwe Testament is opgesluit in die Ou Testament; Die Ou Testament is vervat in die Nuwe Testament”.72

Die een staan nie teenoor die ander nie.

Wanneer ons dít weet, soek ons in ons Bybelstudie na meer as:

• troos en bemoediging vir ons moeilike en ingewikkelde aardse lewe;

• wettiese voorskrifte en reëls (maak só en moenie só maak nie);

• aanwysings vir hoe om in die hemel te kom;

• mistiese ervarings;

• begeerlike geestelike gawes;

• die bevestiging dat God sy kinders gelukkig, voorspoedig, dinamies, suksesvol en gesond wil maak;

• Skrifbeloftes aan siekes;

• bewapening vir geestelike oorlogvoering;

• toerusting vir meditasiepraktyke;

• die profesieë waarvan ons die vervulling in die werklikheid van ons tyd inlees;

• bevestigende teksverse vir oplossings en nuwe ondernemings in ons lewe;

• Skrifgedeeltes ter veroordeling en skuldigbevinding van mense;

• Skrifgedeeltes ter regverdiging van onsself.

Hoe nuut word die hele Skrif, die een volledige Woord, vir ons wanneer ons ontdek dat:

• die Nuwe Testament in die Ou Testament opgesluit is;

• die Ou Testament in die Nuwe Testament vervat is;

• God van die begin van die skepping af ’n onvernietigbare verbond tussen Hom en die mens in stand hou;

• ons in die genade van ’n onvernietigbare verbond leef!

Ons leef in die genade van ’n onvernietigbare verbond

Ou Testament beteken “ou verbond”. Hierdie beskrywing dui op die eerste fase of bedeling van die verbond waartoe God Hom met die mens verbind het.

Nuwe Testament beteken “nuwe verbond”. Dié beskrywing dui op ’n nuwe bedeling in God se instandhouding van die verbond waartoe Hy Hom voor die grondlegging van die wêreld met die mens verbind het.

Toe die tyd aanbreek wat deur die profete voorspel is, het God die onvernietigbare verbond waartoe Hy Homself verbind het deur sy Seun met genade op genade deurstroom.73 Wanneer ’n mens die hoogte, breedte, wydte en diepte van God se genade in die nuwe bedeling met Jesus Christus as die Verbondshoof beleef, verstaan jy waarom die Nuwe Testament (verbond) die blye Evangelie, die Goeie Nuus, genoem word.

God is die Opsteller van die onuitwisbare verbond waarin ek en jy leef. Hy is die Testamentmaker van ’n testament waarin Hy aan dié wat Syne is, ’n erflating bemaak waarvan jy onder meer ’n paar klousules in Deuteronomium 11 en in Efesiërs 1 kan lees. Dié erfenis verskil van die nalatenskap van mense. Die Testamentmaker sterf nooit nie: Hy is die Onsterflike. Die erfgename ontvang hul erfenis in hierdie lewe: ’n erfenis van vrede, vreugde, hoop, sekerheid, liefde, genade, wysheid, waarheid, kennis, insig, verbondenheid aan God, burgerskap van die koninkryk van God, kindskap van God, vergifnis van sonde, reinheid en heiligmaking, vervulling met die Heilige Gees, opstanding uit die dood, die ewige lewe en die magtige werking van die krag van God in elkeen van sy erfgename.

HERE, God van die verbond waarin ek leef,

wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed.74

Ek wil U loof omdat U my gebed verhoor en my gered het.

Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.

Dit is deur die Here gedoen en is ’n wonder in ons oë!75

Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo.

Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het,

maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie.76

Die plek waar die troue liefde van YAHWEH gesien is

Die Verbondmaker, die God van die eeue en die millennia, die God van hemel en aarde, die God van Abraham, Isak en Jakob, wil hê ons moet Hom ken, ons Maker. Ons moet sy liefde vir ons ken. Die plek waar die hart en die liefde van ons Maker só sigbaar geword het dat die hele aarde dit kon sien, was die land wat God daarvoor bestem het en waarheen Hy Abraham laat trek het.

Net Een kon ons laat sien wat ons moet weet

Die openbaring van die wydte en diepte, hoogte en breedte van die trou en liefde van YAHWEH, die Verbondsgod, was deur sy Seun. Net Een, net Jesus Christus, kon ons laat sien wat ons moet weet.

En so het Jesus Christus drie en dertig jaar lank as God-op-aarde, die (Verbonds)woord wat gesien kon word, God-by-ons, Immanuel, tussen ons gewoon.77

“Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand. Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.

“God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen”.78

’n Rede in lig versluier

Die mens het nie sy kant van die ooreenkoms gehou nie. Die mensdom het geleef asof daar geen verbond tussen God en die mens bestaan nie. Ons is steeds so ontrou. Ons leef gereeld so; self daagliks.

Die rede waarom God nie die verbond nietig verklaar het nie, maar dit met genade op genade tot ’n genadeverbond – beseël met die bloed van sy Seun – verdiep en deurvloei het, is versluier in die lig van dié woorde oor die Verbondmaker, Hy wat in ontoeganklike lig woon:79

Ons staan hier voor ’n geheimenis, broers, en ek wil hê julle moet weet wat dit is, sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie. Die verharding het oor ’n deel van Israel gekom en duur totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het; en op hierdie manier sal die hele Israel gered word. So staan daar geskrywe: “Uit Sion sal die Redder kom, en Hy sal die goddeloosheid van sy volk Jakob verwyder. En hierdie verbond sal Ek met hulle sluit wanneer Ek hulle sondes wegneem.”

As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie.

O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!

“Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? wie bewys Hom ’n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?”

Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.80

50. Heyns, JA. 1978. Dogmatiek. Pretoria: N.G. Kerkboekhandel: “Ons het te doen met één liefdes- en trouverbond van God met mense, wat dateer van die begin van die skepping tot aan die voleinding [toe], en wat, soos alle handelinge van God, ’n geskiedenis deurmaak. In die voorgang van die één verbondsgeskiedenis, is dit die deurgaande handelinge van God met mense en die reagerende handeling van mense ten opsigte van God, wat ’n konstante struktuur verseker.”

51. Keith L Brooks se deurdagte samevatting van die inhoud van die Nuwe Testament is beskikbaar by: http://archive.org/details/summarizedbiblec00broorich. Kopieregstatus: openbare domein. Kopieregdatering: 1919.

52. Genesis 1:26

53. Romeine 6:11–12

54. Johannes 1:14–16

55. Titus 3:3–7

56. Heyns, JA. 1978. Dogmatiek. Pretoria: N.G. Kerkboekhandel. Opskrifte by die aanhalings: Maretha Maartens.

57. Rabbi Solomon Jarchi, aangehaal deur Adam Clarke in Adam Clarke’s Commentary on the Bible.

58. Genesis 15:13–14

59. Abram beteken “gerespekteerde, eerbiedwaardige vader”. Dit is die naam wat Abraham gehad het voordat God met hom ’n verbond gesluit het. God verander die naam Abram na Abraham, wat “vader van ’n menigte” beteken.

60. In “Josef die timmerman” is die frase “die timmerman” ’n bystelling of apposisie tot die naam Josef. In “Adonai Jehôvâh” is die “Adonai” (Oppermagtige), ’n bystelling of apposisie tot die Godsnaam Jehôvâh. Die Godsnaam met hierdie bystelling word in Afrikaans geskryf as “Here HERE” en in Engels as “Lord God”, “Almighty LORD” of “LORD All-Powerful”. God se heilige Naam (HERE in Afrikaans en LORD in Engels) word in hoofletters geskryf. Die apposisie tot Adonai (Here in Afrikaans) word met ’n hoofletter en verder kleinletters geskryf.

61. Genesis 15:1, 17:5

62. Genesis 15:4

63. Genesis 15:5

64. Genesis 15:6

65. Genesis 15:7

66. Genesis 15

67. Genesis 15:12, King James Bible

68. Genesis 15:12, Jewish Publication Society Bible

69 a. Genesis 15:13–16

69 b. Genesis 17:1–11

70. Genesis 22

71. Genesis 22:15–18

72. Janse van Rensburg, J. 2007. ‘Prediking uit die Ou Testament’, Acta Theologica 2. Beskikbaar by: http://www.ajol.info/index.php/actat/article/viewFilippensee/5502/29616.

73. Johannes 1:16

74. Psalm 139:14

75. Psalm 118:21–23, 1983-vertaling

76. Jakobus 1:17

77. Matteus 1:23

78. Kolossense 1:15–20, 1983-vertaling

79. “… the blessed and only Potentate (might Authority), the King of kings, and Lord of lords; Who only hath immortality, dwelling in the light which no man can approach unto; whom no man hath seen, nor can see: to whom be honour and power everlasting” (1 Tim 6:15–16, King James Bible) “… die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here, wat alleen onsterflikheid besit en ’n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag” (1 Tim 6:15–16).

80. Romeine 11:25, 27, 29, 33–36.

Ryker as Dawid

Подняться наверх