Читать книгу Sara - Maretha Maartens - Страница 12

HOOFSTUK 7

Оглавление

Gister, in die laaste daglig van die dag toe die Amoriete my hierheen gedra het, het ek my oë oopgemaak en die stadsmuur skuins voor ons in die lig van die ondergaande son sien opdoem. Ek het dalk reeds geyl. So lyk dit dan, het ek gedink. Alles suiwer goud. Dit is dan die stad met vaste fondamente waarvan die ewige God die ontwerper en bouer is?

Sedert daardie eerste keer by die groot waarsêersboom by Sigem, met mense van die land wat op die rotse hoër op teen die berg en ook teen die hange van die oorkantste berg vergader het, doen Abraham dit keer op keer. Hy stapel ’n altaar, hy soek die beste ram in die trop uit, en hy offer.

Sy offerandes is soos woorde voor die God vir Wie hy El, Adonai en JAHWEH noem. Dit is woorde in vuur, rook en gloeiende kole, so anders as woorde van die mond. Of woorde op die kleitablette van Sumer: LA’ATZU, die wêreld van die geeste. AN en DIGIT vir die hemele en die gode daarin. LUGAL vir ’n koning. En E vir huis, die een in Ur waarin sy gedink het sy vir altyd sou woon. Maar juis dit moes sy agterlaat, juis die huis in Ur, die huis met die tuin, volop water, skadubome en geilgroen plante.

Jou huis in Ur is nie meer die huis waarnatoe ons ooit weer sal teruggaan nie, Abraham. Jou huis, ons ou huis in Ur, is nou ’n pynlike woord tussen baie ander woorde op die kleitablette van Sumer: ERIDU.

Vir die Sumeriërs is ERIDU die huis anderkant die sewende poort tussen die vreesaanjaende onderwêreld van die dooies en die Daarbuite. ERIDU is die huis vir deugsames in die verste veraf plek. Maar hier in Kanaän is die huis anderkant die sewe poorte waarvan ma Lahazib my saans vertel het nader en verder as wat ek ooit kon dink. Ons ERIDU staan in ’n straatjie naby die stadsplein van Ur in Ur-Ma. Abraham het immers die huis van sy vader in die tempelkompleks van Sin verlaat en ’n eie huis vir hom en my en ons kinders gebou. En ons het sonder deugsaamheid daar gewoon, ons hare om ons koppe gedraai, gespeel en van kinders gedroom.


TUGTUSHE, HURASHAM, AKALUM, skryf Abraham ook op die kleitablette waarop alles wat die donkiekaravane vervoer, aangeteken word. Kledingstuk. Goud. Voedsel. Elke tasbare ding het ’n naam, ’n woord wat jou die ding laat sien, al is die ding ver van jou af, iewers op die rug van ’n pakdier.

Maar vir die Naam van die God wat in lig aan hom verskyn het, het Abraham nie ’n woord wat met die wigpunt van ’n stomp riet in klei gedruk kan word nie. Hy wat ÉÉN is, nie ’n bloeddorstige en onvoorspelbare godedom in die Daarbuite waarin die siele van alle dooies in die onderwêreld nogtans begeer om toegelaat te word nie. Die God van Abraham laat Hom nie in sy Naam sien nie.

Wanneer Abraham se woorde hom faal, skryf hy sy berou teenoor Hom wat onsigbaar en heilig is, in vuur. En sy aanbidding en dankbaarheid in rook wat opwaarts styg, na die Daarbuite. Agterna bly sy woorde in die kole gloei, asof onuitblusbaar.

“Peta Babkama Luruba Anaku!” smeek die Sumeriërs op hulle kleitablette. Maak die poort vir my oop dat ek kan ingaan!

Wanneer die hout op Abraham se ou altare vlamvat, dan skarrel, spring en val daar geitjies en spinnekoppe uit die gate en skeure tussen die klippe. Soms lyk dit of die altaar skerpioene op omgekrulde vuurtonge uitspoeg. Offer Abraham in die middel van Winter, peul daar soms gestreepte en gespikkelde woestynadders uit die altaar.

“Ek roep U aan, El Shaddai,” hoor sy hom soms brul asof hy verwond is, soms aanbiddend singpraat. Nooit vra hy dat ’n poort vir hom oopgemaak sal word sodat hy vanuit Kanaän of eendag vanuit die onderwêreld daardeur sal kan ingaan nie.

“Die poorte van die Sumeriërs na die Daarbuite is bog,” sê hy. “Die mens reis nie deur sewe poorte, die SEBET BABI waarvan ek en jy van kleins af geleer is, vanuit die onderwêreld na die Daarbuite nie. Daar is geen ISTEN BABA, SANA BABA, SALSA BABA nie. En net so min as wat daar ’n eerste, tweede en derde poort na die verre huis Daarbuite is, so min is daar ’n REB A BABA, ’n HAMSA BABA, ’n SESSA BABA en uiteindelik die sewende toegangspoort: die SEBA BABA.”

Eenkeer het sy vir hom gevra: “Wat is in die Daarbuite, Abraham?”

“Hy wat Homself El Shaddai noem,” het hy geantwoord. “Net Hy. En Hy verskyn hier op die aarde wanneer Hy wil.”


Ismael was vreesloos, soos slawekinders gewoonlik is. Hebron, sy geboorteplek, was vir hom soos ’n rivier vir visse. Vat aan alles, tel alles aan die pote of vlerke of nek op: die hase, jakkalse, steenbokkies en voëls wat hy so sekuur met sy pyle getref het, waar hy hulle ook al opgemerk het: op ’n oopte in die veld, teen ’n heuwelhang, stil drywend op ’n windstroom hoog in die lug.

“En nog een!” Ismael die jagter het altyd wydsbeen met sy dooie prooi gestaan.

Later, by Berseba waar Isak gebore is en waar daar min diere en baie slange was, het Isak sy pa om die been gegryp en die slange agternagestaar. Gereeld het hy dan drie of vier vingers in sy mond gedruk en met die duim al langs sy mondhoek bly vee, byna soos hy ’n kieliepuntjie van die hoek van haar mantel gemaak het.

Sy het haar altyd verwonder aan sy stilte terwyl hy sy mondhoek en wang met die uitgerafelde hoek kielie. So het hy teen haar bors gelê, soms met die kieliepuntjie terwyl sy hom voed, altyd die duimpie wat oor haar verrimpelde vel gaan. Toe hy kon sit, het hy die tepel soms onverwags gelos en regop gesit om sy vingers oor haar vel te laat gaan, soos oor die skubbe van ’n riviervis, of die dop van ’n skilpad.

Ismael het die slange van die suidland geniet, die verrassing by die altaar van die Allerhoogste: “Râ’âh, ahum! Kyk, boetie!”

“Dit is heilige grond, Ismael.”

“Maar dis ’n horingslang, abum Abraham!” Dan bestorm hy die slang, want die koppe van horingslange het hy tog verbrysel. Maar wanneer die rook van die offerdier reeds aan die opstyg was, het Abraham hom met oopgesperde arms en hande gekeer. “Af van hierdie heilige grond.”

“Ek móét sy kop papslaan, daardie slange is so giftig soos …”

“Af van hierdie heilige grond, Ismael. Watter mag het ’n horingslang voor God die Almagtige?”

Hoe graag wou Abraham sy seun Ismael laat verstaan hoe groot God is. Ook hier naby Hebron, in die tyd wat aan Ismael behoort het, want niemand het meer voorsien dat Abraham ook ’n seun by Sara sou hê nie.

Behalwe hyself. Wanneer Abraham van sy altaar af teruggekom het, want daar was oral ’n ou of nuwe altaar, het hy die hoop wat hy verloor het, weer daar gevind.

Toe hy een aand by Hebron sag by homself gesing het – hy wat so vals was, g’n wysie kon hou nie – het die vraag net gekom, want sy was ver van sing af. Ismael het vye en dadels by Hagar kom haal en ’n kopdoek saamgebring om ekstra hande vol daarvan daarin te kom toeknoop.

Dit was buite die seisoen van vars dadels en vye; die gedroogde vrugte moes nog lank hou. Nie net vir Ismael nie, vir hulle almal. En die groot dadels, die sonsoetes, was haar gunsteling.

“Die droëvrugte moet nog lank hou, Ismael.” Sy was nie kwaai nie, sy het gekies om net gewoon met hom te praat, soos met ’n verstandige mens.

“My eema het gesê ek kan dit kry.”

“So baie?”

Hagar het om die hoek gekom. “Wat is die probleem?”

“Sy sê ek moenie so baie vat nie.”

Hagar het haar kop stadig gedraai. “Hy is die erfgenaam, Sara.” Net so, asof hulle vroue van een en dieselfde harem was.

Daardie aand was sy ver van sing af.

“Is dit vir jou … Wanneer jy offer … Wat ek wil weet, is of dit vir jou lekker is om jou hart tot El Shaddai te verhef?”

Hoe sou ’n man kon verstaan wat sy bedoel, selfs haar eie man?

Is julle gesprek so gemaklik soos my en Rahel se oor en weer gesprekke, Abraham? Vloei dit net: dan ék, dan Rahel, en later huil ek, want sy verstaan, en later lag sy, want ons verstaan mekaar? Smag jy daarna om na El Shaddai te gaan, Abraham, soos wat ek daarna smag om Rahel by my te hê wanneer ek nie verder kan nie? Sy is my wateraar in Kanaän, Abraham. Ek dink ek is soms ’n flou stroompie water vir haar ook. Ons drink van mekaar, dit is vir my lekker by haar, gemaklik. Ek weet ek is welkom by haar, ek het vrymoedigheid.

“Julle gesprek, Abraham, jou en El Shaddai s’n, voel jy vrymoedig?”

Sy het dit gevra en hy het sy kop stadig geskud. Nie geknik nie, geskud, en sy het dit nie verwag nie.

“Vir my is dit moeilik, Sara. Waar vind enigeen vrymoedigheid jeens Een wat Homself El Shaddai noem? Een wat vuur en swael uit die hemel laat reën om stede te verdelg? Een wat die berge laat skud, een wat belowe en dan jaar na jaar swyg, terwyl jy, Sara, verdroog?”

Jou soene ook, het sy vlietend gedink. Jou soene het ook verdroog, soos droëvrugte. Maar dié droëvrugte is lank nie meer eetbaar nie.

“Weet jy hoe ek wens?” het Abraham vir haar gevra.

“Hoe jy … wat?”

“Wens.”

“Begeer? Wat wens jy?”

“Om die stad te sien.”

“Watter stad?”

“Die een met vaste fondamente. Die een waarvan net Een die ontwerper en bouer is: die ewige God.”

’n Stad, iewers? Die woonplek van Hom wat onsigbaar en ewig is?

Dit was vir haar onbevatlik. Dit het haar bekommerd gemaak oor hom. Die werklikheid was vir hom te veel, hy het dagdrome begin droom. Mense wat te veel verduur, raak opgewonde oor onaantasbare heerlikhede waarin hulle ontvlug.

“Jy en Lot … Jy het soveel bekommernis oor hom gehad, oor sy terugverlang na gevleuelde wesens en paleispilare en ziggoerats en …”

“Ek verlang nie terug nie, Sara. Ek verlang vooruit.”

“Praat met my oor wat jy voel wanneer jy na jou altare gaan.”

Hy het na sy verdikte toonnaels sit en kyk, hard en lelik soos ou woestynskilpaddop. “Ek wens baiemaal, nee, elke dag van my lewe, daar was een enkele opening in die hemel daarbo, dat ek El Shaddai kon sien. Dat iets my net een keer deur die opening sou kon trek, dat ek net een kyk kon kry. As ek Hom een enkele keer in die Daarbuite gesien het soos Hy is, sou ek my lewe lank van die aarde af met Hom bly praat het. Al sou Hy die opening weer toemaak. Ek sou boontoe roep en sy Naam prys en nooit weer twyfel nie. Ek sou weet Hy wat Homself onsigbaar vir die mens maak, is in heerlikheid net anderkant die opening.”

Skielik was hulle naby mekaar, nader as toe hy nog met haar gespeel het. Sy het haar arm om sy skouers geslaan, want hulle het langs mekaar gesit.

“Maar Hy verskyn aan jou, Abraham.”

“Wanneer Hy wil. Partykeer gaan baie seisoene verby, dan is Hy net stil. Wat ek begeer, is dat ek na Hom sou kon gaan wanneer ek wil. Dat Hy … tuis sal wees, altyd daar, nooit so weg nie.”

“Wat jy sê, begeer ek ook, Abraham.”

Hoe kon hy enigiets so diep uit sy siel sê, en dan lag sy?

“Dit sou lekker gewees het om na Hom te gaan. Ek sou gehardloop het, elke dag.”

“Kyk net waar jy hardloop,” het sy begin lag. “Jy is lank. As jy so in die hardloop oor iets val en neerslaan, moet jy weet jy gaan ’n paar bene breek, al met jou lengte langs.”

Sara

Подняться наверх