Читать книгу Sara - Maretha Maartens - Страница 9

HOOFSTUK 4

Оглавление

Vreemd. Die son skuif voorwaarts, tyd rugwaarts. Al na agter skuif die tyd: deur die nag tussen die twintigste en negentiende dag van Lente; terug na die somer toe Isak trapvoete begeer het, terug na die ruiltransaksie voor Isak se geboorte: ’n bok, ’n bul, ’n koei, vyf silwerstukke aan elkeen van die slawe. Omkoopgoed in ruil vir swye.

Rahel, so trots en raseg Aramees soos Eliëser-van-my, soos wat sy haar man noem, het haar opinie oor die taal van die Amoriete. “Beskaafde en onbeskaafde mense praat verskillend, Mevrou. Ek sê vir Eliëser-van-my daar moes ’n skeiding kom, of almal van ons was by hierdie onbeskaafdheid ingesleep. Wat by die toringtempel van Bav-Ilim gebeur het, was goed. Ek sou tien dode gesterf het as my kleinkinders die vloeke wat hierdie mense oor ander uitspreek, moes hoor soos hulle die geblêr van ons vee en die gebulk van Meneer se beeste hoor. Daar is dinge wat vir my nageslag vreemd moet bly. Die towerspreuke van hierdie nasies. Die woorde van hulle hoere wat hulle saam met moedersmelk inkry. Van die eerste sluk biesmelk af. Ons van Aram praat ’n taal met …”

Sy het na die regte woord gesoek en dit gevind. “Die taal van Sirië is ’n goedgesinde taal, Mevrou. Goedgunstig. Eliëser sê ’n mens is soos sy taal. Toe ek hierdie Amoriete die eerste keer met my eie ore hoor praat het, het ek geweet ons is in vir moeilikheid. Groot moeilikheid.”

Hoe reg was jy, my slavin, my suster. Die Amoriete wat hierdie gebied lank voor Abraham se trek – eers uit Ur, toe uit Haran – kom bewoon het, praat anders as my heer Abraham en jou man Eliëser. Die suising van die wind in lang gras, die shhhhh-shhhhh-geruis in alles wat my man in sy ouderwetse Akkadies en jou Eliëser in die Akkadies van Damaskus sê, is nie deel van die Amoriete se verheidense Akkadies nie. Hulle taal is soos die voorkoms van hulle mans en seuns: so hard op die oor soos hulle hande op jou vel. Daar is min selfrespek in hulle praat, maar baie strydlustigheid.

Behalwe by die kind wat ons oor en weer vir mekaar verstaanbaar maak. Abi-Yatum klink asof sy nie van hier is nie.

O, Rahel, was jy maar hier! Verlede nag …

Was jy verlede nag maar hier!

Hoor en sien het verlede nag hier buite die stadsmuur van Kirjat-Arba vergaan. Die jongerige vroue het hulle later na buite gehaas, die nag in. Die kinders wou agterna streep, maar hulle ma’s het hulle teruggejaag: “Salālu, salālu! Loop slaap!’’

Twee vroue met spierwit hare het op die tentvloer bly sit. Ek dink hulle kon my onrustigheid en my vrae oor wat so na aan tent aangaan, later nie meer verduur nie.

Een van hulle het haar bos gekoekte hare naderhand heeltemal deurmekaargekrap, hande-viervoet orent gekom en aan ’n kind gaan skud wat naby haar lê en slaap het. Die kind wou nie opstaan nie. Sy het met die gladde seilbeweging van ’n geitjie onder die ou vrou se hand probeer uitglip, maar ’n klap teen die kop het haar laat regop sit, doodluiters.

Dit was of sy die harde klap net gehoor het. Asof die moeë ou vrou teen ’n muur langs haar geslaan het.

“Sê vir die ummu- šību …” Die ou vrou het aanhoudend en heftig gepraat.

Ek was die oorlas in die nag, Rahel.


Die dogtertjie het op seningrige bene in die lamplig na haar toe aangekom. Hierdie enetjie het perfekte trapvoete, het Sara ’n oomblik lank gedink. Groot, breed en met voetsole wat selde water sien.

Trapvoete.

Isak se woord, sy begerige kleinseuntjiewoord. Hy was pas drie jaar oud, en daar was ’n afgebreekte punt van een van Berseba se duiwelskloudorings in sy voet. Sy het dit probeer uitgrawe: eers met ’n pendoring, toe met ’n mes. Hy het dit uitgekerm van pyn en met wit kneukels aan die klip vasgehou waarop hy gesit het. Uit die hoek van haar oog het sy Ismael sien naderkom. Sy hande was oop agter sy ore en hy het sy vingers bly wikkel. Vermakerig, het sy gedink. Hy tart vir Isak.

Sy het omgeswaai: “Wat, dink jy, doen jy, Ismael?”

“Ek, Mevrou?” Hy was so onskuldig soos ’n lam. “Ek maak grappies met Isak, dat hy nie aan die seer moet dink nie, Mevrou.” Hy het sy linkervoet tussen sy hande vasgegryp en spring-spring soos ’n volstruis met ’n gebreekte been tot voor Isak gehop. “Voel hier, Isak. Voel my voetsool. Die dorings het my ook altyd so seer gesteek, maar een van die dae is jou voetsole net so hard soos myne. Voel hier. Jou voetsole gaan nog soos sandaalsole word.”

Isak het sy handjie uitgesteek en Ismael se voetsool van die groottoon tot die hak en weer tot teen die kleintoontjie bevoel.

Sy was tot in haar verhemelte ontstem. Ek wil nie hê dat my seun aan jou voetsool moet sit en vat nie, wou sy vir Ismael sê. Dit hoort nie so nie. Jy is die seun van ’n slavin. Druk nou weer jou klipharde voetsool so vlak voor Isak se gesig!

“Mens kan oral met sulke voete trap,” het Ismael gegrinnik. “Oral.”

“Ook op goed wat steek, boetie Ismael?” Isak se trane was weg, hy was die ene bewondering.

“Op duwweltjies en dorings en klippe en op jou kop, my klein ah˘um!”

Ismael het dit net gesê. Hy kon niks verder waag nie. Sy was immers by Isak, krapmes in die hand, die wyfietarentaal met dreigend gepofte vere.

“Gaan vra vir jou ma hoe ver sy met die ete is,” het sy Ismael van Isak af weggestuur.

Isak het die sool van sy seer voet aandagtig bekyk.

“Ek wil trapvoete hê soos my boetie.”

Sy het sy handjie gevat en hom tent toe geneem vir sy voeding. Sy het op hom afgekyk terwyl hy drink en die traanspoor op sy linkerwang gesien. My klein olel, het sy bewoë gedink. Kind van my bors, kind wat sy handjies begin uitsteek na meer as moedersmelk. Knyp my ou los vel vir oulaas soos jy dit nou reeds drie jaar lank doen, my kind. Jy wat nog troos en vrede aan my bors vind, sal binnekort probeer om my kleed oop te trek, maar ek sal jou iets anders moet aanbied: meer van die vleis en brood waaraan jy reeds so ondersoekend proe. En niks meer van my nie, behalwe my arms en my skoot en my hart.

My klein olel, het sy gedink, jou vader is besig om die fees te reël waartydens jou oorgang van olel na gâmal – van kind aan die bors na gespeende seun – gevier gaan word.

Die gedagte was soos ’n doringpunt in haar hart.


Die dogtertjie wat onder haar kombers uitgeklap is, het op trapvoete nadergekom. Agter haar het die ou vrou met die gekoekte wit hare hande op die buik staan en wag.

Die kind het soos die ou vrou gepraat, net in ’n ander lyf en stem: “Ummu- šību, jy gaan nêrens nie.” Haar Akkadies was soos dié van Akkad en Ur-Ma. Dit was of sy in die land tussen die twee riviere grootgeword het. “Jy is siek. Jy sal sieker word as my ouma-hulle jou uitvat buitentoe.”

Die ander bejaarde vrou het aanhoudend op maat van die voetegestamp en slaginstrumentmusiek naby die tent sit en wieg. Sy het skielik opgehou en met ’n kromgetrekte wysvinger eers na Sara en daarna buitentoe beduie: “Jy moet van die elohim sê, Abi-Yatum.”

’n Dowe sou haar woorde kon verstaan.

Die kind het gegaap en klaerig teëgepraat, maar tevergeefs. Die twee bejaarde vroue het soos kraaie gekras. Die kind het haar hande op haar ore gesit, dit weer weggevat en dikmond bes gegee: “Ek sal sê.”

“Wat sê hulle van die elohim?”

“Hulle sê ons elohim sal jou nie help nie.”

Help? Ek het nie die hulp van hulle gode nodig nie!

Die vaak kind het haar stilte verkeerd verstaan: “My ouma en my oupa se suster sê die gode van die Amurru gaan jou nie help nie. ”

Kraaie in die agtergrond, kraaistemme, woorde, woorde, woorde.

“My ouma en my oupa se suster sê die gode van die Amurru hou nie van julle nie. My oupa se suster sê as sy jy was, sou sy nie eens daaraan gedink het om vir die gode van die Amurru te gaan vra om haar gesond te maak nie. ”

“Ek vra nie om na die gode van die Amurru te gaan nie!” Wat laat hulle so dink? Hoe kan ek dit wil doen? Hier in die Amoritiese tent is daar tog ’n mate van afsondering.

Daar was geen goedgesindheid meer in die tent nie. Nie by die twee bejaardes nie. Daar was iets so onversoenbaars soos duiwe en slange, soos lig en donker, soos die gees van Isak en dié van Ismael.

Die kind het gegaap, gesug, op haar slaapplek gaan sit en tam aan hulle oorgedra wat sy gesê het. Hulle het gelyktydig reageer.

Die een hoor die ander een nie, het Sara gedink. Of dalk maak dit nie vir hulle saak of die ander een ook praat nie.

“Staan op daar, Abi-Yatum!”

“Sê vir die ummu- šību …”

Woorde, woorde, woorde. Abraham se naam is genoem.

Die kind – teen dié tyd seker so uitgeput dat sy kon omval – het soos ’n sleg donkie met haar skouers en kop gemaak voordat sy weer sleepvoetend nadergekom het. “My oupa se suster sê jou man is teen die gode van die Amurru.”

Woorde, nog woorde. Een kraai het harder as die ander gekrys.

Dit het skielik vir Abi-Yatum te veel geraak: “Maar die ummu- šību is siek!”

“Vloek dan haar man, nie vir haar nie.”

Dié woorde het Sara sonder tolk verstaan.

Die kind het nou ’n hele relaas gehad om oor te dra. Maar sy het begin giggel. “My oupa se suster en my ouma baklei nou met mekaar. My ouma sê my oupa se suster moet jou nie vloek nie. Maar sy kan jou man vloek soveel as wat sy wil. Hulle baklei altyd so.”

Die twee bejaarde vroue was in mekaar se hare. Soos stofduiwels.


Wanneer alles in die droogte verdor en die silwer glimmering van grondwater onder in die enkele waterput dieper sak, heeltyd dieper, dan begin die stofduiwels van Berseba juis daar dans. El Shaddai se beloftes versink in die niet. Die veewagters versink om die beurt in ’n ontydige geslaap, gegaap en gedommel. Hulle kom met pasgebore lammers in die arms by die put aan; die ooie volg slingerend met leë uiers. Die stofduiwels woed soos ou Amoritiese vroue, soos die inwoners van Kanaän. En Abraham se hart versink vinniger in hom as die water in die put.

Oor die standhoudendheid van dié enkele put, die water tussen elke asem in die staning en die dood, het Abraham hard tot die Here geroep, keer op keer wanneer reën in Lente – die vroeë reëns en die laat reën – wegbly. Oor die gevegte tussen sy veewagters en die slawe van Abimelek oor dié put het Abraham snags wakker gelê, rondgerol, naggesprekke met haar gevoer: “Ons gaan sonder water sit, Sara. Dit is nie ‘miskien’ en ‘ingeval’ nie. Dit is ‘wanneer’. Hulle daag hier op uit Gerar met Abimelek se veetroppe. Gasael sê hulle noem my mense Apiru, bestoftes. Gulsige luise vol woestynstof, waterdiewe wat die water van Kanaän uit die grond kom uitsuig. Wat moet ek doen, Sara?”

Eliëser het sekerlik vir hom gesê dat hy die saak met Abimelek moes bespreek, die noodsituasie met hom moes deurpraat. Want dit wás Abraham se manne wat die enkele put by Berseba gegrawe het. Dit wás hy en die bittereinders wat gegrawe en gebid, gegrawe en gesmeek, gegrawe en hulle op die voorsiening en sorg van El Shaddai in dié onherbergsame streek beroep het. Die vee het geslinger van dors, dit was ’n saak van lewe en dood, van water of vergeefse soeke.

En toe hulle die eerste klammigheid vind, dieper in die aarde as wat hulle ooit voorsien het, het die vasbyters wat Abraham met die hand uitgesoek het om saam met hom en sy huis na dié waterlose, yl bewoonde streek te trek, die God van hemel en aarde skreeuend van dankbaarheid geloof. Soos die Amoriete vir Baäl, maar harder en half huilend en met hulle harte net op Hom gerig. Die slingerende vee het die water geruik. Hulle het na die put gekom soos die diere na die ark waaraan Noag een honderd en twintig jaar lank gebou het.

“Wat moet ek doen, Sara?”

Sy kon nie Eliëser se raad beaam nie. Sy en Abraham het ’n geskiedenis met Abimelek gehad. Daardie tyd, daardie woedende verwyt uit die mond van ’n onbesnedene: “Met jou leuens het jy my volk op die rand van verderf gebring. Wat het jy ons aangedoen? Wat het ek aan jou gedoen wat verkeerd is dat jy hierdie groot ellende oor my en my koninkryk gebring het? Wat jy my aangedoen het, is onbehoorlik. Wat het jou besiel om so iets aan te vang?”

Die lamlendige verskoning, man tot man: “Ek het gedink hier is niemand wat God dien nie en die mense sal my doodmaak oor my vrou.” Die belediging in die verskoning: ek het julle almal aangesien vir heidene vir wie enigiets reg is, mense sonder vrees vir die Allerhoogste, Hy wat my God is.

En die halwe waarheid wat gegroei het tot leuen: “Sara is regtig my suster; sy is my abum Tera se dogter, maar nie my ma s’n nie. Sy is Lahazib van Maniksum aan die Tigris se dogter.”

“Is jy met haar getroud?”

“Ek is met haar getroud, U Hoogheid, ” het Abraham geantwoord. “Toe God my uit my vaderland laat wegtrek het, het ek vir haar gesê: ‘Jy kan wys dat jy my liefhet deur op elke plek waar ons kom, van my te sê: Hy is my broer.’”

Watse toets vir my liefde was dit, Abraham? Ek het dié toets, dié vernedering daarna diep in my siel onder sand soos dié van Berseba in die droogte toegegooi. Maar wanneer Abimelek se naam genoem word, kom daar stofduiwels deur my siel gewaai. Die laag sand wat ek op hierdie leed geskep het, is onvoldoende. Dit is los sand. Abimelek se naam is soos wind, soos tregterwind wat die sand lig en triomfantelik verstrooi. En waar die tregterpunt was, lê my skande en my woede en vertwyfeling, my vernedering, oop soos wit geraamtebene.

Ons het kleinvee en grootvee, slawe en slavinne, ja, duisend stukke silwer van Abimelek gekry om elke mond in die staning te snoer. Om al die veewagters mee om te koop om stil te bly, en om vir die heidene om ons te wys dat alles is in orde is. Dat Abimelek ’n man van eer is.3

Hoe verbyster was Abraham se manne, hoe verbaas was Rahel, Eliëser, Gasael, al die bittereinders en vasbyters wat geweier het om moed in dié barre gebied te verloor.

Hoe verbaas was hulle almal om deur hulle eienaar omgekoop te word tot ’n sameswering van stilte oor Abimelek. Hulle het voor Abraham gestaan, en dit was nie ’n semû-u-idû nie. Dit was ’n ruiltransaksie: ’n bok, ’n bul, ’n koei, vyf silwerstukke elk in ruil vir swye. Die slawe en slavinne het Abraham vir homself geneem; slawe staan tog nie in diens van ander slawe nie.

Hagar het trots en fier voor Sara gestaan, haar oë ongewoon helder. “Gee die silwerstukke vir iemand anders. Of vat hulle vir Mevrou.”


“My ouma-hulle sal aanhou totdat een ophou,” sug Abi-Yatum.

Is dit moontlik dat twee bejaarde vroue met grys hare wat tot onder hulle heupe hang so baie soos stofduiwels kan lyk?

Ek is moeg en deurmekaar, het sy geweet. Want skielik was sy weer saam met Isak in die veld by Berseba, waar hulle gereeld toe-oë staan en wag het dat ’n bruin dwarrelwind tot ’n besluit moet kom oor die koers wat dit tussen die klippe wou inslaan. Met Isak by haar moes sy die stofduiwels vanuit sy kinderoë sien. So ’n stofduiwel kan dit mos in sy kop kry om jou reg van voor te bestorm en al die sand wat hy opgeraap het, in jou oë en ore te gooi.

“Hier kom hy, Isak! Ogies toe, hande op die ore!”

Later was dit hy wat haar aan die hand gegryp het, hy wat haar woorde so diep ingedrink het, dat dit sy woorde geword het: “Hy besluit nog, Eema. Dan wag ons maar.”

Droogte, skroeiende son, die veewagters altyd weer hangskouer van moedeloosheid, die maan snags sonder ’n wasige ring wat van aankomende reën profeteer, en hulle twee het geskaterlag.

Sy het na die twee vroue in hulle struweling lê en kyk.

“Dan wag ons maar, Abi-Yatum.” En ’n lag uit die verre verlede het uit haar keel gekom.

Abi-Yatum het vlugtig oor haar skouer gekyk en haar hande voor haar mond gesit om die proes te demp. Toe het sy doodluiters gesê: “Eintlik vloek ek seuns wat hulle išāru’s vir my wys die heel beste.”

Wat het sy gesê? Ek het verkeerd gehoor, het Sara gedink. Die dogtertjie se lyfie is dan nog dun en plat, haar oë dan nog helder?

Maar Abi-Yatum het uit die hoek van haar mond met haar gepraat: “Maak jou oë toe, Ummu- šību. Dan sal hulle jou uitlos.”

Kinders is nie wreed nie. Hierdie kind met die vuil hare waarin daar stukkies droë blare vassit, het sy onsamehangend gedink, is so beskermend soos Isak toe hy so oud soos sy was. Waaroor het hy nie alles gewaak nie: werpsels pasgebore veldmuise wat heel aan die begin babahandjies en babavingers het. Wurms. Torre. En voëls wat ná ’n groot storm beseer en halfdood op die grond beland het.

Soos ek, dink Sara.

En soos die Amoritiese meisietjies wat na die manne van die handelskaravane en die Baäl-priesters gesleep word. Die meeste van hulle beur die eerste keer terug soos steeks donkies. Hoe jonger, hoe angstiger skree hulle. Maar daar is baie wat reeds deur die groot seuns van die gebied ingebreek is.

Abi-Yatum wil nie ingebreek word nie. Sy vloek dié wat haar wil inbreek.

Sara

Подняться наверх