Читать книгу Sara - Maretha Maartens - Страница 7
HOOFSTUK 2
ОглавлениеHier naby, naby die plek waar mense die waarsêers raadpleeg, het Mamre en sy broers vir jou gevra: “Wat moet jy prysgee, Abraham? Waarsonder is jy wanneer jy van jou god af wegdraai?” “Myself,” het jy geantwoord. “Alles van my.” Nou, byna vyftig jaar later, op die twintigste dag van Lente, is ek vroualleen hier by Hebron. Ek wou nie alles van my prysgee nie. Julle, my Abraham en Isak, is my alles. Ek wou soek totdat ek julle weer vind. Maar El Shaddai het my gister op die karavaanpad neergevel.
Eers was daar die loeiende wind wat haar en die twee seuns die hele middag geteister het en hulle telkens met donkie en al uit die bergpas wou slinger. Toe die eerste skudding, soos ’n rilling in jou liggaam. Het ek so pas erg geril? Is ek besig om siek te word? Of verbeel ek my? Is ek net totaal uitgeput?
Nog ’n rilling. Dit is óm my, nie ín my nie. Ek het al so baie rillings in my liggaam ervaar vandat die Apiru die nuus by Berseba aangebring het. Maar hierdie een is van buite, van onder, van oral. Van bo. Só onstuitbaar en groter moes die skudding by Moria op die veertiende dag van Lente gewees het.
“Ons gode sal hulle nie laat verslaan nie,” het die Apiru eers vir die veewagters en toe vir Rahel-van-Eliëser gesê. “Ons gode sal aanhou om die aarde te skud soos dit by daardie berg geskud het. Ja. Die gode van Kanaän weet hoe julle meneer Abraham hulle haat. Ja.”
Onverskrokke, getroue Rahel.
“Tannie Rahel ís mos die goedste van die almalste vir jou, Eema?” Isak op drie, toe hy gesien het wat ’n kind van drie nie behoort te sien nie. Sara het gehuil omdat Abraham die vorige nag teen haar lyf oor dood gehuil het. Dooie veld. Brandmaer ooie wat op wankelrige bene oor dooie lammers staan en weeklaag. Dooie hemele. Dooie kyk in die oë van die veewagters. Twee jong veewagterseuns met oë vir dieselfde veewagtersdogter, twee seuns in dieselfde nawûm – Abraham se veewagterskamp by Berseba – vasgekeer, en geeneen kan sy begeerte na die dogter prysgee nie. Twee vasgekeerde byna-manne wat mekaar bestorm soos bokramme mekaar bestorm. Twee seuns van twee ouerpare, en die een wurg en skop die ander een dood.
’n Ouerpaar, nawûm-mense wie se name nooit soos dié van konings of van Melgisedek, die priester van die Allerhoogste God, in Salem tussen mense genoem sou word nie, draai hulle seun in doeke toe en kap, grawe, kap, grawe ’n graf in die aarde wat hom nie wil laat oopkap nie. Nie vir putte en die versteekte waters van ou riviere wat voor die tyd van Noag in dié gebied was nie. Nie vir die aanplant van bome nie. Nie vir dooies nie. Die naamlose mense van die veewagterskamp ween, die hemele kyk traanloos, reënloos, toe.
Toe die seun ingespit is, vlug die veewagtersdogter van die oorwinnaar af weg. Daardie nag huil Abraham teen haar lyf soos wat die hemele eerder moes gehuil het.
Die volgende dag huil Sara by Rahel-van-Eliëser. En al wat Rahel doen, is om saam met haar te huil, kop onderstebo asof hulle, sonder om aan mekaar te raak, steeds oorkant mekaar by die graf van die ingespitte byna-man staan.
“Hoekom huil Eema, hoekom huil tannie Rahel?”
Isak was so ontsteld.
“Tannie Rahel huil sommer saam met Eema oor grootmensgoed.”
Hy het van die een na die ander gekyk en nie verder uitgevra nie. Die vorige dag reeds het Sara die onskuld uit sy ogies sien wyk. Sy het Ismael gevra om hom by die tent besig te hou, maar terwyl sy staan en staar hoe sy pa en broers die skaapwagterseun se liggaam met growwe woestynsand toegooi, het sy Isak se arms onverwags om haar bobene gevoel: “Eema? Hoekom maak hulle só?”
Hy het geskree, en Rahel het hom aan die arm gevat, na haar toe getrek en haar hand ferm op sy mond gedruk. “Sjuut. Jy kan nou-nou hartseer wees. Mens raas nie hier nie.”
Hy het opgekyk. My kind se oë het die dood van ’n mens gesien het Sara gedink. Nou weet hy.
“Alles maak klaar met leef,” het Rahel op pad terug vir hom gesê. “Veldappeltjies, wurms, motte, voëls, slange, torre, diere. Jy weet mos.”
“Ek wil nie klaarmaak met leef nie!”
“O, jý, jy het nog baie lewe oor, klein-Meneer Isak. Jy kry dan nou eers spiere! Laat ek voel daar aan jou boarm?”
Hy het vuiste gemaak, kleinseuntjiespiertjies gebult met waterige snot en nat trane wat in die wrede sonlig op sy gesig blink.
Rahel het gevoel en geknik. “Mooi. Regtig mooi. Dis van al die hout wat jy vir my aandra, nè?”
Sara het hom tent toe gevat en die stof van sy gesig afgewas, net met ’n paar vingerpunte water – selfs daarvoor was daar skaars water oor. Maar hy was getroos. Rahel het hom vertroos.
Rahel, die moederdier vir haar en Isak. Die suster, die ouma in ma Lahazib se plek, die leeuwyfie. Rahel het die Apiru op die sewentiende dag van Lente soos ’n leeuwyfie tegemoetgestap, hulle gesmaal oor die God van Abraham aangehoor en hulle glo geantwoord: “Sê wat julle wil. Ons weet wat ons weet. Maar dit is nie waarom julle hier is nie. Sê wat julle wil sê. Wat kom julle hier sê, behalwe dat die aarde op die veertiende dag van Lente by Moria geskud het?”
Gister – vyf dae ná die veertiende dag van Lente1 – het dit ook hier by Hebron gebeur, Rahel, dink sy. Was dit gister? Dit is nie die gode van die Kanaäniete wat hier aan die bergpas bo Kirjat-Arba2 ruk nie, het Sara net voor die val gedink. Dalk is dit ek. Dalk is dit my hart. Of is ek daar waar verwilderde oumense drogbeelde sien?
Die bergpad voor haar het gekink en gekrul soos ’n slang waarvan Rahel-van-Eliëser die kop pas verbrysel het. Die rotse bokant die bergpas het gebewe.
My oë sien al heeldag lank nie helder nie, het Sara gedink. Alles is al heeldag lank vol rukkings: ’n wiebelrige landskap van diepe ontsteltenis. Ek veg vir asem; ek hoes my asem al heeldag uit. My siekte kry nou die oorhand oor my.
Maar die skuddings in die bergpas het erger geword, asof dit sedert die veertiende dag van Lente ’n ondergrondse weg van Moria af oopgebreek het. Asof dit op ’n draai in die bergpas naby Kirjat-Arba uit die dieptes opgekom het. Reg voor haar het dit gelyk of ’n reusemol die grond van onder af opstoot. Daar was ’n uitstulping, ’n bars dwars oor die bergpad, vlak voor die hoewe van haar rydier. Maar die skudding was nie net van onder nie, dit was oral: in die berg, in die lug.
Toe die aardbewing Ur in die derde jaar van haar en Abraham se huwelik getref het, het almal van die Leviatan gepraat, ’n watermonster wat uit die see gekom en in die Eufraat beland het. Dit is hy, het die mense van Ur gesê. Die Leviatan soek sy pad terug na die see toe.
Die skudding in die hoë rante bokant Hebron was skrikwekkender as dié van die Leviatan. Wat is hier in die rante? Vir wie kan die doderyk nie meer gevange hou nie?
In een oomblik het sy van dié aardbewing in Ur-Ma onthou. Die tyd tussen die verre verlede en die dag waarin jy jou bevind, kan immers plotseling uitgeslaan word, soos ’n kleimuur in ’n oogwink met swaar hamers te pletter geslaan kan word. Destyds, in Ur-Ma, het sy die gode in haar benoudheid aangeroep: Enlil, die god van die lug en van storms, en Enki, die god van water, droë land en die ganse aarde.
Die Naam wat sy in die groot skudding op die negentiende dag van Lente in die bergpas aangeroep het, was die Naam van Hom wat onsigbaar en heilig is. Die Naam van die El van Abraham en Isak. El Shaddai. God die Almagtige.
Terwyl sy na Hom roep, het sy die donkie hoor balk. Sy het gesien hoe hy sy ore plattrek en sy groot kop omruk om nie slegs te retireer soos steeks donkies maak nie, maar om ver weg te kom van kragte wat hom vanuit die aarde, die rante en die lug bereik. Om te hardloop tot waar hy sy kamp ken.
Gasael se kleinseun Yusuf is met leiband en al van sy voete afgeruk. Sy het hom eensklaps in sy volle lengte oor die klipperige pad sien skuur voordat die dier haar afgegooi en sy niks meer geweet het nie.
Yusuf was op sy knieë langs haar toe sy weer tot haar sinne kom. Hy het opgevlieg, die waterkruikie gebring en by haar gehurk. “Mevrou kan dit drink.”
Bloed het van sy knieë af teen sy skeenbene geloop. Daar was bloed aan die kruikie: sy ken en handpalms was nerfaf geskuur.
Sy het haar linkerarm gelig om die kruikie weg te stoot, maar dit net so laat terugval: “Ei-ei-na. My skouer, Yusuf, my skouer!”
“Ag, Mevrou, tog.” Hy het langs haar gehurk, haar kop tussen sy hande geneem en haar gemakliker probeer maak. Hy was so onhandig, hy het in sy hele lewe nog nooit aan haar geraak nie.
“Help my op, Yusuf.” Maar toe hy dit probeer doen, was sy te swaar vir hom. Sy was dooiegewig in haar kragteloosheid.
Hy was taai van die bloed en sy het hom aanhoudend sien sluk. Maar op twaalf, dertien was hy reeds soos sy oupa Gasael. “As Mevrou net rustig hier bly, sal ek hulp gaan haal.”
“Waar is jou broer?”
“Terug Berseba toe, Mevrou. Hy gaan my oupa of my pa haal.”
“Die donker gaan hom oorval.”
“Hy hardloop met die pas langs, Mevrou.”
Sy het begin huil, en dit by ’n kind. “Bly by my, Yusuf.”
Die seun het asof tussen twee vure gestaan. “Die donker kan Mevrou ook hier oorval. Daar is baie leeus en roofdiere in die berg. Mevrou weet hoe bang ons gisternag was, met daardie dier wat die klippers laat rol het. Asseblief, Mevrou, laat my toe om hulp te gaan haal.”
Moet my nie alleen laat nie, Yusuf. Eerder nog ’n nag met jou by my, soos verlede nag op pad hierheen. Ek sal weer soos gisternag in my mantel by die gloeiende kole sit en dommelslaap, die klerebondel as kussing agter my kop.
Gisternag, toe die koue haar en die seuns kort voor dagbreek oorval het en die laaste rooi uit die kole was, het sy vir die twee seuns gesê: “Kom sit hier teen my, dat julle warm kan word.”
Maar Yusuf het iets in die donker uitgetrek, iets wat na hom, na sy sweet en slawebestaan ruik, oor haar gegooi: “Ons is doodreg, Mevrou. Dis jammer Mevrou kan nie ook so teen die donkie sit nie.”
Hy het opgestaan, sy seunsgestalte soos ’n donker beeld teen die maanverligte hemelruim. Boggelmaan, het sy gedink. Die volmaan verander reeds in ’n boggelmaan.
“Eintlik kry ek warm,” het sy hom hoor jok. “Ek gooi dié sommer oor Mevrou, as Mevrou nie omgee nie. My groot-eema Rahel se voete word mos nooit meer warm nie, ek maak baie keer ook so met haar bene en haar voete, Mevrou.”
Toe trek hy sy slawemantel oor haar, versigtig, sonder om eens met sy vingerpunte in die donker aan haar te raak. Eendag, het sy gedink, gaan hy soos sy oupa Gasael wees.
So bedagsaam was Yusuf ook toe hy haar ná die nag tussen die agtiende en negentiende dag van Lente op haar bene gehelp en die donkie vir haar nadergelei het.
“Wanneer die son vanaand sak, is ons by Meneer se nawûm by die groot bome, Mevrou. Het Mevrou genoeg geëet? Voel Mevrou goed genoeg?”
Sy ouer broer, die swygsame een, het die roosterkoeke in die linnelap toegevou, die dikmelk- en waterkruikies na Yusuf uitgehou. “Hier. As Mevrou nog dors is.”
Hulle het haar heeltyd vandat hulle van Berseba af weg is, soos ’n ongebakte kleivoorwerp behandel, so versigtig. Maar net met die vingerpunte, nie in ’n stewige greep tussen albei hande, soos hulle ma met kleigoed maak nie.
Watter slaweseun vat immers met albei hande aan sy meester se vrou?
Ná die val was haar kleed opgeskuif tot bokant haar knieë, haar knieknoppe en onderbene oop en onwaardig.
Yusuf was te verleë om haar kleed beet te kry en haar lelike ou bene daarmee toe te trek. Sy het afgebuk en dit self gedoen, so goed sy kon. Maar by die enkels het haar bene nog uitgesteek, en dié het vir haar kompleet soos ’n dooie skaap s’n gelyk. Behalwe vir die bloed. Iets wat dood is, bloei nie.
Het sy gehuil? “Ek smeek jou om by my te bly, Yusuf.”
Hy het gebewe. En dit was of sy Gasael – of Eliëser, sy oupagrootjie – hoor praat: “Ek moet doen wat meneer Abraham nou van my sou verwag het, Mevrou.”
“Gaan kry my donkie,” het sy hom probeer keer. “Help my om op my donkie te kom, dan lei jy hom na ons tente onder die groot bome. Na my man se veewagterskamp toe.”
Hy het sy kop geskud. “Mevrou se donkie het met alles weggehardloop. Net Mevrou se waterkruik het hier bo-op die bossies geval.”
Sy het begin hoes, die ergste vandat die gedurige hoes begin het.
“Mevrou is siek,” het die seun gesê en die kruikie weer teen haar lippe probeer hou. Hy het iets ongehoords gedoen: die agterkant van sy hand teen haar voorkop gedruk, net ’n oomblik lank. En toe teen iets soos ’n swam teen haar kop.
“Eina!”
Hy het sy hand weggeruk, sy bes gedoen: “Mevrou het koors. Drink net ’n bietjie water, Mevrou.”
Sy het dit gedoen en dit was of sy die seun se sout bloed en sy trane geproe het.
Sy wou voel, en wat sy gevoel het, het haar met afgryse vervul. “Wat is hier teen my kop, Yusuf?”
“Net ’n knop, Mevrou. As Mevrou liewer nie daaraan sal druk nie, Mevrou.”
Hy het sy kort jurk uitgepluk en dit soos ’n Egiptiese laken oor haar gegooi.
“Ons is nou-nou terug hier, Mevrou,” het hy haar beloof voordat hy net in sy lendedoek in die rigting van Kirjat-Arba begin hardloop het.
Ten spyte van sy vrees vir ’n loesing het hy by die eerste die beste Amoritiese kamp ingestorm. Met die Amoriete in ’n kring om hom, só lei sy af uit die onophoudelike gepraat om haar, het die seun blykbaar verder by Abraham se reëls gehou: “Ek is nie ’n Amoriet nie. Ek is een van meneer Abraham, die groot donkiekaravaanbaas se mense. Hy is weg saam met meneer Isak. Mevrou soek hulle. Daar was ’n aardbewing. Meneer Abraham se vrou is daarbo. My meneer gaan kwaad wees oor ek hier kom hulp vra het. Ek het vrees, ek kom met vrees vir meneer Abraham. Maar my meneer se vrou huil baie. Sy het koors, daar is ’n ding teen haar kop, haar been is seer en sy kan nie opstaan nie en ons donkies is weg met alles.”