Читать книгу Sara - Maretha Maartens - Страница 6
HOOFSTUK 1
ОглавлениеBy Berseba was ons tot die negende dag van Lente – die dag van El Shaddai se opdrag – nog soos drie vingers van dieselfde hand. Jy was die middelvinger, Abraham, met Isak net-net korter as jy en veel langer as ek. Twee manne wat oor een verkrimpte ou mens kloek en waak. Nou, in die oggendure van die twintigste dag van Lente, is my eerste nag van yl in die tent van wildvreemde Amoriete verby. Die môreson skyn oor die rantjiesveld hier buite Kirjat-Arba. Ek wil opstaan, maar ek kan nie.
Die sametrekkings in haar bors kom en gaan soos geboortepyne. Die steekpyne in die kontraksies skiet verder uit: deur haar linkerribbes, linkerarm se kant toe. Dit is pynliker as die wond aan haar been.
Dié pyne het dwarsdeur die nag gekom en gegaan, presies soos met Isak se geboorte in hierdie seisoen van geboorte en hergeboorte, sewe en dertig jaar gelede, toe sy negentig jaar oud was. Sametrekking, verligting, versagting van die pyn. Hervatting van die pyn, opbouing, sterker, feller, asof jou lyf met twee hande aan weerskante van die seun in jou oopgeskeur word, sodat hy uit die donkerte van jou liggaam kan kom om die son in al sy glorie te aanskou.
’n Langer nag en halwe dag was daar nog nooit nie. Isak is gebore toe die son reg bokant Abraham se tente in die hemelruim was, asof die lig van ’n enkele brandende ster in die middel van die dag op Berseba geval het. Sy het oomblikke ná sy geboorte boontoe gekyk en op die bokseile bokant haar het daar ’n silwer glansende ring van lig gelê.
Onmoontlik, het sy gedink. Alles is onmoontlik: lig wat die tentdak deurdring, die lewenskragtige gehuil waarmee dié kind die lewe ingekom het. Hy het sy koppie bly draai en sy nekkie bly rek, asof hy die ruimte waarin hy gaan grootword, dadelik goed wou bekyk. Die regterarmpie is in die lug opgestoot. Hy het ’n seuntjievuis gehad. Wanneer die slavinne by haar verbykom met ’n pasgebore, doekebedekte baba waarvan net ’n handjie uitsteek, was dit nog nooit nodig om na die geslag van die aankomeling te vra nie. Die handjie – ’n kwaai knoetsie met vel om, of argeloos en oop – het onnodige vrae nog altyd uitgeskakel.
Isak het sy seunsvingertjies tydsaam uit die knoetsie ontvou en hom uitgerek. Toe het hy sy gesiggie na haar toe gedraai. Hy staar my aan, het sy besef. Sy ma wat huil en lag. Sy ma wat reeds maande gelede vir hom ’n naam gekies het met al die ongelowige lag van vroeër en al die blye lag van nou vir altyd daarin vasgevang.
“Sumu, vrou van Abraham?” het die kring Amoritiese vroue laat gisteraand – of was dit eergisternag? – in hulle soort Akkadies probeer vasstel wat haar naam was, maar eers nadat hulle groot en growwe raakvathande haar op die matras in die tent met sy vreemde reuke neergelê en haar gekneusde lyf gemaklik gemaak het.
Die groot bome van Mamre die Amoriet was te ver van die plek in die bergpas waar los klippe van bo af ondertoe gerol en party daarvan haar teen die kuit en skrams teen die skeenbeen getref het. Gasael en sy vrou Tamân se twaalfjarige kleinseun Yusuf het toe hier buite die stadsmuur van Kirjat-Arba by hulle kom hulp soek.
Yusuf het ongetwyfeld vir hulle gesê sy is nie ’n Amoriet nie. Só leer Abraham hulle steeds, soos met hulle aankoms in Kanaän, twee en sestig jaar gelede. “Die Kanaäniete moet presies weet wie julle is. Julle vat niks van hulle nie, julle kuier nie saam met hulle nie. Julle gedra julle onberispelik. Julle help ’n Kanaäniet as julle sien hy is diep in die moeilikheid, in lewensgevaar. Maar as julle self groot moeilikheid het, stuur julle iemand om vir julle hulp in die kamp by julle eie mense te kom kry, of by my.”
Die Amoritiese vroue wat haar beseerde been versorg, stel haar gerus deur die kind wat hulle bykans onverstaanbare pratery nou ook in die oggendlig, soos diep in die nag wat agter hulle lê, in ’n hoë stemmetjie vir haar verstaanbaar maak: “Dit is net slegte skrape wat bloei, Ummu- šību – moeder wat oud is.”
Die kind wag vir die volgende stuk pratery, knik, dra hulle woorde in ’n stink asempie aan haar oor: “My ma sê olie en sout sal jou been gesond maak.”
Die vroue praat van oral af, die kind druk haar ore kastig eers toe, luister dan weer en bring die res van die boodskap in die soort Akkadies wat kinders in die verre Akkad tussen die Tigris en Eufraat praat: “Jy moenie aan die knop teen jou kop druk nie.”
Die knop teen haar kop het sy reeds gevoel, soos ook die diep pyn in haar linkerskouer. Sy kerm dit uit toe die Amoritiese vroue haar wil omrol.
Ek huil oor my skouer, dink sy, ek kerm dit uit van pyn, en hulle het bly dink dit is oor die knop teen my kop. “Sê vir hulle my skouer is baie seer.”
Die kind tolk. Die gepraat van die vroue – oud, jonk, kind-op-die heup, hoogswanger, net-net sigbaar swanger of nog sakkerig ná die laaste barensnood en kindergeboorte – is soos ’n rukwind in die tent. Die kind swaai om na haar toe. Sy praat sagter, soos wat kinders met kruppel lammers praat: “Jy het van ’n donkie afgeval.”
Asof sy dit nie weet nie.
“My suster sal ’n klip van die kole af bring.”
Die sussie, seker so veertien jaar oud en swanger, daag op asof sy geroep is. Sy hou vuil lappe met ’n groot, plat klip daarop na ’n ouerige vrou toe uit. Die vrou vou dit in die lappe toe, frons en sit die bondel op die tentvloer neer.
“Dis nog te warm,” verduidelik die kind uit haar eie.
Twee vroue vat Sara aan die nek en heup, rol haar stadig om.
Sy kerm; sy hoor haar eie gekerm. Hulle laat haar terugrol en haar skouer rus op die warm, toegedraaide klip.
O, Adonai, dit help.
“Wat is jou naam nou weer?” vra sy vir die kind.
“Abi-Yatum,” kry Sara die antwoord saam met die reuk van ’n verrotte tandjie iewers in haar mond.