Читать книгу Sara - Maretha Maartens - Страница 8
HOOFSTUK 3
ОглавлениеRahel, jare lank preek jy nou al: “Skinder is soos ’n bosluis in die kuiltjie agter in ’n mens se nek. Eers weet jy van niks. Later voel jy hom daar sit, vetgesuip van jou bloed, en met die koors wat hy gee klaar in jou lyf.” En steeds noem jy my heer Abraham die prediker van die trekgeselskap! Ai, Rahel. Die jong Amoritiese vroue in dié tent by Hebron drink hulle trommeldik aan die bloed van my man.
Die Amoritiese vroue by haar in die tent praat telkens oor die vrees in Yusuf, die saxātu wat hulle op sy gesig gesien toe hy sy storie vir hulle kom vertel het. Hulle geledere word telkens aangevul deur vroue wat van buite af inkom, sommige met vetterige hande in die lug. Hulle is met vleis besig; sy hoor die dowwe gehamer op taai vleis. Dit kan haas of dassie wees, meerkat, die vleis van ’n beer, ’n jakkals of ’n wolf. Die vleis van kraaie, slange, skilpad. Hulle eet enigiets. Wat taai is, word met vleisstampers en klippe papgehamer.
Sy hoor Abraham se naam, sien die vroue se lyftaal. Hulle het Abraham van oral af uitgekyk; die oues weet al jare lank van hom, die jongeres weet skielik veel meer van hom en Isak as toe sy hier aangebring is. Dié Abraham-man kyk mos nie vir ’n mens as hy hier na sy veewagters by die groot bome kom nie. Loop asof Kanaän aan hom behoort, en die seun is net so.
Die jongeres, met of sonder grootoogkinders op die heup, skinder met die hele lyf.
“Dalk wíl die seun kyk.”
“’n Lekker Amoritiese suhārtu vir hom!”
“’n Amoritiese meisie? Die pa verbied hom om vir ’n meisie te kyk.”
“Lemnu!” Hoe sleg. “Wat ’n slag vir ons.”
Skindertaal word oral begryp. Amoriete kan skinder, Egiptenare kan skinder, Filistyne kan skinder, elkeen in sy taal, en die beskinderdes verstaan.
Dié jong vroue het Abraham by sy veewagterskamp en saam met sy manne in Kirjat-Arba gesien. Hulle vingers beduie hoe hy sy manne die swye oplê. Hoe hy hulle dophou, hoe hy hulle aanjaag asof daar swere oral op die vel van Kirjat-Arba se inwoners is. Hier swere, daar swere, oral swere: op die arms, die bene, die skouers.
Daardie ou man vervul sy mense met saxātu.
As die ou man se seun nie vir die Amoritiese vroue mag kyk nie, mag sy slawe sekerlik ook nie met die Amoriete oor die ou man se vrou praat nie? Dalk gaan hy hulle te lyf as hulle die naam van sy vrou rondgooi. Daar het jy dit. Die Yusuf-seun het geen keuse gehad nie. Hy kon dié ou vrou niks anders as Ummu- šību noem nie, anders foeter die ou man hom.
As naamlose het ek dus hier aangekom, Abraham. Net as ’n oumens wat moeilikheid in die bergpas gekry het.
Soos ’n naamlose, verdwaalde skaap.
Hulle rede vir my naamloosheid is nie die ware rede nie, Rahel. Dit is hoe julle Yusuf grootgemaak het. Julle, die vroue wat hulle duime op hom hou – jy as sy oumagrootjie, sy ouma Tamâm en sy ma, Amira – leer hom, sy broers en susters immers om my aan te spreek soos wat ’n kind ’n bejaarde aanspreek. Hulle almal noem my tog nog altyd “Mevrou”. Of “Ummu- šību” – moeder wat oud is.
Die arme seun het met sy terugkeer na die plek waar hy haar agtergelaat het, uitasem oor haar gebuk, die bloed aan sy bene nou droog, sy oë verwilderd-verlig: “Daar kom hulle nou met die pad aan, Mevrou. Die helpers.”
Moeg soos hy was, was hy eerste by haar.
Hy is te jonk hiervoor, het sy geweet. Die verantwoordelikheid is vir hom te veel. Sy het hom met haar regterhand aan die arm probeer vat, hom probeer kalmeer. Sy wou vir hom probeer sê hoe trots sy mense op hom kon wees. Hoe hy Aram – die land van sy grootouers se herkoms – eer aandoen. Maar hy het aanhoudend gepraat en weer aan die swam en haar voorkop geraak, net so skigtig soos die eerste keer. Hy het háár probeer gerusstel. Haar tot bedaring probeer bring.
“Mevrou is nogal warm.” Sy skurwe vingers het oor hare geskuur, ongeoorloof en ondenkbaar gerusstellend. Sy was in veilige hande. Hy laat haar nie in die steek nie, die helpers is mos nou hier. Sy moenie bang wees nie, hy sal alles vir haar doen. Alles.
“Ummu- šību, nou gaan alles regkom. Ek gaan my pa roep. Ek sal hardloop.”
Hy het omgeswaai: ook hy was op pad Berseba toe, soos sy ouer broer.
“Yusuf, nee!”
Die Amoritiese helpers het soos ’n klipmuur tussen haar en Gasael se kleinseun geword.
“Yusuf!” Haar hoes-roep het tussen die dreunstemme van die Amoriete weggeraak. Hy hoor nie. Hulle dreun soos stormweer tussen hom en my.
“Yusuf! Yusuf!” Sy wou die Amoriete aan hulle klere gryp, maar hulle was net in lendedoeke. Met haar bruikbare hand het sy een aan sy pols beetgekry: “Yusuf … die seun, hy moenie Berseba toe gaan nie.”
Die Amoriet het haar van hom afgeskud soos Abraham se donkies oorlamse kinders en insekte wat uit die bome val van hulle afskud.
“Hy moet my man en seun se veewagters by die groot bome van julle volksgenoot Mamre gaan roep. Sy broer is klaar weg om hulle pa by Berseba te gaan roep.”
Maar sy is afgeskud en hulle was besig met die diep, rou skrape aan haar been.
“Samnu,” het ’n Amoritiese stem oor haar gedreun. “Die vet.”
Sy het olie oor die skraapwonde voel loop, die genesende vet van olyfbome.
“Keer hom,” het sy gesmeek.
Die Amoritiese mans het met haar skrape gewerk asof sy ’n donkie of bok was.
Sy het ’n paar blou oë gesien wat reguit in haar oë kyk. Sy het die groot Amoritiese hand vasgegryp: “Hy moet na my man se veewagterskamp, na ons tente by die groot bome van Mamre gaan.”
Hy het haar nie verstaan nie.
“Ek wil na my man se nawûm gaan, hy moet my soheentoe neem.”
“Jou man se wat?”
“My heer Abraham se veewagterskamp, sy nawûm. Waar sy vee en donkies is, sy veewagters. Ons het ’n tent daar. My man en seun oornag daar wanneer hulle hierheen kom. Ek wil hê die seun Yusuf moet my soheentoe …”
“Hy is klaar weg,” het die Amoriet gesê. “Hy is nie meer hier nie, Vrou-van-Abraham. Hou jou lyf stil. Ons gaan jou dra.”
“My skouer,” het sy gehuil.
Maar hulle het haar opgetel en dit was soos om deur reuse gedra te word. ’n Gedagte het deur haar gegaan: Yusuf het Abraham se nawûm by die groot bome van Mamre nog nooit gesien nie. Hy is in Berseba gebore; hierdie plek is vir hom so vreemd soos Nineve twee en sestig jaar tevore vir haar was.
Naby hulle kamp buite die stadsmuur van Hebron het sy so erg gehoes dat hulle haar op die grond laat sit en haar regterarm bokant haar kop gelig het, sodat sy nie haar laaste bietjie asem verloor nie. Die een wat min verstaan het, het haar linkerskouer vasgehou.
Hulle moes haar later weer verder gedra het, want toe sy haar oë weer oopmaak, was dit diep in die nag. Sy was in ’n tent wat sy nie geken het nie, met baie Amoritiese vroue om haar.
En geluide, ’n geskree, ’n gegil. Maar dié was buite in die nag, om die tent en van die stad se kant af. Dit het geklink of meer en meer mense deur die stadspoort van Hebron aangehardloop kom, almal besig om voete te stamp en te skree.
“Wie gaan so tekere?” het sy gevra.
Hulle het haar woorde onverstaanbaar gevind. Haar gekreun, haar uitroepe van pyn, dié het hulle wel begryp. Die paaigeluide wat hulle om haar gemaak het, dié het sy op haar beurt verstaan.
Sy het nog probeer praat, maar die moegheid en pyn het haar oorweldig.
Met die wakker word, ’n hele ruk later, het sy gedink: Ek weet weer hoe dit is om ’n baba te wees. Wat maak dit saak wie jou toedek wanneer jy niks vir jouself kan doen nie? Solank daar net iémand by jou is, solank dit net ’n vrou is wat jou sus totdat jy weer aan die slaap raak.
Jy wil hulle selfs hoor praat. Waar vroue praat, is ’n baie klein kind en ’n baie ou vrou veilig.