Читать книгу 'n Fontein voor ons deur - Marita van der Vyver - Страница 3
’n Boek is ’n boek is ’n boek?
ОглавлениеGroot was my vreugde toe my uitgewer my die dag laat weet dat die voorloper van hierdie boek, Die hart van ons huis, tweede op die Suid-Afrikaanse topverkoperlys vir boeke in alle tale is. Net onder (heelwat onder, moet ek in alle beskeidenheid byvoeg) die internasionale treffer The Da Vinci Code. Maar terwyl ek nog wik en weeg of dit ’n geldige verskoning is om ’n bottel regte-egte Franse sjampanje oop te maak, sien ek dat dit die topverkoperlys vir fiksie is.
En Die hart van ons huis – soos ’n Fontein voor ons deur – is niefiksie. Of is dit?
Teen dié tyd begin ek self wonder.
My Hollandse vertaler het destyds vir my ’n lesersverslag gestuur waarin sy die boek ‘’n outobiografiese roman’ noem. Nee, skryf ek vir haar, dis nie ’n roman nie. Ja, skryf sy terug, maar dit lees soos ’n roman.
En voor in die oorspronklike Afrikaanse uitgawe staan gedruk: Ander romans deur Marita van der Vyver. Let wel, ander romans. En dan volg ’n lysie van my vorige volwasse romans – maar nie my jeugromans nie.
Vir die meeste lesers moet al hierdie letterkundige afkampings nogal verwarrend wees. Fiksie of niefiksie. Volwasse roman of jeugroman. Outobiografie of reisverhaal. Persoonlik het ek nog altyd gevoel dit maak nie saak in watter kampie enige van my boeke deur bemarkers of verkopers gedruk word nie. Wat saak maak, is dat die boek geléés word.
Maar vir die mense wat die lyste opstel, daardie lyste wat boeke volgens verkope nommer, is dit ’n saak van dodelike erns. As ’n niefiksieboek per abuis in die tweede plek op die fiksielys beland, dan steel daardie boek immers die plek van ’n ander boek wat eintlik tweede op die lys moes gepryk het. Dan word daardie skelm boek mos ’n bedrieër, ’n swendelaar, Hamlet se aanmatigende oom wat die troon steel!
Dis met sulke skuldige gedagtes in my agterkop dat ek toe nie die begeerlike bottel sjampanje oopmaak nie. Besluit ek moet eerder sorg dat die boek op die ‘regte’ lys beland. Fluister ’n paar woorde in ’n paar mense se ore – en siedaar, enkele dae later ontvang ek ’n e-pos van ’n vriendelike meneer wat hierdie lyste help opstel. Die Suid-Afrikaanse indeks van boekverkope, of so iets. Ene Anthony (as ek reg onthou) vra my in mooi duidelike leketaal of my boek gaan oor mense en plekke en dinge wat ek opgemaak het, of oor regte mense en regte plekke en dinge wat regtig gebeur het. En ek antwoord, net so mooi duidelik, dat dit gaan oor my en my gesin (wat regtig bestaan) se lewe op ’n Franse dorpie (wat regtig bestaan) en dat alles waaroor ek skryf, regtig met ons gebeur het. (Glo dit of nie.)
Wel, natuurlik het alles nie altyd presies gebeur soos ek dit beskryf nie. Enige skrywer weet tog ’n bietjie oordrywing kan ’n sappige storie net sappiger maak. (Selfs joernaliste weet dit.) Soms oordryf jy dus, soms laat jy feite weg om jou naastes se privaatheid te beskerm, soms verander jy die einde van ’n storie om dit meer humoristies of meer hartseer te maak.
Maar basies, skryf ek vir ene Anthony, is hierdie boek nie ’n ‘opgemaakte’ storie nie. Basies beskou ek dit as niefiksie.
Dog nou het ek alles mooi duidelik uitgespel.
Kry ek wraggies weer ’n e-pos van ene Anthony. Hy is die wetenskaplike soort, skryf hy, nie die letterkundige soort nie, dus wil hy net doodseker maak dat hy my reg verstaan. Bedoel ek dat al die karakters in my boek regte mense is? Ja, antwoord ek dadelik. Wel, nie almal nie. Maar amper almal . . .
En op hierdie punt begin ek toe self twyfel.
Oor die fyn lyn tussen fiksie en niefiksie. Daar was twee karakters in Die hart van ons huis – en minstens twee in ’n Fontein voor ons deur – wat ek moes ‘vermom’, ander name of adresse of ’n ander voorkoms moes gee, anders het ek dalk sonde met die bure opgetel. Op die ou end het ek hulle so deeglik vermom dat ek hulle eintlik in ander mense verander het. Met ander woorde ek het hulle ‘opgemaak’. Soos in fiksie.
En selfs die ‘regte’ mense waaroor ek skryf, die Amerikaanse buurman, die Marokkaanse Hakima, die burgemeester en sy sekretaresse en my kinders se onderwysers, bowenal my familie en my gesin, hulle het almal ook ‘karakters’ geword. Bloot omdat hulle tussen die blaaie van ’n boek beskryf word. Soos in fiksie.
Byvoorbeeld. My Franse man is nie ongewoond daaraan om sy naam in koerante of tydskrifte te sien nie. Ek praat maklik oor hom as ek onderhoude voer (wat die hart van vol is, ensovoorts), maar omdat hy steeds net ’n paar liefdeswoorde en ’n paar lelike woorde in Afrikaans ken, moes hy maar geduldig wag vir die Engelse vertaling van Die hart van ons huis voordat hy vir die eerste keer kon lees wat ek alles oor hom kwytraak. En toe merk hy so half ingedagte op: ‘Dis ’n vréémde ervaring om ’n karakter in ’n boek te word. Dis ek, maar dis ook nie ek nie. Ek lees oor myself asof ek oor iemand anders lees.’
Nogtans, skryf ek vir die wetenskaplike Anthony, beskou ek hierdie boek as niefiksie. Grotendeels. In hooftrekke.
Bra onwetenskaplik klink ek toe vir myself.
Maar kom ons aanvaar, argumentshalwe, dat die meeste lesers ’n Fontein voor ons deur, soos Die hart van ons huis, as niefiksie sal beskou. Dan is dit nog nie die einde van my vertwyfeling nie. Want nou wil die boekverkopers en die biblioteekmense weet watter soort niefiksie. Met ander woorde op watter rak moet die boek uitgestal word? Onder outobiografieë of onder reisverhale of onder humor?
Sê vir hulle onder rillers, stel Alain voor. Met al die rampe en ellendes wat ons gesin al getref het, klink ons soos iets wat Stephen King uitgedink het. Nee, eerder fantasie, meen my seun. ‘The Addams Family. Dis hoe Ma ons laat lyk.’
As ek heeltemal eerlik moet wees, weet ek self nie op watse rak ’n Fontein voor ons deur hoort nie. Nie Doen-Dit-Self nie, daarvan is ek seker, al herinner die titel dalk aan ’n huis-en-tuinboek.
Maar dis ook nie ’n outobiografie nie. Lesers wat op soek is na sensasionele geheime uit my donker verlede, sal diep teleurgesteld wees. Goeie outobiografiese geskrifte vereis absolute eerlikheid – en dis nou eenmaal makliker as die meeste van die mense oor wie jy skryf, reeds dood is. Anders gestel, ek is nog nie oud genoeg vir ’n eerlike outobiografie nie.
En dis ook nie ’n reisboek nie. Dit gaan weliswaar oor ’n streek wat vir die meeste Afrikaanse lesers eksoties ver en verleidelik klink, maar ek is nie ’n reisiger in hierdie streek nie. Ek woon al amper vyftien jaar in Provence, my dogter is hier gebore, my seun het sy hele skoolloopbaan hier geslyt.
’n Reisskrywer hoef nie verantwoording te doen aan die mense oor wie sy skryf nie. Teen die tyd dat die boek verskyn, is sy al weer op ’n ander plek, op ’n volgende reis. Terwyl ek bly woon tussen die mense oor wie ek skryf. Ek koop my daaglikse brood by hulle. My kinders kuier in hulle huise en hulle kinders kuier in myne. Dit maak ’n gróót verskil, glo my.
Selfs al lees die inwoners van my klein dorpie nie Afrikaans nie, meestal nie eens Engels nie (soms nie eens Frans nie), moet ek versigtig trap om nie op gevoelens te trap wanneer ek skryf nie. Ek mag met hulle spot, soos ek met myself spot, maar ek mag hulle nie onnodig kwets nie. Dit gaan vir my om iets so eenvoudig soos respek vir my naastes. En op so ’n plattelandse dorpie is almal jou naastes, die bakker, die bankier, die burgemeester. Ons roei almal in dieselfde bootjie.
Kan ons dit nie as ’n ‘humorboek’ bemark nie? wil iemand weet. Nou ja, as jy in die tweede helfte van jou lewe onverwags in ’n vreemde land moet aanpas, ’n vreemde taal en kultuur moet aanleer, vreemde gewoontes en tradisies moet aangryp, het jy waaragtig ’n sin vir humor nodig om te oorleef. Elke enkele dag. So, natuurlik is daar ’n goeie dosis humor in hierdie boek. Maar dit kan seker ook van al my vorige boeke gesê word. Griet skryf ’n sprokie was propvol gitswart humor – en tog is dit nie as ’n ‘humorboek’ bemark nie.
Nee, jammer, ek weet regtig nie op watse rak ’n Fontein voor ons deur hoort nie. As ek gedwing word om dit in een (erg onwetenskaplike) frase op te som, sal ek sê dis nog ’n lighartige relaas oor my onidilliese lewe in ’n idilliese landskap. Of ’n verdere poging om die Provensaalse legende van laventel en pastis te ondergrawe. Of ’n trekstorie met vele Franse kinkels, want in die begin van die boek woon ons in ’n ou kliphuis met blou hortjies en ’n plataanboom op die sypaadjie, en teen die einde woon ons in ’n ander ou huis met wit hortjies en ’n fontein voor die deur, en tussenin loop alles skeef wat moontlik kan skeefloop.
Anders gestel, liewe leser, Griet het lankal nie meer tyd om sprokies te skryf nie. Die ‘regte’ lewe het ’n veeleisende, uitputtende, immer verrassende, nimmer vervelige sage geword.
Besluit maar self op watter rak jy dáárvoor gaan soek!