Читать книгу 'n Fontein voor ons deur - Marita van der Vyver - Страница 8

Weergaloos

Оглавление

As jy nou in Europa móét woon, het ek nog altyd geglo, is suid beter as noord. Elke keer as ek in die winter in Nederland of Engeland kom, hang die grys wolke so laag in die lug dat dit soos ’n skof op my skouers voel. Asof ek nie my kop gelig kan kry nie. (Soms gebeur dit selfs in die somer.) Daarom is ek dankbaar dat ek ’n holte vir my hart in Provence kon vind, want hier is die hemel mos eindeloos blou en die lig verblindend helder en . . .

Nee. Nie altyd nie. Die afgelope winter was die ergste in dekades. Oral in Europa. En in sogenaamde ‘sonnige’ streke, waar dit nie eintlik ‘veronderstel’ is om veel te sneeu nie, kan ’n enkele week van diep sneeu veel groter ontwrigting veroorsaak as op plekke waar dit elke winter aanmekaar sneeu.

Stel jou voor jy word een oggend in Kaapstad wakker en die sneeu lê kuithoogte om jou huis. Ja, goed, jy gaan soos ’n lawwe jong hond buitentoe storm en jou bure met sneeuballe bestook. (Sneeu, veral buitengewone sneeu, het nou eenmaal die manier om selfs die waardigste volwassene in ’n verspotte kind te verander. Dis een van die vreugdes van sneeu.) Maar daarna moet jy by die werk kom. En die kinders by die skool. En jy’t nog nooit in sneeu bestuur nie en jy’t boonop nie sneeukettings vir jou motor se bande nie. En die munisipaliteit het nie genoeg sout of gruis om op die besneeude paaie te strooi nie, dus kom alle vervoer tot stilstand. Nie net motors nie, maar busse, treine, vliegtuie, alles.

Dan raak die kos in die huis op. En die naaste winkel se rakke word al hoe leër. En jou tone vries aan mekaar vas want jy’t nie die regte skoeisel nie – en jy’t nooit-ooit kon raai dat sneeu so verdomp koud kan wees nie.

Kortom, dan word sneeu ’n katastrofe.

Dis min of meer wat laas winter in ons Mediterreense omgewing gebeur het. Teen die derde dag van diep sneeu moes ons noodgedwonge sowat vyf kilometer na die naaste dorp ry om te gaan kos soek. Ons het die oudste seun saamgevat om te help om die kar te stoot as ons vasval – of wanneer ons vasval, want vasval sou ons vasval, daarvan was ons doodseker – en die ander drie kinders honger by die huis gelos.

Daar buite het dit soos Antarktika gelyk. Die paaie tussen dorpe het eenvoudig verdwyn. Die loeiende wind het alles wit gewaai sodat jy glad nie kon sien waar die landskap ophou en die lug begin nie. Die berge sneeu wat iemand die een of ander tyd met ’n stootskraper na die kante van die pad geskuif het, het elke nou en dan inmekaargestort, sekerlik ook die wind se skuld, en die pad versper.

Elke keer as jou pad deur ’n muur van sneeu versper is, moes jy blitsig omdraai, voordat jy vasval, en met ’n ander pad by die buurdorp probeer uitkom. Maar elke paar meter is jou weg weer versper deur ’n ander motor wat diep in die sneeu vassit. En elke keer as jy stilhou om die arme mense te help om hulle motor uit te grawe, word jou eie motor binne minute ook in die sneeu begrawe.

‘Apokalipties,’ het onse Thomas geprewel toe ons in ’n stadium die brandweer probeer bel het omdat die motor voor ons en die motor agter ons albei skuins oor die pad gegly het en ons heeltemal vasgekeer het. ‘So iets het ek nog net in movies oor die einde van die wêreld gesien.’

Toegegee, hy kyk te veel flieks, maar ek kon waaragtig nie aan ’n beter beskrywing dink nie.

Die brandweer kon ons ook nie help nie. Die brandweerwaens het iewers in die sneeu vasgesit, het ’n effens histeriese brandweerman ons meegedeel. Maar hou moed, het hy bygevoeg, die weermag is pas ingeroep en behoort vroeg môreoggend op die toneel te wees. Ons moet net probeer om die nag in die motor te oorleef . . .

Die gedagte aan die jonger kinders heelnag alleen en honger in die huis het soveel adrenalien deur ons verkluimde lywe laat stroom dat ons die motor met ons kaal hande uitgegrawe het. En sommer ook die twee motors aan weerskante van ons. Drie uur later, ná verskeie ompaaie deur verskeie buurdorpe, het ons eindelik met ’n klein sakkie inkopies by die huis ingestrompel.

Dit was sweerlik die langste vyf kilometer van my lewe.

En dit was bloot die eerste episode van die winter se ontbering. Toe ons in Maart, toe dit lankal lente moes wees, wéér ’n week van swaar sneeu kry, het ek nie eens ’n enkele lawwe sneeubal in die straat gaan gooi nie. Teen daardie tyd was die kind in my seker ook toegesneeu.

Maar op ’n oggend sien ek dat twee songeel krokusse deur die dik laag sneeu in die tuin gebars het. Tóé rol ek daardie sneeubal en gooi dit uitbundig hoog in die blou lug.

Nog nooit was twee geel blomme vir my só mooi nie. Nog nooit was die lente só welkom nie.

Wat ek hier in Europa geleer het, is dat ek nie van ware koue hou nie. Maar elke keer as ek weer my somerse hartland in Afrika aandurf, besef ek dat ek ook nie van ware hitte hou nie. In die landskap van my drome sou ons altyd tussen seisoene lewe, soos treine tussen stasies, met ’n ideale temperatuur van tussen 20°C en 25°C.

Ek weet, dis sommer bog. Dit sal mos vreeslik gou vervelig raak. Al die bome sal dwarsdeur die jaar dieselfde lyk, ons sal somer en winter dieselfde kos eet en dieselfde klere dra, elke dag sal nes die vorige dag en die volgende dag voel. Tomorrow, and tomorrow, and tomorrow, soos Shakespeare dit op sy meesterlike manier gestel het, creeps in this petty pace from day to day . . .

Nee, daar is oorgenoeg redes waarom ons seisoene nodig het. Maar die belangrikste rede, het ek tydens laas winter se buitengewone koue begin vermoed, is omdat dit ons iets gee om oor te kla. Ag, en kan ons nie kla nie! In die bakkery, in die poskantoor, by die skoolhekke, waar jy ook al kom as dit so koud word, is mense besig om mekaar se stories oor ontbering en swaarkry op te slurp. Mekaar te verseker dat dit waaragtig die ergste koue is wat die streek in menseheugenis getref het.

Een middag, klaar stikdonker buite, minus 11°C met ’n mistralwind wat teen 110 kilometer per uur woed, bel ek my pa om my lot te bekla. Ons het toe al dae lank nie water in die kombuis of badkamers nie, want die waterpype het gevries, ons sukkel ons poegaai om die huis te verwarm, want die brandstof vir die sentrale verwarmingstelsel vries aanhoudend, en ons kan nie eens êrens heen vlug nie, want die petrol in die motor se tenk het óók gevries.

My pa lag asof ek hom ’n lekker grap vertel het en sê ja nee, dis nou vir jou ’n ding, nè? Daar by hulle sit die son nog hoog, maar hy gaan nou-nou ’n vleisbraaivuurtjie aansteek. Intussen drink hy ’n koue bier op die stoep om ’n bietjie af te koel . . .

Eers dog ek hy doen dit aspris om my te tart. Toe besef ek, nee. So moeilik soos dit vir my is om daardie swetende hitte op sy stoep voor te stel, so moeilik moet dit vir hom wees om my klaaglied oor die koue te begryp.

Maar omdat ek myself steeds bitter jammer kry, besluit ek om ’n vriendin op Stellenbosch via Skype te kontak. (Sy het ook al in Europa gewoon. Sy behoort darem seker meer simpatiek te wees.) Die volgende oomblik verskyn sy en haar kinders op my rekenaarskerm, almal in swemklere met nat hare en handdoeke om die lyf gedraai, want dis so verdomp warm dat hulle besig was om mekaar met ’n tuinslang nat te spuit . . .

Toe kan ek mos nie almal se pret bederf deur te kla oor ons aan hierdie kant van die wêreld nie ’n druppel water in die huis het nie?

Dit bly een van die vreemdste dinge om aan gewoond te raak as jy suid van die ewenaar gebore is en deesdae noord van die ewenaar woon, hierdie omgekeerde seisoene. Ná al die jare voel dit steeds vir my onwerklik wanneer ek hoor dat my vriende soos botter in die suidelike somer smelt terwyl ek aan hierdie kant so bibber dat ek beswaarlik ’n woord kan uitkry. Of andersom. Wanneer hulle daar anderkant weer verkluim terwyl ek onder die somerson van Provence verswelg.

Byna elke keer as ek voor my rekenaar inskuif om ’n slag behoorlik op die internet te kla oor die koue wat vanjaar rêrig erger as gewoonlik voel, moet ek eers lees hoe familie en vriende in die suidelike halfrond mor oor die verskriklike hittegolf wat Wes-Kaapland of die Hoëveld nou weer getref het. En raai, dan kry ek sommer nog ’n bietjie kouer. Dan kla ek sommer nog ’n bietjie meer selfbejammerend oor die vriesende weer aan hierdie kant van die wêreld.

Want daar is tog ook ’n soort masochistiese genot in hierdie seisoenale klagtes.

Een van my betroubaarste winterklagtes is byvoorbeeld oor ons kinders se verjaardagpartytjies. Siestog, hulle kan natuurlik nie help wanneer hulle gebore is nie. As enigiemand die skuld moet kry, sal dit die onverantwoordelike ouers wees. Maar die punt is, as ons in Suid-Afrika gewoon het, sou al ons kinders in die sonnige somermaande verjaar het. Hier in die noordelike halfrond val al vier se verjaardae egter in die winter, van kort voor Kersfees tot vroeg in Maart, wat beteken dat ek nou al meer as ’n dekade lank binnehuise kinderpartytjies oorleef.

Soos jy oorloë en orkane oorleef, dis hoe.

Elke winterse verjaardagpartytjie word met militêre presisie beplan en met die dapperheid van ’n voorbeeldige soldaat verduur. En ná die tyd lyk jou huis soos ’n slagveld.

Want winterpartytjies beteken g’n gebaljaar in ’n swembad of piekniek in ’n park of balspeletjies in ’n tuin nie, g’n kans om ’n swetterjoel opgewonde maatjies buitentoe te jaag om van oortollige energie ontslae te raak nie. Dit beteken bowenal dat Ma ’n week ná die partytjie steeds koeldrankvlekke uit matte skrop en versiersuiker uit bekleedsels was en koekkrummels onder beddens stofsuig en flenters geskenkpapier agter meubels opvee.

Van die oomblik dat die uitnodigings uitgedeel is, begin Ma intens belang stel in die daaglikse weervoorspelling. Daar is altyd die skrale hoop dat die son op die dag van die partytjie darem ’n halfuur agter die wolke sal uitloer, dat die wind nie orkaansterkte sal waai nie, dat die temperatuur nie té ver onder vriespunt sal daal nie, kortom, dat die kinders ’n bietjie buite kan speel om die tyd gouer om te kry.

Want jy sal nie glo hoe s-t-a-d-i-g elke minuut kan kruip wanneer jy drie uur lank ’n dosyn gillende kinders in jou huis moet vermaak nie. Teen die tyd dat hulle ma’s hulle weer kom haal, is jy so doof dat jy moet liplees. En dan lê die Groot Opruim nog voor.

Boonop moet jy die verjaardagkoek minstens ’n dag voor die tyd bak, want ’n dramatiese donderstorm kan moontlik op die laaste oomblik al die elektrisiteit in jou huis afsny. (Dit gebeur gereeld in ons huis.) Ek kan seker my sorge beperk deur ’n koek te kóóp – maar ek sal dit steeds self moet versier, want my kinders en al hulle maats glo mos ek het ’n graad in koekversiering verwerf.

Dis omtrent my enigste aanspraak op roem, hier in Frankryk waar niemand eintlik weet ek skryf boeke nie, dat ek koeke in die vorm van dinosourusse of seerower-skatkisse of sprokieskastele kan vervaardig. (Al die ander ma’s, almal klaarblyklik slimmer as ek, het sommer van die kinders se geboorte af plat koeke in ’n enkele kleur by diepatisseriegaan koop.)

My enigste troos is dat die koekbouery darem makliker word met die jare, want soos die kinders ouer word, word die versoeke minder verbeeldingryk. Tot hulle hier rondom dertien besluit hulle is nou klaar met die dinge van ’n kind (soos in dinosouruskoeke) en een van my doodgewone skewe sjokoladekoeke versoek.

My jongste het byvoorbeeld haar vorige verjaardag met ’n Amerikaanse tema gevier en vir ’n koek in die vorm van die Amerikaanse vlag gevra. Nou kyk, vir ’n ma wat op haar dag Doringrosie se kasteel uit blokke koek en roomyshorinkies (vir die kasteel se torinkies) moes optower, is ’n vlagkoek amper ’n belediging. Soos om vir Gaudi te vra om ’n eenvoudige tuinmuur te bou! Al wat jy nodig het, is ’n reghoekige koekpan en rooi en blou versiersuiker. Vir die koek, nie vir die tuinmuur nie.

Die gekleurde versiersuiker sou voorheen miskien ’n probleem gewees het, maar ná ek in Die hart van ons huis verkondig het dat ek nie voedselkleursel op die Franse platteland kan opspoor nie, het verskeie goedhartige siele hulle oor my ontferm. Teen hierdie tyd het ek soveel botteltjies voedselkleursel ontvang dat ek elke aand my dogter se badwater pers of pienk of oranje kleur, net om badtyd interessanter te maak.

Die goeie nuus is ek het die Amerikaanse partytjie oorleef, soos die Mexikaanse tema twee jaar gelede en die Hannah Montana-pajamapartytjie nog langer terug. Ek sal seker volgende jaar se partytjie ook oorleef, wat die tema ook al sou wees. En oor ’n jaar of drie sal my jongste besluit sy’s nou ook klaar met die dinge van ’n kind en ’n gewone skewe sjokoladekoek pleks van ’n kasteelkoek of ’n vlagkoek aanvra.

Dan sal ek eindelik ook klaar wees met die binnehuise kinderpartytjies wat ek so verpes.

Ja, ek weet, dit klink soos goeie nuus.

Ek kan glad nie verstaan waarom die gedagte my skielik so half hartseer laat voel nie.

'n Fontein voor ons deur

Подняться наверх