Читать книгу 'n Fontein voor ons deur - Marita van der Vyver - Страница 4

Meneer A Vendre

Оглавление

Ná meer as ’n dekade in Frankryk het ek oplaas begin begryp hoe dinge hier werk. Klein dingetjies soos hoe om aan die regterkant van die pad te bestuur en groot dinge soos hoe om verskillende soorte kaas te eet. Maar net toe ek dog nou gaan niks in hierdie vreemde land my ooit weer laat uitmekaarval van moedeloosheid nie, toe besluit ons om ons huis te verkoop. En nou val ek van nuuts af uitmekaar. Aanmekaar.

Of in elk geval elke keer as ’n eiendomsagent of ’n potensiële koper bel om te vra of hulle gou kan kom inloer.

Want hier’s nie iets soos ’n ‘skouhuis’ nie, sien. G’n manier om alle moontlike kopers op één salige sonskyndag na ’n blinkskoon huis met vars blomme in die sitkamer en strelende musiek oor die luidsprekers te lok nie. In ’n skouhuis kan jy elke cliché in die boek misbruik om vreemdelinge voor die sjarme van jou huis te laat swig. En die beste van alles is jy hoef nie self dáár te wees nie. Jy hoef nie te kyk hoe kritiese wenkbroue opgetrek word oor die kleur van jou slaapkamermure of die teëls op jou kombuisvloer nie. Jy kan die dag gaan piekniek hou terwyl die eiendomsagent jou huis oppas.

Hier werk dit helaas nie so nie. Jy kan nie vlug elke keer as ’n potensiële koper wil kom kyk nie. Gewoonlik is jy in elk geval te moeg om te vlug, omdat jy eers die wanorde in jou huis moes regruk. Nee, nie regruk nie – daarvoor het jy etlike dae nodig – al wat jy so vinnig kan doen, is om die vuil klere op die vloer van die seuns se kamer in die naaste kas te prop, jou dogter se speelgoed met een swiep onder haar bed in te vee en die vuil skottelgoed in die kombuis in die oond weg te steek.

Want hier’s mos ook nie iets soos ’n ‘huishulp’ nie. Dit beteken jou huis is deurgaans meer deurmekaar as wat dit óóit in Suid-Afrika was. Behalwe as jy gaste uit Suid-Afrika verwag. Dan skrop jy drie dae lank om ’n illusie van orde te skep.

En terwyl jou huis te koop is, is dit soos om elke dag gaste uit Suid-Afrika te verwag.

Dis bitter swaar vir ’n lui huisvrou met ’n bedrywige program. Op hierdie oomblik is die volgende potensiële koper op pad, maar omdat ek soos altyd ’n dringende storie het wat teen ’n dreigende sperdatum geskryf moet word, het ek nie eens tyd om die skottelgoed soos gewoonlik in die oond weg te steek nie. Boonop reën dit, die sitkamer hang vol nat wasgoed, en nie ’n enkele bed in die huis is opgemaak nie.

Maar hulle sê mos huiskoop is nie ’n rasionele ding nie. Jou hart word gesteel deur ’n huis. En liefde is blind. So, wie weet, dalk is hierdie volgende besoeker blind genoeg om dadelik dolverlief te raak op my wanordelike woonplek? Só droom ek terwyl ek met ’n skoon gewete in ’n vuil huis sit en skryf . . .

Toe my ma die eerste keer op die Franse platteland kom kuier, merk sy ná ’n paar dae op dat hierdie meneer A Vendre darem ’n baie ryk man moet wees, want oral sien sy huise met sy naam op.

Ek moes dik van die lag verduidelik dat A Vendre nie ’n eiendomsmagnaat is nie, maar bloot die Franse frase vir ‘Te koop’. Jare lank het ek geamuseerd na my ma verlang elke keer as ek ’n bordjie metA Vendreteen ’n gebou sien. Nou hang daardie bordjie teen my eie tuinhek – en nou amuseer dit my glad nie meer nie.

My enigste oorblywende vonkie hoop, terwyl ek al hoe desperater wag op daardie blinde koper wat halsoorkop verlief gaan raak op my onvolmaakte ou huis, is dat hy nie Afrikaans kan lees nie. Want enigeen wat gelees het van die moleste wat ons al in hierdie huis belewe het en waaroor ek gereeld in Afrikaanse tydskrifte en koerante verslag lewer – sodat ek darem ’n paar mense kan laat beter voel omdat dit met hulle nog nie heeltemal so sleg gaan soos met ons nie – sal daardie tuinhek met dieA Vendre-bordjie blitsig agter hom toeklap en laat skarrel. Weg van hierdieHouse of Horrorswaar waterpype ontplof en krane afval en die verhittingstelsel die gees gee in die koudste winter wat selfs die oudste oom op die dorp kan onthou. Om maar net ’n paar van die ellendes te noem wat ons gesin al hier oorleef het.

Ek belowe ek suig nie sulke huishoudelike krisisse uit my duim net om my stories lekkerder te laat lees nie. Hoewel ek niemand sal kwalik neem wat soms so dink nie. Ek meen, partykeer dink selfs ék ons aanhoudende katastrofes klink darem rêrig ’n bietjie dik vir ’n daalder.

Soos die keer toe ons voordeur uitgeval het.

Néé, het ek vir myself gesê terwyl ek daar in ons voordeurlose huis staan, met die mistralwind wat teen 100 kilometer per uur deur die gang waai, niemand gaan my glo as ek dít moet skryf nie! Die volgende dag, toe ons tuiste darem al minder soos ’n windtonnel voel – maar meer soos ’n plakkershut omdat ons die ingang met swart vullissakke moes bedek – het ek besluit ek móét dit skryf. Al is dit dan net om te wys, weer eens, dat die waarheid vreemder kan wees as enigiets wat selfs ’n taamlik verbeeldingryke storieverteller soos ek kan uitdink.

Verstaan my mooi, ons voordeur is nie sommer ’n ou popspeeldeurtjie nie. Dis ’n gewigtige meneer van ’n deur, ’n stewige houtraam rondom gietystertralies, met agter die tralies ’n enorme plaat glas wat sweerlik dik genoeg vir ’n vliegtuigvenster sou wees. Maar ná dit laas jaar buitengewoon baie gereën het, het die hout so geswel dat ons al hoe meer gesukkel het om die deur toe te kry. En al vertel ek dikwels vir verbaasde Suid-Afrikaanse vriende dat ek nie snags my voordeur sluit nie, dat ek trouens nie aldag seker is waar om die sleutel te soek nie, wil ek dit darem nou ook nie wawyd oop laat gaap sodat al die rondloperkatte in die buurt ons Kosi-kat se kos kom steel nie.

Daarom het ons nou al ’n paar keer die sware deur van sy skarniere afgelig, steunend en kreunend soos gewigoptellers in ’n gimnasium, om die kante bietjie af te plat met ’n geleende skuurmasjientjie. Vergeefs, want ’n week of twee later is die deur maar weer so steeks dat jy hom met alle geweld moet klap om hom toe te kry. Natuurlik nie ’n probleem vir die tieners in die huis nie. (Vir ’n tiener is die klap van ’n deur mos net nog ’n vorm van kommunikasie, soos SMS-boodskappe of foto’s op Facebook.) Vir my en my man het dit nogal oefening gekos, maar ons het volhard tot ons nes ons hormoonbelaaide kinders die deur kon toesmyt.

Maar ’n deur wat so gedurig klap, laat dit klink of daar ’n bendeoorlog in jou sitkamer woed. Jy wil kort-kort platval om nie raak geskiet te word nie. G’n mens se senuwees kan dit hou nie. Ons het almal al ietwat uitgerafel begin voel toe die doodskoot een aand laat deur een van die tieners (wie anders?) toegedien is. Net daardie één klap te veel, toe val die deur met ’n bloedstollende slag uit sy kosyn en die gang lê besaai met lewensgevaarlike glasskerwe.

Ons het die skerwe opgevee en die deur weer min of meer reg in sy kosyn gehang, maar die wind het die hele nag lank soos ’n siek kind gekerm deur die groot gat waar die glas voorheen was. (Ja, selfs nadat ons dit met swart vullissakke probeer toestop het.) En die volgende oggend, met man en kinders lekker warm by werk en skool, sak die eerste sneeuvlokkies van die seisoen uit. Gewoonlik vir my ’n magiese oomblik, maar daar agter die swart vullissakke word dit toe bloot ’n bibberende oomblik.

Nou moes ek boonop ’n besneeude pad beproef om ’n nuwe deur te gaan koop. En omdat dit hier in die sogenaamde sonnige suide van Frankryk nooit soveel sneeu dat ons spesiale sneeubande vir ons voertuie het nie – en nooit genoeg sneeu dat die plaaslike bevolking kan leer om bedrewe in sneeu te bestuur nie – is enige sneeubui potensieel lewensgevaarlik wanneer jy dit op die pad moet waag. Amper so gevaarlik soos om selfs in mooiweer in Suid-Afrika te bestuur, so troos ek myself wanneer ek nie anders kan as om al swetsend en swetend in die sneeu te ry nie.

Maar terwyl ek daar op die drumpel van my nuttelose deur staan en wonder wat is verkieslik, om in jou kar in die sneeu vas te val of om in jou huis se gang toegesneeu te word, gewaar ek vir die eerste keer ’n piepklein skroefie wat dalk al dekades gelede in die kosyn agtergebly het. Die oomblik toe ek die skroefie verwyder, klik die deur sag en soet toe. Toe is dit sowaar nie meer nodig om die deur te vervang nie, net die glas.

Dit was waarskynlik die eerste keer dat ek wérklik daardie gesegde verstaan het oor die kleinste jakkalsies wat die grootste verwoesting saai. Ek het die skroefie gehou sodat ek die les kan onthou – en ja, seker ook as bewys indien enigiemand sou sukkel om hierdie onwaarskynlike storie te glo.

En dan was daar die keer toe ons uit onnoselheid amper die hele huis afgebrand het.

Of dalk was dit net doodgewone outydse suinigheid.

Hier in Europa is daar sowaar nog iets soos ’n skoorsteenveër. Nee, dis nie ’n voël met ’n swart kop soos in Suid-Afrika nie. En die skoorsteenveërs van vandag is ook nie ouens wat met ‘n roetbesmeerde gesig op dakke dans soos in die rolprent Mary Poppins nie. Dit bly egter ’n belangrike beroep.

In Frankryk moet jy jaarliks jou skoorsteen laat skoonmaak as jy jou kaggel wil gebruik. En moenie dink jy kan dit sommer self met ’n leer en ’n langsteelbesem probeer doen nie. Dit gaan oor papiere – soos omtrent alles in Frankryk. ’n Amptelike skoorsteenveër moet vir jou ’n amptelike sertifikaat gee, anders betaal die versekering nie indien jy die slagoffer van ’n brand sou wees nie.

Maar dit kos die prys van ’n plaas – soos omtrent alles in Frankryk – om jou skoorsteen amptelik te laat skoonmaak. Daarom het ons dit nie die afgelope winter gedoen nie. Wel, om eerlik te wees, ook nie die vorige jaar nie. (Om hééltemal eerlik te wees, ek kan nie onthou presies wanneer laas ons skoorsteen skoongemaak is nie.)

Hoe ook al, ons het die afgelope winter (of drie) sonder enige probleme ons kaggel benut. Tot een van die tienerseuns op ’n aand ’n stewige stoel stukkend gesit het. (Is dit te wyte aan ’n hormonale wanbalans? Of is dit net óns tienerseuns wat alle stoele so op die twee agterpote laat wieg?) Ek was lelik ontstig oor my verwoeste stoel, maar my pragmatiese man het sy skouers opgetrek en voorgestel dat ons dit as vuurmaakhout gebruik.

Ek wou nog kapsie maak dat ons darem nie só armlastig is dat ons ons eie meubels moet verbrand soos die omsingelde burgers van Stalingrad in die Tweede Wêreldoorlog nie, toe herinner my man my dat ek deesdae tog te graag preek oor die byderwetse nuwe sjiek van suinigheid. Oor hoeveel beter dit hier in Europa geword het om iets weer te gebruik eerder as om dit weg te gooi. So, waarom nie ’n stukkende stoel weer gebruik om warmte aan ’n koue huis te verskaf nie?

Wel, nóú weet ek waarom nie, maar kennis kom mos altyd te laat.

Die hout van die meubelstuk was vermoedelik behandel met ’n chemiese middel wat ons onskuldige kaggelvuurtjie oombliklik in ’n angswekkende hellevuur verander het. Die brullende vlamme is hoog in die skoorsteen opgesuig, en toe spat die vonke, letterlik en figuurlik, in alle rigtings. Binne sekondes was die hele sitkamer so vol rook dat ons hoesend en proesend die vertrek moes ontruim om die brandweer te bel. My heldhaftige man het die deur toegemaak om te keer dat die rook verder versprei en op sy eie die vlamme probeer blus. (Wel, dit was sý idee om die stoel aan die brand te steek, nie waar nie?)

Gelukkig het hy die situasie onder beheer gekry, want ons het bitter lank gewag vir die brandweer. Trouens, ons het al begin om ons aandmaal te eet, flou van die honger ná die groot skrik, toe drie brandweermanne oplaas by die voordeur instrompel en iets soos Ouêfeah! skreeu. Of dalk was hulle vroue. Ek sal nie weet nie, want hulle was geklee in geslaglose ruimtevaarderpakke met diepseeduikmaskers en suurstoftenks op die rug. Die maskers het dit onmoontlik gemaak om te verstaan wat hulle sê, maar ons het heelwat later uitgewerk dit was seker: Où est le feu? Hulle wou waarskynlik net weet waar is die brand. Wat toe natuurlik lankal geblus is.

Brandweermanne, soos skoorsteenveërs, is helaas ook nie meer wat hulle in die rolprente van my kinderdae was nie. Ek dog hulle gryp bloot hulle blinkrooi jasse en gly so rats soos sjimpansees teen ’n paal af tot in ’n wagtende brandweerwa. Nooit besef hulle dra deesdae sulke swaar beskermende uitrustings dat hulle omtrent nie kan stap nie, wat nog te sê van teen ’n paal afgly. G’n wonder ons het so lank gewag nie. Die hele Frankryk kan afbrand terwyl ’n Franse brandweerman sy ruimtevaarderpak en sy masker en sy helm en sy suurstoftenk en al sy ander toerusting bymekaarkry.

Die goeie nuus, het die brandweerspan ons meegedeel terwyl hulle die koue as in ons kaggel bestudeer, is dat die skoorsteen nou so mooi skoon gebrand is dat ons nie meer ’n skoorsteenveër se dienste benodig nie.

Wat ons toe natuurlik laat wonder, siende dat suinig nou so sjiek geword het, of ons nie volgende winter wéér die skoorsteenskoonmakery kan vermy deur bloot ’n stukkende stoel in die kaggel te gooi nie?

Dis nou te sê as ons volgende winter nog in hierdie huis is.

Want ons hoop steeds dat daardie begeerlike blinde koper binnekort by die tuinhek met die A Vendre-bordjie gaan verbyry, aan die swaar voordeur gaan klop (sonder dat die deur uit die kosyn sal val), verby die afskilferende klam mure in die gang sal kyk tot by daardie einste groot kaggel in die sitkamer (met die roetmerke van die amperse verwoestende brand teen dié tyd darem toegeverf) en heeltemal irrasioneel en halsoorkop verlief sal raak op die ou klipkasarm.

Nes ons toe ons die eerste keer hier ingestap het.

En tóé was die huis in ’n veel erger toestand as nou.

Onthou, ons het ons arms afgewerk om hierdie gebou vertrek vir vertrek te verbeter. Mure en deure geverf, houtvloere en hortjies geskuur, elektriese proppe aangebring en vrot vensterrame vervang en die badkamer van vloer tot plafon oorgedoen en ’n bykomende badkamer en nog twee slaapkamers op die boonste solderverdieping geskep. Ons het ’n welige groen tuintjie aangelê in ’n klein voorhof en ’n kraan buite geïnstalleer sodat ons die plante in die nuwe tuin dwarsdeur die dor somermaande kan natlei. Ons het geswoeg en ons het gesweet.

Nee kyk, enigeen wat sy neus optrek vir ons tuiste, sou sy asem weggeskrik het as hy moes sien hoe dit gelyk het vóór ons hier ingetrek het.

En tog het ons geweet dis óns huis die oomblik toe ons hier instap.

Dis hoe ons hierdie huis gekoop het en dis ongetwyfeld ook hoe ons ons volgende huis sal koop. Dis die enigste manier om ’n huis te koop waarin jy gelukkig wil wees. As jy ’n huis bloot as ’n saketransaksie beskou, nou ja, dan moet jy dit seker maar met jou verstand eerder as jou hart koop. Maar as jy saam met die mense wat jy liefhet in ’n huis wil woon, luister om hemelsnaam na jou hart!

'n Fontein voor ons deur

Подняться наверх