Читать книгу Triomf - Marlene van Niekerk - Страница 10

6 Oh, it’s a Saturday night

Оглавление

Lambert staan op die voorstoepie, hy kyk vir die maan. Die maan is goudgeel en hy sit laag bokant die dakke. Dit ruik die ene braaivleis orals. Die lug is vaal van die rook. Hy kan hoor hoe lag en praat die mense in hulle jaarte. Dis warm. Daar is kinders voor in die straat. Dis al amper heeltemal donker, maar hulle speel nog ball. Party het skateboards. Hulle gee net pad as daar ’n hotrod verbykom. Dis polisiemanne wat so jaag. Dink mos hulle is wie hier in die straat. As hulle verbykom, hoor jy net musiek, harde discobeat-musiek uit radio’s met te veel bass. As hulle om die draai is, ruik die straat na warm tyres. En daai karre binne-in, hy sweer hulle stink van die aftershave, hy sien hulle mos op naweeksaande by die Ponta do Sol, blink gewas en skoon geskeer, opgedress vir die aand.

Hier kom weer een verby. Lambert check die polisieman. Sy hare blink en hang in dun, gekrulde puntjies oor sy voorkop. Hy ry lat dit bars, maar hy kyk nie in die pad nie. Hy kyk onder sy hare uit, links-regs-links-regs vir die huise, met so ’n fok-jou-fok-my-gesig. Hy ry met sy elmboog uit by sy venster. En met die ander hand werk hy die gears. Windgát!

Lambert weet wat kyk hy. Deur die kamervensters op ’n Saterdagaand weet hy wat jy sien. Jy sien hoe die meisies hulle make-up aansit voor hulle three-panel-spieëltafels van Morkels. Jy sien hoe maak hulle hulle op en hoe trek hulle hulle lippe styf om lipstick aan te sit en hoe buig hulle af, boude in die lug, met hulle voete op die spieëltafelstoeltjies om hulle toonnaels te paint. Voor hulle hulle fyn, wit sandaltjies aantrek. Hulle het almal dates.

Treppie kom staan partykeer saam met hom hier van die stoepie af en kyk. Maar Treppie kyk nie vir die girls in hulle kamers nie. Hy kyk vir die muurpapier. Of dis wat hy sê, ten minste. Hy weet nie hoe Treppie so fyn kan sien nie, maar hy sê dis net boompies en dammetjies en bruggetjies en hasies wat spring op groen grassies en eendjies en goed. Blou bergies in die verte. Dis nou op die muurpapier.

For fucking crying in a bucket, sê hy dan, hoe kan mense hulleself so voorlieg met mure vol mock paradise. Maar dit kom daarvan, sê hy, as jy ’n plek soos dié, vol prefabwawiele en aalwyne, vrot van die rubble, ’n naam gee soos Triomf. Dan dink mense mos hulle het licence om vir hulleself te lieg. Maar dis kak daai, want al licence wat tel, is poetic licence.

Hy’t al vir Treppie gevra wat is poetic licence. Dan sê Treppie dis liberties wat poets vat in die lewe om sekere goed met ander goed te rym. Maar, sê hy, dis daai selle poets wat onderhewig is aan poetic justice. Want woorde kan sleg boemerang, des te meer as hulle rym. Hy sê eintlik rym daar fokken niks van die hele wêreld of die sterre nie. So, jy moet jou rieme dun sny en in jou spoor trap as jy wil rym.

So why rhyme? vra hy vir Treppie, as dit dan so ’n moeite is?

En dan het Treppie nie ’n antwoord nie. Partykeer trek hy sy skouers op en hy sê dit hou hom aan die gang, ander kere wienk by daai dywelse wienk van hom en dan sê hy dis ’n family secret.

Nog ’n hotrod kom verby. ’n Bloue met ’n gat wat te hoog sit en harde musiek. Lambert voel hoe tril die bass van die discobeat laag onder in sy lyf. Hy loop hoeka al heeldag met ’n horing van kyk na die Scope se girl op die pin-up in die middel. So ’n blonde met groot kanne wat sy uitstoot. Deesdae sonder eers sterretjies op die nipples. Raai, hy’t nogal gelike van die sterretjies. Nipplecaps. Hy burp. Dit brand in sy keel. Sooibrand. Van polonie en witbrood. Hy wens sy ma wil ’n slag iets kook, lat hy ordentlik kan eet. Aartappels en vleis en soetpampoen. Maar sy het sleg geword. Vrótsleg. Kyk hoe lyk daai kombuis van haar. Hy’t al eendag al die prentjies van die kombuise uit die Homemaker wat hulle hier in sy posbus kom stop, op die fridge se deur vasgeplak met sticky tape. Pop het dit afgehaal voor sy dit kon raaksien.

Lambert kyk vir die maan. Hy’s ’n ent hoër al, liggeel. Daai fokken maan werk op sy tiete. En hoor net hoe gaan die ambulanse en die Flying Squad te kere, sirenes net waar jy hoor, verder en naby tussen die gedruis van die Saterdagaandse traffic.

Langsaan speel Cat Stevens. Hulle speel dit al die hele aand. “Oh it’s a Saturday night and I ain’t got nobody.” Kliphard. Dink hulle is al mense in die straat. Dink Marthastraat behoort aan hulle.

Nou net het hy van agter af deur die huis gestap en gesien hoe sit sy mense. Lyk nie of hulle gepla is nie. Sy ma is in die agterkamer. Sy brei Gerty se penspant. Treppie is in sy kamer met die Saturday Star se classifieds. Wat Treppie alewig in die smalls soek, weet hy nie. Pop sit in die sitkamer, aan die slaap in sy stoel voor die televisie wat hard aan is.

Hy voel gedruk. Van fokken onder en van fokken bo. Weer terug by die voordeur in. Hy loer by Treppie om die deur.

“So, what’s new?” vra hy en steek ’n cigarette op. Miskien het Treppie ’n storie. Of ’n plan.

“So, wat sê daai Jodekoerant vanaand?” probeer hy weer.

Treppie kyk op, hy kyk hom vol in sy mik. Hier kom kak.

“Kyk hoe lyk jy al weer, sies, gôt! Gaan trek jou draad lat jy kan rus kry!” sê Treppie met sy oë op skrefies.

“Jou moer, man!” sê hy. Wat anders kan hy sê? Hy wens hy’t iets anders om te sê. Iets wat Treppie in sy hele fokken lewe nog nooit gehoor het nie. Wat hom sal laat regop sit en cool wees op ’n Saterdagaand. Hier wat fokken rym! Hoe kan hy nou help as hy ’n horing skiet? Hy burp. Fokken hel! Waarnatoe?

Hy kyk by die sitkamer in en sien vir Pop wat sit en slaap. Daar hang ’n druppel aan sy neus en daar kom kwyl uit sy mond uit. Dit drup van sy ken af tot op sy bors. Toby lê onder die TV. Hy wikkel sy ore en wenkbroue vir Lambert. Pop roer in sy slaap.

Hy sit nog so, dan vrek hy, dink Lambert. Nee, hy wil nie dit dink nie. Fok dit. “Kliks-kliks” met kaal voete stap hy oor die blokkies agtertoe na sy ma toe, agterkamer toe. Dis ’n ander plek. Hy weet wanneer hy daar kan ingaan. Nou is nie eintlik die tyd nie. Dis sy ma se kamer. Sy ma en sy pa s’n, maar meer sy ma s’n. Hy steek sy kop om die deur.

“Amper klaar?” vra hy. “La’k sien?”

Sy ma ignoreer hom. Soos die heeltyd nog ná die laaste keer. Dit was rof. Hy kon voel hoe goeters padgee. As sy hom soek, sal sy hom kry. Maar nou soek hy gesels.

“Het sy al aangepas?” vra hy. Sy kyk nie op nie. Hy gee ’n tree die kamer in.

“Gerty,” sê hy vir die hond wat styf langs sy ma op die matras sit, “Gerty, het jy al jou nuwe trui aangepas, hè, oubaas se honne?”

Sy ma versit effens. Dit beteken hy moet nou net nie begin neuk nie. Dis rus en vrede vanaand. Lambert trek diep aan sy cigarette. Dis meer as neuk wat hy in sy lyf het.

“Wat sê die ou honne van haar ounooi, hè? Ok maar sonder spraak, nè? Ok maar fokken ongesellig so op die Saterdagaand, of wat praat ek alles!”

Mol laat sak haar breiwerk in haar skoot en kyk vir Lambert.

“En?” vra Lambert. Sy sê niks. Tel net weer haar breiwerk op en gaan aan.

Hy gee nog ’n tree nader. Sy versit weer. Hy hurk by die bed en vryf vir Gerty oor die kop. Gerty kyk op na Mol en maak ’n klein tjankgeluidjie.

“Wat sê jou ou vrotpoes van ’n ounooi vanaand, hè? Wat sê sy vir jou met haar ou poesgevreet sonder tande, hè?” Hy fluister baie saggies vir Gerty. Hy krap haar tussen die ore.

Mol staan skielik vinnig op en loop oor die matras uit by die deur met Gerty agterna. Hy bly net daar op sy hurke sit. Hy hoor hoe sy in die sitkamer gaan sit en hoe Pop wakker word en vra: “Wat nou? Wassit, Mol?” Floutjies vra hy dit, met slym in sy keel.

Hy hoor hoe sy stilbly, en dan sê sy: “Lambert.” Net “Lambert”. Dis al. Haar moer ok.

Hy krap sy kop met altwee hande en dan sy gat. Sy gat jeuk. Alles aan hom fokken jeuk. Hy staan op. Hy’s meer as net “Lambert”. Dis vir fokken seker. Hy loop by die deur van die gang uit na sy den toe. Daar sien hy sy bed voor hom. Die ding se bene staan skeef. Die matras lê skuins oor die bed, sy binnegoed peul eenkant uit. Hy’s voos gelê. Hy wat Lambert is, het nie eers ’n ordentlike béd om op te slaap nie. Fók dit. Hy gryp die matras en moer dit met Scope en kussings en komberse en al bo-oor die lawn-mower teen die oop Tedelex vas solat die leë Coke-bottel wat bo-op gestaan het, afbliksem en stukkend val op die vloer. Fok dit ok. Met sy plathand slaan hy ’n hou teen die staalkabinet. Hy kan ok ’n fokken geraas maak as hy wil! Die hele aand al moet hy luister na ánder mense se geraas. “Oh it’s a Saturday night and I ain’t got nobody” oor en fokken oor in sy ore. Nee, gôt! Hy skop ’n leë Coke-krat met sy kaal voet lat hy trek. Die krat rol teen die muur waar die scrapyster staan. ’n Lang stuk pyp kom los en kantel stadig skuins oor die kamer en skuur teen sy painting verby voor dit op die grond val. Daar kom silwer paint van sy mermaid se stert af. Hierie Saterdagaand wil nie wérk nie. Hierie Saterdagaand is ’n fókóp.

Hy loop by die den se buitedeur uit. Lat hy kan sien wat maak die bliksems langsaan. Hy staan in die lang gras aan hulle kant en loer oor die prefabmuur in langsaan se agterjaart in. Die maan sit nou hoog en dit skyn witblou om hom. Langsaan is die lug geel en rooi van die paartiebulbs wat aan ’n draad aan die geut en in die lukwartboom hang. Hulle fokken braai al weer. Hulle fokken vleis.

Dis tjops. Nee, dis nie tjops nie, dis T-bone steaks. Hy tel agt. Hulle lê die hele rooster vol. Op ’n halwe drom met pote. En dan is daar nóg ’n rooster. Ok op ’n halwe drom met pote. Vol wors opgedraai in kringe. Dit sis en drup oor die kole lat die vlamme kort-kort uitskiet en doodgegooi moet word.

Hy kan nie sien wie gooi die vuur dood nie. Hy sien net ’n harige hangpens en ’n hand wat dit doen. Want hy loer óór die prefabmuur en dan óór langsaan se smouskarre. Langsaan is mos almal smouse wat smous met ice cream en hotdogs en hamburgers. Onderdeur die rand van die tentseil wat oor die karre gespan is, loer hy. Hy sien net ’n strip geel lig met braaivleis en middellywe. Af en toe sak ’n hand met ’n blik bier af en hang langs ’n lyf. Daar is sewe lywe wat hy kan sien. Dis manslywe en vroumenslywe, vettes en maeres. Twee vrouens het bikini’s aan, ’n pienke en ’n bloue. Nie te sleg nie, al lyk hulle nie so glad en bruin soos die girls van Tuxedo Tyres nie. Hieries is vol dimples op hulle bobene agter. Pienkbikini staan hand om die lyf met ’n ou met blou jeans aan. Die jeans is styf en staan met ’n knop voor. Bloubikini staan hand om die lyf met Speedo. Dis ’n swart Speedo wat nog groter knopstaan, sommer so ’n skuins knop diékant toe. Speedo het ’n paar moerse bobene en ’n bodybuilder-maag. Hangpens braai die vleis. Daar’s hare op die pens wat grys is. Dit het ’n handdoek omgedraai wat wil afval. Dan is daar nog ’n pens, ’n bietjie kleiner een in kakieshorts. ’n Dunnetjie met deurskyn-maermerries in ’n rok vol blommetjies sit op ’n plasticstoel. Hier kom nog een, met groot blomme op haar rok. Sy kom staan by die vuur.

“Johnny, jy brand nie daai steaks nie, Johnny, hoor jy vir my, jy brand nie weer daai steaks soos laas keer nie.”

“Nooit gesien nie,” sê Hangpens, “hierie kole is net reg!” Hy vat ’n lang sluk van sy bier. Lambert sien net hoe lig die elmboog en kom nie weer af nie. Grootblom loop weer weg.

“Ma, gaan kyk of Ansie die aartappelslaai onthou het,” sê Hangpens vir Kleinblommetjies.

“Ai, Johnny, ek sit dan nou so lekker,” sê Kleinblommetjies, maar sy staan op. Sy vat aan die plasticstoel se arm om op te kom.

Lekker getrek ok al, die ou ding. Hy weet dis die ou lady van Fort Knox. Dis sy wat die slag toe hy sy ma met die mes in die wang gesteek het vir Pop kom sê het hulle moet vir hom wat Lambert is in ’n verbeteringskool sit. In ’n verbeteringskool of in ’n malhuis, het sy gesê. Fokken ou poes.

Dis Treppie wat die naam Fort Knox uitgedink het. Hy sê met al daai swart tralies en hekke voor die huis en al die Spanish diefwering voor die vensters en al die spikes op die dakrant, lyk dit of hulle langsaan op goud woon. Soos in Amerika. Daar is ’n safe vol goud onder die grond by Fort Knox. Fokken grap. Al wat hulle het, is drie smouskarre en agt T-bones sover hy kan sien. En muurpapier.

“Hierie vleis is nou gáár!” roep Johnny Hangpens. “Bring die bakke! Waar’s die pap en goed!” skree hy.

Hier kom Grootblom. Sy’t twee mae. Een bo die middel, dan ’n diep keep, dan een onder die middel. Haar rok vou in die keep in. Sy dra ’n groot, swart pot vol pap. Bo-op die pap balance sy ’n bakkie rooisous.

“Kiepie,” sê sy vir Kakieshorts, “loop haal die bakke vir Johnny. Op die tafel in die kombuis. Die platte vir die vleis en die diepe vir die wors.”

Kiepie Kakiebroek sit sy bier neer en loop weg en kom terug met die bakke, die platte en die diepe.

Bloubikini en Speedo staan nader. Speedo se hand sak af tot op haar boude. Hulle staan by Johnny wat die T-bones van die vuur af haal. Kiepie hou die plat bak vas.

“Dis darem ’n lekker stukkie vleis dié!” sê Speedo en maak Bloubikini se boud in sy hand bymekaar en druk-druk dit.

“Ja-nee,” sê Johnny. Hy vat-vat die vleise met die tang, “by Roodt-Broers gekry vanmiddag. Hulle ken hulle storie.”

“Veertig Jaar Vleistradisie,” sê Kiepie, “die beste in Triomf.”

“Net so,” sê Johnny, “hieries was op special.”

“Special, sowáár!” sê Speedo en skuif sy hand oor na Bloubikini se ander boud. Lambert sien hoe vat hy die boud vas.

“Véry special,” sê Speedo en glip sy hand onder die bikini se rek ín en woel-woel ál affer en affer tot hy in is tussen die boude, láág af.

“Wel,” sê Bloubikini en probeer die hand uitwurm, “ék’s weer lus vir daai wórsie.”

Pienkbikini giggel.

“Jirre,” sê Grootblom wat agterom kom met die slaaibakke, “kan julle twee nie vir julle inhou nie?”

“Los die kinders, Ansie,” sê Kleinblommetjies, “jags is jags. Niks aan te doen nie.”

“Hy kan ten minste vir hom ordentlik gaan aantrek,” brom Grootblom.

“Antie, antie!” sê Speedo, “lat ek nou vir antie sê, ek kry te wárm om aan te trek. So kry ek ten minste kans om af te koel.”

Almal lag.

“Kom, lat ons geëet kry,” sê Kleinblommetjies, “kyk hoe laat is dit al! Anners is daai vleis te swaar op my maag om te slaap.”

“Okay, Ma, ons wag net vir die pap en sous om ’n bietjie warm te word hier,” sê Johnny.

“Kyk lat dit nie aanbrand nie,” sê hy vir Kiepie, “ek gaan kry nog biere.”

“Check sommer of die baby nog slaap,” sê Pienkbikini. Bluejeans gee haar ’n vryfie oor die skouer.

So kyk Lambert vir langsaan. Hy luister vir hulle met die maan wat blou skyn tussen sy blaaie. Hy kyk hoe Fort Knox se mense almal hulle sit kry op hulle plasticstoele. Hy sien hoe Grootblom almal se borde volskep by die stoeptafel. Daar is drie bakke slaai. Een met piesangs in geel sous, een met tamaties en blare en een met aartappelslaai. Dan nog ’n T-bone en ’n stuk wors op elkeen se bord. En nog ’n homp pap met sous oor. Almal druk hulle goed op hulle borde rond om plek te maak, want dit wil afval.

“Nou, lat ons eers drink op Fanus en Yvette,” sê Hangpens.

“Happy first anniversary!” sê Kleinblommetjies. Bluejeans en Pienkbikini se bolywe draai na mekaar toe oor hulle borde kos op hulle skote.

Lambert hoor hoe soen hulle mekaar.

Nou sien hy net die bolywe van almal en die onderste stukke van hulle gesigte. Groot happe verdwyn in die halwe monde.

“Nou ja,” sê Grootblom. Sy hou haar bord met altwee hande op haar skoot vas. “Mens sal nie sê ons is in ’n depressie nie.”

“Eet jou kos, Ansie,” sê Kleinblommetjies.

“Don’t worry, be happy,” sê Speedo.

“So, Kiepie,” sê Johnny lag-lag, “jy scheme die kaffers gaan hulle huise kom terugvat hier in Triomf?”

“Ag nee, julle,” sê Pienkbikini, “moenie nou weer daarmee begin nie, julle ontstel net vir Ma.”

“Ja, moenie my ontstel nie,” sê Grootblom en vat ’n groot hap pap met ’n hap wors agterna.

Ontstel, dink Lambert, hulle scheme hulle weet wat hulle ontstel. Lat hulle nou net lekker daar sit en hulle fokken T-bones vreet. Want sy ma gaan nou die gras sny. Sy weet dit nog nie, maar dis wat sy gaan doen. Dan sal hulle gou sien wat ontstel hulle. Lat die kaffers hulle plekke wil terughê, is niks. Dis heeltemal fokol. Hy sal die blades opstel lat die revs lekker hoog kan loop. En te veel olie bygooi lat die masjien lekker blóú rook. Die hele donnerse lawn sal sy sny. In die helder maanskyn. Hy sal die hele fokken Triomf ontstel. Dis nie net ander mense wat ’n geraas kan maak nie.

Hy loop met lang treë terug na sy den toe, ín by die buitedeur, óór die kratte en die pype na die binnedeur toe.

“Ma!” skreeu hy af in die gang voor hy terugdraai om die lawn-mower uit te kry onder sy beddegoed, en weer: “Ma!” oor sy skouer toe hy hom uit het. En nog ’n keer: “Ma!” toe hy hom “rikketik-rikketik” oor die los blokkies in die gang af sleep sitkamer toe.

En toe hy inkom by die sitkamerdeur, skree hy lat die vensters dril: “Hei, Ma! Maak vir jou rég lat ons kan sny! Die gras is lánk!”

Hy trek die masjien tot in die middel van die sitkamer. Hy buk en stamp Pop se knieë uitmekaar en sleep sy toolboks onder Pop se stoel uit. Hy moet die petrol op “oop” stel. Die levertjie het afgebreek. Nou moet hy die stompie wat oorgebly het met ’n tangetjie werk. Hy kry nie die klein tangetjie nie. Hy kry die donnerse tang nie in die boks nie. Met een haal dop hy die hele toolboks “kabam!” op die blokkiesvloer om. Pop kom stadig orent uit sy stoel uit. Hy vat-vat in die lug na Mol se kant toe. Sy staan al lankal.

“Wáár’s die olie? Wáár’s die petrol?” skree hy vir hulle. “Toe, toe, julle. Julle is almal half gevrék hier. Róér vir julle. Dis Saterdagaand!”

Treppie kom leun teen die sitkamerdeur se kosyn. Hy sê niks. Hy kyk net met sy oë op skrefies.

“Hei, wat kyk jy, Treppie, hè? Wat kyk jy?” vra Lambert terwyl hy krap-krap tussen die hoop tools op die vloer.

“Ek,” sê Treppie, “ek kyk en ek sien ’n mal fokker met ’n groot voël wat ’n klein tangetjie soek op ’n Saterdagaand.”

“Viewmaster!” sê Mol. Sy steek ’n cigarette op. Sy lyk of sy oorgegee het. Sy sal met dit deurgaan. Watever.

Lambert is vinnig op. Hy gee een lang tree tot by Treppie. Hy gryp hom voor die bors en lig hom op lat hy op sy tone staan. Hy skree in sy gesig. Treppie draai sy kop weg vir die spoeg.

“Nou lat ek vir jou sê wat jy sien, jou fokken bliksem. Jy sien ’n donnerse plasticpyp agter die badkamerdeur. Jy sien ’n fokken tregter in die den onder die bed. Jy sien ’n leë Coke-bottel op dieselfde plek. Jy sien hoe suig jy petrol uit tot jy daai bottel vól het en dan sien jy hoe bríng jy dit fokken hiér! Dís wat jy sien. Móénie nou kak soek nie! Move it! Loop suig petrol!” Hy los vir Treppie in die lug.

Treppie is weer vol op sy voete. Hy stryk sy klere stadig reg met sulke vinnige plukke aan die punte.

“Loop suig jouself, jou fokken mal donner!” sê hy en draai weg na sy kamer toe.

“Hei!” sê Lambert en wil agter hom aan.

“Hô nou,” sê Pop, “ék sal, Lambert, los vir Treppie, ék sal die petrol kry.”

“Okay,” sê Lambert, “maar ek sê nou vir julle één ding vanaand …”

En hy draai om om vir Pop en sy ma die ding te sê, vir hulle wat daar langs mekaar staan met versigtige gesigte.

“… en ek sê dit nét een keer,” sê hy. En hy wil dit een keer vir sy ma sê, vir haar wat daar so agter aan haar bolla staan en vat-vat. En hy wil dit vir Pop sê, vir hom wat sy kruisbande stadig oor sy skouers staan en rek-rek met sy duime. Hy wil vir hulle sê, vir hulle wat daar staan en kyk vir hom of hulle aan die bopunt van ’n roltrap staan wat ondertoe wegdraai in ’n groot donker gat. Hy wil sê, maar hy sê niks nie. Dis onder sy voete uit. Hy’t vergeet wat hy wou sê. Dit was te véél om te sê. Sy oë brand en sy keel is styf.

“Die GTX,” sê hy dan maar, “die GTX is onder my bed. Moenie die vol kan oopmaak nie,” sê hy en sluk die brand weg en knip sy oë. “Daar is ’n halwe kan. Bring hom hier.”

Hy kyk af. Die klein dunpunt-tangetjie. Dit lê fokken rég voor sy fokken voete. Hy tel dit op en gaan op sy knieë langs die lawn-mower. Hy stel die petrol op “oop”.

Mol gaan haal die olie, Pop dié suig die petrol en Treppie vloek op rym in die gangetjie. “Dammit, fokkit, móérpit!”

Dis beter, hy voel nou baie beter, hy wat Lambert is. Ten minste is daar nou beweging. Mens kan nie so wil sit en níks doen op ’n Saterdagaand nie.

“Saai die waatlemoen, saai die waatlemoen,” sing hy terwyl hy die blades hoër stel.

“Sjaddap!” skree Treppie, maar Lambert sing net harder.

“Ons moet ’n beter trégter kry,” sê hy vir Pop as hulle klaar volgemaak het, “lat ons nie so mórs nie.” Hy praat hard.

Kolle olie en petrol lê op die blokkiesvloer. Sy ma gaan haal ’n lap.

Lambert start die lawn-mower. Die toutjie trek slap uit die kop uit. “Grrt!” trek hy. “Grrt! grrt!” Nog ’n keer, “grrt!” “Fok!” sê Lambert, “fok die fokken stuk gemors!” Hy skop die lawn-mower.

Treppie loop verby in die gang en kyk by die sitkamer in.

“Ek sê mos, jy moet liewer jou eie draad trek as daai silly toutjie, man. Dan’t jy ten minste iets om aan te trek!”

Lambert gryp ’n spanner en gooi dit hard na Treppie. Treppie koes en die spanner tref die muur. Dit val op die blokkiesvloer lat ’n blokkie “klieks” lós tussen die ander uitspring. ’n Groot, dik stuk pleister val stadig af. “Paf!” spat dit in stukkies op die vloer. Daar’s ’n groot gat. Rondom die gat loop ’n klomp pleisterbarsies uit oor die muur. Lambert kyk vir die gat. Waar die pleister losgekom het, sit ’n krummelrige stuk rooi baksteen. Daar is barse rondom.

Dan buk hy en ruk die tou met ’n swiepslag uit. “Poef-te-poef-te-poef-poef-purrrr,” maak die enjin, en dan vat hy. Hy stel die petrol nog oper. Daar’s lekker baie olie by. Dis blou van die rook in die sitkamer.

“Ma!” skreeu hy agter Mol aan wat weer terug kombuis toe is met die vuil lap.

“Kom!” skreeu hy, “kom, kom, kóm!”

Hy stoot die lawn-mower by die voordeur uit. Bollings blou rook borrel langs sy kop by die voordeur uit. Af met die twee steppies werk hy die lawn-mower. Die blades vang die stoeprand met ’n skerp geluid. Vonke slaan uit onder die masjien. Mol kom agter hom aan.

“Dis nág, Lambert. Ek kan g’n niks sien nie,” skree sy bo die geraas uit in sy ore.

Lambert los die lawn-mower en vat vir sy ma en draai haar maan se kant toe.

“Dáár!” skree hy en wys: “Dáár! Sien jy, Ma, daar’s jou lig! Dis ’n fokken hemelse spotlight! Wat meer wil jy hê! Begin diékant en dan reg rondom, nè.” Hy vat die lawn-mower langs die huis in, waar die lang gras tussen die huis en die prefabmuur groei.

Pop kom by die voordeur uit. “Hei, Lambert,” roep hy, maar hy kan homself nie hoor nie, so raas dit. Hy tik-tik op sy arm waar ’n horlosie moet wees. Hy’t lankal nie meer ’n horlosie nie.

Hy wys in die rondte met sy arms wyd soos wysters na waar die maan staan en waar dit blink op die dakke. Dis láát, wys hy met groot armswaaie. Mense slááp, wys hy en vou sy arms en hande saam langs sy kop.

Lambert beduie Pop moet net sjaddap. Hy los nie ’n ding wat hy begin het nie. Sake loop nou reg. Hy druk by Pop in die deur verby en gaan sit voor die TV. Hy steek ’n cigarette op.

Pop draai rond in die gang tussen die voordeur en die sitkamerdeur. Pop moet nou sy sit kry. Hy moet ophou binnetoe-buitetoe soos ’n mal hoender. Hy moet die deur tóémaak. Lambert hoor hoe stoot sy ma die lawn-mower deur die lang gras langs die huis. “Tjoef-tjoef-tjoef-tjoef,” tjoef die lawn-mower al hoe stadiger. Daar slaan die enjin af. Dood. Nou sal sy hom moet terugsleep tot voor die stoepie. Sy kan hom mos nie self aansit nie, dom poes.

Hy’s uit by die deur nog voor sy begin beweeg het.

“Já!” skree hy. “Wat’s jou moeilikheid, Ma?”

Mol wys na die dooie lawn-mower. Here, hy kan mos sién, wys sy.

“So, jy’t hom laat vrek nè?” skree hy. “Vir wat, Ma, vir wat lat vrek jy hom hè, hè?”

Hy stamp haar uit die pad. Hy buk en gryp die toutjie se handle. Sy broek val amper agter af oor sy boude. Hy trek hom nie op nie. Lat sy kyk as sy wil. Toe hy klein was, het sy doek ok so afgeval. Dis oor sy boude te hoog sit, sê sy altyd. Haar móér, hy kan nie help waar sy boude sit nie.

Lambert ruk die grassnyer los van die grond af soos hy trek.

“Trap!” wys hy. Mol kom voor om. Sy sit haar voet bo-op en trap vas. Met die derde trek vat hy.

“Raait!” skree Lambert. “As hy afslack, dan lig jy sy neus, dan trek jy hom ’n skoot agtertoe. Lat hy weer aankom. Dan lat sak jy hom weer. Toe, gaan aan, gaan aan!”

Hy kyk lat sy die mower weer langs die huis instoot waar die gras die langste groei. “Tjoef!” Af is hy weer. Hy wag vir haar op die stoep lat sy hom terugsleep. Hier kom sy nie weg nie.

“Kan jy dit nie in jou kop kry nie, Ma, lat jy moet die fokken ding áfdruk jou kant toe, lat sy fokken neus voor óp is, lat hy kan fokken lúg kry, lat hy weer kan fokken lóóp, hè? Hè!”

Hy ruk die grassnyer uit haar hande na hom toe, trap self bo-op, ruk hom in één hou aan die brand. Hy stamp die stootkant na sy ma toe. Hy wys vir haar vinger. Stupid fokken ou vrou. Lat hy weer gaan staan. Hy stoot vir Pop eenkant toe wat in die deur staan en maak of hy vlieë waai.

“Loop sit,” sê hy, “loop sit en hou op rondstaan!”

Pop steek ’n cigarette op. Hy sê niks. Hulle hoor hoe Mol langs die een kant van die huis klaarsny, hoe sy die masjien aanmekaar amper laat vrek in die lang gras. Dan hoor hulle hoe sy hom op nommer nege en negentig weer oplig, op spoed kry en weer neersit.

Treppie kom in met ’n bottel Klipdrift, ’n liter Coke onder die ander arm en drie glase vasgeknyp tussen die vingers van die ander hand. Versigtig laat sak hy die glase op die sideboard.

“Tja!” sê hy. “Bésig, bésig, bésig is die Benades weer vanaand, nè, ou Lambert. Sáái die waatlemoen!”

“Saai die waatlemoen! Saai die waatlemoen!” sing Treppie. Hy gee ’n paar steps in die rondte met die bottel brandewyn bo sy kop.

“Sy mammie mow die grassies, sy pappie kyk die kassie, sy oompie skink die Klipdriffies, saai die waatlemoen!”

Treppie sit die TV af. Pop sit met sy kop skuins in die lug. Hy luister hoe Mol vorder. Sy’s amper klaar aan die een kant. Nou agtertoe. Die gras daar is ok maar lank.

“’n Double vir my,” sê Lambert.

“Maar of course, ou Bertie boy. Always double for the single man!” sê Treppie en hy skink die Klipdrift en dan die Coke “ghloeb-ghloeb-ghloeb” in die glase.

“Dubbel vir almal, dubbel vir altyd, dubbel in neuktyd in ons eensaamheid, in ons één-sáám-héid,” sing hy op die wysie van “Lank sal hy lewe”.

“Wat van Mol?” vra Pop.

“Los haar lat sy die gras sny en klaarkry!” sê Lambert. Hy vat sy glas.

“Hier kom kak. Hierso, Pop,” sê Treppie. Hy gee Pop se glas aan. “Drink voor die kak spat. Want hier kom gróót kak vanaand!”

Hulle drink in stilte. Agter die huis hoor hulle hoe Mol die neus van die grassnyer oplig. Sy sit hom nie weer neer nie. Die engine loop nou hard en vinnig.

“Wat de fók!” sê Lambert. Hy staan nie op nie. Hy wag. Hy weet waarvoor hy wag. Dan is daar skielik ’n rumoer langsaan. Twee mans roep hard oor die muur van Fort Knox se kant af.

“Sjaddap met daai geraas! Sjarrap! Dis fokkenwel elfuur in die nag! Wat de hel dink julle doen julle!”

“Daar’s hy,” sê Lambert. Hy slaan op sy bene soos hy regop kom. “Hulle sukkel al weer met ons. Dink hulle is wié. Dink hulle kan hulle neuse in ons sake steek. Hulle hele moer!”

Agter die huis hoor hy lat sak sy ma die grassnyer se neus in die gras. “Tjoef! tjoef!” maak hy. Daar’s hy af. Hier kom sy nou, anderkant om. Sy wil nie moeilikheid hê nie. Sy park hom voor. Sy stamp die gras van haar skoene af. Sy vat-vat agter aan haar bolla. “Dis genoeg,” sê sy. Sy druk by hom verby.

“Klaar?” vra Lambert agter haar aan.

“Langsaan klá,” sê sy. Sy wys met haar vinger na die sideboard. “Waar’s myne?”

“Jóúne, Ma, kry jy as jy die fokken gras klaar gesny het. Dán kry jy joune! Hoor jy? Hoor jy my?”

“Langsaan,” sê sy ma.

“Langsaan se móér!” sê Lambert. Hy stamp sy ma voor die bors.

“Saai die waatlemoen!” sing Treppie uit sy stoel. Hy smile ’n óú smile. Sy oë blink. As Treppie so lyk, dan’s hy into it, dan wil hy hand bysit. Lat dit kan kook. Fine, miskien kook iets uit.

“Mol,” sê Treppie, “Mol, jy weet wat gebeur as die fokken grás lank is. Jy weet mos goed. Dan kom daar kak. Jy onthou mos.”

“Eers rus,” sê sy, “eers sit.” Sy gaan haal vir haar ’n glas agter. Toe sy terug is, skink sy vir haarself ’n dop. Swaar gaan sit sy in haar stoel. Haar bene wyd oop.

“Maak tóé jou bene, Ma,” sê Lambert, “maak hulle tóé!”

Pop lat sak sy kop tussen sy hande. “Lambert,” sê hy binnesmonds.

Lambert draai sy kop vinnig na Pop se kant toe. Of Pop iets te sê het, wil hy weet. Of Pop dan nie gehoor het wat Treppie nou net daar gesê het nie, oor die gras. Oor as dit te lank is lat daar kak kom nie. Of is Pop dan nou skielik doof. En of hy nie voel daar hang heelaand al snot uit sy neus uit nie, of hy dan wil hê hy wat Lambert is, moet dit vir hom afvee.

Pop vee sy druppel af met sy mou.

“Liewe maan, jy skyn so ru-u-ustig,” sing Treppie.

“Pop,” sê hy, “Pop, waar’s jou bekfluitjie? Heit, Pop, moenie nou slaap nie, man. Dis nog vroeg. Wáár’s jou bekfluitjie?”

“Los hom,” sê Mol.

“Jy los jou glas, Ma,” sê Lambert, “dis wat jy los, nóú, op die daad. En gaan sny die gras. Lat ons tot rus kan kom hier!”

“Soete hemelse ru-us, soe-oete hemelse rus,” sing Treppie. “Jirre, maar ek voel lus vir sing vanaand, ek sê.” Hy staan op en skink sy glas vol. “Vir sing, vir sing en dans. Vir wáls, voel ek lus. En jy, ou Mol? Is jy ok lus?

“Waltzing Mathilda, waltzing Mathilda,” sing Treppie en hy gee ’n paar steps met sy arms uit. “Kliks-kliks,” maak die blokkies onder sy voete.

“Uit! Uit en gaan maak kláár!” skree Lambert. Hy pluk sy ma op en stoot haar by die voordeur uit. Hy klap die deur toe. Dis nie nou tyd vir dans nie.

Hy kyk vir haar deur die venster. Sy bly staan net daar op die stoep, hande langs die sye. Haar een kant is geel van die stoeplig, haar ander kant is blou van die maan. Stadig maankant om kry sy koers. Waar de fok dink sy gaan sy nou na toe? Die lawn-mower staan mos hier voor, nou. Hoe het hy dit dan nou weer met die fokken ou bitch hier vanaand? Sy moet mos net sny en geraas maak. Sy moenie nou aan die dwaal raak nie. Dis nou of nooit. Lambert gaan weer voor uit. Hy start die engine. Sy ma wil wegkom van hom af, sien hy. Sy gryp die handvatsel en stoot die lawn-mower vinnig weg. “That’s more like it!” skree hy agter haar aan. Hy gaan weer in. Hy check vir haar deur die voorhuis se syvenster. Soos sy maankant se gras sny. Dis lekker gelyk. Behalwe vir die groot patch waar die gras lank groei rondom sy scrap-yard. Stukke plaat en yster. Al Flossie se ou binnegoed. En stukke wat hulle nog van die Austintjie gehou het vir in case. Hy hou altyd goed vir in case. Dan weet hy hy kan soek in die scraphoop. Maar hy kry nie altyd wat hy soek nie. Want die gras groei te lank tussen die goed. Dan brand hy die gras af. Dan brand alles. Die ysters brand ok. Pikswart. Verder moet die gras kort wees. Lat goed nie kan wegraak nie.

Daar begin sy nou aan die graspolle rondom die patch. Ja-nee, hy’t gewag daarvoor. Bo-oor ’n stuk yster. Af is die engine. Seker minus ’n blade ok nog. Hier kom sy nou, trek daai ding agter haar aan. Nou weer by die voorvenster kyk. Op die stoepie staan sy. Sy snuif. Sy kom nie in nie. Sy draai om. Kyk hoe rek haar oë, nie gedink hy sal hier voor die venster staan nie, nè. Skytbang lyk sy, die ou kont. Lat hy haar gaan regsien.

“Amper klaar, amper klaar,” sê sy toe hy die deur oopmaak.

“Dis die lááste keer hoor, die laaste keer. Jy sóék vir my, Ma, jy sal vir my kry! Kry sal jy vir my!” sê Lambert.

“Okay, okay, Lambert. Start hom, start hom net gou weer,” sê sy.

Sy wys met haar hande hy moenie slaan nie, sy sal sny, tot sy omval sal sy sny. Goed mak. Ok reg so. Darem een wat doen wat hy sê in hierie huis.

Dis lank ná twaalf. Lambert loer oor die prefab. Hy’t net sy shorts aan. Die maan skyn nou baie skerp, maar dis nog net so warm. Sy ma het gesny lat sy hop, maar niks verder het gebeur nie en hy het begin gatvol raak vir elke keer die engine start. So, toe Pop sê hulle moet nou gaan slaap, toe was hy eintlik bly. Sy ma wou in elk geval omval. En Treppie was so dronk, hy’t begin handevol gras in sy mond stop en “moe” soos ’n koei hier voor op die lawn. Toe moes hy vir Pop help om hom in te sleep, die mal donner. Nou slaap hulle. Al die ligte is af. Nou kan hy in vrede verder loer. Vir wat hulle toe ophou moan het hier langsaan, weet hy ok nie. Seker moeg gesuip aan al daai biere.

Dit ruik na gesnyde gras waar hy staan. Langsaan speel nou sagte musiek. Hy rek sy nek.

Eers sien hy niks. Dan kom Bloubikini en Speedo stadig verbygeskuifel. Hy’t sy twee hande op haar boude en Lambert sien hoe knie-knie hy die boude. Hulle dans so close lat Speedo se knop glad nie eers wys nie.

Papkoejawel soos Treppie sê. Papkoejawel en komkommerkrag. Hy hoor net suig en spoeg soos hulle mekaar soen, maar hy kan nog altyd nie hulle koppe sien nie.

Pienkbikini en Bluejeans lê op ’n kombers en vry. Lambert kan net hulle bene sien tot in die middel van die boude. Die flap van die tentseil oor die smouskarre is reg in sy pad. Die bene vou oormekaar en die voete klou en krul deurmekaar. Die Blomrokke en die Pense is nêrens te sien nie. Slaap seker al. Jirre, hy wens hy kan beter sien. Hoog genoeg om bo-oor die tentjie te kan sien. Maar dan moet hy op die prefabmuur staan en dan’t hy nie houvas nie.

Hy gaan haal die leë bierkratte in die den en stack hulle ses opmekaar langs die muur op. So, nou sal hy met sy een hand aan die geut kan vashou. Maar hoe kom hy nou bo-op die kratte? Hy gaan haal nog drie kratte vir ’n trap.

Lambert hys homself op van die laer stack kratte tot op die hoër stack. Nou gaan hy kan sién! Hy sal twee kratte hoër wees as die prefabmuur.

Hy’s half bo-op toe die kratte onder hom begin roer. Hy gryp en hy klou, maar hy kantel. Hy sien die muur en die middelste smouskarretjie naderkom. Dis die hamburgerkarretjie. Hy is meer as halflyf oor die muur. Hy gryp na die kant van die tentseil. “Krák!” breek die tent se dakpen. “Gáárrts!” skeur die seil uit sy hande. Hy val eers ’n duik in die hamburgerkar voor hy grond toe val.

Hy hoor net hoe gil langsaan se bikini-vrouens.

“Kiepie, Johnny, kom, hier’s kák al weer!” roep Speedo.

O, jirre gôt, wat nou! Hy’s ín, tussen die karretjie en die muur aan hulle kant, sy een sy is op die sement, hy sit vas. Hy beter nou move! Hier’t hy nou weer groot kak aangejaag. Hier kom hulle donnerse hond ok nou vir hom. Hap-hap hier onder die kar.

“Voetsek! Voetsek!” Lambert span sy lyf en skop die hond, die kar kry ok nog ’n paar duike in. Weerskante sien hy hoe Speedo en Bluejeans hulle inwurm tussen die muur en die ander karretjies om hom by te kom. Hy gryp na die muur se rand. Dis maklik twee koppe hoër as aan hulle kant. Hy hys homself op, kry sy voete op die kar en stoot homself oor. Toe hy amper oor is, kry iemand hom aan die voet beet. Hy skop agtertoe en voel hoe sy voet wegsak in iemand se nat, warm mond in.

“My fokken donnerse tánd!” brul die een en laat los.

Lambert val kop eerste oor die muur tussen die hoop kratte in. Hy val sy kop oop en voel hoe loop die bloed warm oor sy gesig. Sy voet klop van die skop. Jirretjie tog, wat nou? Sy kop voel dof. Speedo en Bluejeans is verskriklik aan die skel oor die muur. Hulle waai hulle arms in die lug. Hy sien Treppie se kamerlig aangaan. Binne sekondes kom Treppie by die agterdeur uit en om die hoek.

“Wat de hel gaan nou aan?” skree hy. Sy stem slaan skoon deur.

“Gevál!” sê Lambert.

Bloubikini se kop kom agter die muur uit. Sy’t ’n blonde kop soos ’n Barbie doll.

“Gevál? Gevál se gat! Hy loer vir ons. Die fokken vark lóér vir ons, dís wat!”

Speedo en Bluejeans en Pienkbikini en Kiepie en Johnny se koppe kom almal oor die muur. Daar loop bloed uit Speedo se neus en mond. Hy spoeg-spoeg so. Hulle staan almal op die smouskarre. Hulle praat deurmekaar en wys na Lambert wat nog altyd op die grond sit en sy kop vashou met sy een hand en sy voet met die ander.

“Hy’t hom lekker in sy moer in geval!” sê Kleinblommetjies, wat nou bygekom het.

“Hy’t lekker op sy gat geval, hy wíl mos!” sê Grootblom, wat ok uitgekom het. Hulle is altwee in hulle nighties.

Speedo het vir hom ’n hemp en ’n broek gaan aantrek. Hy’t ’n gesig op. Sy hele een kant is opgeswel. Hy gryp die prefabmuur vas en klim bo-op. Deur die bloed wat oor sy gesig loop, sien Lambert hoe kry hy die geut beet. Met twee groot hale van sy arms en bene is hy bo-op hulle dak.

“Kom,” sê hy vir Bluejeans, “kom hier op. Gee jou hand, ek trek jou op, dan sien ons wat gebeur met mense wat lóér, met fokkers wat vir ander mense lóér as hulle braai.”

“Ja!” sê Kiepie.

“Ja!” sê Johnny, “lat ons sien wat met hulle gebeur.”

“Kyk hoe lyk ons tent!” sê Grootblom in haar flimsy geel nightie.

“Kyk hoe lyk ons kar,” sê Kleinblommetjies in haar groen nightie.

Pienkbikini, wat nog niks gesê het nie, kom aangestorm met ’n glaspot in haar hand en gooi dit “dwaraf! tiengeling” dwarsdeur die den se kantste venster lat die glas so spat.

“Vat so, vuilgoed!” gil sy, “dis oor julle ons donnerse aand so opgefok het!”

Pop kom by die den se agterdeur uit. Sy mond hang oop. Hy’s net in sy hemp en sokkies.

Sy ma stoot van agter af by hom verby. Sy hou haar housecoat voor toe.

“Lambert,” sê sy, “Lambert, staan op.”

“Ja!” skree Speedo bo van die dak af. “Staan op, jou fokken doos, lat jy kan sien wat maak ons met mense wat ons goed breek!”

“En wat vir ons loer as ons braai!” skree Pienkbikini.

“Hier gaat ons!” skree Speedo.

“Hooeehaaa!” skree Bluejeans. Hulle hardloop op die dak rond.

“Krak!” breek hulle die TV aerial af.

“Krak!” trap hulle die overflow plat.

“Krak! krak! krak!” ruk hulle die gutters uit die brackets en gooi dit “bam! bam! bam!” op die dak rond en dan op die grond.

“Kóm!” sê Pop en hy trek vir Mol aan die mou.

“Kóm,” sê hy en trek vir Treppie aan die mou.

“Kóm, julle, ons gaan in. Lambert, kom nou!” sê Pop. Maar hy wil nie nou kom nie. Hy sukkel hinkepink anderkant om die huis om te probeer sien wat gebeur op hulle dak. Hy kén sy regte. Hierie wat nou hier gebeur, is nie ’n ongeluk nie, dis moedswillige saakbeskadiging. Dis hoe Treppie dit laas vir hom verduidelik het. Hierie lot van Fort Knox breek nou hulle huis af, doelbewus en met voorbedagte rade.

Lambert hardloop by die voorhek uit om te gaan bel. Oorkant. Die Flying Squad. Oorkant se twee sê nee, hulle sal self bel, maar dis oor hulle nie wil hê hy moet te diep in hulle huis inkom nie. Hy weet, want hy het al voor die deur bly staan ná hulle hom uitgesien het en gehoor hoe spuit hulle goed om sy ruik uit te kry. “Jesus, but he honks,” het hy gehoor, sê die een vir die ander een.

“Ag, thank you very much,” sê Lambert vir die dikketjie wat die deur kom oopmaak het, “thank you, man. But they must come quick. We’re under siege here!”

Hy hoor hoe draai die lang ene een-een-een-een-een-een op die telefoon in die gang. Hy hoor hoe sê sy daar’s ’n “domestic disturbance across the street here”.

“Wat!” skree hy. “It’s a fuckin’ war, man!” Kliphard solat die polisie kan hoor. Domestic disturbance se fokken voet.

Hy hardloop terug. Nou is Speedo-hulle voor besig. Hulle is weer op die grond. Hulle breek wragtag sy posbus af. “Zik! zik! zik!” ruk hulle die armpies een vir een af. Speedo staan so ’n entjie weg en dan draai hy skuins en hy dans-dans so skuins-skuins nader en gee die posbus ’n kung fu-skop, plaat en al van die hekpaal af.

Hy bly staan in oorkant se jaart, net agter die hek. Maar hulle het hom klaar gesien.

“Kom hier, jou fokken vet vark, lat ons vir jou kan dik donner!” skree Bluejeans.

“Ja, kom hier, jou common stuk waste of a white skin wat vir ons loer as ons braai!” skree Speedo.

Waste hulleself. Hy bly net hier staan.

Hier kom die polisie. Van alle kante kom hulle in geel vans en geel-en-blou Flying Squad-Golfs aan. Lyk al weer soos ’n spul coloured cops. Nee, daar’s darem twee wittes ok, sien hy.

“Naandsê, naandsê,” groet die verskillende karre se manne mekaar. Hulle ken al vir Marthastraat 127. Maar hulle doen mos eintlik niks nie. Niemand wil hier ooit ’n klag lê of ’n saak maak nie. Dit kos te veel geld. Hulle keer net ’n bietjie lat niemand seerkry nie.

Die hele lot van Fort Knox is in die straat nou. Hulle wag net vir hom wat Lambert is, om uit te kom. Hy weet oorkant se twee loer vir hom wat hier op hulle erf staan agter hulle hek. Pop en Mol en Treppie staan op die stoepie voor die deur en hou mekaar se moue vas. Hulle kyk ok wanneer kom hy dan uit.

So, lat hy nou maar. En lat Johnny hom nou maar hier aan die keel gryp. Die polisie is hier. Hulle sal keer lat hy nie geslaan word nie. Hulle lyk cool, die polisie. Staan met cigarettes rond en keerkeer met lang arms.

Toby en Gerty hol op en af op die lawn rond en blaf.

Kleinblommetjies lyk heeltemal geflip. Sy loop heen en weer om die spul wat op hom toesak. “Slippetie-sloppetie” maak haar slippers op die teer. Nou’t hulle hom beet. Hulle pluk aan hom. Hulle stamp hom.

“Moer hom! Moer hom, Johnny, moer hom! Moer hom hard! Moer hom moer toe, Johnny! Moer hom!”

Pienkbikini se hare staan wild. Sy explain vir die konstabels, wat weet sy ok?

“En dis nogal my anniversary, my paartie vir my first anniversary. En toe loer hy vir ons.”

“Ja,” sê Johnny, “hy loer vir ons elke keer as ons braai. Vir járre en járre lank al, die fokken rubbish!”

“Hulle het ons ruit gebreek, aspris,” sê Lambert. Hy weet asprisgeit tel.

“Dis my fokken blompot gewees! My pot wat ek vir my anniversary gekry het!” skree Pienkbikini. “Wat kon ons gedoen het? Hy kom spring op ons hamburger stand. Toe gooi ek hom met my pot!”

“Selfverdediging!” sê Johnny.

“Hulle het ons pyp gebreek, aspris!” sê Lambert. Hy wys dak toe, lat die konstabels moet kyk.

“Ag, jou pyp se gat, man,” sê Speedo, “en jou gat sommer ok, sonder pyp!”

“My ma-hulle is oud en nou sit ons sonder TV reception en sonder ’n overflow vir ons geyser,” sê Lambert.

“Ag, man, jou ma se póés!” skree Speedo. “Jou ma se hárre!” skree hy.

Oral in Marthastraat, sien Lambert, kom mense uit hulle huise om te kyk wat aangaan. Die honde blaf vier blokke ver. Couples wat laat terugkom ná hulle Saterdagaand uit, kom park hier voor. Hulle sit hulle karre se musiek af, wil seker hoor wat gaan aan.

Hy ruk hom los. Sy ma-hulle moet kom, nou. Hoekom moet net hy geskel word? Hulle is ok mos in dit. Maar hulle wil nie kom nie, hulle staan net ’n bietjie nader agter die draad.

“Check net,” skree Treppie, “mens sal sê ons is fokken famous! Kyk net al die mense, ou Lambert. Die fokken Benades se fokken late nite show! Scenes from coming attractions. Bleddie movie stars. Dis wat ons is!”

Fok Treppie ok. Hy’s fokken gesuip en nou’s sy bek los.

“Wat van ons tent, hè? Wat van ons kar, hè? hè?” sê Johnny Pens en hy kom druk-druk aan Lambert. Die konstabels keer.

“Kom, Johnny, dis nou genoeg!” sê Kiepie.

“Ja, helemaal genoeg,” sê Grootblom. “Hierie mense moet ok slaap.” Sy smile vir die konstabels. Dink sy’s wie!

“Dit was ’n plain ongeluk,” sê Lambert, “nie met opset nie.”

“Nie met opset nie se móér, hoor jy, se móér! Jy, jy lóér vir ons as ons bráái!” Dis Bloubikini wat nou bygekom het. Sy’t ’n manshemp oor haar bikini aan.

“Moer hom, moer hom, Johnny, tik hom dik!” skree Kleinblommetjies. Sy loop nog altyd heen en weer in die straat.

“Sê Lambert moet nou inkom,” hoor hy sy ma sê. “Pop, toe, sê Lambert moet nou inkom.” Hulle staan nog ’n bietjie nader.

Pop staan oopmond.

“Knoop toe jou broek en gaan sê nou,” sê Treppie vir Pop.

Pop kom nader na die hekkie toe. Hy hou vas aan die draad met sy een hand. Hy knoop sy broek voor toe met die ander een. Hy skop-skop die posbus met sy skoenpunt uit die pad uit. Dit lê op die gras met al die armpies wat rondom uitsteek.

“Pieep,” maak die voorhekkie soos hy dit oopstoot. Lambert sien hom aankom. Hy werk homself in tussen die mense. Groot skouers in uniforms staan in sy pad. Hy druk om deur te kom tot by Lambert. Hy trek hom aan sy elmboog.

“Kom, ou seun,” sê hy saggies, “kom nou maar in. Dis nou als oor. Dis als okay. Kom nou maar net in.”

Agteruit, agteruit trek Pop vir hom uit die koeksel mense. Party kom agterna, sit voor vas aan hom.

“Loer jy net weer vir ons as ons braai, jou rubbish!” sê Johnny. Hy bly agterna kom soos Pop hom wegtrek.

“Volgende keer breek ons jóú fokken overflow vir jou af!” sê Bluejeans.

“Ons trek jóú draad vir jou kláár! Uit! Vir altyd, hóór!” sê Speedo hier vlak voor sy gesig.

“Lat jy kan óphou lóér vir ons as ons bráái!” sê die twee bikini’s saam.

“Hei, julle,” sê Grootblom, “los nou die arme bliksem. Los hom nou. Dis nou genoeg. Kom nou in.”

Die eerste twee polisiemanne vertrek. Die ander twee pare staan nog ’n bietjie rond. Hulle lyk nie baie gepla nie.

“Kyk hoe lyk die huis,” hoor Lambert sê die een vir die ander een. Hy sien hoe kyk hulle vir die huis, hand in die sy.

“Hy bars uitmekáár uit,” sê die een.

“Kyk al die gemors onder daai afdak,” sê die ander een.

“Sleg,” sê die wit konstabel, “heeltemal vrotsleg is hulle.”

“Ag, jirre, shame,” sê die bruin konstabel.

“Die lawn is darem mooi kort,” sê die ander bruin konstabel.

Die radio’s piep en kraak en praat vol stemme in die karre. Pop het vir hom tot byna by die stoep getrek, agteruit, agteruit. Sy ma hou die deur oop. Treppie loop om die huis. Hy gooi die afgebreekte geute en pype op ’n hoop. “Saai die waatlemoen,” sing hy kliphard. Dan gaan hy ok in.

Toe is die voordeur.

Af is die stoeplig.

Sy ma skink vir Lambert ’n dop. Almal staan en kyk vir hom waar hy sit op Pop se stoel.

“Jou voet,” sê sy ma. Sy voet is bloupers opgeswel.

“Hom lekker op sy bek geskop,” sê hy.

“Black belt,” sê Treppie.

“Jou kop,” sê sy ma. Die bloed het in lang strepe teen sy kop af gestol, voel hy. Waar’s die gat?

“La’k sien,” sê sy.

“Los!” sê hy. Hy ruk sy kop weg.

“Tough,” sê Treppie, “tough soos Stallone.”

“Slaaptyd,” sê Pop, “kom, bed toe nou.”

Almal loop uit. In die gang tel sy ma die stuk pleister op wat uitgeval het. Sy kyk vir die muur.

“Barse,” sê sy, “kyk die barse.” Sy vee een keer met haar hand oor die muur of sy hulle wil wegvee.

Hy bly nog lank so sit in Pop se stoel. Hy kyk vir die kol waar die pleister afgekom het, en vir die pleisterbarsies rondom dit. Een vir een kyk hy vir hulle, soos hulle teen die muur wegraak, tot waar hy hulle nie meer kan sien nie, waar hulle lyk of hulle doodloop in die high gloss paint.

Maar hy weet hulle gaan nog aan, onder die verf, onsigbaar vir die oog. Want ’n pleisterbars is ’n ding wat aanhou loop as hy eers loop. Jy kan hom nie sommer stop as hy eers koers gekry het nie.

Triomf

Подняться наверх