Читать книгу Triomf - Marlene van Niekerk - Страница 9

5 Soet is die dag

Оглавление

Toe hy wakker word en hy kry nie die reuk van batterysuur van Industria se kant af nie, toe weet Pop dit word ’n goeie dag. En toe hy sy kruisbande oor sy skouers haak voor Mol se driestuk-spieëltafel voor die middelste paneel wat nog oor is – toe doen hy dit versigtig, uit respek vir die gevoel wat hy gekry het. Want deesdae voel hy meestal vir homself na ’n plek wat hy nie ken nie, vol vreemde geluide wat deur dik mis aankom. Versigtig blaas hy die stof van die geel plastiekrose af. Dit walm om sy kop, maar hy staan nie weg nie. Hy wag net so gebukkend vir die stof om te gaan lê. Op sulke dae moet ’n mens versigtig wees.

En toe hy in die kombuis kom, toe kry hy vir Lambert daar wat vra: “Pop, wil Pop ok ’n poloniesandwich hê?”

Toe sê hy okay en toe sê Lambert hy moet kom, hy moet hulle join, hulle sit hier agter in die jaart.

En toe hy om die draai kom, sit hulle daar. Met hulle bolywe in die skadu en hulle voete in die son, op Coke-kratte teen die den se muur. En Treppie sleep vir hom ok ’n sitding uit die den uit aan en Lambert bring sy koffie en sy poloniesandwich, kan jy dit wragtig glo?

Rústig sit hulle daar. Treppie knip sy naels en Mol voer vir Gerty klein stukkies van haar sandwich. En Lambert het Flossie se wieldoppe wat hy ’n tyd gelede uitgeklop het voor hom in ’n ry en hy verf silwer verf op die nerfaf kolle met ’n fyn kwassie.

“Hoe’t Pop geslaap?” vra Lambert.

Kan nie wees nie.

“Huh?”

“Ek sê, het Pop lekker geslááp?”

Ja, wraggies. Daar word gevra of hy lekker geslaap het.

“Goed,” sê hy, “ek het goed geslaap.”

Pop sien hoe Mol se kop waar sy vir Gerty sit en voer eers vorentoe en dan weer agtertoe ruk. Nee, ruk is die verkeerde woord. Dit was nie ’n ruk nie, ok nie ’n skud nie, ok nie ’n knik nie. Dit was ’n soort bewerasietjie. Maar sy kyk nie op nie.

“Goed,” sê Pop weer en hy hoor sy eie stem of dit uit ’n ver plek deur dun wolkies aangewaai kom. “Goed, dankie, ou seun,” sê hy nog ’n keer.

Treppie hoes so ’n hoesie. Almal bly vir ’n lang ruk stil.

Mens hoor net Lambert se kwassie “tsjiep-tsjiep” oor die wieldop, en Treppie se naelknipper aan sy mes “knips-knips”, en Gerty se asem wat swaar kom tussen die happies wat Mol vir haar voer.

En rondom hulle, ver weg en naderby, hoor hulle die gedruis van die karre, op Ontdekkers net hier anderkant, en Victoria net duskant, en Thornton se opdraand waar die karre in ’n laer rat oorgaan en Empire se laaste stuk waar hulle reisies jaag tot by die ligte.

“Kyk,” wys Mol, en almal kyk waar sy wys. Dis iemand wat sy homers laat vlieg in die oggend. ’n Groot swerm wat witkant, donkerkant draai. “Swierieriep” kom hulle oor, en nog ’n keer, laer, “whiede-whiede-whiede”.

“Dit kom reën as hulle so vol sights is,” sê Treppie en knip sy mes toe.

“Raait,” sê hy, “duty calls.”

“Ek sal jou vat,” sê Pop en hy druk op Lambert se skouer om op te staan.

“Ek maak eers hier klaar,” sê Lambert.

“Nee, als reg,” sê hy, “sien julle netnou.”

In die verbygaan gee hy vir Molletjie ’n kloppie op die skouer. Sy skraap haar keel.

“Brood en melk,” sê sy.

Pop trek die kar onder die afdakkie uit. Hy vat vir Treppie na die Chinese toe in Commissionerstraat, soos wat hy baie dae doen, maar dit voel anders.

Met die terugkom oor die brug, die treinspore daar onder, kry hy skielik ’n gevoel lat iets gaan gebeur.

Oor die brug draai hy in Braamfontein toe. Hulle toet vir hom, die taxi’s, maar hy druk deur. Hy parkeer in Jorissenstraat by ’n meter.

Hy verstaan nie wat hy daar soek nie. Hy soek niks. Hy wil net die gedruis om sy skouers voel en vir die mense se gesigte kyk.

Hy gooi twintig sent in die meter. Een, twee, drie treë stap hy op die sypaadjie. Dan staan hy stil. Hy kyk.

Die mense maak oop voor hom en weer toe agter hom waar hy op die sypaadjie staan. Hy voel hoe skuur hulle teen hom verby. Al die vreemde, haastige mense.

Iemand skud ’n blikkie voor sy neus. Pop gooi twintig sent daarin en kry ’n stickertjie van die Blinde-vereniging op sy hemp voor.

Die mense verkoop groente en goed op die sypaadjie. Pop sien mango’s. Skielik kry hy verskriklik lus vir ’n mango. Sy mond skiet vol water. Hy stap vinnig weg. Dan draai hy om en stap terug. Hy koop ’n mango vir vyftig sent. Hy ruik daaraan, en die reuk kom terug van ver af. Na vars lakens, dis waarna ’n mango se skil altyd vir hom geruik het. Vars lakens wat op die plaas in die son hang, voor hulle gestryk word.

Hy staan eenkant toe op die sypaadjie. Effens vooroor buig hy oor die voortjie en hy hap in die mango. Hy trek die skil met sy tande af om by die vleis te kom.

Hoekom koop hulle nooit mango’s einde van die maand nie?

Hy kry die mangovleis se lê beet, so snaaks dwars op die plat kant van die pit. Die drade sit tussen sy tande vas en die mense stamp aan hom waar hy eet. Hy spoeg die skil uit, stukkie-stukkie voor sy voete. Tot hy die pit eenkant heel in sy mond kan steek en die sagte mangomurgies uit die vesels kan suig.

Toe kyk Pop vir die pit in sy hand en toe kyk hy vir ’n weggooiplek. Hy sien ’n bloudraadmandjie aan ’n paal. Hy smile. Lékker was dít nou. Hy gooi die pit weg.

Hy vee sy mond aan sy hempsmou af en sy hande aan sy broekgat en toe haak hy stadig sy kruisbande met sy duime ’n bietjie reg op sy skouers. Hy voel die gevoel wat hy die oggend voor die spieël gekry het. Dit sit nou diep. Hy staan ’n rukkie so met sy duime in sy kruisbande gehaak. Hy verstaan die gevoel. Dis of twee oop, warm hande hom voor in sy bors en agter tussen sy blaaie, ónder sy vel, in sy vleise in, teenaan sy beendere vashou. Lank staan hy so en voel die gevoel en glimlag by homself. Tot iemand hier voor sy voete sê: “Please, boss. Asseblief, baas!”

Pop sien dis ’n swart man met een been. Die man se een broekspyp is ingevou net bokant die knie. Die ingevoude pyp hang slap tot net onder die boud.

Pop haal twintig sent uit en gooi dit in die man se kep.

“God bless you, sir,” sê die bedelaar.

“You too,” sê Pop.

Toe hy opkyk, sien hy Ithuba se stalletjie. Lambert lees altyd uit die koerant hoeveel dié of daai gewen het. Weduwees, poskantoorklerke, boemelaars.

Hy voel in sy sak na die vyfrandnoot. Mol het gesê brood en melk. En nou het dit al klaar ’n duur oggend geword. Hy dag: Ag, wat. Hy koop een kaartjie en sit dit op die toonbank om te krap. Die swart vrou moet eers vir hom verduidelik waar. Sy glimlag so breed vir hom soos hy nog nooit ’n swart vrou vir hom sien glimlag het in Triomf nie. Sy glimlag breed en sy sê vir hom: “It’s all right, dear, just go right ahead,” en: “Maybe it’s your lucky day today,” en: “Don’t worry, the others must wait their turn.”

Almal swart manne in pakke agter hom in die ry. En wraggies, drie vywe. En hy koop nog ’n kaartjie. En wraggies, drie twintigs! “Watch this old bugger, he’s on a roll,” hoor hy een agter hom sê. En hy voel so aan sy kruisbande toe die vrou sy geld uittel. “Come on, be a devil,” sê sy vir hom. Hy wens Treppie was hier. Of Lambert. “Come on, once more, you can’t lose any more,” sê sy. En hy koop nog een kaartjie. Mapstieks, drie vyftigs! “Now you must buy twenty-five tickets and carry on,” sê iemand van agter af. Maar hy’s klaar. Dit was goed genoeg. Drie keer geluk gehad. Hy wag vir die vrou om sy geld uit te tel. Hy sit dit by die ander in sy sak. Hy weet nie eers hoeveel hy altesame het nie. “Have a nice day, sir!” sê sy. En toe hy omdraai, vat ’n groot swart man sy skouer styf vas en sê: “Hey, well done, old man, wish me luck now.”

“I wish you luck,” sê Pop en hy smile vir die swart man, en die gevoel in sy vleise loop soos warm stroop in sy bene se murge af tot in sy voete.

Hy kry eers nie vir Molletjie aan die gang nie. Sy hand bewe. Dan vat sy, en weg is hy. Met die gedruis om hom. Van naby is dit ’n getoet en ’n gedoente. Blok om. Smitstraat, onder die brug deur. Carolinestraat uit tot in Ontdekkers, huis se kant toe.

Hy sal niks sê nie. Vanaand wys hy hulle. Mens moenie jou geluk verkondig nie. Hy sal nog dink wat. Miskien die inry. Miskien ’n ordentlike bottel brandewyn. Of nee. Nie haastig wees nie. Dit sal kom. Soos alle dinge op ’n goeie dag.

Hy ry by Ponta do Sol verby en stop by Shoprite vir brood en melk. Tussen die rakke voel dit vir hom nuut. Hy kan alles koop wat hy wil. Hy haal sy geld uit en tel: vier en sewentig rand en ’n paar sente. Hy sit dit terug in sy sak in ’n rolletjie en hou sy hand in sy sak om die rolletjie.

’n Blik ham? ’n Paar blikkies boeliebief, sardiens? Hy’s al so teë van polonie en goue stroop. Of hy kan hier langsaan na Roodt-Broers Veertig Jaar Vleistradisie gaan en biltong en droëwors koop.

Pop glimlag. Nee, hy sal net die brood en melk koop.

Dit moet meer van ’n díng wees wat hy met die geld doen. Van ver af voel hy ’n gedagte aankom. Dit hinder-hinder hom ’n rukkie voor hy kan uitmaak wat dit is. O ja, Lambert. Lambert se verjaarsdag. ’n Nuwe broek vir Lambert.

Nee. Dan baat dit net één van hulle. Dit moet vir almal wees, vir álmal sáám. En dit moet meer wees as ’n ding wat gekoop word en klaar. Dit moet ’n ding wees wat gebéúr.

By die huis sien hy hoe kyk Mol vir hom. So ’n reguit kyk. Vroeër sou sy gesê het: En toe Pop, wat’s dit met jou lat jy so smile?

Nou glimlag hy maar net vir haar reg in haar reguit gesig in.

Wag jy maar net, Mol, dink hy, voor hierie dag om is gaan jy ok smile.

Toe loop hy agterom om vir Lambert te kry. Die vier wieldoppe lê netjies geverf en droog word in die son.

Flossie staan hier agter in die jaart op bakstene. Hy kry vir Lambert besig om haar agterruitjie te plak om te spraypaint. Hy doen elke dag ’n stukkie. Hy sê vir hom hy moet haar spuit en klaarkry lat sy mooi gelyk uitkom, maar hy sê dit werk op sy senuwees, hy moet dink tussenin.

Lambert het groot planne met Flossie. Dit moet hulle “long distance vehicle” word, sê hy. Lat Treppie self met Molletjie heen en weer na die Chinese kan ry.

Flossie se sitplekke, sê hy, moet oorgetrek kom met ligblou mock leather om te pas by die midnight blue wat hy haar gaan spray. Hy’s nou eers besig met die onderlaag. En dis geel. Baie geel. Hoe dit ooit moet blou word, weet hy nie. Maar hy sê maar niks, al dink hy hulle moet liewer vir Flossie gebruik vir spaarparte vir Molletjie. Want Lambert moet net besig bly. As hy besig bly, is hy okay.

“Kom,” sê Pop vir Lambert, “kom ons gaan fix nou eers daai posbus van ons.”

“Raait,” sê Lambert, “ek het ’n plan opgetrek.” Hy haal ’n stuk papier uit sy shorts se sak. Daar’s ’n tekening op van ’n ding wat lyk soos ’n tent wat bo en onder die grond en rondom met toue vas is. Asof daar ’n storm gaan kom, bó én onder die grond.

Lambert verduidelik vir Pop. Hulle gaan die plaat stewiger vasmaak op die pyp. Met armpies van scrapyster, skuins afgesny aan altwee punte en vasgeweld aan die paal en onderaan die plaat. En dan gaan hulle die posbus bó-op die plaat vasweld, óók met armpies.

“Ons gaan vir jou swéis …” sê Pop. Hy sê niks verder nie. Dis Lambert se plan en as Lambert ’n plan het, sukkel jy nie met hom nie. En hy sal help sweis. Vir ’n goeie dag sweis hy enige tyd.

Die hele middag werk hulle. Eers maak hulle die stutarmpies bymekaar uit Lambert se hoop ysters in die den, en saag hulle eenderster lengtes met die ystersagie, onder skuins af eenkant toe, en bo skuins af anderkant toe, om die sweislas makliker te maak.

Dan gaan hulle buitetoe vir die sweisery. Pop met ’n paar donkerbrille op en Lambert met sy groot sweiskap en die weldingboks. Hulle sit die ystertjies op ’n hopie by die hek neer.

Die weer is aan die opsteek. In die een hoek van die lug is daar ’n donderwolk met ’n wit kop wat borrel, sulke groot, wit oorkookborrels.

“Check nou hoe beat ons daai wolk,” sê Lambert en hy wys met sy duim. Hy gaan sit op sy krat met sy rug na die wolk toe.

“Raait, lat waai,” sê hy, en Pop gee vir hom die eerste armpie aan vir onder. Hulle pas hom tot hy pas in sy hoek.

Elke keer as hy buk om nog ’n armpie op te tel van die hopie af, smaak dit vir Pop hy voel die groot wolk bokant hom. Soos wat mens voel as een langs jou kom staan en jy sien hom nie, maar jy voel sy warmte en sy grootte.

Daai wolk loop vol, dink Pop. Hy glimlag.

Hy kyk vir Lambert se hande in die handskoene. Die vonke spat in ’n boog om die hekpyp. Voor Pop se oë is alles donkerblou met helder ligpuntjies en wit rook wat gloei. Dit voel soos onder water. Soos die Blue Grotto van Capri wat hulle laas op die TV gesien het.

Sonder om die donkerbrille af te haal, draai Pop om en kyk vir die wolk agter sy rug. Kort, wit strepe blits uit die wolk se onderpens.

Dit sweis, dink Pop. Hy glimlag.

Mol kom by die voordeur uit. Haar overall se punte flap soos vinne. Sy kom staan by hulle. Sy knik effens. Die voetstuk is vas op sy onderste armpies.

Of hulle wil Coke hê.

Sal lekker wees, smile Pop vir Mol van agter sy sonbrille.

Die brille maak hom sterker voel. Hy voel of hy breër kan glimlag as hy so ’n bril op het. Hy sien hoe kyk Mol vir hom. Sy weet iets is anders. Pop sien hoe weerkaats die vonke in haar oë. Hy wil nóg iets vir haar sê, maar hy weet nie wat nie.

Sy stap in huis toe en kom terug met die drie glase en ’n liter Coke op die halwe skinkbord.

Lambert laat sak sy sweiskap en Pop skuif die donkerbrille terug op sy kop. Alles is nou weer helder. Hulle drink diep slukke Coke.

“Dit kom reën,” sê Mol en knoop haar middelste knoop toe. Dis al knoop wat oor is. Sy vat die glase.

“Ons sal klaar wees voor dit reën,” sê Lambert en sit sy sweiskap weer voor sy gesig.

Alles gaan voor die wind, dink Pop. Vandag gaan alles voor die wind. Die sweiskop verstop nie, die boks blaas nie, daar’s ’n plan, en tot nou toe werk die plan. Lambert is okay en Mol het al ’n bietjie bygekom van gister. Netnou kom Treppie ok terug.

En dan gaan vat hulle die honde na die veldjie agter die Spar in Thornton.

En dan gaan hy wat Pop is, hulle treat. Dis wat. Hoe, weet hy nog nie. Dit sal kom.

“Heit!” sê Treppie skielik hier langs hom. “Watse spinnekop sweis julle?”

“Middag!” sê Pop. “Dis Lambert se plan. Bleddie oulik, sê ek vir jou.”

“Lyk vir my na ’n spinnekop wat push-ups doen op ’n spieël,” sê Treppie.

“Sjaddap jy net, Treppie, hou bietjie hier vas,” sê Lambert en hy gee vir Treppie die sweiskop om vas te hou.

Treppie druk op die knop en bekyk die sweisvlam teen die onweerslug. “Dit kom reën,” sê hy.

“Ons is nou klaar,” sê Pop, “dan gaan ons uit met die honde. Kom jy?”

“Ek’s op, gaan julle maar,” sê Treppie.

“Ag, nee wat,” sê Pop, “dis niks sports sonder jou nie!” Hy glimlag breed agter sy donkerbrille vir Treppie. Treppie kyk diékant toe weg en daaikant toe weg van verbasing voor hy weer vir Pop kyk.

Wat gaan aan, vra hy met sy oë en sy skouers.

Pop beduie vir hom met sy oë “iets” gaan aan, maar hy sê niks. Hy sê net: “Gaan sê vir Mol sy moet haar regmaak, toe.”

Treppie speel saam. Hy’s nuuskierig, dink Pop. Toby en Gerty kom uitgehardloop. Hulle weet dis tyd.

Lambert se laaste armpie is aangesweis.

“Raait,” sê hy, “nóú sit hy. Nou kan dit maar waai en reën, sit sal hy sit. Nou kan jy maar die paal uit die grond uit ry, maar hiérié posbus sal sít!”

Hy gee die paal ’n stamp.

“Oppas,” sê Pop. “Die laste moet eers hard word.” Hy buk en tel die gereedskap van die gras af op. Die plat spanner lê in ’n polletjie lang gras teen die draad. Hy sien hom amper nie raak nie. Lambert skop-skop vir hom die spanner uit die polletjie.

“Gras is lank,” sê hy.

“As dit eers lekker gereën het,” sê Pop, “dan.”

“Okay,” sê Lambert, “as die gras droog is ná dit gereën het, maar nie ’n minuut later nie.”

“Raait,” sê Pop, “afgespreek. Trek solank vir Molletjie uit.” Hy gee vir Lambert die sleutels. Dan stap hy voordeur toe om die gereedskap te gaan wegsit.

Dis al wat Lambert mag doen. Die kar uittrek. Hy mag nooit ’n liksens kry nie, oor die aanvalle. Selfs al help die pille, as hy onthou om hulle te drink, hy mag nie ry nie. Hy weet Lambert ry partykeer in die nag rond, maar hy sê niks. Lambert steel die sleutel uit sy sak as hy slaap. Treppie steek hom op. Maar hy sê niks. Hy’t al geleer.

Dan is hulle op pad. Die lug is donker. Pop glimlag soos hy ry, op in Martha, oor Victoria, regs in Thornton. Lambert is gelukkig. Die posbus sit. Hy lees alles langs die pad. Op ’n klein, swart bordjie op die draadheining voor die kerk van die Gemeente van Christus lees hy: ALL RUBBISH AND JUNK REMOVED FROM YOUR PROPERTY. R42 A BAKKIE LOAD. PHONE SMITTIE 684473.

“Daar’s hy, ou Smittie,” sê Lambert. “Rubbish is rubbish.”

Dan lees hy die teks van die week op die Gemeente se groot, rooi bord op pale: DIE GROOT DAG VAN DIE HERE IS NABY. NABY EN BAIE HAASTIG. VERSKRIKLIK SKREE DIE HELD DAAR.

Lambert skree soos die held. Toby blaf.

Treppie grinnik.

“Lambert,” sê Mol, “hou jou in.”

Dan lees hy die ligblou aanmekaarskrif-lys op die gewel van TRG Engineers. Dit staan al ’n jaar lank leeg. Maar hulle werk nog agter.

CRANKSHAFT GRINDING CYLINDER HEAD RECONDITIONING CONROD RESIZING MOTOR OVERHAULS STRIPPING SPRAYING UPHOLSTERING, lees Lambert.

“Wát weet húlle,” sê hy en snork.

By Ponta do Sol steek die honde hulle neuse deur die vensters. Dit ruik na kos en olie tot in die straat.

“Hónger,” sê Lambert, “ek is lekker hónger.”

Hulle wil indraai by die Spar, maar hulle moet eers lank wag vir al die karre in Thornton. Hulle het al almal hulle ligte aan.

“Daar kom ’n helse storm,” sê Treppie.

Voor hulle nog heeltemal stilstaan, dop die honde deur die vensters uit. Hulle hardloop reguit na die oop grond toe.

Treppie kry die pienk dayglow-tennisbal agter die sitplek. Hulle klim almal uit. Pop bly sit. Hy’s moeg, sê hy, van die hele middag staan. Hy vryf oor sy oë. Van in die sweisvlam kyk.

As hy sy oë oopmaak, sien hy sy mense. In die middel van die speelveldjie staan hulle in ’n groot, los driehoek, Lambert en Treppie en Mol. Hulle lyk klein. Hulle gooi die pienk tennisbal laag luglangs vir mekaar oor die groen gras, Treppie vir Lambert, Lambert vir Mol, Mol vir Treppie. Die honde hardloop soos dol goed al in die rondte agter die bal aan. Lambert gooi aanmekaar die bal te hoog en te hard vir Mol. Mis vang sy. Mis, mis, mis. Dan hardloop die honde agter die bal aan. As dit Gerty is, dan bring sy dit terug vir Mol. Mol glimlag elke keer as sy buk om die bal by Gerty te vat.

Sy kan dit nie help nie, dink Pop. Hy’t mos gesê sy gaan nog glimlag vandag. Sy weet nie hoe sy nóg gaan glimlag nie. Hy voel in sy sak of sy geld nog daar is.

Skielik blits dit op drie plekke gelyk. Sulke lang, wit are met sytakke die hele lug vol, reg rondom die veldjie. Dan slaan die donderweer so hard lat Pop hoor hoe klap die Spar se dak: “kadáffa!”

Mol spring so ’n snaakse springetjie in die lug en skrou ’n slag. Dan kom sy oop en toe aangehardloop, met die honde agterna. Treppie en Lambert slaan op hulle bene soos hulle lag vir Mol. Hulle steek eers ’n sigaret op, dan kom hulle aan kar toe.

Toe almal in is, en die honde met uithangtonge op die agterste sitplek tot bedaring gekom het, en die Volksie agter eenkant skuins hang van Lambert, en die eerste groot druppels val “plaks, plaks” op die dak, sê Pop: “Wie’s lus vir fish en chips, of russians, of hamburgers? Take-aways, met tamatiesous en Coke?”

Nee, hy vra nie, hy sê. “Toe, wie’s lus!” sê hy.

“En wat eet ons end van die maand?” vra Mol.

“Dis ekstra wat ek het, ou girl, ekstra. Moenie worry nie.”

“Ekstra wat?” vra Lambert.

“Geld,” sê Pop.

“Wat jy wáár kry?” vra Treppie.

“Kom ons ry en gaan kry ons kos, dan vertel ek julle op pad,” sê Pop. Versigtig draai hy Molletjie se neus terug op in Thornton, Ponta do Sol se kant toe.

“Hoe kry mens ekstra?” vra Lambert.

“Ja, hoe?” vra Molletjie.

“Seker charity,” sê Treppie en hy grinnik.

“Ja,” sê Pop, “net so, pure charity. Eers het ek ’n mango geëet …”

“Toe hap jy seker in goud,” sê Treppie.

“Nee, man, luister nou. Net ná ek jou afgelaai het. Vanoggend. Toe gaan ek aan in Braamfontein. Toe eet ek ’n mango.”

“’n Mango?” vra Mol. “Mango’s mors.”

“Ja, toe vee ek my hande aan my broek af en toe vra iemand geld vir die blindes. In ’n blik.”

“En toe?” vra Lambert.

“Toe gee ek.”

“Hoeveel?” vra Treppie.

“Twintig sent.”

“Gôts!” sê Lambert, “toe gee hy seker vir jou sy hele blik, Pop!”

“Nee, toe vra ’n eenbeenkaffer vir my geld. In sy kep.”

“En toe?” vra Mol.

“Toe gee ek.”

“Hoeveel?” vra Treppie.

“Ok twintig sent. ‘God bless your soul, sir,’ sê die kaffer toe vir my.”

“Sir, ek sê,” sê Treppie.

“Toe vat jy seker sy beker, Pop,” sê Lambert.

“Nee, toe sê ek: ‘And yours too!’ “

“Wat?” vra Mol.

“’Bless your soul too,’ sê ek vir die kaffer.”

“Pop, jy sit mos nou en lieg vir ons,” sê Lambert.

“Nee, ek sweer,” sê Pop, en hy stop by Ponta do Sol.

Almal kyk vir hom. Hy smile vir hulle een vir een. Vir Lambert met sy yl baardhare wat kol-kol onder sy ken uitgroei. Die paar oë van hom sit wyd. Ligblou, nes hulle almal s’n. Vir Mol wat haar valstand aan sy plaatjie sit en rondskuif in haar mond. Elke dan en wan skuif die tand tussen haar lippe uit. Sy doen dit altyd as sy hard dink. En vir Treppie kyk hy. Met die pleister voor sy kop en sy hol wange vol stoppels. Jy kan hom nooit lekker uitmaak nie, so vol plooie is hy.

Pop steek sy hand in sy sak en haal als uit. Note en kleingeld. “Nege en sewentig rand,” sê hy.

“Gôts!” sê Lambert.

“My magtag!” sê Treppie.

“Hmf,” sê Mol.

“Ja,” sê Pop, “it was my lucky day: een mango, een blinde man, een eenbeenkaffer. En toe wen ek met die scratchcards. Vier en sewentig rand.”

Pop maak die deur oop.

“So, wat sal dit wees, mense? Lambert?” vra hy.

“Nee, jirre, Pop, wag, ons kom saam,” sê Lambert.

Hulle peul almal by die Volksie uit en sukkel koes-koes deur die reën oor die pad tot in die warm olielug van die kafee. Hulle wik en weeg. Wat sal dit wees?

“Vier pakke chips, vir ’n start,” sê Lambert.

“Drie is genoeg,” sê Mol.

“Nee, vier, vyf, sés as julle wil,” sê Pop.

“Vis vir my,” sê Lambert.

“Vir my ok,” sê Mol.

“’n Steak roll,” sê Treppie.

“En ’n boerewors roll vir my,” sê Pop.

Vriendelik glimlag hy vir die swart vrou agter die glasrak. Sy moet nou hulle kos mooi maak.

Terwyl hulle wag, kyk hulle in Ponta do Sol rond asof hulle nog nooit daar was nie.

Lambert tel ’n Kyk op en sit dit neer en vat ’n Getaway. Hy blaai deur en wys vir Treppie ’n “full frontal of a Bushveld baboon”. Die bobbejaan gaap.

“Kyk sy tanne,” sê Treppie en wys vir Mol.

“Kyk sy annerding,” sê Mol.

As hulle kos klaar is, staan Pop reg by die toonbank. Lambert bring vier Cokes.

“Wat van sigarette?” vra Pop. Hy wag nie vir ’n antwoord nie. Hy koop vir elkeen ’n pakkie twintig. John Rolfes vir Treppie en Paul Reveres vir Lambert en Satin Leafs vir Mol, hy sê al lankal Lucky Strikes is te sterk vir haar, en Consulates, in die blikkie, vir homself in plaas van sy gewone Van Rhijns. Hoekom ok nie? Hy voel skoon nuut. Hulle voel almal nuut. Naand, knik hulle vir die ander mense en hulle glimlag as die mense terug naand knik vir hulle.

Halfpad op pad uit draai Lambert om en haal hulle weer in op pad kar toe.

“Ekstra sout!” sê hy. Hy hou ’n servetbondel op in die lug.

“Hulle sit altyd te min op die chips.”

In die reën vat Pop ’n vreemde koers, oor die Westdene-dam stad se kant toe.

“Waar ry jy nou na toe?” vra Mol.

“Wag en sien,” sê Pop.

Hy draai links in Kingsway en hou aan en aan tot by die SAUK en dan regs op teen die bult.

“Tag, kyk hoe’t hulle hier gebou,” sê Treppie. Daar staan ’n reuse-groot, wit gebou met sy onderent in ’n dam vol fonteine.

“Ja,” sê Pop, “hier was net koppie vroeërtyd. Maar daar is nog genoeg oor om uit te kyk.”

By die toring op die ooptetjie trek hy Molletjie met haar neus noord solat hulle die hele stad kan sien. Vanaf Northcliff links oor Emmarentia tot by die ander toring in Hillbrow. Groot blitse blits die hele lug vol.

“So,” sê Pop, “nou kan ons mooi sien.”

“Dis nes bioscope,” sê Mol.

“Silent movies,” sê Treppie, “ons moet self sê wat gebeur.”

“Psssht,” trek Lambert sy Coke oop. “Hoe’s daai vir sound effects?”

“Soete hemelse Co-o-ke!” sing Treppie.

“Raait,” sê Pop, “pak bietjie uit, ek is dun.”

Mol deel die pakkies uit. Sy voel-voel aan elke pakkie solat sy kan weet watter een om vir wie te gee.

“Moenie so aan my vis druk nie, Ma,” sê Lambert.

“Dis nie jou vis nie, dis Pop se boerewors,” sê Treppie. Hy lag.

“Wát sal van die Benades word as hulle mekaar nie ’n bietjie druk nie,” sê hy.

“Druk jouself, man!” sê Lambert.

“Hei!” sê Pop. “Toe nou!”

Hulle eet in stilte.

Lambert haal die servet met sout uit sy broeksak en hou dit oop voor elkeen.

“Hoe’s dit?” vra Pop na die eerste paar happe. Die kar ruik die ene take-away.

“Vorentoe,” sê Mol.

“Lekker, lekker,” sê Lambert en Treppie.

“Smile jy weer, Mol?” vra Pop en loer haar kant toe. Hy voel stuitig. Sy sê niks.

“Sy smile, sy smile,” sê Treppie.

“Nou, Pop, vertel nog van daai scratchcards, man. Jy eet die mango, jy gee twee keer twintig sent vir charity, en toe?”

“Wel, toe’s dit my beurt.”

“Wat gee jou toe die idee, man?”

“Net ’n gevoel. Net so ’n gevoel lat dit ’n goeie dag is. Toe staan die hokkie reg voor my en toe dag ek, watwou, kom lat ou Pop Benade bietjie ’n kans vat. Toe wen ek. Drie keer agtermekaar.”

“Jirre, nè,” sê Lambert, “en ek try al twee jaar lank by die poskantoor en ek het nog nooit iets gewen nie.”

“Jy moet net die regte dag kies, dis al,” sê Pop, “daar’s goeie dae, en slegte dae.”

“Hoe’s ’n goeie dag? Watse dag is ’n regte dag? Watse kakstorie is dit nou weer?” vra Treppie met sy mond vol steak roll.

“Mens voel dit aan jou skouers, as jy opstaan en jy sit jou kruisbande aan,” sê Pop. Hy praat sag. Hy’s bang hy maak slapende honde wakker.

“Ag, se stront,” sê Lambert, “en as mens nie kruisbande dra nie, kry jy nooit ’n goeie dag nie, of wat!”

“Jy voel dit in jou skouers, dis al,” sê Pop. Hy moes nooit daaroor begin het nie.

“Hoe?” vra Treppie.

“Treppie,” sê Mol, “eet jou chips.” Gerty sit voor by haar voete en Mol voer vir haar klein stukkies van haar fish en chips. Die hond is ene aandag, haar ore staan regop, haar oë is groot en blink.

“Gôts, kyk hoe sous dit nou,” sê Lambert.

Dit reën al hoe harder. Pop sit die wipers aan. Om hulle blits dit aanmekaar, strepe en kolle en gloede. Dit donderweer die heeltyd. Vinnige, naby sweepslae en harde skeurgeluide.

“Flash!” sê Lambert.

“Ja, natuurlik, wat anders?” sê Treppie.

“Nee, man, ek bedoel dit het nou net gelyk of Flash Gordon hier verby is.”

“Take your pick. Lyk vir my meer na die Lost City. Opening night,” sê Treppie.

“Guy Fawkes,” sê Mol. “Fireworks.”

“Peking Ducks!” sê sy ’n bietjie harder en aspris.

“Gaan Ma nou weer dáároor begin?” vra Lambert.

“Toe nou maar,” sê Pop. Hy beduie Hillbrow se kant toe. “Diékant lyk dit aanmekaar na iets wat rank, ranke vol morning glory of iets. Elke keer wat dit blits, sit daar meer blomme aan die ranke, sulke bloues, wit in die middel.”

“Nee, fok, Pop,” sê Lambert, “jou kos is lekker, maar kak praat jy kak!” Hy drink slurp-slurp uit sy Coke-blik en bring ’n wind op. Dis sports dié. “As jy my vra, lyk dit meer na ’n paar ouens wat agter ’n groot dowwe ruit sit en weld aan ’n donnerse lang silencer van ’n Mobil-petrollorrie, of iets,” sê hy.

“Wag, wag, wag,” sê Mol, “kom ons kyk nog ’n slag … Daar’s hy!”

“Morning glory, dis wat ek sê. Oupa se hoed, soos die ou mense gesê het,” sê Pop.

“Take your pick,” sê Treppie, “it’s all in the mind. Sweisvlamme, morning glories, Oupa se glory, it’s all in the mind.”

“Pop se mind is ’n bietjie sag vandag,” sê Lambert.

“Wel,” sê Pop.

“Dis ok okay,” sê Mol, “los hom.” Hulle is klaar geëet. Elkeen vou sy papiere toe. Mol maak die oorskiet bymekaar in een bondel. Dis vir Toby as hulle by die huis kom. Net Gerty mag in die kar eet. Sy mors nie. Sy is ’n fyn hondjie.

Almal maak hulle nuwe pakkies sigarette oop en steek op. Mol hoes van al die rook.

“Maak bietjie oop, julle. Dis benoud.”

Die klein venstertjies voor en agter word op skrefies oopgemaak. “Moenie lat dit inreent nie,” sê Pop.

Mol trek diep aan haar sigaret. Sy’t weer moed. “Well, lat ék nou vir julle sê wat ék sien.”

As Mol só begin, dan begin sy oor toeka. Toeka se Peking Ducks. Pop sit sy hand op haar been. Om haar te herinner sy moet stadig, want dis gevaarlik; om haar te troos, want dis verby. Die weerlig speel in groot, diepgeel klosse voor hulle in die lug. Dit verlig die karretjie van binne. Pop sien die gesigte van sy mense in die geel lig. Hulle lyk gelerig, maar hulle is tevrede. Veral Mol. Sy smile so ’n óú smiletjie.

“Hier reg voor ons sien ek rose. Groot bosse met baie rose, of ’n enkele oop roos met baie digte blomblare, hang net af hoe jy kyk.”

“Take your pick,” sê Treppie.

“Whisky Macs. Heeltemal oopgeblomde Whisky Macs. Amper, maar nét nog nie reg vir weggooi nie.”

“O, my fok, Mol, het jy dalk iets by jou Coke gegooi? Mens drink nie alleen nie, nè,” sê Treppie.

Pop beduie vir Treppie met sy kop hy moet stilbly.

“Watch net,” sê Mol en almal bly stil en wag vir die volgende blits reg voor hulle. Dan kom dit. ’n Groot, ronde bolling geel lig, met donkerder oranjerige kringe al hoe digter opmekaar na die middel toe. Dit blits binne-in die wolk en die rande en die lae van die wolk soos hy uitborrel buitentoe lyk regtig nes ’n roos.

“Whisky Mác!” sê Mol en slaan met albei hande op haar bene. Haar stem raak weg in die geweldige donderweerslag wat volg.

“Ek sien hom ok, Ma,” sê Lambert, die ene inskiklikheid.

“O, my jirre,” sê Treppie, “wag lat hy weer kom, dan kyk julle ou lotjie weer ’n keer goed; dit lyk na ’n voos poephol, man.”

“Treppie,” sê Mol, “jy sal ’n voos poephol ok oralster sien,” en op ’n skielike ingewing voeg sy daaraan toe: “Dis oorlat jy almal om jou so ’n moerse pyn in die gát gee!”

“Jééésis, Ma!” lag Lambert, half ongelowig.

Pop gee ok ’n laggie.

“Nou ja, Mol, Klipdrift ofte not, lyk my jy’s op jou stukke vanaand,” sê Treppie met ’n skuins laggie.

“Ons ou Molletjie,” sê Pop saggies.

“Nou, as julle diékant toe kyk,” sê Mol en wys na Northcliff se kant toe, “dan sien julle weer iets anders: tóé-es, tóé rose. Op stingels.”

Pop kyk. Daar’s hy, ou Molletjie, nou’s jy weer by, dink hy. Almal kyk en wag. Die reën het bedaar en val nou saggies op die dak. Die stad se liggies rondom lyk vir Pop ver en klein ná die geweldige ligspektakels. Sy hart sit lekker. Die dag hóú. Sy heup is effens seer van die weer, soos altyd, maar dis niks. Dan, bokant Northcliff, sodat die hele kop verlig is, slaan die ligstele neer, een twee drie, ’n hele ry, en aan elkeen se punt sit ’n pienkerige toe knop. Aan die stingels sit plat, silwer blare wat bewe asof daar ’n stroom warm lug op hulle blaas.

“Daar’s hy!” gil Mol. “Prima Ballerinas, almal op ’n ry, op hulle tone met rokkies wat wyd staan!”

Pop klap sy hande. Die honde gaan aan die blaf.

“Kom ons ry nou,” sê Treppie.

“Dit was nou nice,” sê Lambert.

Pop sit die kar aan. Die wipers vee stadig heen en weer oor die ruit.

“Nou wie’s lus vir poeding?” vra hy.

“The last of the big spenders, nè?” sê Treppie.

“Ek,” sê Mol en gooi haar stompie by die klein venstertjie uit. Die rose was duidelik in die lug. Niemand kan sê sy praat kak nie.

“Ek ok,” sê Lambert.

“Net nie take-aways nie, ek eet nie poeding take-aways nie, dit smelt altyd en dit drup orals,” sê Treppie.

“Nee,” sê Pop, “ons gaan Spur toe.”

Almal bly stil.

“Watter Spur?” vra Lambert.

“Wag en sien,” sê Pop. Hy poer-poer vir Molletjie af met die hoogte, verby die SAUK se ingang, tot onder, links in Empire en dan regs in Melville se hoofstraat in tot voor die nuwe Spur. Hulle wag vir ’n ou in ’n CitiGolf om uit te trek en dan parkeer hulle in sy plek. Tussen ’n Honda Ballade en ’n Ford Capri.

“Comanche Spur, ek sê,” sê Lambert.

“Hulle verjaar, kyk die banners,” sê Treppie en wys.

Bo-op die middelste gewel, sien Pop, is ’n doek gespan en dit sê: ONE YEAR COMANCHE SPUR. COME AND JOIN OUR BIRTHDAY CELEBRATIONS.

“Het jy genoeg?” vra Mol. Sy klink benoud.

“So vyftig rand,” sê Pop. “Is dit genoeg?” vra hy en kyk vir almal en glimlag voor hy die kar afsit.

Hulle gaan onder in. ’n Paar jong ouens, seker studente, skuur by hulle verby in die deur en kyk vir Lambert. Hy is kaalvoet.

“Jy kon darem skóéne aangetrek het,” sê Treppie.

“Skoene se moer,” sê Lambert.

“Of jou smart bróék,” sê Treppie.

“Broek se moer en jou moer ok, hoe lyk jý miskien, ongeskeer met ’n pleister op jou kop,” sê Lambert.

“Treppie!” sê Pop. Treppie moet nie nou lol nie.

“Hei! Gedra vir julle,” sê Mol.

Pop kyk vir sy mense. In die Spur se traplig lyk hulle maar sleg, Lambert en Treppie. Hy wonder hoe lyk hy en Mol. Ag, wat de hel ok. Hulle is maar soos hulle is. Hy kyk boontoe, en sien die trappe. Hy sien nie hulle einde nie. Hy’t nie daaraan gedink nie.

“Gaan julle maar vooruit,” sê hy vir Lambert en Treppie. “Kry vir ons ’n tafel. Ek kom nou, my been is seer.”

“Ek sal hom help,” sê Mol en sy vat hom onder die arm. “Een op ’n keer,” sê sy, “dan’s ons nou-nou bo.”

Dis seer, maar Pop klim. Een op ’n keer. Eers met die goeie been op die trap, dan staan hy effens op sy toon en trek die seer been op. Elke paar trappe rus hulle eers. Hulle sukkel die hele trap vol.

“As daar nou mense kom, dan moet ons opsy staan,” sê Pop.

“Hulle kan wag,” sê Mol, “ons is ok mense.”

Daar is houtarende en bont Indiaankoppe teen die trap se mure.

“Wat is dié?” vra Mol en vat aan groen goed wat in ’n pot teen die muur groei.

“Kaktusse. Pasop, hulle het dorings,” sê Pop.

“Is g’n, voel,” sê Mol.

Pop voel.

“Hulle is nie regtig nie.”

“Kaktusse,” sê Mol, “hmf!”

Hulle is op die landing. Daar is nog ’n stel trappe.

“Kom, kom ons sit eers,” sê Mol, “eers ’n bietjie rus. Is dit seer?” vra sy.

Pop knik. Hulle gaan sit op die bankie op die landing. Onder kom nog mense in. Uit die hoek van sy oog sien Pop hoe Mol haar housecoat se pante platstryk oor haar bene en haar knieë, hoe sy haar voete netjies bymekaar sit en haar hande vou in haar skoot. Die mense kyk vir hulle. Pop sit sy hand op Mol se hande en gee dit ’n drukkie. Hy knipoog vir haar. Sy vat agter aan haar hare.

“Kom,” sê sy toe die mense verby is. Sy vat hom aan die hand, tot hulle bo is. Dis halfdonker.

“Can I help you?” vra ’n outjie.

“Yes,” sê Mol.

“Yes, our people are here already,” sê Pop.

“Oh, yes,” sê die outjie stadig, “I think I know where they’re sitting.” Hy lei hulle in die gangetjie af. Mol giggel van die senuweeagtigheid.

“Here you are,” sê hy.

Lambert en Treppie sit en luister met hulle kenne op hulle hande gestut vir ’n ander kelner, ’n meisie, wat vir hulle die specials vertel, op ’n ry: “… and our other special is the Spur Birthday Hamburger, which is two 140 gram pure beef patties with the sauce of your choice in a bun sliced three ways. The special Spur Birthday Spare Ribs, which are …”

“No, thank you,” sê Pop.

“Just pudding,” sê Mol.

“Sweets,” sê Pop. Hulle gaan sit.

“Suit yourself,” sê die meisie en kyk half snaaks.

“Dis mos okay om net poeding te eet,” sê Mol.

“Natuurlik,” sê Pop.

“Nou hoekom kyk sy dan so?”

“Haar moer,” sê Lambert en gryp die plastiekkaart met die soetgoedprentjies uit die swart plastiekhouer.

“Nou hoekom lat julle haar die hele storie opsê?” vra Mol.

“Oor Lambert dit nog nooit gehoor het nie,” sê Treppie.

“Ons hoor dit nóóit,” sê Lambert; hy’s te besig om na die prentjies te kyk om te sien Treppie lol met hom, “en dit klink goed: two 140 gram pure beef patties with the sauce of your choice …”

“Dis ok maar fokol daai,” sê Treppie en wys met sy hande hoe groot die hamburgervleis is. “’n Rip-off, dié plekke.”

“Gaan julle bestel?” vra Pop. Hy wink die waitress nader. Die aand begin nou lank raak. Sy heup pyn ná al die trappe.

“Apple pie with ice cream,” sê Treppie vir die waitress.

“A waffle with syrup and cream,” sê Lambert.

“Vat roomys, dis nie regte room hier nie,” sê Treppie.

“With ice cream and lóts of syrup.” Hy loer vir die waitress. Sy maak of sy nie hoor nie.

“And some syrup for you too,” sê hy. “You look to me a bit sour.” Hy glimlag nog breër.

“Lambert!” sê Mol en skop hom onder die tafel. Sy glimlag vir die waitress.

“A cream soda float for me,” sê sy.

“Sorry, ma’am, we don’t serve floats, ma’m,” sê die waitress.

“Ma’am,” koggel Treppie.

“Just bring her a vanilla ice cream and a cream soda in a tin,” sê Pop. “And a glass and a spoon and a straw. And for me a Irish coffee,“ voeg hy by. Miskien doof dit die pyn ’n bietjie.

“Make it two,” sê Lambert.

“Snoep, jy,” sê Mol toe die waitress weg is. “Jy moenie hier kak soek nie.”

“Dit ís maar kak hier,” sê Lambert, “hierie lot hier dink hulle is wié. Hulle check ons uit. Fokken common goed!”

Treppie lag.

“Toe nou, ou seun,” sê Pop.

Toe hulle bestelling kom, eet hulle haastig. Pop sit Mol se float aanmekaar. Al die roomys en cream soda kan nie in een glas in nie.

“Maak eers dié een klaar, dan mix ons nog een,” sê Pop, “dan het ons twee vir die prys van een.”

Lambert is in vier happe deur sy wafel. Hy suig aan die koffie in die glas.

“Hier’t ’n whiskymuskiet in gepis,” sê hy. “Ons moes gesê het double, twéé muskiete. Pssjt, pssjt.” En hy maak met sy duim en sy wysvinger of hy twee muskiete in sy glas uitdruk.

Mol lag.

“Gôts,” sê Treppie, “die Benades is darem op hulle stukke vanaand.”

Dan kom ’n man in ’n pak na hulle tafel toe. Hy glimlag breed.

“Watch nou hoe gooi hulle ons hier uit met floats en al,” sê Treppie half binnensmonds. Lambert brom en maak hom reg. Hy ken sy regte. Hy’t niks verkeerds gedoen nie. Hulle moenie kom kak soek nie.

“Good evening, people,” sê die man en hy glimlag een stryk deur.

“Good evening,” brom Lambert en Treppie. Hulle lyk skuldig, al het hulle niks gedoen nie. Maar niemand sukkel met hulle nie. Hulle kyk net. Al die mense by die tafels rondom hulle het omgedraai en sit vir hulle en kyk.

“Who is the host tonight?” vra die man.

“The whát?” vra Lambert dreigend.

“Who is paying?” vra hy.

“Me,” sê Pop, “I’m paying.”

“Well, sir.”

Dis die derde keer op een dag lat iemand vir hom “sir” sê, dink Pop.

“I have good news for you!” sê die man en glimlag ok vir die ander mense.

“It is my pleasure to announce that you are sitting at the lucky table tonight, the Spur’s lucky birthday table. Your bill is on the house tonight and here in this envelope I have six free meal tickets worth fifty rand each for you and your family, accepted at any Spur restaurant right through the country and valid for the next six months. Give them a hand!”

Hy oorhandig ’n koevert aan Pop.

En daar klap die hele Spur vir hulle hande. En die man wink drie kelners met drie yslike bottels sjampanje nader. En die proppe word afgeskiet en die glase gebring en hulle kry eerste en toe al die ander mense ok, en ’n meisie met Indiaanvere bo-om en verder net ’n piepklein broekie kom dans vlak voor hulle op discomusiek en gaan sit dan op Lambert se skoot. Sy klink ok ’n glasie op hulle geluk.

“Hi, honey,” sê sy vir hom.

“I like your feathers,” sê Lambert. Hy vat aan die veervlegsel in die meisie se hare. “But your legs are cold!”

“Check vir Lambert, hy scheme hy’s in ’n movie,” lag Treppie.

“In ’n Kyk,” sê Mol. Sy sluk diep.

“Skei uit, julle,” sê Pop. “Drink klaar, Lambert. Ons moet nou huis toe gaan.”

“Met ’n Indiaan op sy skoot, ek maak my nog nat hier,” sê Mol. “Watse vlak glasies issit dan dié? Kom ons vat my floatglas, hy’s beter.” Mol gryp die sjampanjebottel en skink die floatglas vol. Sy vat nog ’n paar slukke.

“Mol, dis nie cooldrink nie,” keer Treppie nog. Maar hy’s te laat.

Die sjampanje wérk vir haar. Pop sien hoe trek haar nate los, van die sjampanje en van die dag en van die dae wat voorafgegaan het. “Met hierie goed float ek Engeland toe!” sê sy. Sy lag hard en vee die trane uit haar oë.

“Kom,” sê Treppie vir Pop, “kom ons fokof nou, voor Mol weer rose sien.”

“Ja, dit was nou genoeg van ’n goeie ding,” sê Pop, “my been is seer.”

Lambert sit en vryf oor sy bene. Die meisie is weg. Mens sien net haar vere in die oorkantste hoek tussen ’n klomp mans.

“Lambert,” sê Treppie, “help jy vir Pop. Kom, Mol!” en hy trek vir Mol op uit haar sitplek. Sy vee haar oë af met ’n servet.

Pop kom amper nie op nie. Hy hinkepink tot by die toonbank om te betaal. Treppie met Mol aan sy arm is vooruit kar toe. Pop leun swaar op die toonbank. Die till se geluide klink of dit deur ’n dik wolk kom. Dis waar Lambert hom kry.

“Hei, Pop, het jy dan vergeet, ons hoef mos niks te betaal vanaand nie. Gee daai anner tickets lat ek hulle hou.”

Pop knik net sy kop. Hy hink agter Lambert aan wat hom aan die hempsmoue in die rigting van die uitgang trek. By die trappe trap Lambert twee trappe af en buk terwyl hy vir Pop nader trek en hom op sy rug laai. Pop keer niks nie. Hy voel of hy wieg in digte mis. Hy sak vooroor, vas teen Lambert se rug. Dis ’n breë, vet rug wat effens suur ruik. Hy voel hoe Lambert se groot, warm hande onder sy boude inskuif en hom ophou, want hy’t skielik niks krag nie, nie eers om vas te hou nie.

“Gôts, Pop,” sê Lambert, “jy’s ok maar net wind.”

Die trapligte en Indiaankoppe skuif teen ’n vreemde hoek by hom verby. Hy maak sy oë toe. Sy enkels kap dan diékant, dan daaikant teen die muur soos Lambert met hom by die trappe afloop. Hy voel of hy vinniger gaan as wat hy gaan.

Pop druk sy kop tussen Lambert se blaaie en hy kry ’n gevoel van stadig terugsmelt in ’n plek in waar hy vandaan kom, maar wat hy nie ken nie.

Waar hou hy op en waar begin Lambert? Hy weet nie. Die gevoel van die oggend is weer daar. Maar nie net om sy skouers nie, om als van hom. Buite op die sypaadjie voel hy dis in die lug ok. Pure heuningstroop. Soet, soet, soet is dit. Sonder ophou en sonder einde.

Triomf

Подняться наверх