Читать книгу Triomf - Marlene van Niekerk - Страница 7

3 Brei

Оглавление

Mol sit op haar stoel in die voorhuis. Die huis is stil, want Pop en Treppie is dorp toe en Lambert slaap. Hy slaap so as hy ’n fit gehad het, dae agtermekaar. Sy sit en sit steke op vir Gerty se trui. Vir die rugpant. Dis die maklikste, want vir die penspant moet jy altyd steke verminder. Vir die middellyfie. Lat hy styf kan pas, al rek hy. Anders sleep hy. Elke winter kry Gerty ’n nuwe trui. Sy’s hard op truie, maar dis nie haar skuld nie, dis Toby se skuld. Hy’s jaloers, dan kou hy haar trui. End van die winter, dan’s daai trui afgekou. Dan hang hy flenters.

Maar eintlik brei sy lat sy kan dink. Dis die vroegste wat sy nog begin brei het aan Gerty se trui, maar dit maak nie saak nie, want sy móét gedink kry.

Die moeilikste van dink is waar begin jy.

As sy brei, kry sy aanmekaar beginne, te veel om te tel. Nog nie as sy steke opsit nie, want dan moet sy oplet. Maar as hulle eers op is en sy kry haar slag, dink sy lat sy nie kan voorbly nie. Dan brei sy ’n stink spoed agter die dink aan. So vinnig lat die steke by die trosse val en sy ’n paar vet lere brei voor sy dit raaksien.

Dan’s dit stop vir eers en ’n ent uittrek. Maar dis ok okay, want mens kan nie aanmekaar so hard dink nie.

Nou eers die ribbing. Dis groen. Van laas jaar se wol wat oor was. Toe was die trui groen en die ribbing pienk. Van voorlaasjaar se pienk wol wat oor was. Tóé was die trui pienk en die ribbing blou. Almal goedkoop los bolle van die wolwinkel in Main Street, Fordsburg. Hulle ken haar al daar, daai koeliemeide. Hulle hou al hulle uitskotte vir haar, nogal nice van hulle, hulle hoef seker nie. Maar hulle like van Gerty. Sy vat altyd vir Gerty saam as sy gaan wol koop. Pop sê altyd oppas, netnou pie Gerty op die wol, maar Gerty pie nooit in plekke in nie. Net Toby. Want hy’s ’n mannetjieshond. Hulle is so, die mannetjies.

Dié winter gaan dit ’n geel trui wees met ’n groen ribbing. Toe sy netnou die wol uithaal net voor Pop-hulle uit is, toe sê Treppie sy moenie vir Gerty in ANC-kleure opdress nie, die Zoeloes moer vir haar vrek net daar waar hulle haar kry stilstaan. En dan, sê Treppie, sal hulle nog wil weet wie dit gebrei het ok en dan moer hulle vir haar wat Mol is ok vrek waar sy stilstaan, want sy’s al een in die huis wat brei. Asof hulle nie mekaar al genoeg moer nie. Brei of nie brei nie, dit neuk ál moer toe met hulle deesdae.

Dit neuk as die Jehovas kom, maar daarvoor kan sy haar reg hou. Saterdagaande al sit sy altyd ’n wasgoedpennetjie in haar housecoat se sak, lat sy nie vergeet nie. Want Lambert begin altyd neuk nog voor hulle klaar gelees gekry het. Mens sal dink hy leer, maar nee. Dis daai een met die pienk rok. Sy soek vir Lambert. Lambert lat nie vir hom soek nie.

En dan neuk dit weer, al om die paar weke, as die NP’s kom met hulle hoge taal en hulle pamflette. Dit neuk al die Dinsdagáánd al, vóór hulle kom. Woensdag is hulle dag altyd.

En Vrydagaande en Saterdagaande neuk dit meestal met langsaan. Met langsaan links, of langsaan regs. Of partykeer met agter. Lambert sukkel ál met langsaan, hy sukkel om en om, in die bleddie rondte in, dis wat. Tot daar ’n geneuk is, tot hulle hom wil moer. Dan gaan bel hy die polieste van oorkant en oorkant wil hom ok al moer oor hy so wil bel aanmekaar. Dan kom die polieste en maak die gemoer uitmekaar, en as Lambert dan nog moer in hom het, dan moer hy vir háár.

As hy so begin, bid sy altyd hy moer hom moeg, anders kry sy dit.

En die laaste is altyd die bitterste, die jirre weet.

En verder neuk dit oorlat sy ding aanmekaar styf is deesdae. Oor hy amper veertig is en hy’t nie ’n vrou nie. Nog nooit een gehad ok nie. Maar wat kan sy nou daaraan doen? Hy is soos hy is. En hy’s nie geskik vir trou nie, oor die stuipe en goed. En daar’s natuurlik ’n rede voor. Dit weet hulle almal. Net hy weet dit nie. En die jirre behoed hulle as hy dit die dag moet uitvind.

Sy en Pop probeer net goed hou met hom. Hulle doen wat hulle kan. En sy doen nog méér as wat sy kan. Sy’s dit verskuldig, voel sy.

Dis net Treppie wat so sukkel met Lambert. Treppie is ’n dywel. Hy soek vir kak en as die kak daar is, dan soek hy vir meer. Treppie sê hy wil nie mense hier hê nie. Sy en Pop ok nie. Nie die Getuies nie, nie die NP’s nie, nie die polieste nie. Niemand nie. Dis beter so. Hulle is beter op hulle eie. En hulle is maar soos hulle is. Dis wat sy vir die welfare gesê het en dié bly gelukkig nou weg.

Maar dis Lambert. Hy soek gesels. Hy sê hy kan nie net die heeltyd in hulle gesigte in vaskyk nie, hy’t geselskap nodig. En dan nooi hy hulle in.

Lat hy wragtag op die sypaadjie in die bloedige son staan en fluit vir die Jehovas om in te kom.

Sy’t hom gesien toe hy daarmee begin het. Hy was toe sestien, net voor hy uit die skool gegaan het. Toe’t hulle die eerste keer ingekom. En as hulle eers in is, is hulle in. En as hulle afsterwe, stuur hulle ander, vrouens met pienk rokke wat kom sit en na laventel ruik hier op hulle stoele op Sondagoggende.

Die stapels Wagtorings in Lambert se den kom al byna tot by die ceiling. Dit is in die een hoek. In die ander hoek is die nuwe NP-pamflette. Bo-op dié in die boks van toe hulle laas gestem het. Hulle is gekom haal in ’n grys vantjie. “Ja” het hulle toe gestem. In hulle eie jaart maak hulle soos hulle wil, maar buitentoe sê hulle altyd “Ja”. Soos een man. Treppie ok. Dis die beste so.

En nog die stapel Western Telegraphs. En Scopes. En die Kyks. Hy lees alles, hy wat Lambert is. Los goed, wat vinnig lees. Hy sê dis om sy brein wakker te hou. Nie boeke nie. Hy sê dit maak hom slaap. Maar dis wat hy by Treppie hoor. Praat mos alles agter Treppie aan en Treppie het vreeslik baie boeke gelees op sy jongdag toe hy op skool was en so. Maar toe hou hy op ’n dag net so woeps op en vandag het hy nog altyd daai selfde storie. Hy sê mos hy scheme as jy tien Afrikaanse boeke gelees het, het jy almal gelees, en die beste stories staan in elk geval in die koerant. Hy kyk liewer video’s saam met Lambert, maar dis ok nie altyd goed nie. Baiekeer sit hy en slaap as hulle video’s kyk. En Lambert ok maar partykeer.

Sy wens Lambert slaap aanmekaar, soos nou. Want hy’s heeltemal te wakker in sy brein in en oralster. Wat hy nie alles op daai mure van hom paint nie. Piele. En molle, met goeters in hulle annerplek. Paaie vir Afrika. Karre en yskasbinnegoed en mensbinnegoed. Alles bo-oor mekaar. Hy paint die heeltyd by. Baie kan sy nie uitmaak wat dit is nie. Hy seker ok nie, want hy skryf by alles wat dit is: ster, wolk, by, karpyp, bars, fok, poes, pomp, hart, roos, roes, evaporator.

Sy brein was nog altyd te wakker. Dis wat sy vir Pop gesê het toe hy sê die kind is dan vertraag. Hy’s g’n niks vertraag nie. Hy kry fits oor hy te slim is. Oor sy brein te lewendig is.

Dis moeilik om hom rustig te kry as hy eers begin neuk. Die liewe jirretjie weet, dis moeilik. Daar’s net een ding wat help. Dit het sy uitgevind toe hy nog klein was. Net drie jaar. Toe’t sy eendag toe hy weer so geskrou het soos ’n maer vark sy ou dingetjie vir hom gevryf, dit was nog in die huis in Vrededorp. Toe word hy skielik heeltemal rustig daarvan en hy smile vir haar met sulke groot, blou oë.

En later van tyd toe hy so begin vloek en te kere gaan het, en hulle goed flenters breek, lat Treppie vir Pop agter die badkamerdeur gaan uithaal waar hy wegkruip en sê hy moet sy goed pak, lat hulle kan wegkom vir ewig en altyd van hierie malhuis af, dan het sy maar altyd vir hom gesê hy moet by haar in die agterkamer kom lê lat hy tot ruste kan kom.

Dan het sy sy ding gevryf tot hy klaar was en dan was als weer goed. Maar dit was lateraan ok nie meer goed genoeg nie. Hy wou ín. Hy wou sélf. Wat kon sy doen? Sy’t maar gaan lê vir hom. Gaan lê het sy. Housecoat en al.

So het sy hulle almal bymekaar gehou, vir Pop en vir Treppie en vir Lambert en vir haar.

Want hulle kan nie sonder mekaar nie. Wat as hulle eendag uitmekaar moes gaan? Hulle sal vrek op ’n hoop. Almal van hulle. Dis wat. Vrek soos kafferhonde op rubbish dumps.

So sy’t maar gaan lê vir hulle. Vir Pop, maar hy was goed vir haar. Hy was sag. Altyd nog.

En vir Treppie, die dywel. Wat vir haar sy hele lewe lank so beetkry. Van voor en later van tyd, die Here help haar, van agter. Want, sê hy, sy’s in haar moer in gerek.

Dis nou net meer as ’n maand laas lat hy wou. Seker Peace Day se dinge. Werk seker op sy gewete. Ás hy so iets het. Wel, sy hoop net dit hou. Hy kan maar versies ok skryf. Enigiets. As hy haar net uitlos.

Mol kyk op van haar breiwerk na Treppie se gedig op die muur waar sy dit opgeplak het by die ander goed.

“En mede daarby is dit vrede,” lees sy die laaste reël hardop.

Hmmff, nooit gedink Treppie sal sy weë verander nie.

“But never say never, nè, ou Gerty,” praat sy met die hondjie wat by haar voete sit, “dis wat Treppie mos altyd vir ons sê.”

En dan is daar nog Lambert ok. Lambert wat vir haar kláármaak, hééltemal gedaan en kláár.

Want hy wil nie klaarkry nie, nee, hy wil nog stories ok voor vertel word. Stories wat sy nie ken nie, van spy-vrouens met guns in hulle suspenders in treine, in tonnels, onder berge in ander lande oorsee. En van cowboy-vrouens.

Dié ken sy darem ’n bietjie beter. Arme cowboy-vrouens met lang rokke wat alleen woon op plase en met lang gewere deur die kombuisvenster skiet op Indiane. Lambert kyk te veel video’s, dis wat. En sy moet saam kyk en byhou lat sy kan weet wat om te vertel.

Want anders, as dit nie werk nie, is dit haar skuld. Bitter moeilik is dit vir haar.

Dan as dit doptyd word, steek sy maar ’n dop saam met hulle. Klipdrift en Coke. Dan sê hulle: “Heit, ou Molletjie, jou lekker ding!” en dan klop hulle haar op die boud. “Vertel vir ons ’n storie, jong!”

Dis weer anders. Dis dan óú stories wat hulle wil hoor. Dan vertel sy van die rose. Hulle ken dit, maar sy vertel dit nogtans, vir die lekker. Want dit was die lekkerste tyd wat hulle nog ooit gehad het. Toe hulle net hier ingetrek het van Fietas af uit Oupop se huis uit. Die hele Triomf was vol nuwe mense. Hulle het niemand geken nie. En niemand het hulle geken nie, maar dit was okay. Almal was jonk en almal wou kom voor begin hier. Dit was lekker jolly. Die lokasie was platgestoot en die kaffers was weg. Dit was die dae toe die kaffers nog hulle plek geken het. Toe die Nasionale Party nog gedoen het wat hy sê hy doen. Nie soos nou nie, nou sê hulle een ding en doen ’n ander ding en sy weet nie meer wat is wat nie. Nie lat dit haar eintlik kan skeel nie. Die Nasionale Party het nog nooit gekeer lat drie mans haar op een oggend beetkry nie. Die Nasionale Party moet sorg lat daar hoere is, as hulle wil help. Goed betaalde, vet gevoerde, opgetofde hoere om vrouens soos sy uit die verdrukking uit te red. As hulle genoeg geld het om staatsmoordenaars te betaal, soos Treppie sê, vir wat kan hulle nie ok staatshoere betaal nie? Dít sal niemand vrekmaak nie. Dit sal net keer lat vrouens soos sy nie met messe gesteek word en in yskaste toegesluit word saam met Peking Ducks nie. Miskien as sy eendag genoeg Klipdrift gedrink het, sal sy dit sê vir daai twee kêskuikens wat hier kom canvass. Hulle soek daarvoor. Miskien kan sy dan ok ’n bietjie sports maak. Dis nie net Treppie en Lambert wat kan sports maak met mense nie. Of speeches nie. Miskien moet hulle dit ’n slaggie sien. Miskien kry hulle dan respek vir haar. Dan staan sy op en sy maak ’n speech en dan sê sy: “As julle die verkiesing vir die Nuwe Suid-Afrika wil wen, dan moet julle ’n hoerhuis bou in Triomf. Uitgeverf van buite en binnekant uitgeteël soos ’n badkamer. Met ’n blomtuin voor en plante met blink blare in potte voor by ontvangs. Die H.F. Verwoerd-hoerhuis. ’n Helder-oordag-hoerhuis wat niemand sal skaam voel om by in te gaan nie. Net so sal die geneuk ophou in die Nuwe Suid-Afrika.” Ik heb gezegd, soos Oumol altyd gesê het.

Ag shame, sy sien al hoe rek daai dingetjie met die kaal skouers se oë. Nog niks gesien van die lewe nie. Hulle staan al klaar soos pierings in haar kop as sy hier inkom met haar pamflette. Dán sal sy wat Mol is, lag. Dán kan hulle almal én die NP sien hóé ’n lekker ding sy is.

Sy was nog altyd ’n lekker ding. Sy’t nog altyd gehou van sports. Dit was groot sports om vroeg op ’n Woensdagoggend saam met Pop in die ou Austin-lorrietjie mark toe te gaan, om te gaan rose koop. Dit was ná sy haar werk verloor het in Fordsburg nog. Toe’t hulle eendag op die idee gekom. Hybrid Teas was dit nog daai dae, Old Hybrid Teas, sy onthou nog. Lady Silvia, Madam Butterfly, Ophelia. En dan nog die Prima Ballerinas en die Whisky Macs. Outydse lekkerruikrose was dit. Sy en Pop het eers lank geloop en ruik aan die verskillende soorte voorlat hulle besluit het. Sommer vir die lekker. “Soos perskes,” het Pop gesê ruik party. “Soos vanilla,” het sy dan gesê. Ure lank kon hulle daar rondloop en vir mekaar sê hoe die rose ruik. Dit was belangrik, lekker ruik, en ’n lang, stewige steel ok, en ’n knop wat net-net begin ooptrek. Dit was ’n lekker plek, die mark. Al die mense, en al die blomme, en die deurmekaar ruik van groente en vrugte en rose onder die hoë dak. En spotgoedkoop. Twee sjielings vir ’n bos dertig Red Alecs daai dae. Want rooi was tog maar die favourite. Nie hare nie, sy’t gegaan vir geel. Maar die customers, hulle het gehou van rooies. Wat sy dan vir ’n sikspens stuk verkoop het aan die mense in die restaurante, of voor die stadsaal ná die konserte, of laat in die nag wanneer die flieks uitkom.

Dan koop hulle drie bosse, en partykeer het Pop dan gesê: “Moenie vir Treppie sê nie, nè, maar is jy nie nou ok dors nie?” Dan gaan sit hulle in die keffie met die rose op hulle skote en bestel cream soda floats.

En dan’s dit huis toe. Dan vat sy vir Lambert by Treppie en sit hom in sy loopring en sy gaan sit op die steppie agter by die kombuis en sy maak die rose op, elkeen met sy eie sellofaan met ’n lintjie om die stingel. Pop en Treppie help. Treppie knip die sellofaan in strips en Pop trek die lintjies oor die skêr lat hulle kan krul. En as daar genoeg lintjies is wat krul, dan spring hy op en gaan haal sy bekfluitjie en speel vir hulle “The yellow rose of Texas”. Dan speel Pop vinnig solat Lambert aan die trap-trap gaan in sy loopring in. En dan speel hy weer stadig en treurig en hy draai-draai so met sy bolyf, en dan raak Treppie kriewelrig en los alles net so en sê watse vroumenswerk is dit, en hy en Pop moet liewer loop yskaste haal.

Dis Treppie wat begin het met die yskaste. En wat hulle saamgetrek het Triomf toe. As sy met haar rose kan aangaan, kan hy met sy yskaste aangaan, het hy gesê, al is Triomf ’n baie ordentliker plek as Vrededorp. Wou kastag ryk word.

En kyk hoe lyk hy nou. Sit en suip by die Chinese die ganse dag. Sy glo tog nie lat hy ’n steek werk daar verrig nie, al sê hy wat. Dobbel, ja. Perde speel, ja. Maar daarvoor het jy nie Chinese nodig nie. Ander mense se boeke is duister.

Sy het nog altyd vir Pop gesê sy hoef nooit ryk te wees nie. En Pop het gesê hy ok nie en hy’t maar nog altyd net vir Treppie gehelp en dan weer vir haar. Gesê as hy maar net kan besig bly en kan eet, is hy nie oor geld geworry nie. Nie lat hy hoef te geworry het nie. Die yskaste was ’n moerse flop.

Die rose was ok nie ’n danige sukses nie. All in all het hulle net gelykgetrek, as ’n mens die Austintjie se petrol en die lint en die sellofaan alles bymekaargetel het. Maar dit was ten minste sports en hulle was jolly.

Saans los sy dan weer vir Lambert by Treppie en dan ry Pop vir haar rond. Hulle kyk eers in die koerant wat’s aan daai aand en dan trek sy haar smart geel linne-roosverkooprok aan met die swart omboorsels en sy sit rooisel aan en trek haar polvye aan. Met haar housecoat bo-oor lat sy nie nat spat as hulle die emmers agterin die Austintjie laai nie. En sy trek hom eers weer uit as hulle stilhou voor die stadsaal.

Dan sit sy vyftien Red Alecs en vyf geles en vyf pienkes in die rottangmandjie en sy vra vir Pop: “Hoe lyk ek, Pop?” En dan sê hy: “Soos die yellow rose of Texas, Molletjie.” En dan’s sy reg.

Dan gaan park Pop die vaal Austintjie om die hoek lat dit nie hulle besigheid wegjaag tussen al die ander blink karre nie, en sy gaan staan voor die stadsaal se groot houtdeure, so vyf minute voor die mense uitkom, lat sy haar eers kan regkry.

Sy sing “The yellow rose of Texas” lat sy haar kop kan skoonkry. Skoon van die jaart vol stukkende yskaste en die kind wat so moeilik is.

Sy sing lat sy kan vergeet hoe sy haar oë toemaak en oopmaak en weer toemaak as sy die diep, rooi brandsere op sy beentjies sien.

Sy sing lat sy Treppie se hoë stemmetjie kan vergeet soos hy allerhande verskonings maak. “Nee, ek was hier agter besig om te weld en toe ek weer sien, toe gryp hy die warm welder en druk dit teen sy been.”

Sy sing lat sy kan vergeet van Treppie wat vir haar beetkry as Pop net sy rug draai en haar naai terwyl Lambert sy longe uitskree in sy loopring in die jaart in.

Sy sing “The yellow rose of Texas”, twee, drie versies, tot sy begin beter voel, tot sy voel hoe word sy self ’n roos, ’n gele, net so effentjies oopgetrek lat jy kan sien waar dit oranjerig word binnetoe. ’n Lekkerruikroos op ’n lang stingel, toegedraai in blink sellofaan, lat sy lyk of sy vonkies afgee in die stadsaal se stoeplig. Dan is sy reg. En as sy dán vir iemand ’n geel roos uit die mandjie aangee, wat nie baie gebeur het nie, want meestal wou hulle rooi hê, dan was dit vir haar kompleet of sy haarself aangee. Haar beste self wat sy buitentoe kan wys vir die jintelmanne met die wit boordjies en die opgetofde vroumense aan hulle arms. Daai self wat sy vir haarself kan aangee en sê: Dis okay! Dis okay! Dis okay! Só hard lat sy nie die ander stem hoor nie, die een wat sy meestal hoor as dit so neuk. Die een van Oumol wat sê: Slég! Slég is wat julle is! En julle word al hoe slégter!

Maar dít vertel sy nie vir die ander drie nie. Sy hou daar op wanneer Pop die Austintjie om die hoek trek. Daar waar sy uitklim en voor die deure gaan staan met haar mandjie. Dan bly sy stil en sluk haar Klipdrift en Coke.

En dan vertel sy eers weer verder waar die mense uitkom en hoe sy moet Engels praat, want Afrikaners het daai tyd maar min rose gekoop. Sy los maar liewerster die stuk van hoe sy ’n roos geword het. Daai drink sy maar weg. Want dit sal ’n neukery afgee. For sure. Sy’t dit in any case al amper self vergeet. Daai van voel soos ’n roos en als.

“Toe, en hoe sê jy dan vir die mense, Molletjie?” vra Pop altyd om haar weer op haar storie te kry.

Dan sê sy: “Good evening, sir, would you like to buy a rose for the charming lady at your side?”

Dan val Lambert byna van sy stoel af soos hy lag en hy sê agterna: “The charming lady at your side,” en Pop smile ok saam.

“We have here a Red Alec, a pink Prima Ballerina and a yellow Whisky Mac,” sê sy dan.

“We,” sê Treppie dan. “We, watse stront!” En dan loop hy partykeer uit en gaan drink verder op die gras voor.

Treppie sê hy’t genoeg ellende deesdae. Hoekom nog dink aan gister s’n? Hy wou ryk word van yskaste, maar hoe kan jy ryk word van fokken enigiets in Vrededorp of Triomf as ander mense jou geld uitgee op rose?

Dis wat hy tóé ok altyd gesê het, in Vrededorp al: “Mol, jy mors ons geld. Ek werk my hande deur, en wat doen jy? Jy gee dit uit op stront. Wat bring jy nou eintlik in? Boggerol! Red Alec, my voet! Jy mors net tyd, dis al. Kos en klere en ’n kar wat loop, dís wat ons nodig het. Nie rose nie. En nou’t jy nog die kind ok. Madam Butterfly! Hoekom gaan char jy nie eerder by die rykes in Parktown nie. Of gaan lat hulle jou leer om stamps te verkoop in die post office. Dan doen jy ten minste iets nuttigs! Ons werk mos hier by die huis. Ons sal agter Lambert kyk vir jou. Hy luister ten minste na my, die klein bogger.”

Dan het Pop altyd gesê: “Ag, Treppie, los uit vir Mol, dis ok al plesiertjie wat sy het in die lewe.”

Dis wat Pop nou nog sê, as sy die storie vertel.

“Los vir Mol, Treppie, los haar uit, dis ok al lekker ding wat sy het om te onthou.”

Dan sê Treppie: “Orraait, orraait,” en hy lyk of botter nie in sy mond kan smelt nie; en hy sê: “Orraait, ou Mol, vertel dan weer vir ons ’n slag van republiekwording, jong.”

Republiekwording was weer vir jou ’n ander storie. Te moeilik om te vertel, eintlik. Maar Treppie wil hê wat hy wil hê.

Pop het gesê hulle moet ’n dag maak daarvan. 31 Mei 1961. Dit was net nalat hulle ingetrek het hier in Triomf. Die gras was nog nie eers geplant nie en dit was stof oralster, maar Pop was nie te keer nie. Hy’t nog altyd gehou van groot dae, arme ou Pop.

En was dit ’n gedoente, want dit was nie net ’n piekniek in Pretoria nie, dit was besigheid ok. Alles Pop se plan. Om mee te begin, ten minste. Sy’s seker hy’t ’n baie beter oog vir besigheid as Treppie. Hy kort net die wil. Maar toe was hy nog jonk, Lambert was toe net sewe. En Pop het gesê hy kan twee dae uit die skool uit bly om te help. By die skool sou dit tog net ’n gevlaggieswaai wees. Op die ou end was die hel toe tog los, want Lambert het nie ’n republiekmedalje gekry nie. Hulle het dit by die skool uitgedeel die dag. Sulke goue medaljes met doktor Verwoerd se kop op. Pop moes later een gaan bestel by Lambert se juffrou. Anyhow, Pop se plan was om rose te verkoop op Republiekdag. Nie rooies nie, nee, hulle het mark toe gegaan ’n dag vantevore en oránje rose gekoop. Vier gros. Veertig bosse. Las Vegas Supreme was hulle naam. Dit sal sy nooit vergeet nie. So ’n fancy oranje roos wat na niks geruik het nie. Maar sy kleur het opgemaak daarvoor. Hy was oranje soos ’n lemoensucker. En tien bosse wit Baby’s Breath, en tien bosse fynvaring, en ’n hele spoel blou lint en ’n hele spoel wit lint. Vir oranje-blanje-blou skouerruikers. En klein goue haakspeldjies en ’n rol groen bloemiste-tape. En rolle watte om nat te maak om hulle in te pak en vars te hou. En plat persketrays vir die ry.

Pop se plan. Bleddie oulik. Hulle het deur die nag gewerk. Sy’t later skoon oorkruis gekyk. Oranje roos, steel afknip, takkie Baby’s Breath, takkie varing, stukkie groen tape om al die steeltjies bymekaar te hou. Dan ’n wit lintjie om en dan ’n blou lintjie om, speldjie deur, en klaar. Eenkant. Hulle het in ’n kring gesit agter in die jaart op die kaal grond op kratte onder ’n lig wat Treppie aan ’n extension vasgemaak het en buite aan die geut opgehang het vir hulle.

“Check die Benades se assembly line!” sê Treppie.

“Ons assemble die nuwe republiek,” sê Pop. Hy was baie in sy skik met sy plan.

“Ons assemble hom en hy gaan betáál! Wat sal ons vra per stuk?” Treppie, natuurlik. Dan hou hy so ’n klaar ruikertjie op in die lug en hy staan op en steek dit vir homself aan en hy stoot sy bors uit. Pronk hy daar rond, dywelskind.

“Nie te duur nie, dis vir ’n sáák, onthou,” sê Pop.

Toe sê Treppie sy moet die Coke en die brandewyn loop haal, en ys en glase, lat hulle ’n bietjie kan práát oor hierie “sáák”. Elke saak het sy prys.

Nou nog, as dit oor geld gaan, dan wil hy drink.

“Nou kom ons kyk, wat het julle uitgegee, julle twee? Dis mos wat julle goed kan doen, geld uitgee.” Treppie was aan ’t moeilikheid soek. Dit het sy toe al geweet.

“Vyf en twintig rand,” sê Pop, maar dit was eintlik vyf en dertig, met al die ekstras. En hulle het anyhow nog in ponde en pennies en sjielings gedink.

“Hmmm,” sê Treppie, “en hoeveel persent wins, sal jy sê, mag ’n mens maak uit ’n pasgebore republiek?”

“Wel, e, seker nie meer as vyf persent nie, soos ek sê, dis vir ’n saak.”

“Jy’s lekker mal! Ek sal sê hónderd of twééhonderd persent. Of nog dúbbeld dit. Vierhonderd persent. Ek sê jou wat,” sê Treppie met daai hoë dywelstemmetjie van hom, “ons lieg vir daai boggers. Ons sê dis ten bate van ’n hospitaal. Die H.F. Verwoerd-gestig. Ons vat skoon papiere en ons skryf mooi boaan: Republiekwordingskouerruikerfonds. Een woord, dubbelpunt: H.F. Verwoerd-, e, instituut, dis grander, vir die Geestelik Versteurdes.” En Treppie maak sy stem diep en praat soos die man wat nuus lees, in hoge Afrikaans. “Met ’n kolom vir u handtekening, meneer, en ’n kolom vir u donasie, mevrou. Ons sê vir hulle die prys is vier en veertig sent. Dan sien jy hoe werk ons hulle gal vir hulle. Hulle vroetel vir kleingeld in die gedrang en vat die eerste die beste halfkroon raak. Maar wie sign nou op so ’n dag sy naam by ’n donasie van ses sent! Nee, dan vroetel hulle verder en kom uit met ’n sjieling, of twee, of drie. Of méér. Báie meer. Op so ’n dag wil mense mos graag brag. Hulle sal lekker diep vat in hulle gatsakke. Op so ’n dag wil hulle sign vir ’n saak. In klinkende munt!”

Hulle was skoon stil. Treppie se oë het geblink. Dit was darem te bleddie vergesog vir woorde. Hulle het net daar gesit met hulle bekke wat oophang.

“En die cherry op die koek,” en Treppie sit weer daai hoë sagte stemmetjie van hom aan, “die cherry op die koek, is ons mascot.” En hy draai sy kop so stadig, en hy kyk vir Lambert. Soos die satang selwers, kyk hy vir hom. Jirre, dag sy, hier kom ’n geneuk.

“Lambert,” sê Treppie, “kom hier na jou, e, óóm toe.” En Lambert kom staan vlak by Treppie en Treppie begin vir hom voorsê. “Lambert, lat hang oop jou mond,” sê Treppie. “Nee, nie so reguit oop nie, trek jou onderlip ’n bietjie diékant toe. So ja, reg. Nou: draai jou oë binnetoe na mekaar toe, nou boontoe, ja so, nie te erg nie, net so halfmas. So ja, en dan kyk jy so twee jaarts voor jou uit, kniehoogte, so ja. Net reg. Net reg. En nou, kyk nou goed hoe maak jou oom Treppie.”

En Treppie gee so ’n paar treë terug in die donker, uit die lig uit, en hy wag ’n rukkie, en hulle wag, sy en Pop, en Lambert ok, met ’n oophangbek en skeel oë, net of hy gehipnotiseer is, en hier kom Treppie uit die nag uit aan. Gôts, nes die malle van Gadara. Waggel-waggel, met een been wat ’n streep deur die stof sleep en een sleephandjie en ’n opgetrekte skouer wat so ruk-ruk. En ’n mond wat skeef oophang met spoeg wat uitloop.

En daai oë! Dit was die ergste. Dit sal sy nooit vergeet nie. Halfmas omgedop na boontoe met ooglede wat so flikker-flikker nes ’n gloeilamp wat wil blaas.

“Komaan, ou Lambert,” sê Treppie vir hom met ’n sleeptong, “komaan, kom oom wys vir jou hoe speel ons môre op daai volksmoeders se snare. Kyk, af en toe, dan smile jy so ’n slag met jou ou spoegbek, en dan bewe jy so met jou ou kop. Skeef is hy al skeef genoeg.”

En daar loop hulle al in die rondte in die stofjaart in en Treppie wys vir Lambert hoe om mal te speel. Dit was baie arig. Maar hulle kon nie help om te lag nie. Pop ok nie. Toe Treppie en Lambert voor hom kom staan, swaai-swaai, met die kwyl wat oor hulle kenne loop, en Treppie sê: “Uit die blou van onse hemel, ons vir jou, Suid-Afrika,” toe lág Pop. En toe trek hy ok ’n skewe bek en dop sy oë om en speel mal saam met hulle. Toe’s hulle naand almal mal, sy met een uitskopbeen en ’n uithangtong en Pop met sy boude uit en sy lyf op ’n krop getrek soos ’n hoenderhen, en hulle maak vir jou sports in daai kaal jaart in.

“Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra!” skree Treppie lat die spoeg spat.

“Oupa het ’n vark gery,” sê Pop.

“Taraboemdery,” sê Lambert, “afgeval en weer gery.”

En sy klim op ’n wasmasjien en sy sing: “Witter as sneeu, ja witter as sneeu, o was my en witter as sneeu sal ek wees.”

Wanneer sy hier kom in die storie, dan lê hulle op die vloer soos hulle lag. Dan kan sy nie aangaan nie. Wat ok maar goed is. Want dit het ’n bietjie rof begin gaan daai aand, ’n bietjie baie rof. En Lambert sê hy weet nie, dis seker die drank wat Treppie in sy keel afgegooi het, maar hy kan niks onthou van daai hele aand of die volgende dag nie.

Die volgende dag, toe hulle Pretoria toe is, vertel sy dan maar vir almal se onthalwe. In die Austintjie. Met die skouerruikers. En hoe baie geld hulle toe gemaak het, vertel sy. Om almal se onthalwe, maar veral om Lambert s’n. Sakke vol. By die Voortrekkermonument. Sy kan dit nog so voor haar sien, vertel sy, hoe staan die mense se oë styf in hulle koppe soos hulle luister vir die speeches, en hoe, sonder om eers te kyk, trek hulle die papiergelde uit hulle sakke en koop ruikers.

Seshonderd rand. Amper. Vyfhonderd nege en veertig en nege en twintig sent.

En wanneer sy hier kom, dan lat hang Pop sy kop en Treppie sê: “Fok!” en loop voor uit en gaan staan op die lawn. En Lambert sê: “Taraboemdery, oupa het ’n várk gery,” en hy sit alleen en verder lag daar in die voorhuis, met sy brandewyn. En hy keer haar as sy kombuis toe wil loop, en hy sê: “Toe, Ma, vertel nog, vertel van die speeches, en van hoe die mense die tienrande uit hulle sakke trek en net so vir julle gee as hulle my sien.” En dan vertel sy maar vir hom, vertel sy maar wat hy wil hoor. Arme Lambert. Die arme ou skewe kind van haar. En dan tel Pop sy kop op en hy help vir haar en hy sê Verwoerd se speech op kompleet of hy self daar was.

“En ek sê vir u vandag, volksgenote, dat die Gemenebes van Nasies vir ons níks in die sak gaan bring nie. Nie ’n bloue duit nie. En dat ons beter af is op ons eie. Niemand het met ons iéts uit te waai nie. Niemand hoef hul neus in ons sake te steek nie. Ons sal ons eie heil uitwerk hier aan die suidpunt van Afrika by die lig wat ons het en met die leiding van die Allerhoogste.”

Dan kom Treppie weer in met nét so ’n vet grinnik op sy gevreet en dan sê hy nou dít klink vir hom reg. Dít klink mos na besigheid, sê hy. Niemand moet hier kom bodder met hulle nie. Nie met die volk nie en ok nie met die volksgenote nie.

En Pop kyk vir hom vas in die oë en hy sê: “Ja, dít was nou vir jou ’n eersteklas staatsman daardie.”

“Ja-nee,” sê Treppie dan, “ja-nee, ou swaer,” en hy maak sy stem so soet as hy sê “ou swaer”, en hy gee so ’n dywelse laggie.

En Lambert sê: “Ja-néé,” en skud sy kop en draai sy brandewynglas so om en om in sy hande.

En dan sit hulle so en sê niks verder nie, en sy staan in die deur in en kyk vir hulle soos hulle daar sit.

Triomf

Подняться наверх