Читать книгу Triomf - Marlene van Niekerk - Страница 5

1 Die honde

Оглавление

Dis laatmiddag. Einde September. Mol staan agter in die jaart. Die son wat oor die prefabmuur val, tussen die huise deur, vat haar tot by haar housecoat se middelste knoop. Haar onderste helfte is in die skaduwee. Haar boonste helfte kry warm.

Sy kyk na die klomp goed wat Lambert uitgegrawe het. Dis ’n helse hoop. Rooi bakstene, gladde stukke dreinpyp, snaakse dik hompe sement. Dit het blou gruisklippers in soos wat mens op graftes kry. Klein stukkies glas en goed blink tussenin. Maar die meeste het Lambert al uitgehaal al. Vir sy collection, sê hy. Lambert maak snaakse goed bymekaar.

Gerty staan langs Mol. Sy snuif aan die hoop. Ruik seker nog na kaffer, dink Mol. Die hond trek iets tussen twee stukke sement uit en sit dit voor Mol se voete neer.

“Wassit, Gerty? Hè? Wat het jy daar? Wys vir die ounooi!”

Mol tel dit op. Dis ’n blikkie. Hy’s heeltemal plat en deurgeroes. Lyk soos ’n jamblikkie. Kafferjam! Sies, ga! Sy gooi dit weer op die hoop.

Sy tel vir Gerty op. Sy kyk oor die lengte van hulle kaal jaart. Dis net droë, geel lawn tot by die draad voor. Lambert sê dis net rubble onder die grond in, hier waar hulle woon. Onder die paaie in ok, van Toby af tot agter in Annandale, net rubble.

Die kaffers moes daai slag so vinnig hier padgee lat hulle nie eers tyd gehad het om hulle honde saam te vat nie.

Baie van hulle goed het agtergebly. Hele dressers vol breekgoed. Dié kon jy hoor stukkend val toe die stootskrapers ingekom het. En beddens en enemmelkomme en sinkbaddens en goed. Alles voor die voet platgestoot.

Dit was nogal ’n gesig.

Die kaffers het geskrou en rondgehol soos mal goed. Wat hulle kon, het hulle probeer bymekaarkry om op die lorries te laai wat vir hulle kom wegvat het.

En die kaffers se honde het getjou-tjou-tjou soos hulle gemaal het om weg te kom onder die goed wat val en breek.

Mol onthou die dag nog goed. Toe hulle die eerste klomp kaffers weggevat het. Dit het gereën daai dag. Februarie ’55 was dit. Hulle het oorkant aan die bopunt van Ontdekkers langs die pad gestaan en kyk, want Treppie het toe al gehoor van Gemeenskapsbou se planne om goedkoop huise te bou vir “minder gegoede blankes”, hier waar Sophiatown was.

Triomf, het hulle gehoor, sou die nuwe dorp se naam wees.

Net vir blankes. Hulle sou hom in 1960 begin bou, het hulle gesê.

“Van Fietas tot Triomf!” het Treppie nog gesê, en lat hulle darem nie kan kla hulle gaan nie vooruit in die lewe nie.

Fietas is ok later platgestoot. Net ná hulle uitgetrek het.

Dit was ok maar self ’n lekker deurmekaarspul daar in Vrededorp.

Vrededorp was Fietas se regte naam.

Gerty kriewel in Mol se arms. Sy sit haar neer. Sy draai weer terug om vir die hoop te kyk. Hoe diep daai gat nog moet kom, weet net die vader in die hemel alleen. Dis vir petrol, sê Lambert, hy wil petrol daar opgaar. Vir as die kak spat ná die verkiesing, sê hy. Dis Treppie wat die nonsens vir hom in die kop staan en praat.

Gerty wil aandag hê. Sy grawe met altwee voorpote in die hoop en vroetel met haar neus tussen die kluite in, hy’s rooi van die baksteengrond. Sy kyk vir Mol met haar ore op punte. Sy wil speel, dink Mol. Sies tog, arme ou hondjie, ok maar min speelkans wat sy kry.

Mol gaan sit swaar op die leë Dogmor-blik wat langs die huis staan. Sy steek haar hand in haar housecoat se sak en haal haar sigarette uit. Sy steek een op.

Die kaffers was nie baie impressed met die affêre nie, daai’s for sure.

Daar waar hulle oorkant die pad gestaan het, het hulle gesien hoe steek hulle die busse wat verbykom onder die klippe. Die trems ok.

Daai dae het daar nog ’n trem geloop heelpad Roodepoort toe.

Treppie was baie opgewerk oor die hele platstotery. Party dae as hy van skof af kom, het hy op en af met die trem in Ontdekkers gery om te kyk hoe vorder dit. En partykeer as hy nagskofte gewerk het, het hy ok nog eers daar ’n draai gaan maak. Te voet. Dan kom hy by die huis en vertel vir haar en Pop vir ure aanmekaar wat hy daar alles gesien het, “daar waar ons toekoms lê”, het hy gesê, “daar waar ons ’n nuwe begin gaan maak”, en dan lag hy so met ’n skewe mondjie. Sy’t daai tyd nooit goed verstaan wat beteken daai laggie van Treppie nie, maar sy’t geleer intussen. Niks om oor te lag hier by hulle in Triomf nie. Hier neuk dit maar aan. En nou se dae neuk dit woes.

Daar was ’n dun priestertjie daai tyd met die platslanery, met ’n lang, swart rok aan, wat tussen die stootskrapers rondgehol het en die kaffers probeer help het met hulle goed, het Treppie vertel.

Al die kafferhonde het hom geken. Hulle het teen hom opgespring lat daai swart rok van hom naand die ene stofpote was.

Maar hy kon ok maar niks vir hulle doen nie. Dis nou vir die honde. En hulle kaffers.

Dit was ’n Engelse priester en ’n regte kafferboetie. Huddleston was sy naam, maar Treppie het hom ou Muddlebek genoem, of ou Meddlebones, want hy was een van daai holier-than-thou-grootbekke van oorsee af wat hier in die land kom interfere het met goed.

Sy kerk staan nou nog hier agter. Lyk deesdae maar dooierig as hulle daar verbyry. Dis nou die PPK van Triomf. Pinkster Protestantse Kerk, maar daai Protestante lyk vir haar maar min. Nie veel meer as die Lede in Christus nie. En húlle pas almal in een kombi in. Sy sien partykeer die pastoor in Marthastraat met die kombi verbyry om die lede op te laai. LEDE IN CHRISTUSKERK staan daar in groot, blou skoonskrifletters op die een kant geskryf. Hier een, daar een, laai hy op. Hoendertande.

So, dis die PPK’s, die Lede, die Apostolies en die Jehovasgetuies hier in Triomf. Daar’s ok nog ’n NG regoor Shoprite, maar hy’s leeg, behalwe as hulle basaar hou. Net langs die NG, sien sy, vlak voor die polisieflats, is daar nou ’n nuwe, wit bord op met pienk letters: DAY SPRING CHRISTIAN CHURCH. Sy sien hulle gáán nogal, raai, die poliesmantjies en hulle vrouentjies. Seker ’n lekker kerk, daai. Priesters sien jy nie eintlik meer hier nie. Behalwe reg onder in Annandale aan die agterent van Triomf, Martindale se kant toe. Daar’t hulle eendag een gesien, maar hy’t ’n wit rok aangehad, nie ’n swarte nie. Hulle hou deurmekaar kerk daar. Sy en Pop en Treppie – Lambert was nie by nie – het van die panelbeaters af gekom en toe sien hulle hoe kom die deurmekaar kerk uit – seker ’n troue of iets – en hoe staan die priester by die deur en groet die kaffers en die hotnots en die wit mense. Vol smiles. Almal met dieselfde hand.

Dis ’n Roomse kerk, sê Treppie. Hy sê dis volksvreemd om volk so te groet, en dan wil hy hom doodlag. Hy sê tussen die twee volke in daai een sin lê ’n hemelse verskil. Maar hulle in Triomf weet, dis eintlik net Ontdekkers wat tussenin lê. Want anderkant Ontdekkers lê Bosmont en in Bosmont wemel dit van die volk.

Nie lat hulle eintlik las het van die volk hier in Triomf nie. Net by die Spar in Thornton bedel die hotnotskindertjies. Pop gee vir hulle ’n sweetie partykeer as hulle vir Toby en Gerty uitvat na die veldjie toe daar agter die Spar. Dan wil die klonkies met Toby en Gerty speel, maar Toby en Gerty wil nie. Hulle wil net die kaffers jaag wat sokker speel op die veldjie. Dis sulke jong, wilde kaffers met sterk, blink bene en kwaai gesigte, en hulle speel rof. Toby het eendag een agter aan die been gebyt en toe kry hy ’n skop in die wind in. Pop sê dis oor Toby ’n wit hond is, want kaffers hou oor die algemeen nogal van honde. Treppie sê dit mag wees, maar dit hang net af hoe honger ’n kaffer is, en dan vertel hy weer daai stuk van Sophiatown se honde.

Toe dit alles plat was – amper drie jaar het dit gevat – het die honde wat agtergebly het, begin huil. Orals tussen die hope rubble het hulle gesit met hulle neuse in die lug in op en gehuil lat jy hulle myle ver kon hoor.

Treppie vertel hy’t van die kaffers in die aand sien terugkom met pangas, dan maak hulle daai honde van hulle dood. Later weet jy nie meer of dit die kaffers is wat huil of die honde nie. Dan vat hulle vir hulle weg in sakke.

Hy’s seker, sê Treppie, hulle het gaan stew maak van hulle. Met uie en tamatie en kerrie by om die ergste hond te blus. Vir saam met die pap. Want so ’n hond rek ver, sê Treppie, en die kaffers was seker maar honger daar waar hulle toe was.

Party honde het vanself doodgegaan, van die honger. Of van hulle kaffers mis, seker. En net daar gebly lê en opgeblaas en weer afgeblaas en gevrot totlat die velle van die bene afgeval het en die geraamtes uitmekaar geraak het.

Lambert kry nou nog van die los hondebene soos hy grawe.

Treppie sê dit spook van daai honde hier in Triomf.

Partykeer snags word hy wakker van hulle geblaf. Die blawwery begin aan die een kant van Triomf en gaan regdeur tot by die ander kant en weer terug. Soos golwe wat breek en uitspoel en terugtrek en weer breek. Dit klink soos die einde van die tye. En dan wag sy altyd vir die aarde om oop te skeur en vir die geraamtes se bene om weer aan mekaar vas te groei en met vlees oordek te word en op te staan onder die basuine.

Dis hoekom sy sê Lambert moet daai bene los waar hy hulle kry. Lambert sê hy glo nie in die opstanding nie. Hy vat die bene en blikke en goed, tot ou vaal albasters en kieries met koppe, en hy hang hulle op tussen sy paintings op sy mure in sy den in. Hy sê dis sy museum en die nageslagte sal nog bly wees iemand het dit bewaar. Al is dit kaffergemors. Hy sê Treppie sê ou kaffergemors het groot waarde gekry deesdae.

Lambert aard na Treppie as hy na iemand aard, sê sy altyd. Hulle speel die fool of hulle lewe daarvan afhang en hulle het ’n aanleg vir horries. Altwee van hulle. Net, Treppie is ’n slimmer fool as Lambert en Lambert se horries is baie erger as Treppie s’n. Dan sê Pop sy moenie so praat nie, dis dan haar eie bloedfamilie en al wat hulle het, is mekaar en die dak oor hulle koppe, sê hy, dis één ding wat sy moet onthou in die lewe.

Nou ja, sy’t darem ok nog vir Gerty.

Mol buk en krap vir Gerty tussen die ore. Sy kyk vir Mol met groot oë.

Gerty weet van.

Ok maar sonder ma grootgeword en als, maar sy’t nou wat jy noem honde-luck gehad om by hulle uit te gekom het. Daai’s for sure. Al was dit ’n hele geskiedenis.

Gerty was Ougerty se enigste kind. En Ougerty het ok luck gehad. Dis in hierie hondefamilie se bloed in, sê sy altyd. Luck.

Dis toe sy en Pop eendag saam met Treppie kom rondloop het in Sophiatown lat die hondestorie begin het.

Hulle het daai dag kom kyk waar hulle gaan woon eendag. Want Treppie het vir hulle aansoek gedoen by die munisipaliteit vir ’n huis van Gemeenskapsbou wat hier gebou sou word. En Treppie het natuurlik toe weer iets te sê gehad.

“Kyk,” het hy gesê, “dis nou ’n wit mens se luck dié. Nét voor ons begin verbaster daar in Vrededorp, gaan die Rooi See voor ons oop.”

Toe loop hulle nog so deur die strate, Miller en Tucker en Good en Martha en toe met Southlink deur tot in Gerty.

Dis toe daar waar hulle iets hoor huil onder ’n sinkplaat in.

Die priestertjie was ok by daai dag. Hy’t so tussen die vullishope wat lê en rook en die plasse water van die gebarste pype deur geloop met sy swart rok, die honde agter hom aan, en kort-kort dan gaan staan hy en skryf iets op in ’n klein boekie in.

“Hy wil seker gaan moan by die koningin van Engeland,” het Treppie nog gesê. Want as hy reg verstaan het, het hy gesê, is sy die baas van die Engelse kerke ok. Maar hy weet nie wat is die priester se moeilikheid nie, want daar staan sy kerk dan nog, ongeskonde. Treppie wou nie hê hulle moet onder die sinkplaat kyk wat huil so nie. Netnou dink die priester hulle vat die kaffers se goed, het hy gesê.

Maar sy’t aangehou en toe kry hulle die ou hondjie daar. Nog piepklein, met sulke ou opkyk-ogies, shame.

“Jy los daai kafferhond uit, Mol,” het Treppie gesê, “sy’s net goed vir stew. Jy bring nie daai vuil ding vol wurms in ons huis in nie!”

“Dis vir Lambert,” het sy gesê.

En Pop se hart was sag en hy’t gesê dis waar, ’n seun het ’n hond nodig in sy lewe. En miskien maak dit vir Lambert rustiger.

En toe sê Treppie dit sal meer as ’n hond vat om daai klein stront rustiger te kry en sy moes net keer of Pop en Treppie vlieg mekaar daar tussen Sophiatown se hope rubbish in die hare. En daai priester het vir hulle só staan en kyk.

Sy’t die hondjie in haar trui toegedraai en saamgedra. Toe hulle by die huis kom, het sy besluit haar naam sal wees Gerty soos daai straat se naam waar hulle haar gekry het. En toe hulle uiteindelik twee jaar later Triomf toe trek na hulle nuwe huis toe, het Gerty saamgetrek. En daai selle straat was ok nog daar.

“So, nou’s jy uiteindelik weer terug op jou plek, nè?” het sy vir haar gesê, want hulle Benades het hier in Marthastraat kom woon en dis net agter Gerty. En sy kon sweer daai hondjie met die hartseer ogies het dit goed geweet, al was ál die huise splinternuut en die grond gelyk gemaak. Want sy’t orals rond loop en ruik vir dae lank. Ougerty was maar haar hele lewe lank ’n snaakse, pieperige ou hondjie. En Lambert het nie eintlik tyd gehad vir haar nie. Sy’t maar haar wat Mol is, se hondjie gebly. En toe Ougerty naderhand pregnant raak, het sy haar hart vasgehou. En ok nie verniet nie, want toe sy haar bybies kry, was drie doodgebore en net een lewendig en sy was die kleinste. Dood of lewendig, dit was te veel vir Ougerty. Sy’t net daar die gees gegee toe hulle uit haar uit is.

Dit was ’n vreeslike dag daai. Treppie wou hulle almal wegvat, die lewendige enetjie ok, maar sy’t gekeer en Pop het gekeer en so’t hulle toe vir Kleingerty grootgemaak met ’n speelgoedbottel uit ’n lucky packet met ’n tietie aan.

Treppie het aangehou hulle moet vir Kleingerty lat regmaak, want hy’t gesê hy wil nie met ’n gebroedsel nasate van ’n kafferhond hier op sy erf sit nie, hy’t plek nodig vir sy yskaste, het hy gesê, want die yskasbesigheid het saamgetrek uit Fietas uit en Treppie het nog groot planne gehad daai dae. Hy’t gesê watch nou mooi, Triomf is ’n plek waar hulle nog gaan ryk word.

Maar hulle het nooit ryk geword nie.

En nou is Kleingerty ok ’n ou hond al.

Eintlik snaaks lat sy so goed oud geword het, want sy’s toe nooit reggemaak nie en sy kry toe vir Toby. En Toby was die size van drie homself. Eers ok taamlik laat, want hulle het haar altyd binne gehou as sy op hitte was. Maar toe glip sy tog eendag uit. Toe kry ’n poliesman se alsatian haar beet. Pop moes vir hulle uitmekaar gaan maak, want daar sit die alsatian toe vas agter in Gerty in lat sy skree soos ’n maer vark.

Daai poliesman woon nou nog in die straat voor hulle s’n. In Toby in. En dis hoe Kleingerty se kind aan sy naam gekom het.

Van die begin af was Toby ’n ongeleerde skepsel wat te lank aan sy ma bly drink het en haar begin beetkry het nog voor sy stem dik geword het.

Toe’t hulle op die ou end maar vir Kleingerty lat regmaak.

En wat van Toby, het sy gevra, maar Treppie het gesê nee, ’n hond sonder knaters raak mak vir kaffers en hulle het beskerming nodig soos dinge deesdae gaan, en Lambert sê toe hy stem, en toe los sy dit maar.

Maar sy’s tog half bly lat hulle toe vir Toby gekry het, en lat hulle hom gehou het, knaters en al. Hy hou vir hulle jonk. Hy’s ’n jolly hond, al pie hy partykeer in die huis in. En dis ok tog geselskap vir Gerty, al sukkel hy met haar, oud en koud soos sy is. Honde het honde nodig, dink sy. Mense is nie vir hulle heeltemal genoeg nie.

En mense het honde ok nodig.

Want mense is weer nie vir mense genoeg nie. Sy en Pop en Treppie en Lambert is glad nie genoeg vir mekaar nie. Hulle is te min, elkeen vir homself al. Hulle sou gekrepeer het as hulle nie vir Toby en Gerty gehad het nie. Honde verstaan meer as mense van swaarkry. Hulle lek sweet. En hulle lek aan trane.

As Lambert so gevaarlik stil is hier agter in sy den in, dan kan sy sê sy gaan kyk gou wáár is Toby dan vandag lat hy so stil is. Net om haarself gerus te stel, want met Lambert weet jy nooit.

En as sy nie lekker gedink kry nie, oorlat daar te veel goed in haar kop is, dan kan sy vir Gerty vra: Wat dink jy, Gerty? Dink jy Pop gaan dit maak tot Krismis toe? Dink jy as Pop eendag dood is, gaan ons nog okay wees hier, en as ek eendag doodgaan, dink jy Treppie gaan agter Lambert kyk en vir hom sorg, of gaan hy vir hom alleen los om te maak en te breek soos hy lus het sonder iemand wat kyk lat hy nie sy tong afbyt nie?

Dit maak nie saak lat Gerty nooit antwoord nie. Sy’s maar net ’n hond en sy’s maar bly ok vir haar part. Maar ten minste kry sy wat Mol is dan gedink. Met die ou hondeasempie hier langs haar. En die ogies wat so vol hondeliefde vir haar kyk. Shame.

Soms, as dit te veel word vir haar in die voorhuis, as Treppie te veel Klipdrift in het en sy skouer begin so ruk-ruk en hy begin te neuk, of as Lambert woes raak oor iets, of as daar weer die een of ander speech op die TV is terwyl dit skiet, diékant toe en daaikant toe, en dis net koeëlgate in karre en bloed op die seats, dan kan mens maklik sê: Ek vat net gou vir Gerty buite toe, of: Daai Toby lyk vir my of hy weer sy been wil lig, kóm Toby!

Maklik. Sonder lat iemand dink dis snaaks.

Dan’s jy úit, uit op die lawn, onder die sterre, en dan kan jy ’n paar diep asems vat, of ’n paar skywe. En diékant toe, daaikant toe in Marthastraat kyk wat sien jy. En al sien jy niks, net nag en ligte, dan help dit tog. Of as sy nie lus is om Shoprite se binnekant te sien nie, al die trollies en die rakke en die mense wat nie hulle minds kan opmaak nie oor daar te veel goed is, oor die lig te helder is en oor daai asma-rige musiek aanmekaar in haar ore draai; as daai Shoprite se visruik gemeng met Jeyes Fluid haar naar op haar maag maak by die blote gedagte, dan kan sy vir Pop sê as hy klaar gepark het op daai parking-lot met strepe, nee, gaan hy en Treppie maar, sy bly sit liewer by Toby en Gerty in die kar.

Dan kan sy rustig ’n sigaret opsteek en saam met hulle kyk met hulle ore op punte hoe gaan die mense in met leë hande en hoe kom hulle weer uit met hulle sakke vol, heen en weer, heen en weer, in en uit, in en uit by die verskillende deure van Triomf se winkelsentrum, die kafee, die apteek, die lap-en-garewinkel en die Roodt-Broers Veertig Jaar Vleistradisie.

Mol steek nog ’n sigaret op.

“Of wat praat ek alles, Gerty?” vra sy. Gerty kyk vir Mol. Sy swaai haar stert so effentjies.

“Sal ons ingaan en gaan kyk wat maak die mense, hè, Gerty? Sal ons vir hulle sê hulle moet kom, dan gaan ry ons ’n entjie, hè?”

Gerty ken die woord ry. Mol het hom ok só gesê lat sy kan verstaan. Sy staan op en gee ’n treetjie agteruit en weer een vorentoe en waai haar stert met haar agterlyf. Haar ore is op en haar oë blink.

“Ry, nè!” sê Mol, “ry, ry, ry! Jy hou van ry, nè? Lat jou ounooi net gou hier klaar rook, dan ry ons!”

Gerty gaan sit weer op haar agterpote, vlak langs Mol se voete.

Mol leun met haar elmboë op haar knieë waar sy sit op die Dogmor-blik. Sy kyk vir hulle jaart. Die gras is heeltemal strooi van die winter. Daar’s net een groen kol by die kombuis se drein.

Een van die dae as die reën kom, sal sy weer nie kan voorbly met die sny nie. Sy wonder of daai lawn-mower al reg is. Dis altyd so ’n geneuk met daai ding, die jirre hoor haar. Sy staan op, staan ’n entjie weg van die huis af. Daar’s ’n paar van die dakplate los. Elke jaar meer. Sy sien al hoe staan dit van die hol goed, die hele huis vol. Net lekke, lekke, lekke waar jy kyk.

Dan is daar nog die overflow wat ok so drup. Die houtwerk skilfer af. Hier en daar is die hout heeltemal vrot en stukke hang af.

Agter is darem nog daai vyeboom wat opgeslaan het. Wat sy gesê het hulle moet los. En hulle het hom net gelos oor sy gesê het dis darem ’n skaduplekkie vir Toby en Gerty.

Mol loop voor om. Gerty is ál onder haar voete in.

“Nou-nou-nóú!” sê sy vir haar.

Dis die ander ding van honde hê. As iets sleg gebreek is, of iets is weg, of iets hang, of iets drup, of iets is moeite en jy wil hê iets moet daaraan gedoen word, maar jy wil tog net nie kwade gevoelens wek nie, dan kan jy sê: Gôts, Toby, hoor jy hoe drup daai overflow weer op onse dak vanaand? of: Gerty, wáár dink jy is die ounooi se badprop nou al weer? of: Nee toe kom nou, Toby, moenie so ál teen daai sideboard sit nie, hy’t net drie bene en sy vierde been is ’n baksteen en daai baksteen het ’n kraak, of: Nee stadig nou julle, nie so wild hier in die kombuis nie, die ounooi maak net eers gou die empties bymekaar, so baie empties, ons moet hulle nie so in julle pad in los nie, nè!

Dan kan almal hoor wat pla jou en iets doen daaraan. En as hulle dan sê watse nonsens praat jy, dan kan jy maklik sê nee niks, jy praat maar net met die hond en hulle moet hulle eie business mind.

Mol is voor. Sy gaan kyk in die posbus. Lambert se posbus. As hulle uitgaan met die Volkswagen, dan sit hulle altyd die voorhekkie se sleuteltjie binne-in die posbus in. Dan’s hy byderhand.

Hier kom die Ding-Dong nou verby. Die Ding-Dong is ok ’n kombi, soos die Lede s’n, hy verkoop soft serve. Sy tape is gerek en hy speel vals note, oor en oor dieselfde deuntjie op en af in die strate van Triomf.

Daar gaan hy nou vinniger om die onderste draai. As hy vinniger ry, dan klink sy deuntjie ewe skielik hoër. Treppie het verskillende woorde vir daai deuntjie, hang net af in watse mood hy is.

Meestal is dit:

O die son kom op, die son die sak

en ons sak dieper in die kak

die son kom op en die son die sak

ons smelt soos soft serves op die dak.

Of partykeer is dit:

O die honde sit daar in ’n kring

hul weet wat kom, daar kom ’n ding

o die honde huil daar in ’n kring

as jy vir hul die tyding bring.

Treppie het nie einde nie. As hy eers begin, dan kan jy hom nie gestop kry nie. Hy stop homself as hy genoeg gehad het of as sy ryme opraak.

Hier kom Toby van agter af aangehardloop.

“Whaf! Whaf!” sê hy. Die ou geel hond met sy krulstert.

“Whaf!” sê Mol vir hom. “Wil jy ok gaan ry, ou Toby-hond?”

Toby en Gerty hardloop rondtes op die gras. Toby lig sy been en pie teen die hekpaal.

Mol weet as Toby so uitkom van agter af, lat dit eintlik Pop is wat vir haar soek. Sy bly staan voor by die draad met ’n klein smiletjie op haar gesig. Sy weet wat gaan nou gebeur.

“O, hiér’s die ounooi! Ons dag wáár’s die ounooi en al die tyd staan sy hier voor!” sê Pop agter haar.

Hy sit sy hand op haar skouer.

“Wat staan die ounooi dan so hier buite, hè? Wat is dan so interessant hier in Marthastraat vandag?”

Toby kom spring op teen hulle. Gerty sit by Mol se voete, die ene afwagting.

As die mense hulle stemme so op hond stel, dan weet hulle hulle is deel van die geselskap. Dis ’n lekker ding vir ’n hond om te weet. En vir mense ok. “Hè, Gerty? Sê vir die oubaas, wat stáán en stáán die ounooi so in die jaart vandag, hè?”

“Gerty wonder of ons dalk ’n soft serve gaan kry vandag,” sê Mol.

Pop smile geheimsinnig. Hy voel in sy agtersak in.

“Hy’s diékant om,” sê Mol en sy wys waar die Ding-Dong onder om Marthastraat se hoek draai.

Hy stap na hulle Volkswagen toe onder die afdak by die voordeur.

“In!” sê Pop en maak sy kant se deur oop vir die honde.

Mol beduie met haar oë na die voorhuis: wat van húlle?

Ag, los húlle, wat, beduie Pop terug.

“Ons vat ’n kans, dit kan ’n geneuk afgee,” sê Mol saggies.

Pop skud sy kop en waai met sy hand, sy moenie worry nie. Hy klim in.

Hy start die karretjie.

Mol maak die voorhek oop.

Woerts, spring Toby in die dicky agter. “Soefe-soefe-soefe”, swaai hy sy stert teen die seat. Dan spring hy oor die leuning tot op die seat. Dan weer agter in die dicky in. In-uit, in-uit.

“Toby, sit stil, netnou pie jy in jou broek!” sê Pop met ’n dik stem.

Toby sit stil. Gerty sit voor Mol se sitplek. Sy trap met die voorvoete van die opgewondenheid.

Pop swaai uit by die hek. Hy wag lat sy die hek toestoot. Hy sal afry in Martha en opdraai in Gerty om die Ding-Dong van agter af in te ry.

“Ry!” sê Mol toe sy in is.

Maar dis te laat.

“Hei! Waar dink julle gaan julle nou na toe? Hei, wag!”

Dis Lambert. Hy’s op die voorstoepie in sy groen T-shirt wat styf trek oor sy pens en sy geskifte swart boxer short wat afval agter oor sy boude. Hy’s bruin tot by sy knieë en elmboë van werk in sy gat.

“Ek het jou gesê,” sê Mol vir Pop.

Pop draai sy venster af. “Bring daar ’n bietjie ’n liter Coke en ’n pak Paul Reveres, twenties!” skree Lambert.

“Okay!” skree Pop.

“Okay!” skree Mol.

“Whaf!” blaf Toby uit by die venster langs Pop se kop. Gerty spring op Mol se skoot om te kyk.

Daar kom Treppie ok uit. Hy kom aangestryk oor die lawn, tot by die voorhekkie. Sy rug is regop en hy’t so ’n ligte wip in sy stap. Soos ’n stywe spring. As Treppie so lyk, moet jy weet hy soek vir kak.

Mol vryf oor Gerty se lyfie op haar skoot.

“Daar gaan ons soft serve, Gerty,” sê sy.

“Wat sê jy daar, Mol? Hè, hè?”

Treppie is uit by die hekkie en kom steek sy kop by Pop se oop venster in.

“Ek praat met die hond,” sê Mol.

“Vir wat sneak julle hier uit sonder om eers te vra of ’n mens iets wil hê van die dorp af, hè?”

“Wat wil jy hê, Treppie?” vra Pop.

“Ek sê, vir wat sneak julle hier uit of julle op ’n secret mission is, hè?”

“Daf!” slaan Treppie met sy hand op die kar se dak.

“Whaf!” sê Toby.

“Ie-ie-ie,” sê Gerty.

“’n Entjie ry,” sê Pop.

Hy haal sy hande van die stuur af en haal sy sigarette uit sy kakiehemp se bosak. Hy steek een op. Die Volkswagen maak “zikke-zikke-zikke-zikke” soos hulle daar staan in die warm son.

Toby lek aan Pop se oor. Pop vat agtertoe en krap Toby se kop.

“Entjie ry, nè, oubaas se ou honne,” sê hy en kyk voor hom by die venster uit, “net ’n entjie ry, so op die laat middag, so ’n paar blokke om.”

Treppie kom regop langs die kar. Hy steek ok ’n sigaret op. Hy vat sy tyd.

Verder en verder weg in Triomf se strate klink die Ding-Dong.

Mol kyk voor haar uit.

Hierie kan nou vir lank aanhou.

Niks aan te doen nie.

Net wag en sien, dis al.

Sy kyk vir die groot ou boom onder in Marthastraat. Dis die enigste groot skaduboom in die hele Marthastraat, mind you, in die hele Triomf.

Pop sê dis ’n eikeboom.

Hy sê hy reken daai boom is maklik driehonderd jaar oud. Baie ouer as hy. Hy sê dis vir hom baie interessant lat hulle daai boom gelat staan het toe hulle vir Sophiatown hier platgestoot het. Eike is besonderse bome, word glo honderde jare oud. Hy sê dit moes ’n besonderse iemand gewees het wat daai boom daar geplant het, ’n mens met ’n gevoel vir sy nageslagte, maar dis nou ok daarnatoe. En dit moes ’n besonderse hervestigingsbeampte gewees het, sê Pop, wat georder het lat daai boom moet bly staan, een met ’n gevoel vir bome.

“Sit af,” sê Treppie, “ek staan hier in die fumes, ga!” Hy waai met sy hand voor sy gesig. Pop sit af.

“Nou wat dink jy wil Treppie hê, hè, Gerty, wát wil hy hê moet ons vir hom saambring van die keffie af?” vra Mol.

Treppie leun weer in by Pop se venster.

“Peppermints,” sê hy. “Wilson’s Extra Strongs. Twee pakkies.” Hy wys twee met sy twee vingers.

“Raait!” sê Pop. “Twee.” Hy sit weer die kar aan.

Stadig swaai hy Molletjie se stert uit tot in die straat. Treppie loop saam langsaan. Toe Pop wegtrek, slaan Treppie weer “daf!” op die dak.

“Whaf! Whaf! Njarrr!” sê Toby vir Treppie wat so op die dak slaan.

“Njrrr!” sê Gerty.

“Ja, sê vir hom,” sê Mol vir Gerty, “sê vir Treppie.”

“Sê vir hom sy ou gat, ja,” sê Pop vir Toby. “Treppie se ou gat. Hy met sy swaelasem. Moet nog net horings kry!”

Pop werk die Volkswagen hard deur eerste en tweede en toe hy onder in Marthastraat verby die eikeboom die draai begin vat, kyk hy in die spieëltjie. Mol kyk om.

Daar staan Treppie in die middel van die pad vir hulle en agternakyk, hande in die sye. Lambert ok. Staan hy by die voorhekkie hande in die sye, so vuil soos hy is.

Pop steek sy hand by die venster uit en slaan “daf!” op die dak vir hulle.

Mol smile. Pop is vandag in ’n jolly mood.

“Nou watter kant toe dink jy is daai Ding-Dong nou?” vra sy.

“Ons soek hom,” sê Pop.

Hulle ry op en af in Triomf agter die Ding-Dong aan. Op in Gerty, af in Bertha, op in Meyer, af in Gold, op in Millar, af in Smithsen tot aan die end van Triomf verby die PPK se kerk.

“Miskien is dit daai priester wat hier onder die kaffers geboer het,” sê Mol.

“Miskien wat van hom, Mol?”

“Miskien is dit hy wat daai eikeboom onder by ons in die straat geplant het.”

“Nee, Molletjie, hoe’s jou somme dan nou, jong. Daai priester is vandag omtrent net so oud soos ek, seker. Daai boom is van Adam se tyd al daar.”

“Of Jan van Riebeeck s’n?”

“Of Jan van Riebeeck s’n!” Pop vat aan haar hand. Hy smile vir haar. Hy draai weer terug in Thornton in.

“Nee,” sê hy, “lyk vir my ons luck is uit vandag. Wég is daai Ding-Dong soos ’n groot speld.”

“Nikse ice cream vir jou vandag nie,” sê Mol vir Gerty.

Sy eet altyd net haar soft serve se kop driekwartpad, dan lat sy vir Gerty lek-lek-lek met haar klein pienk tongetjie tot hy heeltemal plat is en dan gee sy vir haar die cone. Dan wil Toby ok hê. So, dan moet Pop sy cone vir Toby gee. Maar Pop hou van die cone, so Toby kry net die onderste puntjie sonder niks in nie.

Lambert en Treppie eet altyd hulle s’n heeltemal self op, alleen. Snoep. Nie ’n hart vir ’n hond nie.

Maar nou’s daar vandag in any case niks soft serve vir niemand nie.

Hulle stop by Ponta do Sol. Voor op ’n swartbord staan Polisiemanne kry afslag op video’s. Dis ’n keffie wat alles het.

“Coke, Paul Reveres, Wilson’s,” sê Mol toe hulle voor die counter in die dik vis-en-olielug staan.

“Het ons genoeg brood?” vra Pop. Hy’s skielik honger.

“Ja,” sê Mol, “en polonie ok.”

“En jy, wil jy iets hê, Molletjie?” vra Pop.

Sy kan sien hy’s jammer vir haar part lat hulle die Ding-Dong gemis het.

“Nee, wat,” sê Mol.

“Seker?” vra Pop.

“Umm,” sê Mol. Sy wil uit. Daar’s ’n vrou wat vir hulle snaaks kyk. Seker ’n poliesman se vrou, want sy staan met ’n arm vol video’s.

Pop dink sy sien hom nie, maar sy sien hom, hoe hy tog vir haar ’n Snickers koop. Dis ’n nuwe soort. Hy weet sy hou van nuwe soorte uitprobeer.

“Het jy twéé pakkies Wilson’s?” vra sy toe hulle weer in die kar is.

“O, gôt!” sê Pop. Hy het net een in sy hand. “Goed lat jy sê!”

“Jy beter,” sê Mol.

Sy eet die Snickers terwyl sy vir Pop wag. Liewe ou Pop. Gerty kry aanmekaar happies. Toby kry ok ’n stukkie.

“So, hoe was julle drive?” vra Treppie nes hulle by die voordeur instap.

Hy sit op sy krat in die voorhuis en lees ’n ou Star. Hy vat altyd oorkant se vrouens se pak ou koerante wat hulle elke tweede Maandag uitsit vir recycling. Treppie sê oorkant dink hulle is wie. Daai twee girls, sê hy, hou vir hulle lanie. Hy sê hulle dink hulle maak ’n statement met koerante buite sit vir die groen lorrie. Al wat dit wys, sê hy, is lat hulle is uit voeling met Triomf. Want in Triomf word alles, van kombuiskaste tot exhaustpype, lankal gerecycle. En niemand maak ’n show daarvan nie. Hý’s een om te praat, Treppie. Hy maak ’n show van álles, gerecycle ofte not. Maar, mind you, Lambert gaan bel mos oorkant en hy’t ok al gesê daai twee is vol dinge. Hulle huis staan vol boeke, sê hy en hulle speel snaakse musiek met vrouens wat blêr soos bokke op note. Maar hulle een kar is ok ’n Volkswagen en Lambert sê hy’s baie verder heen as hulle s’n.

Treppie hou sy hand oop vir sy Wilson’s.

“Kaplaks!” sit Mol altwee pakkies in sy hand neer.

Treppie maak sy hand baie vinnig toe. Amper vang hy haar hand.

“Jong!” sê sy en trek haar hand weg.

Treppie sê dis nie die varsgeit van die nuus waaragter hy aan is nie. Dis dieselfde goed, sê hy, wat oor en oor gebeur. Mens moet net ’n oog hê vir ooreenkomste.

Wel, Treppie sien meer ooreenkomste as wat sy sien. Hy sien meer van alles, mind you.

En hy onthou ok alles. As hy iets nie onthou nie, maak hy dit op, nét so.

Pop sê Treppie het ’n “fotografiese geheue”. Van kleintyd af al. Maar sy’t haar bedenkinge. Hy onthou wat hy wil onthou en anders dink hy goed uit om hulle mee te treiter. Dis net Lambert wat impressed is met Treppie se nonsens. Maar Lambert is nie reg in sy kop nie.

“Sê jy nie dankie nie, Treppie?” vra Mol.

“Check net ’n bietjie hier,” sê Treppie. Hy maak of hy haar nie hoor nie. “Pit bull terriers in Triomf,” lees hy. “Policeman’s cruel game. Illegal backyard betting. Shocked vets keep sewing up mangled dogs. So, dís wat ons al die tyd hoor in die nag, Mol! Dis g’n Sophiatown se spoke daai nie. Dis bloed en geld. En hulle maak ’n helse geraas, daai twee saam. Vasgekeer tussen mure, met oop tande en omgedopte oë en die bloed wat spuit uit die slagare.”

Treppie wys oop en toe, oop en toe met sy een hand, hoe spuit die bloed uit die slagare uit.

“Erger as spoke,” sê hy, “baie erger. Jy kan maar sê die hele Jo’burg is een groot pit bull terrier fight as ek reg hoor!”

Treppie maak sy koerant toe en vou hom op of hy iets gelees het wat hom glad nie verbaas nie en wat hy altyd al gedink het.

Hy maak een van sy Wilson’s-pakkies oop en sit ’n groot, wit peppermint in sy mond. Sy skouer ruk-ruk.

“Nou toe,” sê hy, “ek vrá, hoe was julle dríve toe! Antwoord julle nie ’n mens nie?”

Hy klap hard met sy tong op die peppermint.

Pop gaan sit in sy stoel en steek ’n sigaret op. Mol ok. Dis die beste. Mooi stilsit.

“Toby, hoe was dit, hè? Baie ander honde gesien?” vra Treppie.

“En Gerty, ou girl, hoe lyk Triomf vir jou vandag, hmmm?”

Treppie sak skielik van sy krat af. Hy sit op sy hurke. Hy maak of hy op sy agterpote loop soos ’n getrainde poedel. Toby en Gerty spring in die rondte.

Dan gaan hy af op sy knieë, met sy arms reguit voor hom, kneukels op die grond. Hy steek sy neus in die lug in op en stoot ’n láng hondehuil uit.

“Ag nee, jirre, Treppie,” sê Mol, “moet nou nie weer met daai nonsens begin nie, netnou het ons weer ’n geneuk hier met langsaan!”

Maar dis te laat.

Treppie huil soos honde.

Toby en Gerty se blawwe raak al hoe hoër en yler, tot hulle stemme deurslaan en hulle vir hulle oorgee aan die huil. Langs Treppie sit hulle met hulle voete reguit voor hulle en hulle neuse in die lug in nes hy en hulle huil al drie soos in ’n koortjie.

Lambert kom in van agter af. Hy smile as hy sien wat gaan aan.

Dan val hy ok in met huil soos die honde. Hy ken hierie game van Treppie. Lanklaas gespeel. Groot sports, dink hy mos is dit. As hulle hard en lank genoeg aanhou, dan huil al die honde later: Marthastraat s’n en al die strate s’n tot oorkant Ontdekkers.

“Nee, jirre, julle, toe nou, hou op. Netnou lat kom een weer die polisie, dan’s die hel weer los.” Sy wys Pop moet iets doen.

Los, beduie Pop met sy hande, dit sal vanself oorgaan. Dis die vinnigste met die minste pyn en ellende, bedoel hy. Dis soos ’n wekker wat moet afloop.

“Auhoeee-auhoeeee!” huil Treppie.

“Auhoeee-auhooeee!” huil Lambert.

“Ie-ie-ie-ie-ieee!” huil Gerty.

“Whaf-whaf-whaf-whoeee!” huil Toby.

Treppie kom stadig regop. Nou maak hy of hy ’n mikrofoon vashou. Hy roer sy onderlyf soos Elvis. Hy trek sy gesig op fronse of hy nie weet hoe hy dit het nie en of hy smag na hy weet nie wat nie, maar Mol kan raai.

Hy wys met die een hand Lambert moet saamsing. Lambert speel saam. Hy hou ok ’n mikrofoon vas. Nou is hulle ’n duet. En hulle sing hondeverdriet. Op die wysie van “Gaan my nie verby, o Heiland”, met die note lank uitgerek.

Op die verhoog, dink Mol, kort net ligte nog.

Treppie en Lambert wys vir Pop en Mol hulle moet inval.

Maar hulle sit net en kyk.

Treppie werk kastag die draad van die mikrofoon tussen sy vingers deur of hy die jeukings het. En onder sy voete deur of hy sy staan nie kan kry nie.

Heen en weer loop hy in die kamer. Soos daai ou Rolling Stone nou die aand op die TV. En hy wys in die lug in op met ’n lang vinger. Lambert die staan eenkant met toe oë. Hy wieg-wieg sy lyf soos hy huil oor die Heiland wat verbygaan. Sy gesig in die lug in op of hy wag vir reën op sy wange ná ’n droogte.

“Bau-au-auuu-oeee!” huil Treppie.

“Wha-aauuuu-ooeee!” antwoord Lambert.

Met Toby en Gerty tussenin.

Hierie twee staan nou weer vir hulle lekker en opwerk. Wáár moet dit vanaand weer eindig? Daar staan Treppie se Klipdriftbottel op die sideboard. Hy suip seker al weer van vroegmiddag af. Sy kyk vir Pop. Nee, hy weet ok nie.

Maar Pop lyk of hy wil smile. Hy lig sy vinger op diékant toe en hou sy kop skuins, sy moet luister buite. Sy luister.

Ja-nee, daar begin langsaan se wolgathond, ’n husky is dit, sê Treppie, veels te pedigree vir Triomf. Langsaan dink ok hulle is wié.

Mol begin ok smile.

Nou wys Pop met sy vinger anderkant toe. Daar begin die visboer anderkant se vyf maltese.

Ja-nee, dis sulke tyd.

Die Benades het weer vir Triomf in die palms van hulle hande.

Treppie gaan huil-huil op sy Heilandswysie voor by die voordeur uit, met Lambert agterna. Hy wienk vir Pop en Mol om te kom. Hulle gaan sit op die stoepie se rand. Dis sterk skemer.

Lambert en Treppie staan op die lawn, met Toby en Gerty tussen hulle, almal met hulle neuse in die lug.

Treppie en Lambert sit die revs op.

“Wílde hónde!” sê Pop.

“Jakkals en wolf!” sê Mol.

Nou huil die honde blokke ver reg rondom hulle, grotes en kleintjies, lat dit ’n aardigheid is.

Elke keer as Treppie en Lambert ’n paar lekker huile uitgekry het, dan hou hulle hulle koppe skuins om te luister.

Hulle staan met hulle gesigte na mekaar toe en elke keer as hulle weer begin, dan haal hulle diep asem en buig hulle bolywe effens vooroor en sak ’n bietjie af en dan, soos hulle asem vat en weer ’n huil uitstoot, krink hulle hulle nekke agtertoe, met hulle monde op tuite in die lug in op. Net of hulle die klank uit hulle mage optrek boontoe, diep onder uit die grond uit, uit die spookholtes onder Triomf uit.

Treppie het hierie by Oupop geleer toe hulle nog in Vrededorp gewoon het. Sies tog, Oupop het ok maar net sy bes probeer.

Mol onthou, daar was net so baie honde daar.

En dis hoe Oupop hulle ge-entertain het as hy in ’n jolly mood was die dag. En daar was maar min entertainment daai dae in Vrededorp, wat nog te sê by hulle in die huis in. “Jy leer die kinders verkeerde goed, Lambertus,” het Oumol altyd vir hulle pa gesê, maar sy kon ok nie help om te smile nie.

Van hulle drie is dit net Treppie wat goed geleer het om die honde te lat huil.

En nou leer Treppie vir Lambert.

En so te sien, leer Lambert goed.

Mol kry skielik ’n snaakse gevoel in haar binneste soos sy luister na die honde wat huil in die skemer, ver en naby.

Hulle is nou goed op dreef, die honde, hulle het amper nie meer vir Treppie en Lambert nodig nie. Hulle het nou hulle eie voorhuilers wat die invalle maak en die note gee, hoës en laes en diés in die middel. En dan vat die ander dit verder, die hoë note en die lae note en diés in die middel.

Verder en verder hoor hulle hoe trek die hondegehuil deur die strate. Weste se kant toe is daar skielik ’n geblaf wat anders en harder klink.

“Seker die pit bull terriers daai,” sê Pop.

“Onthou jy vir Oupop?” vra Mol vir Pop.

“Jaaa,” sê Pop. Mol sien Pop kyk vir haar só. Hy kan seker hoor aan haar stem sy dink iets. Hy weet altyd wat sy dink, ou Pop.

“Shame, Pop,” sê Mol, “vir wie sal Lambert eendag leer om die honde te laat huil?”

Pop het nie ’n antwoord om te gee nie. Mol tel vir Gerty op en druk haar styf voor teen haar bors vas.

“Vir wie, hè, Gertytjie?” vra sy. “Vir wie sal hy leer?”

“Ie-ie,” sê Gerty net.

Triomf

Подняться наверх