Читать книгу Anderkant die spieël - Melissa Scharneck - Страница 6
Niemand wíl ’n sad storie hê nie
ОглавлениеNiemand wíl ’n sad storie hê nie. Ek’s seker as Sylvia Plath kon kies, sou sy eerder op die stoofplate doenig wees as onder die grill. Vandag het ek gaan krap waar dit nie jeuk nie. Nader aan die koekpan as die kospot, en ek hou nie daarvan nie.
Tussen die bokse wat ek nog moet uitpak, het ek op een van Mark s’n afgekom. Sy bokse is duidelik gemerk met groen kleeflint. Toe ek sien hy merk syne so, wou ek Maggie op al myne skryf, maar ’n paar weke terug was ek aansienlik minder sarkasties as nou. Soos in Bloubaard se storie is ek aangesê om sy bokse net eenkant te sit. In die spens. Hy sal dit self uitpak.
Ek was ingedagte toe ek die boks oopmaak, gedink dis kombuisgoed. Dit was nie aspris nie.
Toe die lem deur die groen kleeflint trek en die boks se flappe oopspring, het ek my fout agtergekom. ’n Boks vol A5-grootte boekies met bruin leeromslae. Kan net Mark s’n wees. Prokureurs het mos alewig netjiese boekies vol reëls wat die mensdom in toom hou.
Jy mag nie moor nie, herinner ek myself aan een van hulle.
Om die eerste boek op te tel en oop te maak, dít was aspris. Seker onnodig ook, maar ek wou sien.
Want êrens is daar fout in hierdie huwelik. Ek weet dit al ’n hele ruk en ek wou kyk, die rede daarvoor soek. ’n Bose wese het in my oor begin fluister om nie te glo en te vertrou alles is soos wat dit op die oog af lyk nie. ’n Boks boeke kan nie net ’n boks boeke wees nie.
Dit was nie. Die boeke, al twaalf van hulle, is van hoek tot kant vol geskryf met ’n netjiese, vloeiende handskrif wat aan niemand in hierdie huis behoort nie.
Ek het so tien blaaie uit die eerste dagboek gelees. Ek wens ek kon dit uitwis. Wat die oog gesien het, sal die brein onthou . . . ’n Mooi handskrif, ’n eerlike verteller, ’n dieper insig in die lewe van ’n hartseer vrou en ’n donker, donker tema, resenseer ek die geleesde deel in my kop.
Juliet se deel. Juliet se handskrif. Háár donkerte.
Juliet was Mark se eerste vrou. Die een wat doodgegaan het met die geboorte van haar eerste kind, haar énigste kind. Sy was nog nie eers dertig nie. Ek skend die privaatheid van ’n vrou wat nie geweet het of sy kom of gaan nie.
Ná ek die tien of wat bladsye verorber het, weet ek nie meer of haar dood bloot toeval was nie. Dalk kon sy die lewe net nie meer verdra nie. Die twaalf dagboeke is in agt maande geskryf. Haar laaste agt. Toe sy swanger was. En in daai hele eerste tien bladsye verwys sy nie een maal na haar swangerskap of ongebore kind nie.
Ek het reeds aanvaar geen kind sal tydens hierdie lewe my lieste verlaat nie.
My eerste man is aan ’n hartaanval dood voor ek kon swanger raak, en met Mark is ek eers getroud lank ná die begeerte om ’n kind te baar my hart verlaat het. Maar ek het al baie swanger vroue geken en al waaroor hulle praat, is swangerskapkwale en opgewondenheid oor die nuwe baba. Juliet sê niks daaroor nie. Dis nie normaal nie.
Sy spoeg vuur oor haar huwelik met die man met wie ek nou getroud is. Sy bevraagteken die gode, verwyt haar ouers en vervloek haarself. Sy was nie gelukkig nie.
Ek is ook nie gelukkig nie, maar darem nie ongelukkig tot só ’n mate nie. Ek het nog nie by ’n verduideliking gekom oor hoekom sy so haatdraend teenoor Mark was nie, en ek weet ook nie juis of ek verder wil lees nie. Hy laat dit altyd klink asof alles met Juliet maanskyn en rose was. Nie so erg dat dit my irriteer nie, maar hy praat nooit sleg van die vrou nie.
Wat my betref: hy mishandel my nie, hy behandel my eintlik glad nie sleg nie. My grootste (en enigste) probleem is sy afwesigheid. Soms voel dit asof ek glad nie getroud is nie, vir weke aaneen stoksielalleen.
As mens nie daarvan hou dat jou man gereeld weg is nie, beteken dit sekerlik jy wil hom graag by die huis hê? By jou? Maar ek weet nie altyd nie. Soms wonder ek of ek teen sy afwesigheid stry omdat ek voel dis my plig. Omdat ander vroue voel dis hulle plig. “Hou jou man by die huis, anders weet jy nie wat hy doen nie!”
Mark se doen en late is nie gewoonlik vir my rede tot kommer nie.
What you see is what you get. Hy lyk soos hy is: effens bogemiddeld. Hy is ’n kop langer as ek, dra sy bruin hare in ’n kantpaadjie, kyk mooi na sy lyf en sy vel, en mense wat nie saam met hom bly nie sien hom selde in iets anders as ’n pak.
Vandat ek hom ken, is ek oortuig hy is ’n goeie man. Hy het my nog nooit rede gegee om anders te dink nie.
Nie tot vandag nie.
Tien van Juliet se dagboekbladsye het my laat wonder of ek my man ken soos ek moet. Ons is nog skaars twee jaar getroud en ek het lankal ophou glo slegte goed gebeur nie met goeie mense nie.
Dalk is die boeke fiksie. ’n Roman waaraan sy gewerk het. ’n Psychological thriller . . .
Dalk is ek net weer paranoïes.
Hoekom hou hy die donnerse goed nou al vir soveel jare? Sekerlik weet hy wat daarin staan? Of dalk het hy dit nie gelees nie, uit respek of iets. En hier kom ek en val sommer weg asof dit ’n blitsverkoper op ’n afslagrak is.
Wat my meer pla as die dagboeke se inhoud, is die geweldige angstigheid wat my oorval het toe ek besef ek het een van Mark se bokse oopgemaak. Hoekom is ek so bang hy kom agter ek het die dagboeke gesien? Ek wonder nou al vir ure waar ek sulke presiese groen kleeflint gaan kry om die boks weer toe te plak. Asof ’n deel van my bang is vir hom. Baie bang.
Nee, ek moet iets doen. ’n Bietjie uit die huis uit kom.
Voor ons nuwe huis, met die baguakaart in my hand, besef ek eers hoe mislik die dag is. Koud en nat en na aan sneeu. Soos iets uit ’n Elsa Joubert-boek waarin die slimmes perdry vir naai misgis.
Op hierdie dorp is al die slotte te groot en die sleutels te klein. Mark het my al na meer as een plek gesleep waarmee ek nie heeltemal tevrede was nie, maar dié dorp is ’n hasegat. Ek het so gevoel toe ek hier inry en ek voel nog steeds so. Dis ’n hasegat waarin ek besig is om te val. Die val voel vir ewig en ek het geen idee waar ek gaan land nie.
Dalk land ek nooit. Ek sal nie verbaas wees as ek my hier op Voortrekkersrus doodval nie.
Dis in elk geval verspot dat ek nou al hierheen moes trek terwyl Mark eers oor ’n paar maande gaan tyd kry om aandag te gee aan die nuwe kantoor wat hy hier wil oopmaak. Nou sit ek soos ’n uil op ’n kluit en wag dag na dag vir my man om huis toe te kom.
Die man wat my verlei het soos ’n haas met ’n horlosie en ’n onderbaadjie, om hom wyd en syd te volg. Hy is so anders as meeste mans. Gekultiveerd, slim, opwindend en buitengewoon. Ons kon aande om sit en gesels en ek het die belofte van ’n pragtige lewe in sy oë sien brand. ’n Lewe waarin ek die een helfte van twee gelukkige mense sou wees.
Hy het nie verander nie. Ek het. Hy is nog steeds nes die haas met die onderbaadjie, maar ek het besef hy kyk heeltyd op sy horlosie omdat hy wil vertrek. Omdat hy nooit wil laat wees vir belangriker dinge op ander plekke nie. Sy interessantheid, sy andersheid is nie meer belowend nie. Dit gee my nie meer hoop nie. Die einste dinge in hom wat ek bewonder het, het ’n doring in die sagte vlees onder my voet geword.
Die straat is doodstil en verlate, maar dit voel tog asof mense na my kyk. Dalk staan ’n paar tannies agter hulle kantgordyne en wonder wat op aarde dié vreemde nuweling besig is om te doen.
Ek weet self nie juis nie.
Ek weet net ek kry koud, die wind sny deur my warmste baadjie. Ek het hierdie baadjie vandat ek een en twintig was. Ek moes al knope vervang en gate stop, maar vir die laaste twintig jaar hou dit my warm. My ma het vir my die baadjie op haar Woolworths-rekening gekoop. Dit het daai tyd ’n fortuin gekos, maar dit was die prys werd, want dit kon my nog altyd beskerm. Tot vandag. Vandag is die wind sterker as die baadjie.
Ek vou die baguakaart oop.
My vriendin Talia se ma het dit vir my per e-pos gestuur. Ek dink sy kry my uit die verte jammer.
Talia Prinsloo is my beste vriendin, ons het saam gewerk by Hoërskool Vuurkloof, en haar ma is Dalena Vorster-Swart. Dalena kan enigiets en alles doen en sal Superwoman op haar neus laat kyk. Sy weet op ’n onverklaarbare wyse wanneer mense hulp nodig het en dan help sy. Maak nie saak wat fout is nie.
Op een of ander manier moes sy besef het my lewe het ontaard in iets minder as perfek, en geeneen van Dalena se geliefdes durf minder as perfek van die lewe aanvaar nie. Al gee sy my soms ’n gatkramp met haar aardighede, is ek tog dankbaar om onder haar geliefdes getel te word.
Met die baguakaart, die stel reëls wat aangeheg was aan die e-pos en ’n boek oor feng shui wat sy vir my gepos het, is ek veronderstel om my nuwe huis ontvanklik te maak vir positiewe energie. Soos die mense in die Ooste dit glo doen. Dis moeilik om te verstaan. En om kop te hou oor wat waar is en wat waar moet wees.
Die hemel help my, ek weet net ek is bly my huis is aan die regterkant van die straat en nie aan die linkerkant nie. Ook dat ek in ’n vertikale straat en nie ’n horisontale straat bly nie, want anders sou ek nie my kop van my gat kon uitken nie.
Die kaart wys vir jou watter deel van jou huis wat is. Dit deel die huis in nege dele en elke deel verteenwoordig ’n aspek van jou lewe. Soos die liefde, jou werk, jou gesondheid en so aan. Maar dan moet die dele ook pas by die windrigtings en soos ek sê, as hierdie huis nie presies gestaan het waar dit staan nie, was ek verlore. Dan sou die bagua-indeling nie by die windrigtings gepas het nie.
Dan het ek my dalk, soos niemand nog ooit voor my, afgevee aan Dalena se idees oor die feng shui van Wapadslaan 52.
Uiteindelik sien ek iets op die kaart wat sin maak: The front entrance must be located on this side of the map.
Dankie tog, nou kan ek vanaand rapporteer my werk is gedoen. Dalena deel vir my takies uit asof sy op suicide watch is . . . Vandag moet jy nog niks uitpak nie, vee net die huis en maak seker dis skoon voor jy begin. Hang vir vandag net jou gordyne en maak seker die kantgordyne is nie skeef nie. Ek dink jy moet vandag buite jou tuinhek gaan staan en begin kyk wat pas waar, met die baguakaart, natuurlik.
Dit gaan nou al vir meer as twee weke so aan.
Soos ek die vier tree terug na die tuinhek vat, hoor ek ’n geneul soos ’n baba s’n uit die laventelbos kom. Raak ek nou heeltemal van my trollie af? Cabin fever het natuurlik ingeskop toe ek agterkom my nuwe dorp se hoofstraat is net seshonderd meter lank.
Of dalk werk die Voltaren wat ek vanoggend gevat het net nie goed saam met die twee Grandpas en die knoffelpil nie.
Dit voel nog steeds asof mense deur hulle kantgordyne loer en dit maak my ’n bietjie skaam om behoorlik ondersoek in te stel na wat onder die laventelbos skuil. Ek skop na ’n hopie droë blare wat onder die bos lê. Daar kom die kreungeluid weer. Die bos begin sommer bewe ook.
Ek vat ’n tree terug soos dit iemand betaam wat dink sy word heeltemal koekoes.
’n Slang kan nie sulke geluide maak nie, kan dit?
Ek het eenmaal slange met armpies gegoogle. Sulke dinge bestaan. Iets wat soos ’n slang met armpies lyk, was daai aand besig om deur my bad se uitlaatgat ín te klim. Ek was koud van vrees. Dit was toe ek nog op Vuurkloof gebly het, sonder ’n man. Die einste Dalena het kort voor twaalf in haar kar geklim en my kom red van die gedierte. Al waartoe ek in staat was, was om die badkamerdeur toe te trek.
Dit was tussen die deur se toetrek en Dalena se aankoms dat ek gegoogle het. Met my skootrekenaar op my skoot, bo-op die eetkamertafel.
Dit was al die tyd ’n vlermuis. Agterna het ek gemaak asof ek ’n regte drol voel omdat ek gedink het dis ’n slang met armpies (mens kry blykbaar glad nie slange met armpies in die Vuurkloof-area nie), maar heimlik was ek oneindig dankbaar vir Dalena se hulp. Want of dit ’n slang was wat vir my die middelvinger kon wys of ’n piepklein vlermuis, ek sou ewe bang wees.
Ek kyk besluiteloos na die laventelbos. Dit kan tog nie ’n kind wees nie. Kan dit? Ag, Here, asseblief tog, moet asseblief nie dat ’n desperate ma haar kind hier in my laventelbos kom los het nie. Ek weet nie of ek dít sal kan oorleef nie.
Ek kruip kop eerste, agterstewe in die lug, onder die laventelbos in. Fancy nuwe jeans en al. Ek vat en voel nog tussen die droë blare en takke toe ’n mank hondjie uit die bos strompel. So ’n troebel ligbruin kleur, maar dis moontlik net van vuil wees, want plek-plek is daar wit haartjies wat uitsteek. Dis nie ’n babahondjie nie, ek sou raai dit het lankal ophou groei. Die hondjie sal met gemak in ’n skoenboks pas – mét die deksel op.
Ek het nog altyd gedink ek is ’n katmens, maar toe ek die vuil brakkie sien, weet ek van beter. Dis wat ek ma’s al hoor sê het: ek het altyd gedink ek soek ’n dogtertjie, maar toe ek hoor dis ’n seuntjie, toe weet ek van beter.
Dalk is hierdie hondjie so na as wat ek aan ’n kind gaan kom. Ek is aan die verkeerde kant van veertig en ek weet dis nie ongewoon nie: mense wat diere kry in plaas van kinders . . . Ek het net nooit gedink ék sal een van hulle wees nie. Daar is baie kategorieë waarin ek nooit besef het ek val nie.
Sou dit die nuwe antidepressant wees wat hierdie oordinkery veroorsaak? En dalk daai sterker Trepiline wat ek nou saans vat. Of die Azor. Die Azor kom eintlik nog van my ou dokter af en die ander goed van die nuwe ou. Ek weet nie of ek dit alles saam moet gebruik nie, maar as ’n pil kan help vir wat ek het, moet ek maar sluk.
Sonder wik of weeg tel ek die vuil dingetjie op en vat dit in huis toe.
Die hond stink. Ek weet nie of dit na vrot vleis of ’n muf koolkop ruik nie, maar ek draai dadelik die badkrane oop. Daar is vir my niks erger as iets wat stink nie. Dit was nie benede my om die skool se toilet spray onder my arms te spuit as ek op ’n warm dag begin stink het nie. Ek moet seker iets in my handsak begin saamdra. Toilet spray kan nie goed wees vir ’n mens se vel nie. Daar is baie hoër drukking in daai blikkies as in gewone onderarmsproei.
“Ek gaan beslis nie ry en soek vir ’n plek wat hondesjampoe verkoop nie. Is dit dieremishandeling as ek jou met Pantene was?” vra ek, en besluit sommer self dis heeltemal aanvaarbaar om ’n hond met mensesjampoe te was.
En wat dan? Kos? Die hond het kos nodig. Ék het kos nodig.
Ek sal die huis móét verlaat. Al wat ek het is koffiegoed, ’n pak maalvleis en ’n sak lemoene. Iewers is daar Salticrax ook. Salticrax is my gunstelingsoutkoekie. Daai sogenaamde gesonde goed wat met rys gemaak word is van die duiwel. Dan vat ek eerder my kanse met hoë bloeddruk en ongesonde maagvet.
Ek was die hond en besef dis ’n dogtertjiehond. Net daar doop ek haar Dolly. (Darem nou nie met water of olie nie, só mal is ek nog nie.)
Hoekom ek haar Dolly noem, weet die hemel alleen. Ek het nog altyd gedink Dolly is een van die skurfste name wat bestaan. Dit laat my dink aan ’n tannie in curlers wat op haar voorstoep sit met ’n sigaret wat van haar linkermondhoek af hang en ’n brandewyn-en-coke in die hand terwyl sy jou ma se onderlyf beswadder.
Tog lyk hierdie hondjie vir my soos ’n Dolly. Nou nie daai Dolly nie, ’n ander een. Een wat oulik en klein en fraai is. Soos ’n pop. Veral noudat sy gewas is.
“Jy gaan nog mooier wees as jy ’n bietjie gesonder is. Bietjie vetter,” sê ek terwyl ek haar afdroog met Mark se handdoek.
“Ek bel van Wapadslaan 52 af. Lewer julle dalk af?”
“Ja, mevrou, waarmee kan ons help?” antwoord ’n gelukkig klinkende mannetjie.
Ek raak amper kluisenaaragtig opgewonde oor die afleweringsdiens. Dit beteken ek sal eers môre die huis moet verlaat, dalk eers volgende week. Dalk hoef ek nooit weer my erf te verlaat nie.
“Ek wil graag ’n kilogram, nee wag, twee kilogram lamsvleis hê, ’n sak sout – van daai nuwe kristalgoed wat so gesond is, swartpeper, ’n sak uie, ’n sak aartappels . . . Het julle waterblommetjies?”
“Net in ’n blik, mevrou.”
“Twee blikke daarvan, asseblief, ’n sak tamaties, ’n pak basmatirys, ’n paar huisies knoffel – so drie, ’n bottel olyfolie, ’n 500 gram gesoute botter, ’n vars witbrood, ’n sak wortels, grondboontjiebotter – die growwe soort, appelkooskonfyt . . . gevriesde ertjies, ’n tweeliter-Coke, ’n tweeliter-melk, ’n sak hondekos vir klein honde en ’n blik ook, enige geur wat lekker lyk. En een van daai kouspeelgoed vir honde. Het julle so iets?”
“Ons het, mevrou. Sal dit al wees?”
“Uhm . . . maak julle bakkery dalk koeke? As ek nou een bestel, sal ek dit vandag nog kan kry?”
“Ja, mevrou, maar dit sal seker eers heelwat later in die dag wees.”
“Dis reg, maar ek gaan die ander goed binne die volgende uur nodig hê. Sal julle omgee om twee maal af te lewer?”
“Glad nie, mevrou. Watter soort koek wil u bestel?”
Ek trek my asem in. Hoopvol.
“ ’n Black Forest-koek?”
“Ek plaas u bestelling dadelik. Die kruideniersware sal voor elf-dertig by u wees en die koek behoort teen vieruur by u te wees. Kan mevrou my asseblief net gou uithelp met die hoeveelhede? Hoe groot moet die sak hondekos en die olyfolie en . . .”
“Dit maak nie saak nie,” sny ek hom af. “Wat ook al jy stuur, sal reg wees. Kies asof jy vir jouself koop. Kan jy dit vir my doen?”
“Natuurlik. Ek maak so.”
Dit klink glad nie asof hy dink ek is getik nie. Inteendeel, hy is net so vriendelik soos toe ons begin praat het.
“Ek . . . Dankie.”
Ek groet en druk die foon dood. Dit voel of ek kan huil so dankbaar is ek. Ek het nie gedink hierdie dorp sal enigiets hê wat ek soek nie, en kyk nou. Dinge lyk klaar beter. Dalk werk alles tog hierdie keer uit.
Met al die heen-en-weer-trekkery het ek grootgeword. Ek het nooit gedink ’n tyd sal kom wanneer ek volwasse voel nie, maar ek voel nou so. Asof ek maar te goed weet hoe oorlewing ’n mens kan uitput. Asof ek na jongeres kan kyk en glimlag terwyl ek in my binneste sê: Wag maar, eendag sal jy sien. Eendag sal jy verstaan.