Читать книгу Anderkant die spieël - Melissa Scharneck - Страница 9

Witter as sneeu

Оглавление

Iewers nadat Lenta weg is, raak ek aan die slaap. Vir ’n verandering op ’n opgemaakte bed in my nuwe slaap­kamer. Dinge gaan duidelik beter by Wapadslaan 52.

My selfoon se gelui maak my halfses wakker. Ek het geweet hy gaan vandag een of ander tyd moet onthou hy het ’n vrou. Hom aspris nie gebel nie, want ek wou sien hoe lank dit hom vat.

Ek tel die selfoon van die bedkassie op sonder om te kyk wie dit is en is skoon verbaas om Talia se stem te hoor.

“En hoe gaan dit daar in diep, donker Afrika?” spot sy. “Ek skaam my dood omdat ek nie gister gebel het nie.”

Sy klink deesdae so gelukkig, dit maak my amper bang vir haar onthalwe. Dis die einste Talia wat my eenmaal vertel het daar is ’n universele hersteller van balans wat sorg dat mense nie té gelukkig of té mislik is nie. As dinge te veel na die een kant toe val, stuur hy iets om die skaal se balans te herstel.

Ek wonder wanneer daai bliksempie die dag gaan wakker skrik en besef ek het hulp nodig. Hy het al vele save-my-souls gemis. Maar as hy op vakansie is, moet hy ook maar wegbly om ten minste vir Talia en die ander euforiese wesens te spaar.

“Dit maak nie saak nie, man. Dié plek is dieper en donkerder as wat jy kan dink. Helfte die grootte van Vuurkloof! Ek het nog nie ordentlik die dorp ingevaar nie, ek wil môre ’n bietjie gaan verken. Maar van wat ek al gesien het, is hier regtig niks. Ons het gedink daar’s niks op Vuurkloof nie, maar as ’n plek net een drankwinkel het, moet jy weet daar’s fout. Hoe gaan dit by jou?”

“Voor die wind. Ek het mos my enkel verstuit aan die begin van die wintersportseisoen, so ek het nog nie ’n enkele span afgerig nie, al is ek lankal weer op die been. Andries het ’n helse nuwe kontrak losgeslaan om vir een of ander departement nuwe sagteware te skryf. En Louisa . . .” Talia sug. “Wel, ek vermoed sy het agtergekom sy het boobs. Die seuns in haar skool ook. Smiddae lyk dit asof die Biker Mice from Mars my huis wil oorneem soos die 50 cc’s hier voor in ’n ry staan.”

Ek lag. Ek voel net die dekade tussen my en Talia wanneer sy praat van goed soos Biker Mice from Mars, maar al is sy soveel jonger as ek, is sy my heel beste vriendin. Ons vind maklik aansluiting by mekaar. Dalk omdat die lewe haar oud gemaak het voor haar jare, of dalk omdat ek tot nou toe nie wou grootword nie.

“Verder gaan dit goed met haar,” vertel Talia van haar lieflingdogter. “Sy staan derde in haar jaargroep, en dit lyk asof sy SA’s toe gaan vir atletiek. Sy het onlangs begin skiet ook. Sy geniet dit.”

Skiet!

“Ek moet jou vertel van my nuwe buurvrou. So ’n klein, jong, popmooi ou dingetjie . . .”

“Shame, ruil sy resepte?” lag Talia.

“Nee, dis juis die ding. Sy het by my agterdeur inge­-bars met ’n .22 en met een skoot ’n rot na die Great Beyond gestuur. Toe vertel sy my hoe sy my met ’n verkyker uit haar huis dopgehou het en dat ek my gordyne moet hang voor almal in die straat dit doen. Sy’s getroud met ’n man wat omtrent vyf-en-twintig jaar ouer as sy is en sy noem hom oom Dokter. Snaakse vroumens, hoor, maar baie entertaining.”

Talia lag weer, dan raak sy ernstig. “Ek bel eintlik omdat ek hoor my ma het haarself jou feng shui coach gemaak. Sy voel duidelik daar’s iets aan die gang in jou lewe. Is alles okay? Jy moet haar net sê as sy haar raad moet druk waar die son nie skyn nie. Ons is maar ’n dikvellige klomp, dit sal haar nie hartseer of kwaad maak nie.”

“Nee, dit pla glad nie. Ek het vandag my slaapkamer gedoen. Dit lyk mooi! Sy wil maar net help, en ek hou van haar geselskap. Ons praat soms op Google Chat,” vermy ek netjies ’n antwoord op die okay-vraag.

Ek haat lieg, veral vir my vriende. Ek weet om die waarheid te weerhou is net so erg. Soos ’n man wat nie vir sy vrou sê hy het ’n affair nie omdat sy nie vra nie. Lieg is maar lieg, maar dit laat my tog beter voel omdat ek nie reguit in hulle gesigte vir hulle vertel alles gaan goed terwyl dit eintlik bedroef gaan nie. Ek probeer sover moont­lik daarvan wegbly om reguit te lieg, maar dit raak ál moeiliker. Ek lieg deesdae meer as wat ek in al die jare voor Mark sáám gelieg het. Die leuens is soos slaggate in ’n smal pad. Ek’s bang ek probeer op ’n dag een mis spring en land in ’n ander.

“Ek weet, ja, sy’t my vertel. Ek is ook op Google Chat, maar saans gaan dit so dol hier. Ek kry baie selde kans om op die internet te gaan.”

As my man saans by die huis was soos Talia s’n, sou jy my nie met ’n skokstok op die internet kon kry nie, dink ek terwyl ek badkamer toe stap om badwater te tap.

“So dink jy julle gaan ’n ruk lank daar bly, of trek julle weer binnekort?” vra sy die gevreesde vraag.

“Mark belowe hand en mond hy maak nie weer ’n nuwe kantoor oop nie, maar ek sal maar moet sien. Vir al wat ek weet, gaan ek vir die res van my lewe van een plek na die volgende trek. Ek verpes dit om elke keer nuwe vriende te moet maak, maar ek dink ek sal selfs hierdie dorpie kan laat werk as ek net geweet het ek gaan bly. Ek wil wortelskiet en tuis voel. Ek’s gatvol getrek.”

“En Mark? Is hy darem meer gereeld by die huis?

Louisa sê Rudi is nou in ’n koshuis.”

“Mark is minder hier as ooit. Ek’s nou al omtrent twee weke alleen, maar hy’t belowe hy kom oor die naweek huis toe. Moet asseblief nie vir jou ma sê nie. In ’n oomblik van swakheid het ek vir haar gelieg en gesê hy het huis toe gekom vir my verjaardag, maar hy het nie. Het my nie eers gelukgewens nie.”

“En ék het ook vergeet. Ek voel regtig soos ’n hond daaroor. Het jy darem ’n lekker dag gehad?”

Talia sê nie Mark gedra hom soos ’n doos nie. Ek ken haar goed genoeg om te weet sy dink dit.

Ek dink aan die Black Forest-koek wat ek met my hande geëet het. Aan Lenta van langsaan wat my met haar verkyker dopgehou het . . .

“Ek het, ja, dit was baie lekker,” lieg ek weer. “Rudi ís in die koshuis. Ons het hom op die vorige dorp gelos. Mark het gevoel dis te veel trek vir die arme kind. Dit is seker te veel, maar ek mis hom. Met Mark wat altyd so weg is, was hy darem iemand om mee te gesels. Ek het net begin voel ons word vriende, toe moes ek hom los. Nou voel dit asof alles weer uitgevee is.”

Nou is dit net ek en die spierwit mure om my.

Talia is ’n rukkie stil, toe sê sy: “Alles met daai twee het so anders uitgedraai as wat ek gedink het dit sou. Ek weet nie meer of dit énigsins is soos ek gedink het dit gaan wees nie. Soms wil ek Mark met ’n stomp saag kastreer.”

You and me both, kid.

Terwyl ek in die warm bad sit, besluit ek om maar te bel. Dit help nie ek is kinderagtig en wag vir Mark om te bel nie. Hy is besig. Ek wens ek was ’n beter mens, een wat kon verstaan hoe belangrik dit is dat hy sy werk so ernstig opneem. Ek het al baie vrouens geken met mans wat geen benul van ambisie het nie. Mense wat finansieel sukkel, wat nooit deur ’n maand kan kom nie, huise waar daar nie elke dag brood en melk is nie. Ek moet dankbaar wees Mark werk so hard.

Sy foon lui. Eers ná omtrent die tiende lui tel Kobus op.

“Hi, Mags. Jammer, man, ek moes die foon soek. Mark het gou gaan kos koop. Ons is nog al die tyd op kantoor, gaan seker heelaand hier wees. Moet ek hom vra om jou te bel wanneer hy terugkom?”

“Ja, asseblief, Kobus. Hoe gaan dinge daar? Lyk dit nog of julle teen die naweek kan huis toe gaan?” Ek weet hoe pateties ek vir hom moet klink.

“Dit lyk so, ja. As ons hard woeker vir die res van die week.”

“Wonderlik. Goed gaan.”

Kobus is nog al die jare Mark se vennoot en ek het hom al goed leer ken, maar ek hou nie besonder baie van hom nie. Ek kan nie verduidelik hoekom nie.

Soos daar net iets in Lenta is waarvan ek hou, is daar iets in Kobus waarvan ek nié hou nie. Hy drink nie uitermate nie, hy is ongetroud maar het nooit baie vrouens aan ’n lyntjie nie, hy is nie seksisties, rassisties of polities irriterend nie en hy het mooi maniere, maar tog dink ek hy’s ’n poephol.

Nadat ek aangetrek het, sit ek ’n mooi kombers op die kis onder die slaapkamervenster neer. Beautify the room to mirror the beauty you want from the relationship.

Tog net ’n bietjie beauty. Net iets om aan vas te hou. Soos die eerste lentebloeisels wat mens raaksien ná die winter so lank was. Soms kan ek nie onthou hoe dit voel om warm te wees nie, om nie ’n trui nodig te hê nie. Maar dis nog Junie. Lente is ’n ewigheid weg.

Ek kyk dat Dolly versorg is en stap om na Lenta se huis. Ek verkyk my aan haar voorstoep terwyl ek wag dat sy die deur kom oopmaak. Dis groot en breed en beslaan die hele lengte van die huis. En dis regtig mooi. Die hoeke staan vol potte met kruie in. Ek herken nie eens almal nie, en ek beskou myself nogal as ’n kenner. Die teëls is blink­skoon, selfs in die hoeke, en die mat voor die voordeur is so groot en dik dit lyk of sy dit spesiaal laat weef het.

Ek wonder of sy iemand betaal het om die huis mooi te maak, maar ek glo nie. Sy lyk nie na die tipe nie. Soos my ouma gesê het, geld kan nie styl koop nie, dis iets wat uit jou binnekant kom.

Van daai selfde plek af waar sy besluit het om te trou met ’n oom Dokter om nie te sukkel nie. Daar is nêrens soos binne die bors van ’n arm Suid-Afrikaanse vrou om te gaan soek na die dryfkrag tot beter dinge nie.

“Ek kom!” hoor ek Lenta van iewers in die huis skree.

Ek het ook maar skraal grootgeword, maar dis die ander tipe arm waarvan sy gepraat het, die een sonder Nikes en ontwerpersklere. Ons het ons eie groentetuin gehad en my ma het meeste van ons klere self gemaak, maar ons het nooit honger gely of in ’n huis sonder krag gesit nie. Daarvoor het my ma gesorg, come hell or high water.

Sy was ’n goeie vrou, my ma, en ek mis haar nog elke dag net so baie soos die eerste dag toe sy weg is. Meer. Veral wanneer Mark my so deurmekaar maak dat ek nie weet wat ek met my lewe wil doen nie. My ma sou geweet het wat ek moet doen. Sy kon altyd help wanneer niks anders kon nie.

Die voordeur gaan oop en daar staan Lenta, skoon gewas en sonder ’n druppel grimering. Net die jeug kan mens so mooi laat lyk.

“Jammer, ek was op die derde verdieping. Kom in.”

Ek het nie besef die huis het drie verdiepings nie. Oom Dokter maak wragtig sakke vol geld. Ek wonder watse soort dokter dan?

Die stoep steek af by die huis van binne en ek kan my­self nie keer nie. “Gebruik jy ’n interior designer?”

“Vir wat sal ek in ’n ander vrou se droomhuis wil bly? Dis alles ek, behalwe natuurlik die klomp foto’s en portrette, dis oom Doktor. Maar dit maak hom gelukkig, so ek los hom om aan te karring.”

Net toe ek dink ek het nog geen foto’s gesien nie, loop ek my om die draai in die gang vas in ’n muur vol Lenta. ’n Hele helse rooi muur met maklik vyftig foto’s van die buurvrou en nét sy. Al die foto’s is swart-en-wit en dit lyk vreeslik deftig op die rooi muur, maar dis tog vreemd om so baie foto’s van net een mens te sien. Sy glimlag op van hulle, lyk ernstig op party en trek selfs gesigte op ander.

“Wow.”

“Dis niks. Daar’s nog baie sulke mure in die huis én tien olieverfportrette, een vir elke jaar van ons huwelik. Die nuutste een hang in die sitkamer. Dis baie common. Ek skaam my dood as nuwe mense hier aankom, maar gelukkig gebeur dit nie baie nie.”

“Hoe so?”

Sy sug. “Die mense op hierdie dorp hou nie veel van my nie. Lodewyk het hier grootgeword, en almal het so half ’n hoop gehad dat hy met een van hulle dogters sou trou. Toe gaan kry hy mos vir hom ’n jong poppie in

Johannesburg en daarvan het niemand gehou nie.”

Ons stap die kombuis binne. Iets ruik baie lekker en vir die eerste keer in ’n lang tyd sien ek uit na eet. ’n Tekort aan geselskap bederf ’n lekker bord kos.

Lenta skink vir ons wyn. “Toe ek net hier aangekom het, is ek baie genooi vir tee en middagetes, maar dit was eintlik net om my van naderby te bekyk. My huishulp vertel my toe die ander vrouens dink nie veel van my nie. Ek is glo ’n tert wat per ongeluk ’n ryk man gevang het met my grootstadse seksuele vernuf.” Sy sug weer. “Maar ag, ek gee nie regtig om nie. Ek was nog nooit onder die wanindruk dat ek beste maatjies gaan word met ’n spul ryk huisvrouens nie. Ek en Anna is groot vriende en dis genoeg. Anna is my huishulp. Sy’s nog al die jare hier.”

Lenta stap na iets wat lyk soos ’n interkom teen die muur. Dit is. Sy druk ’n knoppie.

“Anna, kom ontmoet vir Maggie Greene, die nuwe buurvrou.”

“Ek sal later kom, my storie is aan,” kom die antwoord oor die interkom.

Lenta gaan sit by die toonbank met haar glas wyn. “Sy kyk 7de Laan. Sit, dan gesels ons bietjie. Die kos gaan nog so ’n rukkie wees.”

“Wat maak jy? Dit ruik baie lekker.” Ek haat niks meer as om stiltes te probeer opvul met iemand wat ek nie eintlik ken nie.

“Gebakte roosmaryn-en-appelkoos-hoender met aart­appels, ’n spinasietert en pampoenkoekies. Kook is baie terapeuties, soos tuinwerk. Ek sal môre spog met my groentetuin. Dis nou ’n bietjie donker.”

Ek wonder waarvoor het sy al die terapie nodig.

“Is jou man ’n chirurg?” vra ek toe die wyn my die moed gee om nuuskierig te wees.

“ ’n Wat? O nee!” lag sy. “Hy is ’n doktor in tale en letter­kunde. Dis hoekom hy so baie weg is van die huis af. Alewig besig om een of ander groep mense toe te spreek of te werk aan ’n handleiding of iets. Hy werk nou al vandat ek hom ontmoet het aan sy eie boek, maar ek glo nie dit sal ooit klaarkom nie. Hy ken te veel mense wat dink hulle is slim en hy is bang vir die kritiek wat op ’n boek sal volg. As mens jou lewe lank vir ander leer hoe om ’n ding te doen, verwag hulle soveel meer van jou.”

Die agterdeur gaan oop en ’n ouerige vrou stap die kombuis binne. Sy is geset en dra ’n kamerjas, pantoffels en kopdoek. Dit lyk of sy die wêreld se sorge ken.

“Ek hoop sy’t gebieg oor hoe sy vir jou dophou met daai verkyker van haar. Asof sy nie genoeg ander dinge het om haar hande besig te hou nie,” glimlag die vrou vriendelik vir my.

Ek knik. “Sy het, ja. Ons het toe sommer my kombuisgordyne opgehang.”

“Jy moet maar liewer al die vertrekke doen. Hier sal jy sien dis soos Fort Knox. As daai blackout-gordyne toegetrek is, kan niemand niks van die onheilighede in hierdie huis sien aangaan nie.”

“Ag toe nou, Anna. Die kos is reg, wil jy nou eet?” vra Lenta.

Anna ignoreer die vraag. “Sy maak my mal! Alewig aan’t werk of lees of leer. As sy net êrens wil inskryf het sy al sewe grade gehad, maar nee! Sit hier by die huis soos ’n uil op ’n kluit en dryf my die mure uit. Laasmaand was dit verf, weet jy hoe sukkel mens om daai goed uit ’n mat uit te kry? Voor dit was dit bouplanne teken, die hele huis vol opgefrommelde stukke papier. Sy was selfs al met chemicals doenig daar in die boonste vertrek,

hemel alleen sal weet watse bom sy besig was om te bou, dit het my dae gevat om daai stank uit die huis uit te kry.” Anna stop vir asem.

Dan: “Sy hou mos vir haar te goed om met die ander meisiekinders op die dorp te meng. Plaas sy net daai blinde oog waaroor sy ewig aan’t praat is daar ook inspan. Ek’s sommer bly om jou hier te hê, mevrou Greene. Sy moet van jou hou om jou te genooi het.”

“Hel, Anna, het jy al weer in die wyn ingevaar?” vra Lenta ongeduldig.

“Jirre, as ek maar het. Skink sommer vir my ’n groot glas, ek het dit nodig na al daai bloedlappe wat ek vanmiddag moes spoel.”

Dis natuurlik mý vadoeke waarvan sy praat, besef ek toe ek ’n vinnige kyk tussen hulle vang.

“Moet ék vir jou skep of gaan jy?” vra Lenta kwaai.

“Ek sal skep, skink jy die wyn. Ek gaan in my woonstel eet vanaand. Ek’s nie lus om hier binne opgesaal te wees nie. Nou nie jý nie, mevrou Greene, ek praat van dié een,” wys Anna vinger na Lenta.

Ek wonder hoekom die atmosfeer so skielik dik geword het tussen die twee. Mens kan sien hulle ken mekaar al lank.

Toe Anna met haar skinkbord uitstap, begin ek en Lenta opskep.

“Dit lyk baie lekker, dankie,” sê ek.

“Ag, dis ’n plesier. Jammer oor Anna so beneuk was. Sy’s eintlik die wonderlikste mens. Ek was van plan om self daai vadoeke uit te spoel, maar sy’t hulle gekry voor ek daarby kon uitkom. Ek was besig om vir myself steke in te sit in die bokamer.”

“Steke?”

“Ja, steke. Net drie.”

“Hoe weet jy hoe om steke in te sit? En hoe diep is daai sny?”

“Ek het opgelees oor die steke, en die sny is nogal dieperig. Ek het jou mos gesê dit was een van daai Minora-blade-skeermesse. Daai goed is gevaarlik.”

“Hoekom nie net dokter toe gaan nie?”

“Ag, ek het jare terug opgelees oor die steke en ek het daai tyd ál die toerusting daarvoor gekry. Hoekom dokter toe gaan as jy dit self kan doen?”

Wel, wie is ék om te sê dis verkeerd om jou eie steke in te sit? As sy die maag daarvoor het, is dit seker maar reg.

Ons gesels land en sand tot amper middernag. Ek vra vir Lenta of sy my die dorp sal gaan wys en sy stem in. Dis nou as ek haar senuwees ná die tyd met ’n gin en tonic gaan kalmeer by die enigste restaurant waar mens glo jou voete sit.

Toe ek by die huis kom, lê Dolly voor die TV en kyk ’n heruitsending van Frasier. Ek is bly daar’s net ’n paar plasse in die gang. Ek was nie seker of ek haar so lank alleen kon los nie.

“Ek het vir jou ’n paar lekker stukkies hoender gebring,” lok ek haar kombuis toe.

Toe ek die vleis in haar piering op die vloer neersit, besluit ek om haar te leer om toertjies te doen. Dit kan nie só moeilik wees nie.

“Sit, Dolly.” Dis hoe hulle altyd in die flieks begin.

Sy gaan sit.

“Staan,” beveel ek. Dalk was die sit net ’n gelukskoot. Maar sy staan.

“Rol om.” Nou begin ek hoop dat sy nié kan nie.

Maar sy kan.

Dolly behoort aan iemand. Iemand wat genoeg met haar gespeel het om vir haar truuks te leer.

Terwyl sy eet, bekyk ek haar van ’n kant af. Haar eienaar kan nie só vreeslik lief vir haar wees as iemand nog nie na haar begin soek het nie. Aan die ander kant, al soek die hele dorp na haar, sal ek seker nie daarvan weet nie.

Ek wil nie vir Dolly verloor nie. Buiten ’n moontlike

familie rotte, is sy die enigste ander warm asem in hierdie huis. Sy moet bly.

My selfoon het nog heelaand geen geluid gemaak nie, maar ek haal dit uit my handsak en kyk om seker te maak. Niks. Nie ’n boodskap, ’n missed call, ’n voice mail of eers ’n please call me nie. Niks.

Dalk het Kobus vergeet om vir Mark die boodskap te gee. Maar al het hy . . . sekerlik moes Mark al op eie stoom wóú bel? Of dalk het hy weer vergeet. Van my.

Dit laat my sommer weer huil dat ’n vierduim plas om my vorm.

Darem het ek nou vir Lenta hier op Voortrekkersrus. Iemand is beter as niemand, al kyk sy deur ’n verkyker hoe ek koek met my hande eet terwyl die snot spat. Dalk word sy nog vir my ’n Talia. Iemand saam met wie ek kan oud word op ’n stoep in Wapadslaan terwyl ons mans in die verte woeker om ons in ouvroudoeke te hou. Iemand wat help om my te laat vergeet van al die dinge wat ek uit ’n ander, beter huwelik onthou.

Die oggend net ná nege lui my selfoon uiteindelik. Maar dis nie Mark nie, dis sy walglike ma.

“Hallo, Maggie, dis Ma.”

Sy klink uitasem en die hel in. Sy klink altyd so.

“Hallo.” Ek vermy die ma-besigheid, dit maak my naar.

“Ek het nog nie ’n woord van jou gehoor vandat jy op Voortrekkersrus aangekom het nie.”

Met rede. “Jammer, ek is baie besig om die huis agtermekaar te kry.”

“Dis nie ’n verskoning nie, mens maak tyd vir jou familie. Ek hoop jy probeer darem hierdie keer harder om vriende te maak. Dis vir Mark baie moeilik as jy aanhoudend neul oor hoe eensaam jy is. Het jy al moeite gedoen om ’n paar kennisse te maak?”

“Net my buurvrou.” Om drama te spaar noem ek eerder nie vir arme Anna nie.

“Wat is haar naam?”

“Lenta.”

“Dis ’n vreemde naam. Maggie, sy’s nie ’n . . . ’n KLEURLING nie?”

Ek is seker ek het my al elke moontlike moordmetode met hierdie vrou verbeel. Dalk is Mark in die hospitaal omgeruil as baba.

“Nee, sy’s wit. Spierwit soos sneeu.”

“Moet jou nou nie weer opruk nie. Jy weet Ma wil net die beste vir jou hê,” sug sy.

My oprukkerige dae is lankal verby. Daar is geen salf te smeer aan Mark se ma nie. Haar antisosiale neigings is maar net een van die vele dinge waaraan ek gewoond moes raak.

“Moet Ma vir jou ’n teetjie koerier? Jy klink gedaan.”

Gedaan vir jou kak, ja.

“Nee, dankie. Ek is glad nie moeg nie. Ek voel eintlik wonderlik uitgerus.”

Spaar my tog die tuisgemaakte tee.

“Ek hoop nie jy sit heeldag en niks doen nie? Jy moet jouself besig hou in die huis, anders gaan jy begin sleg voel. Mark het lanklaas ’n mooi huis gehad en jy hét mos nou tyd op jou hande. Jy kan selfs begin om ’n bietjie naaldwerk te doen, en ek kan vir jou resepte stuur as jy wil konfyt kook en inlê?”

As ek nou lieg en vir haar sê ek het ’n huishulp gekry, sal sy dood neerval in haar blompatroon-hakskoentjies. Dan is één probleem darem opgelos.

Ek kies ander, minder noodlottige leuens.

“Ek het tyd vir niks meer as wat ek reeds doen nie. Ek het ’n groentetuin en ’n blomtuin begin en saans brei ek serpe vir die weeshuis, terwyl ek soggens kerspitwerk doen vir kussings in die gastekamers. Daar is nie meer plek vir ’n enkele bottel konfyt in die spens nie.”

Eers toe dit alles uit is, besef ek hoe waansinnig dit klink, maar die vet liegstorie hang skaars ’n oomblik tussen ons.

“Dis nou net wat ’n ou vrou so vroeg in die môre wil hoor,” antwoord sy. “Ek kan nie wag om te kom kyk wat jy alles gedoen het nie. Ek hoop om teen September ’n tydjie te kan maak om te kom kuier.”

My hart sak tot diep in my pantoffels. Op hierdie sta­dium sal ’n kuier van my skoonmense my in ’n wit baad­jie met baie lang moue laat beland.

Boonop gaan ek nog moet begin tuinmaak en bottel voor September kom. Skaamte val soos ’n kleed om my skouers. Elke blom wat ek plant en elke bottel wat ek was sal ’n deel van my siel wees wat ek aan Heleen Greene oorhandig. Want plant sal ek plant en was sal ek was om haar stil te hou. Ek twyfel nie vir ’n oomblik dááraan nie.

September is darem nog ver.

Anderkant die spieël

Подняться наверх