Читать книгу Anderkant die spieël - Melissa Scharneck - Страница 8

Wat nou met die wasbak . . .

Оглавление

In die oggend lyk alles beter. Of dit nou beter is of nie.

Toe ek wakker word op die matras in die sitkamer, besluit my rug en knie om vandag die slaapkamer uit te sorteer. Volgens die feng shui-ery speel dit ’n groot rol in my liefdeslewe – of die afwesigheid daarvan. Die slaap­kamer en die kombuis. Die slaapkamer, omdat dit is waar die gemiddelde getroude paartjie hulle ding doen. Die kombuis, omdat die huis so gebou is om dít my love corner te maak.

Reg waar die wasbak staan, is glo waar die fokus op die liefde moet wees. Van wat ek lees, verstaan ek water is baie sleg in hierdie area. Dalk is die noodlot besig om speletjies met my te speel. Mark se kop sal soos daai meisietjie in The Exorcist s’n 360 grade in die rondte tol as ek moet sê ek wil ’n sak vol geld daaraan bestee om die wasbak te skuif sodat ons tog net asseblief met ’n blou maan (saam) kan kom.

Dolly gaap ’n kreunende gaap ’n paar sentimeter links van my gesig. Hondeasem ruik nie so erg as wat mense sê nie. Natuurlik tel die waterblommetjiebredie wat sy vir aandete gehad het in haar guns. Wou nie haar mond aan die hondekos sit nie. Dis goed so. As ’n mens (of ’n hond) nie kieskeurig is nie, bevind jy jouself dalk met ’n bord vol van iemand anders se kouseltjies.

“En wanneer ek klaar is, gaan ek dorp toe. Ek moet uitkom. Die ellendige huis is besig om deur my lyf te trek soos ’n siekte.”

As ek nie met die hond praat nie, praat ek met myself. Binnekort praat ek dalk met die mure soos Shirley Valentine. Dis ’n entertaining vrou daai, fiktief ofte nie. As ons almal die eierstokke gehad het om ’n tas te pak en in Europa te gaan vakansie hou, was ons stories dalk ook skreeusnaakse verhoogstukke, maar die deursneevrou ploeter net.

Ek stoot die agterdeur oop, maak seker die veiligheidshek is gesluit. Ek sit die ketel aan en skep twee bakkies oorskiet op, een vir my en een vir Dolly.

“Ploeter,” sê ek die woord hardop.

Dis ’n irriterende woord. My onderwyser in standerd vier, meneer Coetzee, het gesê ek ploeter deur my werk soos ’n varkie deur modder. ’n Regte ou doos, as jy my vra. Altyd iets gehad om te sê. Hy het ’n olierige comb-over gehad.

Ek wonder wat hy sou sê as hy kon weet ek het self in ’n wiskundeonderwyser ontaard. ’n Hoërskool-wiskunde­onderwyser, glimlag ek.

Mevrou Greene. Die wiskundejuffrou.

Wat ’n flater was dít nou nie (die wiskunde én die mevrou). ’n Grafiese ontwerper met wie ek eenmaal te doen gehad het, het gesê: “Just because I’m good at it, doesn’t mean I enjoy it.” Dit beskryf my hele loopbaan – en my huwelik.

Toe ek met hoërskool begin, het die wiskunde mooi in plek geval en ek was goed daarin. Van daar het die een ding na die ander gelei en toe ek op ’n dag besef die meeste mense, behalwe onderwysers, kry net drie weke vakansie ’n jaar, was die keuse voor die hand liggend.

“Dink jy as ek iemand op straat vra om met my te kom praat terwyl ek uitpak, sal hulle dink ek’s gevaarlik, Dolly? Ek kan die stilte nie meer verdra nie. Ek hunker na ’n ander stem, ’n antwoord.”

Sy volg my die hele huis deur. Altyd so twee mensetree agter my tot ek in ’n kamer tot stilstand kom, dan vind sy ’n gemaklike plek en kyk wat ek doen. Snaakse hond.

“Ja, dit sal seker te vreemd wees. Ek wens ek kon ’n huishulp kry. Dink nou al ’n lang ruk daaroor. Maar Mark se ma is mos ’n vieslike ou rassis. Sy verbied dit, en ek het eers ná ons troue uitgevind hoe bang Mark vir sy ma is. Dalk nie soseer bang nie, maar daai naelstring is nooit geknip nie. Mark self is sosiaal heeltemal goed aangepas, maar hy staan haar nooit teë wanneer sy begin met haar praatjies nie.”

Ek gaan sitkamer toe en sleep die reusematras met moeite tot in die slaapkamer. Dit plof swaar op die onderstel neer. Teen vanaand gaan ek ’n Voltaren-inspuiting nodig hê.

“En ek sal half skuldig voel teenoor die huishulp. Sy sal natuurlik geen idee hê dat ek eintlik geselskap verwag nie. Om nie te praat van wat sal gebeur as die Greenes ’n slag kom kuier nie. Ek kan geen mens daaraan blootstel nie. Ek kan skaars mysélf daaraan blootstel sonder ’n doktersbesoek.”

Ek pak my klere uit, skuif die bedkassies reg en maak volgens die feng shui-riglyne seker die bed staan ver genoeg van die deur af, ook nie oorkant die deur of onder ’n venster nie. Check, check, check. Spieëls moet glo nie na die bed wys nie, anders verteenwoordig hulle ’n derde party wat op jou huwelik inloer. Soos ’n affair. In al ons vorige huise was daar ’n spieël in die slaapkamer en sover ek kan onthou, het dit nog altyd min of meer op die bed gekyk . . . Behoed sy siel as Mark tyd maak vir ’n verhouding met iemand anders terwyl hy skaars een met my kan hê.

Ek sal die lang slaapkamerspieël iewers anders moet hang.

Daar’s nogal baie dinge met spieëls, dalk moet ek hulle eers in die garage hou. Tot ek genoeg van feng shui weet om seker te wees wat ek met hulle moet doen. Ek kyk in elk geval deesdae eerder nie in myself vas nie. Ek het ’n paar kilogram verloor en die fyn lyntjies om my oë lyk al minder fyn. Om nie te praat van my wenkbroue wat binne­kort soos ’n kuif gaan lyk nie.

Arme Mark, dis ook dalk hoekom hy nie baie huis toe kom nie. Ek moet myself regkry voor die naweek. Iewers op hierdie dorp is daar darem seker iemand met ’n pot warm wax en ’n sadistiese streep. Ek glo nie daar is ’n enkele skoonheidsterapeut wat nie heimlik daarvan hou om te sien hoe trane in mense se oë opwel nie.

Ek trek die feng shui-boek nader. Okay, fokus nou. Clear away all clutter. Check. Ek sal net niks van die stront by die slaapkamer indra nie.

Van so vinnig deur die boek blaai, kan ek sien clutter is nie juis die in-ding wat feng shui betref nie. Ek sal moet besluit wat ek met al die goed gaan doen wat ek hierheen saamkarwei het. Ek wonder of die spens tel as ’n area wat clutter-free moet bly? As ek die goed baie styf in bokse druk, pas dit dalk als in die spens. Dan kan die res van die huis darem reg wees.

Place objects in pairs of two. Ek pak twee groot houtkersblakers uit en sit dit op ’n kassie in die hoek van die kamer. Houtgoed fuel ook glo “the fire of love”. Ook twee kleipotjies op ’n groter kas. Check.

Pictures on the walls should not depict sad or lonely images. Hmmm, soveel vir my fliekposter van Elizabeth. Arme donnerse vrou, geklee in ’n veguitrusting, alleen op ’n perd. As dit nou nie ’n direkte verwysing na my liefdeslewe is nie, sal daar nooit een wees nie. Sy sal moet gaan. Sit­kamer toe, of dalk ook sommer spens toe.

Ek hang eerder ’n kleihart met twee duifies wat vir mekaar koer teen die muur op.

Beautify the room to reflect the beauty you want from the relationship. Check. Ek dink die kamer lyk mooi, maar net vir die wis en die onwis gaan haal ek twee baie mooi porseleinhouertjies en pak hulle ook uit. En ’n matjie aan die voetenent van die bed.

Ek wou altyd ’n mooi liefde hê, ’n mooi storie waarop ek trots kan wees. Iets wat ek kan oorvertel. Nou sit ek met ’n ding wat ek skaars aan myself kan erken.

“Mooi, nè?” sê ek vir Dolly, maar dié het jou waarlik verdwyn.

Ek wonder nog of sy ’n plek soek waar sy vir my ’n stink verrassing kan los, toe ek ’n geweldige slag in die huis hoor. Ook nie net een slag nie. Ná die aanvanklike Groot Een volg daar ’n rits kleineres. Dit klink of die Filistyne my uiteindelik gevind het.

Ek draf deur die huis. In die kombuis sien ek wat die kabaal veroorsaak.

Dolly het ’n klomp potte van die kombuistafel af gespring. Hulle lê soos gevalle vegters oor die vloer gestrooi terwyl sy ’n rot in die hoek vaskeer.

Van skok is ek bo-op die kombuistafel voor sy of die knaagdier kan beweeg. Dis ’n meneer van ’n rot, amper so groot soos Dolly self.

“Kom hier, daai ding sal jou opvreet!” gil ek, maar die tefie staan sterk en die rot lyk by die sekonde gevaarliker.

“Dolly!” roep ek weer, maar sy hou haar doof.

Ek tel ’n pan wat die aanval oorleef het van die tafel af op. Sal ek die rot daarmee gooi? Nee, netnou tref dit vir Dolly.

Die voordeurklokkie lui.

“Help!” skree ek.

Ek weet presies hoe pateties ek in my pajamas op die kombuistafel lyk, knieë lam van vrees vir ’n dier so groot soos my voet, maar ek gee nie om nie. Niks behalwe daai enorme rot maak regtig saak nie. Dit moet WEG!

“Help!” skree ek toe die klokkie ná ’n lang ruk weer lui.

“Wat gaan aan?” skree ’n vrouestem terug.

“Kom om die huis, na die kombuis toe, asseblief!”

Ek kan nie van die tafel af klim om te gaan oopsluit nie, ek sal maar van hier af die sleutels moet gooi. Gelukkig is hulle nog in my broeksak. Laat sy tog minder van ’n lafaard wees as ek, bid ek. En laat sy kóm.

Dolly en die rot staan nog stokstyf gevries in hulle posisies. Ek hoop die vroumens kan die rot verwyder, of vinnig iemand kry om dit te verwyder. As die ding wegkom en ek weet nie waar dit is nie, maak ek nooit weer ’n oog in hierdie huis toe nie.

“Wat gaan aan?” kom die stem uitasem van my agterste veiligheidshek af.

Ek kan die mooi jong gesiggie van ’n blonde vrou so half en half deur die hek sien. Ek gooi die sleutels vir haar.

“Hier’s ’n moerse rot, my hondjie het hom vasgekeer. Asseblief, help tog om die ding hier uit te kry,” stamel ek angstig.

“Maak toe jou oë!” skree die vroutjie met die instap en lig ’n geweer op.

“Wat de hel gaan jy . . .”

“Maak toe!” skree sy my stil en ’n skoot gaan af.

Dolly gee ’n tjank en verdwyn in die gang af. Die rot lê so dood soos morsdood kan wees en ek is so na aan pee in my broek as wat ek al ooit was.

Die vroutjie kyk nog ’n rukkie na die rot en sit die geweer op die tafel naby my voete neer. “Dekselse pes hier rond. Ek hoop jy’s nie die no-cruelty-to-animals-soort nie? In elk geval is ’n geweerskoot darem genadiger as gif.” Sy staan en kyk na die bloederige hopie op die vloer. “Ek gaan ’n skoppie nodig hê om dit hier uit te kry.”

Ek kan haar nie antwoord nie. My mond hang oop en dit voel asof ek nog steeds besig is om in Alice se hasegat af te val. Alice op acid, ná ’n vyfliter-dooswyn – die soet soort.

“Shame, post-traumatic stress,” sê sy en hou haar hand na my uit. “Kom, jy kan nou maar afklim. Ek dog jy word verkrag of iets, toe hardloop ek gou huis toe om die .22 te kry. Ek bly net hier langs jou, my naam is Lenta.”

Dank die hemele sy loop nie elke dag met ’n wapen rond net vir ingeval nie.

My buurvrou kan skiet. ’n Snaakse tipe verligting sink met dié gedagte by my in.

Sy maak haar handsak oop en haal ’n pillehouer uit.

“Dè,” sê sy en stop drie in my hand.

Ek sluk net, vra nie of dit tik of Prozac is nie.

Dan begin sy rondkyk. “Waar’s daai hondjie van jou? Dan kan ons hom ook een ingee. Moenie worry nie, dis net Rescue Remedy. Heeltemal natuurlik. Ek glo nie in al daai chemicals nie. Dit maak jou oud voor jou tyd. Kom, honne, kom na tannie Lenta toe!” roep sy in die gang af.

“Haar,” hoor ek my stem kraak.

Lenta kyk na my. “Hoe nou?”

“Haar. Dis ’n tefie. Haar naam is Dolly.”

’n Klein glimlaggie verskyn om haar mondhoeke en ek wonder of sy ook dink die naam Dolly is skurf. “Dolly! Dolly!” roep sy. “Het jy ’n stukkie kos waarin ek die pil kan wegsteek?”

“Is dit nie gevaarlik nie?”

“Nee wat, my Roxy is al amper twaalf en sy kry ten minste een maal ’n week ’n Rescue in ’n stuk droëwors. Sy’s oulik. Omtrent joune se grootte. Kan dit nie verdra as sy dink iemand gaan my seermaak nie. Ons moet kyk of hulle sal saam speel.”

Sy’s soos ’n warrelwind, besef ek toe die pille begin werk en ek haar behoorlik kan bekyk. My brein was op ander dinge gefokus toe sy ’n rot met ’n .22 in my kombuis skiet.

Sy is regtig mooi. Een van daai baie maer, baie kort tipes. Jonk ook, ek skat haar in haar laat twintigs, ’n goeie tien, vyftien jaar jonger as ek, en ná ’n kas bier weeg sy dalk vyftig kilogram. Nog soveel tyd . . .

Iewers het sy ’n skoppie uitgekrap en sy is besig om die rot bymekaar te vee.

“Waar bly jy?” vra ek toe ek uiteindelik op ’n kombuisstoel neersak.

“Hier langsaan, daai kant van jou,” beduie sy en sit die ketel aan. “Jammer ek kom nou eers hier uit. Ek was bietjie siekerig die laaste twee weke, so ek het my maar stil gehou. Gister deur die venster gesien hoe jy na jou huis staar met ’n stuk papier in die hand. Gaan julle aanbou?”

Ek het gewéét iemand kyk na my.

“Nee, dit was ’n bagua map.”

Ek voel nie lus om te verduidelik nie, maar gelukkig lyk dit onnodig.

“O wee. Kid yourself not, vriendin, daai nonsens werk nie. Ek het al alles probeer. Jy kan ’n kristal in jou man se hol opdruk en dit sal nog steeds nie jou huwelik beter maak nie.”

Liewe land.

“Wat laat jou dink daar’s probleme in my huwelik?” Voor-op-die-wa-aantygings, sommer so met die intrapslag.

“Watse normale Afrikaanse vrou peuter met allerhande vreemde Oosterse nonsens as daar nie iets skort met haar liefdeslewe nie? Anders is dit sekerlik geld. Maar as jy hiér bly, is jy beslis nie arm nie. Of is ek verkeerd?”

Sy is nie verkeerd nie. Sy’s so reg dit irriteer my.

“Dis nie geld nie. Ook nie juis my huwelik nie,” antwoord ek uiteindelik.

“Nie juis nie?”

“My man werk baie weg van die huis af, dis al. Ek mis hom.”

Ek sal nooit my boeke duister kan hou nie. Dalk is dit een ding wat ek en Juliet in gemeen het.

“O hel, ek was nie eers seker of jy getroud is nie. Was die ou al enigsins hier?”

Ek word duidelik met ’n valkoog dopgehou deur die kantgordyne.

“Net die eerste dag vir ’n kort rukkie, maar hy het nog nie hier geslaap nie. Hy kom die naweek huis toe. Daar’s probleme by een van sy kantore en . . .”

Sy hou haar hand op. “Jy hoef nie aan my te verduidelik nie, regtig. Ek’s net so dikwels alleen en ek gaan beslis nie elke keer ’n storie spin om die goeie doktor soos ’n saint te laat lyk nie. Ek weet nie wat hy doen of waar hy dit doen nie, solank hy dit met ’n kondoom doen, is dit nie my saak nie. Dis maar die prys wat mens betaal as jy trou vir geld, daai een oog wat blind word.”

“Nee!” sê ek. Ek weet nie waar om eerste te begin vure doodslaan nie. “Mark is nie besig met ’n ander vrou nie, regtig. En ek het nie met hom getrou vir sy geld nie. Ek is baie lief vir hom, en hy vir my. Dis glad nie soos jy dink dit is nie.”

Sy kyk na my asof ek effens dom is, maar die kyk word darem gou met ’n glimlag vervang.

“Dis wonderlik, ek’s bly vir jou. Die De Waals het in elk geval meer as genoeg streke vir een straat om mee te cope,” sê sy toe sy vir my ’n koppie tee aangee.

Dis baie soet. Sy het nie eers gevra of ek suiker en melk wil hê nie, maar ek is bly. Die trauma van haar geselskap is amper groter as die afvuur van die .22.

“Wie is die De Waals?” vra ek deurmekaar.

“Óns, man. Ek en oom Doktor langsaan.”

“Hoekom noem jy hom oom Doktor?”

“Want hy ís ’n oom. Stokoud, maar ons is al vir donkiejare getroud, so ek gee nie meer soveel om nie. Hy gee nie om om sakke vol geld te oorhandig wanneer ek dit nodig het nie, en ek gee nie om om hom toe te laat om ’n bietjie weird te wees nie. Maar soms maak hy my sommer deksels kwaad, dan praat ek lelik van hom. Verskoon tog, hy’s eintlik ’n sweetheart.”

“Hoe weird?”

“Ag, niks te besonders nie. Hy’s maar net ’n snaakse ou dier. An acquired taste. Maar genoeg nou daarvan,” sê sy en begin deur haar trui aan haar arms krap. “Ons moet hierdie kombuisgordyne van jou gehang kry. Toe jy gisteraand daai koek met jou hande eet, kon ek alles sien en mens wil nie altyd hê jou bure moet weet jy kan vingeralleen enorme dele van ’n onskuldige Black Forest-koek wegpak nie.”

“Hoe kon jy sien?” vra ek geskok.

Sy wys met ’n maer vingertjie by die venster uit. “Kyk, daar is my slaapkamervenster.”

Ek kyk, maar dis baie ver weg. Die erwe in hierdie straat is almal groot.

“Dis baie ver . . .”

“Ek weet, ja. Ek moes my verkyker gebruik om behoorlik te kon sien. Waar’s die gordyne?” Sy kyk na die spul bokse asof glibberige slange daaruit gaan spring.

Ek weet nie hoekom ek my nié vervies nie, maar ek doen nie. Dalk is ek net so dankbaar vir die geselskap dat dit die klein merrie se streke oorskadu. Daar is iets in haar waarvan ek hou. As al die mense op hierdie dorp soos Lenta de Waal is, gaan dinge dalk beter wees as wat ek verwag het. Dit sal beslis nie vervelig wees nie.

“Watse werk doen jy?” vra ek terwyl ons gordynringetjies inryg.

Sy lag. “Ek is Mevrou Doktor, dis al. Maar moenie jou misgis nie, ek is ’n genius. Net ’n arm genius, en dit maak ’n moerse verskil aan jou toekomsplanne. Ek praat ook nie van daai tipe arm van nie Nikes en designer-klere kan bekostig nie. Ek praat van die tipe arm dat ek op veertien weggehol het van die huis af omdat my ma se boyfriends te veel met my gevroetel het. Sy’t nie gedrink nie, maar sy’t baie ander stront gebruik. Ek dink sy’s nou dood – ek het nog nooit lank genoeg teruggekyk om seker te maak nie. Dit was daai tyd al ’n wonder dat sy nog geleef het.”

Sy vat nog ’n hand vol ringetjies. “En wat doen jy?”

My kop voel dik en ek wonder of dit die buurvrou se Rescues of bloot die buurvrou se skuld is.

“Ek gee skool, wiskunde. Maar op die oomblik is ek werkloos.”

“Ek was mal oor wiskunde toe ek op skool was. Dis so ’n skoon, logiese vak. Dinge is óf reg óf verkeerd. Daar is net in wetenskap plek vir iets so mooi steriel. Die lewe is te morsig en vuil om eers ’n metafoor uit wiskunde aanmekaar te kan slaan. Iewers in daai sin stink tog ironie, of hoe?”

Haar brein spring van een ding na die volgende en alles gebeur heeltemal te vinnig vir my geRescuede kop. Sy put my uit, en vir die eerste keer vandat ek hierdie gypsy-lewe begin leef het, wens ek ’n buurvrou kan tog net resepte uitruil of iets. Praat oor ’n groentetuin of hoe om vlekke uit te kry.

“Is so, ja. Ek gaan die gordyne ophang. As ek op die toonbank onder die venster staan, sal ek kan bykom. As jy so gaaf sal wees om vir ons tee te maak?” vra ek.

“Ek sal. Hoe vat jy dit eintlik?” vra sy hierdie keer.

Eintlik vat ek dit swart en bitter, maar dis baie sleg. Ek weet nie hoekom ek dit so drink nie.

“Nes jy dit gemaak het is reg.”

Ek hang die geel gordyntjies en sy maak die tee en vir ’n salige tydjie heers daar stilte in die kombuis. Dolly se gesnork waar sy op haar kombersie lê, is die enigste geluid. Die arme hondjie was seker nog nooit so ontspanne nie. Ek vermoed Lenta het meer as een Rescue in daai stukkie oorskietvleis gedruk.

Toe ek van die toonbank af klim, sien ek ’n dun rooi streep op die teëls. Dit lyk na bloed en dit stop by Lenta se voet.

“Jy bloei!”

Sy kyk af na waar bloed deur haar kous syfer. “Ag hel, al wéér. Ek het my raak geskeer met een van daai donnerse Minora-blade-skeermesse. Reg op my hak. Die ding bloei nou al vir dae. Jy moet my badkamermat sien!”

Sy tel die voet met haar hand op tot dit amper voor haar gesig is om beter te kan sien. Ek wonder of sy ballet doen, of joga of iets.

“Ag jis, gee vir my ’n ou vadoek, ek sal vir jou een terugkoop.”

Ek gee vir haar ’n nuwe vadoek aan. Dis al wat ek het. Nuwe huis, nuwe vadoeke. Dis een van die min luukshede wat ek my vir my kombuis gegun het. As mens baie trek, koop jy na ’n ruk nie meer vir elke nuwe huis allerhande nuwe goed nie. Jy besef dat ’n nuwe blyplek nie ’n nuwe begin is nie.

Sy draai die vadoek met vaardige hande om haar regter­enkel. “Het jy nog een waarsonder jy vir die dag kan klaarkom?”

Ek gee nog een aan. ’n Heldergele waarvan ek eintlik baie hou.

Sy vee die bloed van die vloer af op, dan die paar druppeltjies wat op die kas gespat het toe sy haar voet so woes opgelig het. Dan sommer die rot se bloedspatsels in die hoek ook.

“Wat is jou naam?” vra sy.

“Maggie. Maggie Greene.” Ek voel half skuldig omdat ek my nog nie voorgestel het nie.

“Gaaf. Drink jy jou tee, Maggie Greene, dan gaan ek huis toe en begin met aandete. Kom so seweuur om, dan eet ons saam. Die doktor is ook weg tot die naweek.”

“Dit sal lekker wees, dankie.”

“Is jy allergies vir enigiets?”

“Nee, maar ek eet nie graag sprouts nie.”

Sy lag. “Wié hou regtig daarvan? Pretensieuse stronte.”

Ek wonder hoe oud sy is en hoe sy al vir donkiejare met die dokter getroud kan wees. Sy lyk jonger en jonger hoe meer ek van haar sien.

“Hoe oud is jy?” vra ek toe sy by die agterhek uitstap met die vadoek nog steeds om haar enkel. Dit moet seer wees, maar haar gesig wys glad nie dat sy bloei soos iets by die slagpale nie.

“Ek is sewe-en-twintig. En jy?”

“Een-en-veertig, gister. Hoe lank is jy al getroud?”

“Tien jaar volgende maand, maar dalk maak ons dit nie so ver nie, want ek sweer ek gaan daai ou nar nog in sy slaap doodmaak.”

Sy mompel die laaste sin, maar ek hoor dit tog.

“Hoe oud is hy?”

“Drie-en-vyftig.” Met dié stap sy weg.

Watse drie-en-veertigjarige dokter trou met ’n sewentienjarige? Ek hou sommer klaar nie van die man nie. Vieslike ou skepsel. Ek kan netsowel met ’n matrikulant gaan staan en trou, maar omdat ek ’n vrou is, sal ek beslis op So se voorblad beland – met ’n inlasfoto van die matrikulant toe hy in graad nege was.

Ek is bly die dokter is nie tuis nie. My sintuie is al so lank beroof van menslike kontak dat ek net een nuwe kennis per dag kan bemeester. As ek die man ook byvoeg, moet ek weer die kalmeerpille invaar voor slaaptyd.

Anderkant die spieël

Подняться наверх