Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 88

21 Maart

Оглавление

’n Deur van hoop

Lees Hosea 2:13-22

Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak. Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê […] Ek sal die Akorlaagte ’n poort na ’n nuwe toekoms maak. Dan sal sy weer my liefde beantwoord soos toe sy jonk was […] – Hos 2:13-14


Wanneer die profeet Hosea se vrou hom verkul, besluit hy om haar nog ’n kans te gee, pleks van haar haar verdiende straf te laat kry. Hy bring haar na die woestyn toe om haar weer die hof te maak. Hy wil vir haar die Akorlaagte (waar Akan ter dood veroordeel is – vgl Jos 7:24-26) ’n poort na ’n nuwe toekoms maak.

Volgens Die Bybellennium (p 1000) is die woestyn van ellende en pyn waarin jy jou bevind het, nie God se oordeel oor jou nie. Nee, die bedoeling daarvan was in werklikheid dat dit jou so moes omsluit dat daar vir jou geen ander wegkomkans was nie sodat jy in jou nood kon ontdek dat die dinge waarop jy nog altyd staatgemaak het, inderdaad waardeloos is. Jy moes eers ontdek dat jy van God alleen afhanklik is.

In die Mofat-vertaling van vandag se teksvers staan daar: “I will make the dale of trouble a door of hope.” God sal jóú ook help om jou aardse probleme só te hanteer dat hulle uiteindelik vir jou ’n deur van hoop sal word, ’n poort na ’n nuwe toekoms. Dit is juis ons swaarkry in die wêreld wat uiteindelik sal uitloop op die “heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly,” wat God vir sy kinders beloof (2 Kor 4:17).

Hemelse Vader, dankie dat my swaarkry ook vir my ’n deur na hoop is – daardie hemelse hoop wat U self vir my belowe, en wat vir altyd sal duur.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх