Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 87

20 Maart

Оглавление

God se plan

Lees Galasiërs 4:8-20

Julle onthou mos hoe dit gekom het dat ek die eerste keer die evangelie aan julle verkondig het. Dit was deurdat ek siek geword het – Gal 4:13


God se plan met ons lewe kom baie keer tot openbaring wanneer dit moeilik gaan. Hy gebruik teleurstellings om ons daardie plan te wys. “Teleurstelling is nie die lewe nie; dit is net ’n stasie langs die roete van die lewe,” is Ferdinand Deist se woorde in Die Groot Aanhalingsboek. “Teleurstelling is ’n geleentheid vir koersaanpassing – ’n aanpassing wat jou weer die regte perspektief op die lewe kan gee.”

Paulus het dit meermale reggekry om die slegte dinge wat met hom gebeur het óm te keer sodat dit vir ander mense tot voordeel strek. Paulus se siekte was die hoofrede waarom hy die evangelie aan die Galasiërs gebring het. Hierdie siekte het hom gedwing om tyd in Galasië deur te bring. Paulus gebruik sy siekte op ’n positiewe manier om mense by God uit te bring. Ook wanneer hy by ’n paar geleenthede in die tronk beland, vertel hy mense van Jesus en is sy tyd in die gevangenis ’n geleentheid vir mense om die evangelie te hoor en in Jesus te glo.

Siekte is altyd ’n traumatiese gebeurtenis vir elkeen. Tog kan die hospitaalsaal ’n plek wees waar jy kan getuig, waar jy vir ander mense iets kan beteken, vir hulle kan bid en hulle kan bemoedig. Soos Paulus kan jy negatiewe dinge in jou lewe op so ’n manier hanteer dat ander mense jou geloof sal kan sien en jy ook slegte dinge wat met jou gebeur sal kan gebruik om die evangelie uit te dra en God se plan met jou lewe te leer ken.

Hemelse Vader, help my asseblief om u plan vir my lewe in my teleurstellings te herken.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх