Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 72

5 Maart

Оглавление

Die Heilige Gees sug ook

Lees Romeine 8:26-30

Die Gees staan ons ook in ons swakhede by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie – Rom 8:26


Die derde sug waarvan Paulus skryf, kom van die Heilige Gees – Hy dra óns sugte na God se genadetroon. Hy pleit vir die gelowiges met “versugtinge wat nie met woorde gesê word nie”; die Heilige Gees vra dat God ons pyn sal raaksien. God hoor wanneer sy kinders sug. Hy luister ook na die versugtinge van die Gees, want die Heilige Gees pleit volgens die wil van God.

God weet ook van al die verskillende dinge wat jóú laat sug. Hy weet wanneer jy Hom op ’n spesiale manier nodig het. Jy hoef dus nooit depressief of wanhopig te wees nie. God se krag wat in die wêreld werk, is veel groter as wat ons besef. Dit is dieselfde krag wat Hy uitgeoefen het toe Jesus uit die dood opgewek is, skryf Paulus aan die gemeente in Efese (vgl Ef 1:19-20).

Ons weet al so ’n bietjie van die hemel wat vir ons wag omdat daar teksverse in die Bybel is waar die gordyn so effens weggetrek word, maar die Heilige Gees weet presies hoe dit gaan wees. En ek gee jou die versekering dat dit véél heerliker gaan wees as wat jy dit ooit in jou wildste drome voorgestel het. Om hierdie rede kan jy saam met Habakuk getuig: alhoewel alles op die oomblik so sleg lyk, sal ons nógtans jubel omdat God eendag alles vir ons sal nuut maak (vgl Hab 3:18).

Heilige Gees, ek loof U dat U by God vir my intree. Dankie vir die belofte dat ek ten spyte van al die dinge wat my laat sug, kan uitsien na ’n ewigheid saam met God.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх