Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 69

2 Maart

Оглавление

In hartseertye

Lees Job 30:20-31

“Ek roep na U om hulp, maar U antwoord my nie. Hier staan ek, maar U steur U nie aan my nie. Al wat vir my oorbly, is ’n treurlied op die lier, ’n lied van trane op die fluit” – Job 30:20, 31


Job verwerk sy eie stuk hartseer maar moeilik – in sy hartseertyd ervaar hy dat God Hom nie aan hom steur nie. Niemand hou van hartseer nie. Dit is niks lekker om te treur oor ’n geliefde wat jy verloor het, verhoudings wat skipbreuk gely het of mislukkings in jou eie lewe nie. Tog lui die tweede saligspreking: “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word” (Matt 5:4). Self het ek al baie maal ervaar dat hartseer my by God uitgebring het.

Wanneer Christene hartseer is, kan hulle aanspraak maak op God se troos en daardeur ontdek dat hartseer hulle net nader aan God bring.

“Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses,” getuig die psalmdigter (Ps 34:19).

Die Griekse woord vir troos is paraklein – ’n trooster is ’n parakletos, dié naam wat Jesus in Joh 14:16 aan die Heilige Gees gee (vgl 1933-vertaling). God se Heilige Gees in jou lewe sal jou nie net onderskraag in hartseertye nie, maar jy het ook die belofte dat eendag in God se nuwe wêreld, jou hartseer vir altyd verby sal wees, dat God daar self al jou trane sal afdroog.(vgl Op 21:4).

Laat God toe om jou in hartseertye te troos. Neem jou hartseer na Hom toe en hou vas aan sy belofte dat Hy uiteindelik jou hartseer van jou sal wegneem.

Heilige Gees, ek loof U dat U vir my ’n trooster is, en ek wil sommer nou aanspraak maak op die belofte dat al my hartseer eendag in u nuwe wêreld vir altyd verby sal wees.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх