Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 86

19 Maart

Оглавление

Leer uit jou mislukkings

Lees Matteus 13:53-58

En hulle wou niks van Hom weet nie. Jesus sê toe vir hulle: “ ’n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring.” Vanweë hulle ongeloof het Hy daar nie baie wonderwerke gedoen nie – Matt 13:57-58


Jesus het waarskynlik met groot opwinding na die dorp gegaan waar Hy grootgeword het. Hy het immers die inwoners van jongs af geken. Maar die mense van Nasaret luister nie na Hom nie. Hulle wou niks van Hom weet nie, sê vers 57. Alhoewel hulle verbaas was oor Jesus se kennis, wil hulle weet waar Hy die wysheid vandaan kry en waar sy vermoë vandaan kom om wonders te doen. “Is hy dan nie die timmerman se seun nie? Is sy ma nie Maria en sy broers Jakobus, Josef, Simon en Judas nie? En sy susters, is hulle nie almal hier by ons nie? Waar kry hy dan al hierdie dinge vandaan?” vra hulle (Matt 13:55-56).

Jesus moes baie teleurgesteld gewees het oor die reaksie van die mense van sy tuisdorp. Vanweë hul ongeloof het Hy ook geen wonderwerke in Nasaret gedoen nie. Alhoewel die mense van Nasaret Jesus weggewys het, doen Hy van sy grootste wonderwerke onmiddellik hierná. Hy gee vyf duisend mans, afgesien van die vroue en kinders, kos met vyf broodjies en twee vissies, loop op die see en maak baie siekes gesond. Jesus laat Hom nie deur mislukkings en teleurstellings onderkry nie. Jy mag ook nie. Leer uit jou mislukkings en oorkom jou teleurstellings. Dan sal jy ook die krag ontvang om daarna net beter te presteer.

Here Jesus, ek besef nou dat U ook soms die wind van voor gekry het. Help my om my teleurstellings en mislukkings as ’n leerskool te gebruik en nie bang te wees om wéér te probeer nie.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх