Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 65

29 Februarie

Оглавление

Sonder liefde kan dit nie!

Lees 1 Korintiërs 13:1-13

En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde! – 1 Kor 13:13


Madeleine L’Engle vertel dat sy op ’n biblioteekkonferensie deur een van die bibliotekaresses gevra is watter ding sy in die verloop van haar huwelik gedoen het wat die beste was vir haar kinders. “Ek is lief vir my man,” het Madeleine sonder om te dink geantwoord.

Liefde bedek ’n menigte sondes. Opregte liefde maak ’n huwelikspaar bereid om mekaar se foute oor te sien, nie boek te hou van die kwaad nie, om mekaar weer en weer te vergewe.

En Jesus vra van jou om jou man so lief te hê soos Hy jou het. Miskien klink dit vir jou onmoontlik – eintlik is dit! Maar God kan jou léér om op hierdie manier lief te hê. En as jy Hom vra, sal sy Heilige Gees dit vir jou moontlik maak.

Jesus se hele boodskap wat Hy op aarde kom aflewer het, het op die beginsel van onvoorwaardelike liefde berus. Ons skuld mekaar niks nie, net die liefde, skryf Paulus aan die gemeente in Rome. Wanneer ons mekaar liefhet, voer ons die hele wet van God uit (vgl Rom 13:8). Hierdie liefdeskuld behels liefde vir mekaar én liefde vir God.

Jy kan leer om in Jesus se voetspore te stap, om sy liefdesgebod na die letter in jou eie huwelik uit te leef. Hy sal jou deur sy Heilige Gees help om dit reg te kry sodat jou huwelik ’n bewys sal wees van daardie liefde.

Here Jesus, U het ons kom leer wat liefde behels. Maak dit vir my moontlik om vir U, elke ander mens, maar veral my huweliksmaat met hierdie onselfsugtige liefde lief te hê.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх