Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 55

19 Februarie

Оглавление

Ai, die liewe geduld!

Lees Kolossense 3:12-17

Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe – Kol 3:13


Paulus vra mooi dat die gemeente van Kolosse bereid sal wees om geduldig met mekaar te wees en mekaar te vergewe. Sommige van ons het baie meer geduld as ander. En álmal van ons raak by tye baie ongedurig met ons huweliksmaat. Wanneer dit gebeur, behoort ons gewillig te wees om geduld aan die dag te lê en te vergewe.

As jy maklik ongeduldig of geïrriteerd raak, is dit goue raad om eers tot tien te tel wanneer jy kwaad is voordat jy vir jou man dinge sê waaroor jy later vir altyd spyt gaan wees. (As jy báie vies is, tel tot honderd!) Die Griekse woord wat in ons Bybel met “geduld” vertaal word, beteken eintlik om iemand nóg ’n kans te gee. Maak dit ’n lewenswyse om nie jou geduld met jou man te verloor nie, maar om hom elke keer nóg ’n kans te gee as hy teenoor jou fouteer. Dis maklik om dit reg te kry as jy aan al die baie kere dink wat die Here dit met jóú moet doen! “Gee mekaar ’n kans sonder om mekaar met kritiek uitmekaar te skeur. Kyk ook by mekaar se foute verby. Die Here het immers by al jul foute verbygekyk. Daarom word niks minder van julle verwag nie!” lui vandag se teksvers in Die Boodskap-vertaling.

’n Gelukkige huwelik bestaan uit twee vergewers, sê die bekende huweliksraadgewer Arnold Mol. Wees altyd bereid om jou man te vergewe as hy foute maak.

Hemelse Vader, U is so oneindig geduldig en vergewensgesind met my. Help my om op dieselfde manier teenoor my huweliksmaat op te tree.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх