Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 64

28 Februarie

Оглавление

Sê éérste jy’s jammer!

Lees Jeremia 42:19-22

Toe sê Jeremia vir hulle: “Weet vir seker, ek waarsku julle vandag, julle maak ’n fout!” – Jer 42:19-20


Jeremia is hier besig om ’n ernstige waarskuwing aan die volk te rig: Hulle mag nie na Egipte toe gaan soos hul voorneme is nie, dit sal ’n groot fout wees. Ongelukkig luister die volk nie na die profeet se waarskuwing nie, met noodlottige gevolge.

Juis ómdat ons sondig is, maak ons almal foute. Ons behoort hierdie foute voor God te erken, maar dit sal goed wees as ons ook in ’n huweliksituasie bereid is om ons foute te erken en ons huweliksmaat te vra om ons daardie foute te vergewe.

In die bekende fliek Love Story is daar ’n baie beroemde aanhaling: “Love is never having to say you are sorry.” Ek stem nie hiermee saam nie. Die teenoorgestelde is eerder waar. Hoe makliker jy dit kan regkry om jou foute te erken en jou maat om verskoning te vra as jy ’n fout gemaak het, hoe gelukkiger gaan jou huwelik wees. Een van die heel moeilikste dinge in ’n huwelik is om jou foute te erken en éérste te sê dat jy jammer is – sónder om ’n “maar” agteraan die verskoning te voeg!

God verwag van jou om verskoning te vra selfs al is jy nie die skuldige persoon nie. Onenigheid tussen twee partye benadeel altyd jou verhouding met Hom. Vra dus vergifnis vir jou foute en leer daaruit, want ’n fout is net ’n fout as jy nie daaruit kan leer nie. Pas ook op dat jy nie dieselfde fout twee keer maak nie.

Here, ek is so traag om verskoning te vra – vir U en vir my huweliksmaat. Help my om my foute te bely, te laat staan en uit hulle te leer.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх