Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 63

27 Februarie

Оглавление

Verwag nét die beste van mekaar

Lees 1 Korintiërs 13:1-13

Die liefde […] soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie […] Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles – 1 Kor 13:4-7


Wanneer jy gedurig vir jou kinders vertel hoe stout óf hoe soet hulle is, is daardie kinders se gedrag dikwels in ooreenstemming met jou opinie van hulle. Dieselfde is waar van jou huweliksmaat. Wanneer jy hom gedurig wantrou, wanneer jy die slegste van hom verwag, moet jy nie verbaas wees as hy jou teleurstel nie! Gelukkig is die teenoorgestelde óók waar – wanneer jy in jou huwelik die liefde van 1 Korintiërs 13 uitleef, gaan jou man jou vir seker verras deur vir jou dié man te wees wat jy graag wil hê.

Daar is egter ’n paar voorwaardes: Jy sal gewillig moet wees om sy belange eerste te stel; jy sal moet ophou om so liggeraak te wees en so noukeurig boek te hou van alles wat hy verkeerd doen. Dan behoort jou huweliksliefde ’n sluier te trek oor alle negatiewe dinge in jou huwelik en sal jy dit kan regkry om alles wat goed is van jou man te glo, te hoop dat dit elke dag net beter met jul huwelik sal gaan en bereid wees om alles te verdra – ook dié dinge waarvan jy nie hou nie. Probeer dit en kyk net watter groot positiewe verskil dit in jul huwelik gaan maak.

Hemelse Vader, sal U my asseblief help om my man lief te hê met die bloudruk wat U self in 1 Korintiërs 13 daargestel het. Gee dat my liefde nooit sy eie belang sal soek nie, nie liggeraak sal wees nie, maar alles sal bedek, glo, hoop en verdra.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх