Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 51

15 Februarie

Оглавление

Pasop vir die groenoog-monster!

Lees Jakobus 3:13-18

Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie – Jak 3:14


’n Mens kry vroue wat so jaloers op hul man is dat hulle hom niks gun nie, dat hy nooit sonder hulle iewers heen mag gaan nie en dat hulle meen dat hy ’n buite-egtelike verhouding het wanneer hy ’n paar keer na mekaar laat by die huis opdaag óf iets vir hulle wegsteek wanneer hy vir hulle ’n bos blomme bring.

Ons kry ’n mooi voorbeeld van hierdie huweliksjaloesie in die verhaal van Ragel en Lea. Alhoewel Ragel beeldskoon was en goed geweet het dat Jakob haar liewer gehad het as haar suster Lea, kon sy nie help om reddeloos jaloers op Lea te wees omdat God haar met kinders geseën het nie. Ragel moes uitvind dat jaloesie niemand nog êrens gebring het nie. In Spreuke 27:4 staan daar:“Teen jaloesie is niemand opgewasse nie.” Om die waarheid te sê, dit berokken die een wat jaloers is die heel meeste skade.

In 1 Korintiërs 13:4 staan daar glashelder dat die liefde nié jaloers is nie. Wanneer jy jou weer betrap dat jy onredelik jaloers is op jou man, stop net daar! Leer om jou man te vertrou, en maak seker dat hy jou ook volkome kan vertrou. Bely jou jaloesie voor die Here en vra Hom om jou daarvan te verlos. Hy wil dit graag vir jou doen.

Hemelse Vader, ek probeer so hard om nie jaloers op my man te wees nie, maar U weet dat ek dit soms regtig nie kan verhelp nie. Vergewe my, verlos my asseblief van die groenoog-monster en help my om my man onvoorwaardelik te vertrou.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх