Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 49

13 Februarie

Оглавление

Aanvaarding is noodsaaklik

Lees Romeine 15:7-13

Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God – Rom 15:7


Vergewe my maar as hierdie onderwerp elke keer opduik wanneer ons oor die huwelik gesels! Jy gaan tevergeefs bly hunker na ’n gelukkige huwelik as jy weier om jou man te aanvaar soos hy is. Ons is almal onvolmaak, dit is dus baie onbillik van jou om te verwag dat jou man volmaak sal wees. Dit is nóg onbilliker om met hom te trou met die voorneme dat as julle eers getroud is, jy hom sal verander in dié man wat jy graag wil hê. Om hom te probeer “oormaak” is een van die sekerste maniere om jou man van jou te vervreem.

Maak eerder vrede met dié eienskappe van jou man wat jou dwars in die krop steek. Skryf hulle neer en bid dat God jou sal help om hulle te aanvaar. Dit help altyd om daaraan te dink hoe geredelik God jóú onvolmaaktheid en sondigheid aanvaar en keer op keer gewillig is om jou te vergewe elke keer as jy Hom daarom vra.

Stephen Covey sê graag ’n huweliksverhouding is soos ’n emosionele bankrekening. Elke keer as jy iets moois vir jou maat sê of doen, is dit ’n deposito in daardie rekening. Elke keer as jy negatief teenoor hom is, is dit ’n onttrekking uit daardie rekening. Probeer élke dag ’n deposito in jul twee se emosionele rekening te maak en spoor jou maat ook daartoe aan. Indien julle dit kan regkry, sal julle een van die dae skatryk wees!

Here, vergewe my dat ek van my man verwag om volmaak te wees, terwyl ek self so ver daarvandaan is. Help my om hom onvoorwaardelik te aanvaar en te vergewe soos U met my doen.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх