Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 57

21 Februarie

Оглавление

Moenie kwaad word nie!

Lees Jakobus 1:19-27

My liewe broers, dit moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie – Jak 1:19


Ongelukkig is ’n vinnige humeur die oorsaak van baie struwelinge in die huwelik. Dis doodmaklik om vir mekaar kwaad te word en dan dinge te sê of te doen waaroor julle later bitter spyt kan wees. Volg gerus Jakobus se goue raad in vandag se teksvers: Wees gewillig om na jou man te luister, moenie te gou praat nie en moet ook nie te gou kwaad word nie. Om kwaad te word is nie ’n sonde op sigself nie, maar dit sal baie goed wees as jy en jou man saam sal leer om jul woede reg te hanteer. Pleks van met mekaar te baklei, behoort julle bereid te wees om met mekaar te redeneer en jul saak te stel.

Wanneer jy en jou huweliksmaat in ’n onderonsie gewikkel is, besluit vooraf dat julle gewillig sal wees om na mekaar se standpunte te luister. Wanneer jy eers na jou huweliksmaat se kant van die saak geluister het (sónder om hom in die rede te val voordat hy klaar verduidelik het!) is dit baie makliker om jou woede te beheer.

Wanneer jy wel kwaad word, “moenie sondig nie, moenie ’n dag kwaad afsluit nie”, maan die Bybel (vgl Ef 4:26). Wanneer al die geluister nog nie wil help nie, besluit saam dat julle twee nooit kwaad vir mekaar sal gaan slaap nie. Maak vrede voordat julle die kamerlig afskakel!

Here, ek bid dat U my sal leer om my geskille met my man op die regte manier te besleg. Maak ons gewillig om na mekaar te luister en nooit kwaad te gaan slaap nie.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх