Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 53

17 Februarie

Оглавление

Hoër as jouself

Lees Filippense 2:1-4

Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself – Fil 2:3


Paulus skryf aan die gemeente in Filippi dat hulle sy hart bly moet maak deur niks uit selfsug of eersug te doen nie, maar dat die een die ander hoër behoort te ag as homself. Dit is nie net goue raad vir menseverhoudings nie, maar ook vir die huwelik. Vandag se selfstandige, geëmansipeerde vroue slaan nederigheid nie eintlik hoog aan nie. Tog is die teks uit Filippense hierbo een van die grootste geheime van ’n gelukkige huwelik. Net dié huweliksmaat wat geleer het om die ánder een eerste te stel, gaan uiteindelik ontdek dat die huwelik ’n fees is en ’n fees sal bly.

Hoe belangrik is jou man vir jou? Belangriker as jyself? “Die liefde […] soek nie sy eie belang nie,” maan 1 Korintiërs 13:5. In die huwelik is onselfsugtigheid baie belangrik. As jy gedurig aan jouself dink en selfsugtig optree, gaan jou huwelik daaronder ly. Dink liewer aan maniere waarop jy vir jou man kan wys dat hý vir jou eerste kom: Vertel hom hoe belangrik hy vir jou is; maak sy gunstelingkos; bederf hom op verskillende maniere. Gaan saam met hom rugby kyk of stel voor dat julle die cowboy-fliek gaan kyk wat jy weet hy lankal wil sien, al sal jý veel eerder die nuwe romantiese musiekblyspel wil sien.

Volg Paulus se raad in Filippense 2:4 as jy jóú huwelik wil laat blom: “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.”

Here, ek is basies so selfsugtig dat ek maar sukkel om my huweliksmaat se belange eerste te stel. Help my asseblief om in die vervolg my man se behoeftes voorop te stel.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх