Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 56

20 Februarie

Оглавление

Pasop vir die val-slag!

Lees 1 Korintiërs 10:9-13

Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie – 1 Kor 10:12-13


Dit is nooit goed om te selfversekerd te wees nie. Jy behoort ook nooit so seker van jou gelukkige huwelik te wees dat jy nie meer gewillig is om daaraan te werk nie. ’n Heel bekende persoon het ’n paar jaar gelede in ’n heel bekende gesinstydskrif met groot bravade oor sy gelukkige huwelik gespog. Nie baie lank daarna nie, was hierdie huwelik op die rotse.

Moet ook nooit jou huweliksmaat óf jou eie gelukkige huwelik as vanselfsprekend aanvaar nie. Moet nooit meen dat jou huwelik onvernietigbaar is of dat jy nooit aan jou huweliksmaat ontrou sal wees (of andersom) nie. Suid-Afrika is ’n land met ’n baie hoë egskeidingsyfer. Jy kan maar net na die heersende statistiek kyk om te besef dat ’n gelukkige huwelik inderdaad ’n gawe uit God se hand is en nie jou eie oulikheid nie.

Dalk gáán daar in jou eie huwelik ook versoekings opduik; wees hulle te wagte. Die positiewe kant is dat, indien jy ’n Christen is, God nie sal toelaat dat jy óf jou huweliksmaat ooit bo julle kragte versoek sal word nie. Hy sal vir julle saam met die versoeking ook die uitkoms gee sodat julle dit sal kan weerstaan, beloof Paulus in 1 Korintiërs 10:13.

Here, ek loof U vir my gelukkige huwelik. Gee dat ek dit altyd as genade uit u hand sal beskou en nooit as ’n vanselfsprekendheid nie. Help ons om in ons huwelik altyd nee te sê wanneer daar versoekings kom.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх