Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 44

8 Februarie

Оглавление

In tye van onvrede

Lees Kolossense 3:12-17

En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee […] Wees altyd dankbaar – Kol 3:15


Tye van onvrede duik in elke huwelik op. Gewoonlik is die rede waarom huweliksmaats ontevrede met mekaar is wanneer hulle te veel op hulself ingestel is. Paulus skryf ’n pragtige brief aan die gemeente in Kolosse waarin hy die gedrag van Christene teenoor mekaar uiteensit. Hierdie raad kan jy met groot sukses in jou eie huwelik toepas: “Dit moet ook vir julle baie belangrik wees om die vrede wat Christus vir julle gegee het, ten alle koste te bewaar. As julle met mekaar begin vassit, maak juis dan die keuse vir die vrede van Christus. Om die vrede te bewaar, is belangrik” (Kol 3:15, Die Boodskap).

Voordat jy weer onredelike eise aan jou huweliksmaat stel, fokus op die vrede wat Jesus gee. As jou man jou kwaad maak, kies vrede! Wanneer Jesus sy dissipels vertel dat Hy vir hulle die Heilige Gees sal stuur, beloof Hy terselfdertyd: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie […]” (Joh 14:27). Jesus se “onwêreldse” vrede is steeds vir sy kinders tot beskikking. Vrá Hom om daardie vrede in jul huwelik in te sleutel.

“Wees altyd dankbaar,” lui die laaste deel van Paulus se raad. Wanneer jy wéér jou eie vrede wil verloor, maak gerus ’n lysie van al die dinge in jou huwelik waarvoor jy dankbaar behoort te wees.

Here Jesus, baie dankie vir die vrede wat U aan u kinders beloof. Ek wil dit nou vir my toe-eien. Help my asseblief om daardie vrede in my huwelik uit te leef en altyd dankbaar te bly.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх