Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 54

18 Februarie

Оглавление

Onthou die dankies!

Lees 1Tessalonisense 5:12-22

Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag – 1 Tess 5:18


My man het die wonderlike gewoonte om soggens die kombuis aan die kant te maak. (Hy staan baie vroeër as ek op!) Soms gaan dit so dol by ons dat ek hierdie liefdesdaad nie eers raaksien nie. Wanneer hy dan so terloops vra of ek gesien het hoe mooi aan die kant die kombuis is, kan ek myself skop omdat ek nie meer oplettend was en op ’n spesiale manier dankie gesê het vir dié stukkie bedagsaamheid nie.

Is jý ’n dankbare huweliksmaat? Wanneer laas het jy vir jou man vertel hoe dankbaar jy is vir al daardie dinge wat hy vir jou in die huis doen, vir sy harde werk in die tuin, vir sy omgee en sorgsaamheid, vir die tyd wat hy saam met die kinders deurbring? Wat maak jy as jy sien dat die stukkende gloeilamp in jou studeerkamer vervang is of jou vuil motor blinkskoon gewas is? Sê jy dankie of aanvaar jy dit maar as vanselfsprekend?

Stel vir jou ’n lysie op van al daardie dinge waarvoor jy dankbaar is en vir jou man ’n dankie skuld – en sê dan vir jou man élke dag dankie vir een van hulle.

“Binne die huwelik is die dankbaarheid ’n soort lewensvog. Die bedanking word ’n bedinking van wat tussen ons bestaan,” vat Piet Zuidgeest dit netjies saam. As jou man ervaar dat jy erkentlik is teenoor al die dinge wat hy doen, sal hy sy bes probeer om ’n nóg beter man vir jou te wees.

Vader, ek bid dat U my sal help om my dankbaarheid meer in woorde om te sit sodat my huweliksmaat sal weet dat ek hom liefhet en waardeer.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх