Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 45

9 Februarie

Оглавление

Is jou naam Marta?

Lees Lukas 10:39-42

“Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie” – Luk 10:41-42


Huisvroue is tans besiger as ooit tevore. Min van ons het die voorreg om nét huisvrou te kan wees. Die meeste huisvroue is terselfdertyd ook beroepsvroue, en boonop is daar baie min vroue wat die luukse van ’n heeltydse huishulp kan bekostig. Daar is inderdaad baie dinge waaroor ’n hedendaagse huisvrou bekommerd is: Hoe sy al haar werk in die vier en twintig uur van één dag ingepas gaan kry en nog genoeg tyd gaan oorhê om aandag aan haar man en kinders te gee en tyd vir haar stiltetyd in te ruim …

Ongelukkig gebeur dit soms dat hoe harder ons werk hoe minder kry ons gedoen en hoe meer gespanne en prikkelbaar raak ons. As jy op die oomblik onrustig en gespanne is, kan jy gerus ’n rukkie by vandag se storie stilstaan. Marta het heel waarskynlik gemeen dat Jesus haar gelyk sou gee toe sy by Hom kla dat haar suster haar al die werk alleen laat doen. Maar Jesus neem sowaar Maria se kant wat rustig aan sy voete sit en na sy woorde luister terwyl Marta ywerig rondskarrel. Maria het die beste deel gekies, sê Hy vir Marta.

Jý kan ook! Moenie langer so bekommerd en gespanne wees oor jou baie huislike pligte nie. Leer om te delegeer sodat jy týd sal hê om soos Marta by Jesus se voete te sit. Dit sal vir jou ’n rustiger ingesteldheid en ’n gelukkiger huwelik verseker.

Here Jesus, ek is jammer dat ek so besig is dat ek al hoe meer gespanne en bekommerd raak. Ek wil nou heeltemal afskakel en net eenkant alleen met U gaan sit en na u Woord luister.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх