Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 48

12 Februarie

Оглавление

Bou mekaar op

Lees 1 Tessalonisense 5:5-11

Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen – 1 Tess 5:11


Die Engelse vertaling van ons teksvers van vandag lui: “Therefore encourage one another and build each other up, just as in fact you are doing” (NIV).

Jy het waarskynlik al opgelet hoe dikwels sommige vroue negatiewe dinge van hul mans sê, veral in die geselskap van ander vroue. Meestal sê hulle dit in ’n grap, maar hierdie soort grappe laat my altyd dink aan die spreekwoord: waar daar ’n rokie is, is daar ’n vuurtjie. Dit is jou taak as vrou om jou man op te bou en nie af te kraak nie. En jy behoort dit deur jou woorde, dade en gesindheid te doen. Jou man gaan baie gou agterkom as jy negatiewe gevoelens teenoor hom het. Praat eerder eerlik met hóm as daar dinge in jul huwelik is wat jou hinder, voordat jy dit teenoor jou vriendinne opper. En as dit goed gaan in jou huwelik, vertel gerus vir jou vriendinne watter juweel van ’n man jy losgeslaan het!

Dit is ook jou verantwoordelikheid om jou man te bemoedig wanneer daar tye kom dat hy depressief en mismoedig is. En daar is vir seker nie ’n huwelik wat hierdie laagtepuntdae gaan vryspring nie. Wanneer jy kan sien dat jou man nie lekker voel nie, probeer om sy aandag van die dinge wat hom so laat stres af te lei deur iets lekkers saam te doen. As jy albei hierdie dinge kan regkry, sal jou man mettertyd ontdek hoe spesiaal hy vir jou is en sal jul huwelik as gevolg hiervan van krag tot krag gaan.

Here, ek bid dat U my daarvan sal weerhou dat ek ooit negatiewe dinge van my man sal sê. Help my eerder om hom op te bou en te bemoedig.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх