Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 62

26 Februarie

Оглавление

Wanneer julle nie self verder kan nie

Lees 1 Korintiërs 1:8-11

Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het […] Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God […] – 2 Kor 1:8-9


Daar kom krisistye in enige huwelik wanneer dit onmoontlik lyk om self vorentoe te gaan. Miskien verloor julle ’n kind deur die dood, ’n gesinslid word in ’n ongeluk vermink, of een van julle verloor sy werk. Hierdie rampe voel soms só erg dat jy wil handdoek ingooi. Baie egskeidings is die regstreekse gevolg van hierdie tipe huwelikskrisisse.

Paulus skryf oor krisistye in sy eie lewe aan die gemeente in Korinte, máár getuig dan ook: Hierdie dinge het juis gebeur sodat hy kon besef dat ’n mens nie op homself kan vertrou nie, maar net op God. Wanneer Paulus tot hierdie gevolgtrekking kom, raak hy rustig. Hy kyk nie meer na sy probleme nie, maar na God wat alles vir sy kinders ten goede kan laat uitwerk – ook die mees onwaarskynlike dinge. Wanneer daar ’n krisistyd in jou eie huwelik opduik, skep gerus moed. Hierdie stuk swaarkry het dalk juis na jul kant toe gekom sodat julle saam sal leer om nóg vaster op God te vertrou. “Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red,” getuig Paulus in vers 10. Vestig gerus jul hoop op die Here wanneer daar krisisse in die huwelik opduik. Vertrou op God vir oplossings, Hy is almagtig en volkome in staat om julle te help óók in daardie omstandighede wanneer julle self nie ’n tree verder kan nie.

Hemelse Vader, ek loof U dat wanneer ek aan die einde van my eie krag gekom het, ek nog maar aan die beginpunt van u krag is. Dankie dat swaarkry my leer om op U te vertrou.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх