Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 46

10 Februarie

Оглавление

Lag sáám met jou man

Lees Spreuke 15:15; 17:22

Dit gaan altyd sleg met ’n bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is ’n fees. ’n Vrolike mens is ’n gesonde mens, ’n neerslagtige mens raak uitgeput – Spr 15:15; 17:22


Iemand met ’n egte sin vir humor is ’n mens wat homself en sy eie dwaasheid in perspektief kan sien en daarvoor kan lag. “Olie op die skarniere van die huweliksverhouding, dít is die gawe van lekker lag,” skryf Alba Bouwer in Die Groot Boek van Christelike aanhalings.

In my eie huwelik is dit beslis ons gesamentlike sin vir humor wat maak dat ons die geskille wat daar soms opduik sommer gou kan besleg. Ons maak ook ’n punt daarvan om kostelike spotprente en grappies met mekaar te deel. Lag is ’n stresontlaaier, en gelukkig het albei van ons ’n fyn humorsin. Wanneer ons begin koppe stamp, is dit nie lank voordat een van ons die humor in die situasie insien en begin lag nie.

Dink ’n bietjie oor dié dinge in jou eie huwelik wat jou die meeste pla. Probeer dan om die humor in daardie situasies raak te sien. Om saam te lag as huweliksmaats is wonderlik. Wees egter versigtig dat julle nie vír mekaar lag nie. Indien jou man ooit agterkom dat jy vír hom lag, sal hy in sy eer gekrenk wees. Dit is veel beter om te leer om vir jousélf en die foute wat jy maak te lag, en dit sal baie vir jou huwelik beteken as jy dit kan regkry om jouself nie so ernstig op te neem nie.

Here, dankie vir ’n sin vir humor wat van U kom. Ek bid dat U my en my man sal help om ons onderonsies met ’n lagsessie te ontlont en dat U ons daarvan sal weerhou om ooit vír mekaar te lag.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх