Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 47

11 Februarie

Оглавление

Leer om lief te hê

Lees Hooglied 8:1-4

“Dan het ek jou saamgevat en na my ma se huis toe gebring en het jy my daar die kuns van die liefde geleer. Sy linkerarm is onder my kop, sy regterarm omhels my!” – Hoogl 8:2, 3


Om ’n gelukkige huwelik te hê is genade, maar dit is ook ’n kuns. En om die kuns van ’n gelukkige huwelik te bemeester sal jy éérs die kuns van die liefde moet baasraak. Dit is nodig dat twee huweliksmaats op mekaar se seksuele verwagtings sal fokus. Mans en vroue verwag verskillende dinge van mekaar op seksuele gebied. Terwyl ’n vrou se seksuele drange gewoonlik nie van haar liefde vir haar man losgemaak kan word nie, is dit vir ’n man (selfs vir ’n gelukkig getroude een!) moontlik om deur ’n sensuele vrou verlei te word.

Daar is ook verskeie basiese verskille tussen vroue en mans. Terwyl vroue op soek is na ’n liefdevolle man wat sy gedagtes met haar sal deel, eerlik en opreg sal wees en vir haar finansiële versorging sal bied, wil die meeste mans graag ’n aantreklike vrou hê wat hulle seksueel sal bevredig, hul gunsteling ontspanning saam met hulle sal geniet, vir hulle ’n tuiste sal skep en hulle sal bewonder en op hulle verlief sal bly.

Leer watter eienskappe jou man graag in sy droomvrou wil sien, en doen jou bes om dit vir hom te wees. Wees ’n entoesiastiese minnares; sorg dat jul kommunikasie oop en eerlik is en laat jou man met woord en daad sien dat jy hom bewonder en liefhet – dan het jy die kuns van die liefde bemeester!

Hemelse Vader, baie dankie dat ons mekaar op seksuele gebied kan aanvul. Gee dat ons in ons huwelik die kuns van die liefde sal bemeester.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх