Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 52

16 Februarie

Оглавление

Spoor mekaar aan tot goeie dade

Lees Hebreërs 10:19-25

Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade – Heb 10:24


Vroue is gewoonlik dié persone in die huweliksverhouding wat die maklikste na ander uitreik, terwyl dit vir mans moeiliker is. Gemeentes het deesdae baie programme wat dit vir ons moontlik maak om na ander Christene uit te reik en om goeie dade aan ander te doen. As jý ’n Christenvrou is wat graag in gemeenteverband aktief is, maak seker dat jy jou man ook by hierdie bediening van jou betrek.

Die skrywer van Hebreërs beveel aan dat julle na mekaar sal omsien deur mekaar tot liefde en goeie dade aan te spoor. Dit is baie bevredigend en bevorderlik vir ’n huwelik wanneer twee huweliksmaats besluit om sáám dinge vir ander mense te doen. Om saam sop te kook en dit by die nagskuiling te gaan aflewer; om saam van die groente in jul tuin te neem vir mense wat dit nodig het; om saam artikels uit te soek wat julle nie langer nodig het nie en dit vir mense te neem wat minder as julle het; om saam pasiënte in die plaaslike hospitaal te besoek en vir hulle ’n blommetjie of eetgoed te neem.

Almal van ons het ook spesifieke gawes gekry wat ons vir ons gemeente kan aanbied. Ek en my man skryf dikwels artikels in ons gemeente se nuusbrief. Moenie langer uitstel om saam betrokke te raak by God se koninkryk nie. Besluit saam om van nou af jul spesifieke gawes tot eer van God in jul gemeente te gebruik.

Here, dankie vir gawes wat ons sáám in u diens en tot u eer kan aanwend. Wys vir ons as huweliksmaats waar U ons in ons gemeente wil gebruik.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх