Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 60

24 Februarie

Оглавление

’n Nuwe vrou!

Lees Kolossense 3:5-14

Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees – Kol 3:12


Paulus skryf hier oor die ou en die nuwe lewe van iemand wat tot bekering gekom het. Al die ou, sondige eienskappe wat nog deel uitmaak van ons lewe vóór Christus, behoort ontslae van geraak te word: soos woede, vuil taal, onreinheid, haat en nyd (vgl vers 5). Omdat ons nou met die “ou mens” gebreek het, moet ons in die vervolg soos splinternuwe mense lewe. Ongelukkig sal jy nie sommer soos ’n towerslag van hierdie gewoontesondes waarmee jy so lank saamgelewe het, ontslae kan raak nie. Dit sal ’n daaglikse suiweringsproses van jou vra.

Die nuwe mens behoort soos Jesus te lyk en soos Jesus op te tree. As elke Christenvrou dit kan regkry om in die vervolg meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam teenoor haar man op te tree, en boonop geduldig en vergewensgesind is, sal daardie huwelik nie anders kán as om te floreer nie. Die laaste eienskap wat Paulus hier uitlig, is een waarsonder geen huwelik ooit sal kan slaag nie: “Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind” (Kol 3:14). Wil jy nie van nou af probeer om vir jou man ’n splinternuwe vrou te wees deur hierdie eienskappe in jou eie huwelik te ontplooi nie?

Here, ek is jammer dat ek nog so min van die “nuwe mens” se eienskappe in my eie huwelik uitleef. Help my asseblief om meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig, geduldig en vergewensgesind te wees en my man baie lief te hê.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх