Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 61

25 Februarie

Оглавление

Gebruik julle tyd ten beste

Lees Psalm 90

Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom – Ps 90:12


Dis maklik om tyd te mors in ’n huweliksverhouding, om dinge te doen wat nie eintlik waarde het nie. Daar is ook baie nodige dinge wat hope tyd insluk. Volgens ’n onlangse Amerikaanse opname gebruik die deursnee-Amerikaner in ’n leeftyd agt maande om gemorspos oop te maak, hulle wag nege maande van hul lewe in verkeersknope (ek het so ’n idee dat dit in SA heelwat langer is!) en hulle bring sewe jaar in die badkamer deur! Uiteindelik is daar net vyf honderd dae in die ses en dertig jaar (die duur van ’n gemiddelde huwelik) oor wat jy kan doen wat jý graag wil. Dit sal dus goed wees as júlle jul daarop kan toespits om dinge sáám te doen wat jul huwelik gelukkiger en jul geestelik sterker sal maak.

Maak meer tyd vir mekaar; ruim elke dag geselstyd in, al is dit net ’n paar minute, gaan drink elke week saam koffie – al is dit tuis wanneer die kinders slaap. Vra soms jul ouers om na die kinders te kyk sodat julle ’n dag of naweek alleen kan wegkom. Saamweestyd doen wonders vir ’n huwelik.

Hou huisgodsdiens saam – ook sónder die kinders. As julle nie daarvan hou om hardop te bid nie, neem beurte om ’n deel uit die Bybel te lees en bid dan sag saam. Daardie tyd wat met mekaar én met God bestee is, is tyd wat groot dividende in ’n huwelik oplewer.

Vader, sal U ons asseblief wys hoe ons in óns huwelik die tyd tot ons beskikking op die heel beste manier kan benut. Leer ons om gehaltetyd saam te spandeer sodat ons saam nader aan U en aan mekaar sal groei.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх