Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 58

22 Februarie

Оглавление

Draai die ander wang

Lees Petrus 3:8-12

Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met ’n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry – 1 Pet 3:9


Ongelukkig is ons nie almal ewe gelukkig wat ons huweliksmaats betref nie. ’n Mens kry wel sommige huweliksmaats wat nie hul kant in die huwelik bring nie. Wat doen jy wanneer jou man vir jou kwaad bly, al is jy van jou kant af volkome bereid om geduldig te wees en nie kwaad te word nie? Wat doen jy wanneer jy ’n man het wat nie rede wil verstaan nie? Petrus sê dat jy (ómdat jy ’n Christen is) bereid behoort te wees om nie kwaad met kwaad te vergeld of ’n belediging met ’n belediging nie.

Wanneer jy ’n onredelike man het, vra dat die Here jou sal help om sy beledigings met seënwense te beantwoord. “As daar van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra, sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om ’n woord te sê nie,” skryf Petrus (1 Pet 3:1-2). Indien jy dit met God se hulp kan regkry om die minste te wees in jou huwelik, sal jy met jou voorbeeld vir jou man wys dat jy werklik aan God behoort, dat jy self dié dinge doen wat jy van ander mense verwag – en wie weet, dalk gaan jy jou man met jou leefwyse en optrede mettertyd oortuig om soos jy te word!

Here, dis vir my baie swaar dat my man soms so onredelik teenoor my optree. Help my asseblief om hom vir U te wen met die manier waarop ek hom behandel.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх