Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 59

23 Februarie

Оглавление

Wees diplomaties en taktvol

Lees Romeine 12:14-17

Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur – Rom 12:15


Jesus se verhoudingslewe terwyl Hy op aarde was, is gekenmerk deur die feit dat Hy altyd empatie met ander gehad het. Oral waar Hy gegaan het, het Hy mense se probleme raakgesien en hulle probeer help. Hy het siekes gesond gemaak, vir dié wat honger was, kos gegee en dié wat deur ander mense verwerp is, as sy vriende behandel.

Hierdie gesindheid moet jy probeer om in jou eie huwelik in te voer. Om dit reg te kry, sal jy moet leer om diplomaties te wees. Diplomasie beteken dat jy gewillig sal wees om empatie met jou huweliksmaat te betoon en dat jy hom met woord en daad sal verseker dat jy hom liefhet en sy belange op die hart dra. ’n Mens voel nie elke dag dieselfde nie. Soms is jou huweliksmaat depressief as jy vrolik is. Soms gebeur dit ook andersom. Leer om jou in te stem op jou maat se gevoelens en om dié dinge te hoor wat hy nié sê nie. Let op sy liggaamstaal – hoe fyner jy op sy behoeftes ingestel is, hoe beter sal jy hom sónder woorde verstaan.

En bid veral dat jy op dié dae, wanneer albei van julle se bioritmes laag is, die genade sal kry om Spreuke 3:21 se raad te volg: “My seun (dogter!) behou die takt en die oorleg; moet dit nie uit die oog verloor nie, dit sal vir jou ’n mooi lewe verseker en soos ’n pragtige halssnoer vir jou wees.”

Vader, maak dit asseblief vir my moontlik om my man met groot empatie te behandel, om ingestel te wees op sy probleme en om te alle tye taktvol en diplomaties te wees.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх