Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 74

7 Maart

Оглавление

Waar was God?

Lees Johannes 11:17-32

Toe Maria daar aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete gekniel en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie” – Joh 11:32


Maria kon nie verstaan dat Jesus nie gereageer het toe haar broer so siek geword en gesterf het nie. Sy wou weet waar Jesus was … Maar Jesus gebruik die ramp van sy vriend se dood om sy almag te illustreer – Hy wek Lasarus uit die dood op.

Mense wat die tsoenami-ramp van 27 Desember 2004 beleef het, het almal dieselfde vraag gevra: Waar was God toe hierdie verskriklike ramp gebeur het?

God is steeds goed vir sy kinders ten spyte van rampe en ellende wat oor ons pad kom. Hy gebruik hierdie dinge om ons weer ’n slag oor Hom te laat besin. Die tsoenami van 27 Desember het baie mense tot inkeer gebring, en ’n dieper, inniger verhouding met God vir ander moontlik gemaak. Hierdie verskriklike ramp het mense soveel meer rede gegee om te glo dat, ten spyte van onverhelpbare en onvoorspelbare kwaad in die wêreld, God steeds hoop, troos en nuwe moontlikhede bring.

Ons wonder ook soms waar God is wanneer dit werklik baie sleg met ons gaan. Hy is steeds by jou, ten spyte van jou omstandighede. Jy kan selfs jou negatiewe omstandighede as aansporing gebruik om jou verhouding met God te vernuwe en sy troos en hoop op ’n nuwe manier te ervaar.

Hemelse Vader, hoe groot is U dat U rampe en ellende kan gebruik om nietige mensekinders van u hoop en troos te leer en vir hulle nuwe moontlikhede oop te sluit!

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх