Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 79

12 Maart

Оглавление

God wil jou seerkry gebruik

Lees 2 Korintiërs 1:3-7

In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerhande moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig – 2 Kor 1:4


Indien jy reeds ’n erge stuk seerkry beleef het, bemagtig dit jou om ander mense te help wat in dieselfde bootjie is. As jy jou man aan die dood moes afstaan, sal jy presies weet hoe om jou vriendin wie se man dood is by te staan; as jy self ’n gestremde kind het, is jy die beste persoon om ’n ánder ma met ’n gestremde kind raad te gee; as jy geskei is, is daar niemand wat ’n persoon wat op die oomblik deur egskeiding gaan só kan bemoedig soos jy nie; as jy self ’n alkoholis is, weet jy presies waardeur iemand gaan wat probeer om sy drinkpatroon te verander.

Geen stukkie aardse lyding is ooit verniet nie. God gebruik jou persoonlike stuk seerkry om van jou ’n vertrooster te maak. Juis dié dinge wat jou die diepste verwond het, is dié spesifieke ervarings waarmee God jou toerus om ander mense te help.

As jy bereid is om ’n trooster te word, sal jy egter gewillig moet wees om jou seerkry met ander te deel. Ek sal altyd onthou hoe my Bybelstudievriendinne saam met my gehuil het oor my dogter se egskeiding. As jy God se genade in seerkrytye ervaar, rus Hy jou toe om ánder by te staan. Moet nooit jou persoonlike stuk seerkry vermors nie – gebruik dit om ander mense mee te help, soos God jóú gehelp het.

Here, ek kon nooit voorsien hoe dié ding wat vir my die swaarste was eintlik u toerusting was om my te help om ánder by te staan nie. Dankie dat U seerkry as medisyne kan aanwend.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх