Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 77

10 Maart

Оглавление

Jesus pleit vir jou

Lees Romeine 8:31-34

Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons – Rom 8:33-34


Die Heilige Gees bid vír jou volgens die wil van God en neem jou gebede regstreeks na God se genadetroon. Maar langs God se genadetroon is daar nóg Iemand wat vir jou pleit: Jesus! Omdat Hy self ’n mens soos jy was, weet Hy presies wat jy elke dag deurmaak, hoe moeilik dinge hier op aarde vir God se kinders kan wees. Hy het medelye met jou probleme omdat Hy self daardie probleme ondervind het toe Hy op aarde was. Soos die hoëpriester dit vir die volk in die Ou-Testamentiese bedeling gedoen het, bewerk Jesus vir jou versoening vir jou sonde, pleit Hy dat God jou sonde sal vergewe.

“Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word,” sê die Hebreërskrywer (Heb 4:15-16).

Jesus, jou Middelaar, pleit nie net vir jou sonde nie, maar maak dit vir jou moontlik om reguit na God se genadetroon te gaan. Hy het daardie voorreg vir jou reeds aan die kruis verdien. Moenie langer wag om van sy uitnodiging gebruik te maak nie!

Here Jesus, dankie dat U nie net vir my by God intree nie, maar dat U dit ook vir my moontlik maak om regstreeks, sonder enige tussenganger, met God te praat.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх