Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 80

13 Maart

Оглавление

Swaarkry is nooit verniet nie

Lees Galasiërs 3:1-6

Julle het met die Gees begin; wil julle nou in eie krag eindig? Was al julle swaarkry dan verniet? Dit kon tog nie verniet gewees het nie – Gal 3:3-4


Paulus herinner die gemeente in Galasië hier aan sy vorige besoek – hy het die evangelie aan hulle verkondig en hulle het tot bekering gekom en die Heilige Gees ontvang. Daar is egter één ding wat hy nie begryp nie: Hoe húlle wat reg begin het in die krag van die Heilige Gees, nou in hul eie krag kan eindig. Hy wil van hulle weet of alles wat hulle ter wille van hul geloof moes deurmaak, dan verniet was. Hul swaarkry kón tog nie verniet gewees het nie, sê hy.

Die swaarkry wat God in ons lewens toelaat, is inderdaad nooit verniet nie. Toe W.E. Sangster, die bekende Britse prediker, gehoor het dat hy aan progressiewe spieratrofie ly, het hy vir homself ’n lysie gemaak van hoe hy sy persoonlike swaarkry wou hanteer. Hierdie lysie het sy familie eers ná sy dood in sy Bybel gekry. Hulle kon op sy begrafnis getuig dat hy tot op die dag van sy dood daarby gehou het. “Ek wil nie kla nie; ek wil opgeruimd bly; ek sal my seëninge tel, dié wat nog oorbly … ek wil soek watter goed hieruit kan voortkom,” het op Sangster se lysie gestaan.

Ook jou swaarkry is nooit verniet nie – probeer dit hanteer soos Sangster – moenie kla nie, tel jou seëninge wat nog oorgebly het en soek na die positiewe dinge in jou lyding.

Here, ek is jammer dat ek self al gewonder het of my swaarkry verniet was – help my om positief te bly en my seëninge wat nog oorbly te tel sodat ek kan weet wat U my uit die swaarkry wil leer.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх