Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 78

11 Maart

Оглавление

Méér as oorwinnaars!

Lees Romeine 8:35-39

Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here – Rom 8:37-39


Alhoewel God belowe om jou in krisissituasies te help, sal jou moeilikhede nie eensklaps soos mis voor die son verdwyn nie – dit is nóg nie hemel op aarde nie! Jesus het self gesê: “In die wêreld sal julle dit moeilik hê.” Ons kan dus swaarkry te wagte wees. Gelukkig voeg Jesus ’n belofte by sy swaarkry uitspraak: “Maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin” (Joh 16:33).

Jesus het die sonde oorwin, jy kan ook. Tydens al jou probleme en krisisse, meer nog, te midde daarvan, kan jy met die krag wat Jesus gee ’n oorwinnaar, méér as ’n oorwinnaar wees omdat God jou liefhet en Jesus reeds vir jou sonde aan die kruis betaal het.

Die duiwel is ook reeds deur Jesus oorwin, hoewel jy nog elke dag in ’n stryd met hom gewikkel is. En die rede waarom jy ’n oorwinnaar kan wees, is juis omdat niks in die wye wêreld jou ooit van God se liefde vir jou sal kan skei nie. Kyk gerus watter dinge vir jou nog ’n bedreiging inhou. Jesus het reeds vir elkeen daarvan aan die kruis betaal. Omdat Hy jou liefhet, kan jy vir die res van jou lewe deel hê aan sy oorwinning en sy vrede in jou lewe ervaar.

Here Jesus, dankie dat U die Satan en sonde reeds namens my oorwin het, en dat ek nou saam met U méér as ’n oorwinnaar kan wees.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх