Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 70

3 Maart

Оглавление

Die heerlikheid is groter!

Lees Romeine 8:18-21

Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie – Rom 8:18


God se kinders is elke dag wat hulle op aarde deurbring, aan swaarkry onderhewig. Soms raak hierdie lyding só moeilik om te verduur dat ons ten spyte van ons geloof moedeloos en depressief raak. Dit is vir ons bykans onmoontlik om ten tyde van lyding God se vrede in ons lewe te ervaar omdat ons maar net nie kan verstaan wáárom God ons so swaar laat kry as Hy ons liefhet nie. As Hy almagtig is, behoort dit mos vir Hom moontlik te wees om ons lyding weg te neem.

Christene deur die eeue het al met hierdie vraag geworstel. Tog het die meeste van hulle wat werklik oor die saak nagedink het, besef dat swaarkry uiteindelik tot ons beswil is. Alles hang daarvan af hóé jy na jou persoonlike stuk swaarkry kyk. Wanneer jy dit ’n slag vergelyk met die “heerlikheid wat God vir jou in die toekoms sal laat aanbreek”, sal jy besef dat dit eintlik glad nie so erg is nie en dat dit ook nie vir altyd kan aanhou nie.

Hou in jou swaarkrytye vas aan Paulus se belofte in 2 Korintiërs 4:17: “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.” Die heerlikheid wat vir jou in die hemel wag, is oneindig groter as die swaarkry waarmee jy op die oomblik worstel.

Vader, U weet dat ek vandag baie moedeloos is – dankie dat ek kan vashou aan u belofte dat my huidige swaarkry sal verbygaan, dat dit maar die voorloper is van die heerlikheid wat vir my by U wag en wat altyd sal bly.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх