Читать книгу By fonteine langs - Nina Smit - Страница 82

15 Maart

Оглавление

In noodsituasies

Lees Psalm 31:10-20

Wees my genadig, Here, want ek is in die nood […] My lewe vergaan van kommer en my jare van swaarkry; deur my ellende word my krag geknak en teer my liggaam uit – Ps 31:10-11


Psalm 31 is een van die vele psalms wat as ’n klaaglied begin en met ’n loflied eindig. Dawid vertel God van sy noodsituasie en vra dat Hy hom sal help. ’n Mens kan nie help om Dawid vir sy fisieke toestand jammer te kry nie: Hy het nie meer krag oor nie, sy liggaam teer uit en boonop het hy nog ’n klomp vyande wat sy lewe bedreig. Ten spyte van sy haglike omstandighede vertrou hy steeds op God: “Maar ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God. My tye is in u hand” (Ps 31:15-16).

In sy worsteling met God ontdek Dawid dat God inderdaad sy vertroue waardig is; dat Hy hom weer sal help soos Hy al dikwels in die verlede gedoen het. “Hoe groot is u goedheid: dit is altyd daar vir die wat U dien, U bewys dit voor die oë van die mense aan die wat by U skuil”, skryf hy (Ps 31:20).

Soos in die geval van Dawid kry ons almal met noodsituasies te doen. Wanneer ons dan nog liggaamlik ook afgetakel is, raak ons situasie soms ondraaglik. Gelukkig is God steeds dáár vir jou wanneer dit sleg gaan – Hy het nog altyd ’n plan met jou lewe. En soos Dawid sal jy ontdek dat wanneer jy in krisistye op Hom vertrou, Hy vir jou krag sal gee en jou situasie só sal verander dat jy uiteindelik sy goedheid sal kan loof.

Here, ek loof U dat U my omstandighede omgekeer het en my noodsituasie ontlont het. Dankie dat ek altyd op u hulp kan staatmaak.

Amen

By fonteine langs

Подняться наверх